
Boekomslag: https://www.plutobooks.com/product/dark-academia/
Dark academia: how universities die
Peter Fleming
Pluto Books-uitgewers
Sagtebanduitgawe-ISBN: 9780745341064
........
Universiteite word soos korporasies bestuur en dit is nie nuus nie. Dit kom al meer as 30 jaar lank aan. Die persoonlike gevolge vir akademici en studente is minder in die oog, miskien omdat dit oor so ’n lang tyd aankruip.
........
Universiteite word soos korporasies bestuur en dit is nie nuus nie. Dit kom al meer as 30 jaar lank aan. Die persoonlike gevolge vir akademici en studente is minder in die oog, miskien omdat dit oor so ’n lang tyd aankruip. Eweneens die afstand tussen vandag se verbruikersmodus van kennis en die nou grootliks agtergelate idee dat universiteite daar is om die onthalwe van kennis op sigself.
In die gaping, volgens Peter Fleming, sit trauma. Vir individue is dit finansiële stres, uiterste werksdruk, loopbaanangs en gesondheidsbreuke van sowel die liggaam as die gees. Vir die sisteem is dit skeefgetrekte navorsing, selfs vervalsing, versmorende kompetisie, hiërargiese tirannie, opgeblase administrasie en oorbeklemtoning van publikasie tot in die absurde en ten koste van onderrig.
Fleming beskilder ’n somber doek, maar met ’n kwas wat soveel detail instip dat die geheel werklikheidsgetrou aandoen. Hy skryf nie net uit eie ervaring aan die Londen-Universiteit, asook Cambridge nie, maar hy bemoei hom ook akademies met die werksplek in neoliberale konteks, met 11 boeke op sy naam. Die titels van sommige hiervan is veelseggend, byvoorbeeld The death of Homo economicus (2017), Sugar daddy capitalism (2018). Sy vlag is aan die mas: Hy lê die abjeksie voor die deur van laat-kapitalisme en haar proteaanse wyses van eksploitasie.

Oudioboek: Pluto Books-uitgewers
As jy ’n rooskleuriger waardering van dié ekonomiese model het, sal jy Fleming se tese moontlik in sy geheel afskiet, paradigmagewys. So nie, sou jy dalk die “wat-van”-verdediging teen spesifieke punte wou bring. Moet akademiese departemente dan vrygestel word van die beste praktyk in bestuur? Wat daarvan as ’n student homself onder werksdruk om die lewe bring? Daar mag immers ander redes wees vir hierdie soort einde wat juis so graag onder jong mense maai. Fleming toon, myns insiens oortuigend, by hierdie en ander punte genoeg van ’n verdigting van die verskynsels in die akademiese wêreld aan om ’n kousale argument te maak.
Die boek, van 2021, is geskryf gedurende die Covid-grendeltydperk. Veral vir universiteite was die watervlak in daardie tyd so laag dat jy die ongure bodemverskynsels van die dam kon sien. Dit is redelik om te aanvaar dat sommige daarvan verbeter het soos wat die gewone lewe hervat is, maar ewe redelik dat die groter trajek van verkorporatisering nie verander het nie.

Polity-uitgewers: https://www.perlego.com/book/1536382/sugar-daddy-capitalism-the-dark-side-of-the-new-economy-pdf
In ’n neutedop, aldus Fleming: In dieselfde tyd dat regeringsubsidies daal, styg die vraag: Wat kry die belastingbetalers vir hul geld? Die haas universele antwoord is om die bestuurskroewe vaster te draai, soos in goeie besighede: kostebesparing, groter effektiwiteit, strenger beheer, wat kwantifisering en meting insluit, en uiteindelik groter aandeelhouerswaarde. Die aandeelhouers synde – ten minste in staatsuniversiteite – die belastingbetaler, maar ook industriële spelers wat in universiteitsprogramme belê het.
Die gevolg is ’n groot verandering in institusionele kultuur. Kwantiteit dreig om kwaliteit te verdring. Ambisie verdring vokasie. Wedywering wil kollegialiteit oorbie. Outonomiteit swig voor dwang, en vryheid onder die juk. Die institusie vir geleerdheid word fabriek. Groeidwang oorskry vermoë. Sakeplan wil swaarder tel as leerplan. Publikasie troef onderrig. Leraars raak ’n minderheid en die administrateurs ’n meerderheid. Werkslading oordonder studie. Dissiplines word winseenhede. Bedryfsbelang kom in die magneetveld van die vak en verander die oriëntasie daarvan.
Fleming draai nie doekies om nie:
The founding mission of public higher education has been pulverised over the last 35 years as universities morphed into business enterprises obsessed with income, growth and outputs. (35)
Stigtingsmissie
Wat is dan die stigtingsmissie van openbare tersiêre opvoeding? Die meeste van ons het waarskynlik ’n weergawe of ’n oorblyfsel van die Humboldtiaanse Berlyn-model van die vroeë agtiende eeu in die gedagte: Die universiteit as ’n plek vir die najaag van kennis om sy eie ontwil, waar akademiese vryheid heers, waar navorsing en onderrig keerkante van dieselfde munt is en waar mens jouself uitbou tot ingeligte, oordeelkundige en kulturele wese.
Von Humboldt is in elk geval hoe ver Fleming teruggaan, en dit is miskien ’n tekortkoming in sy boek, want die geskiedenis is dieper en dit is kompleks en daarby bepalend vir wat ons vandag het. Studie en onderrig was die doel van reeds die vroegste instellings in Europa (Bologna in die elfde eeu, Oxford en Parys in die twaalfde) en Afrika (Fez in die elfde eeu en Kaïro in die negende). Hierdie fasiliteite was almal, let wel, van religieuse konstitusie. Dit het dus onder te verwagte beperkings begin, waarvan in ieder geval die Europese universiteite hulle oor die eeue sedertdien deur verskillende transformasies heen sou bevry.
Von Humboldt verteenwoordig een van die belangrikste bakens langs die ontplooiingsweg van hierdie instelling. Die sogenaamde akademiese revolusie van die mid-20ste eeu het deure en vensters oopgemaak: grade vir almal wat dit kan behaal, die universiteit as bokskryt vir uiteenlopende idees. John Dewy en ander wou ’n instelling sien wat die demokrasie en die samelewing dien. Kennis moes na die gemeenskap buite verleng word. Fleming sê dit nie (hy noem Dewy trouens nie), maar dáár wil dit lyk is die kiertjie reeds oopgelaat vir wat sou volg. Van diens aan die breër samelewing na diens aan spesifieke industrieë is immers net ’n graadverskil. Die idee is in ieder geval gevestig dat daar hand geskud moet word tussen wat binne die universiteit aangaan en wat daarbuite nodig is.
Al die vryheid van denke aan die universiteit van die tweede helfte van die vorige eeu het ’n teenrevolusie van regs uitgelok. In die jare tagtig (dink: Reagan, Thatcher) het neoliberale idees Keynesiaanse denke uit openbare instellings begin verplaas. Hulle moes gekommersialiseer word.
Akademici het kursuslewerende werkers geword, ondergeskik aan nie-akademiese administrasiepersoneel. Die lewenslange geroepenheid van dosente vir hul vak sou nie meer by die administrateurs resoneer nie. Studente, op hulle beurt, was die werknemers van die toekoms wat beroepspesifiek toegerus moes word. Die idee van die universiteit as openbare goed is nie meer vertrou nie. Karikature uit die jare sestig en sewentig, van hippie-hugging professors en links-neigende intellektuele, sou produktief gebruik word om universiteite van die regterkant af beet te kry – en tot in ons dag van die woke poltergeist. Wat teen die einde van die vorige eeu nog staande was van die idee van hoëronderwys as instelling vir die gemenebes, sou nie klop met die basiese waardes van vryemark-kapitalisme nie. Steeds aldus Peter Fleming.
Die neoliberale universiteit
Fleming neig om in herhalende sirkels te praat, maar die prentjie wat hy skilder, is skerp (en onthutsend) genoeg. Benewens enkele persoonlike anekdotes, pluk hy ook nie sy stories van die patatrank nie, maar verwys punt vir punt na gepubliseerde studies.
Hy gaan daarvan uit dat die universiteit vandag ’n verlengstuk van die kapitalistiese samelewingsmodel is. Nog ’n rede hoekom dit jammer is dat hy nie in enige diepte ingaan op die geskiedenis nie, is dat universiteite sekerlik van die begin af ’n uitdrukking van hul samelewing en hul tyd was. Dié feit maak die prentjie vandag wel nie rooskleurig nie.
Fleming beskryf neoliberalisme soos volg:
[It] essentially refers to radical changes in the way governments organise the economy, with special priority given to private enterprise (including its memetic forms in the public sector) and expansive financialisation. (22)
Die universiteit, een so ’n mimetiese instelling, het ’n fabriek van sowel kennis as van afgerigte studente geword. Nie net moet die instelling in sy geheel volgens sakebeginsels bestuur word nie, maar afdelings en navorsingseenhede moet soos wins-en-verlies-sentra optree. Markeffektiwiteit word operasioneel en van individue verlang. Akademici word onderwerp en gemeet aan KPA’s (kritiese prestasieareas). Daar is hoë druk op hulle om navorsingstoekennings te kry en lonend in topjoernale te publiseer. Hierby kom getalledruk, want as sakeonderneming staan die institusie onder die imperatief om te groei. Meer studente en groter klasse is wat ekonomies sin maak.
Terwyl studente meer word, word vaste personeel minder. In die VSA en elders is ’n al kleiner deel van die dosentekorps op vaste aanstellings (tenured; in die VSA ten tyde van die skryf van hierdie boek net 25% van die instrukteurs, teenoor 80% in 1969). Daarteenoor is ’n al groter deel op beperkte kontrakte in diens (adjuncts). Laasgenoemde is goedkoper, want hulle doen net stukwerk en kry nie mediese of pensioenvoordele nie. Fleming noem dit die “Uberfication” van onderrigpersoneel. Daar moet aan die een kant bespaar word en aan die ander kant na wins gestreef word. Kennis is gekommodifiseer en, soos joernaalartikels en ander uitkomste, moet graduandi op skaal geproduseer word. Die woord daarvoor is massaproduksie.
’n Groter en groter administrasie is nodig om toe te sien dat dit so gebeur. Een deel daarvan is die stygende rol wat die menslike hulpbronne-afdeling speel. Meer en meer word dosente as ondergeskiktes aan die administrateurs gesien en behandel. Hoe meer administratiewe amptenare ’n universiteit het, dui Fleming aan, hoe beduidend swaarder word die dosente se werkslading.
Die topamptenare word intussen al meer soos uitvoerende hoofde van groot korporasies, wat besigheidsklas vlieg en tamaai groot vergoedingspakkette ontvang. In 2020, toe hierdie boek geskryf is, het die helfte van die visekanseliers in Brittanje meer as £300 000 per jaar ontvang. Vyf het meer as ’n halfmiljoen gekry. Die hoogs betaalde president van ’n Amerikaanse universiteit (Columbia) kry $4,95 miljoen. In Suid-Afrika het die visekanseliers aan drie universiteite in 2023 meer as R6 miljoen verdien.
’n Kultuur (en uiteindelik ideologie) van bestuurisme (managerialism) het die oorhand gekry. Dit het ’n baassindroom veroorsaak wat, in sy tipies hiërargiese piramiedestruktuur, van bo af tot reg onder deurgewerk het. In die verlengde hiervan kom ek daarby hoe Fleming uitwys dat selfs die studente in ’n vorm van baasskap bo hul dosente uitkom. Hy betreur verder, terwyl hy dit ook begryp, dat talle dosente óf passief meegaan, erfgename van ’n omgewing wat nie hul maaksel is nie, óf die stelsel speel om hul loopbaan te bevorder.
Hoe dit ook al sy, ’n outoritarisme kom algemeen voor, wat soms gewoon boeliegedrag is.
Studente, intussen, word kliënte in ’n saaklike verhouding tot die instelling wat die ou leerling-leraar-verhouding oorbie. Dit neig om hul gesindheid en optrede te verander, maar daar is ook finansiële en bygevolg eksistensiële implikasies vir studente. Wat Fleming noem die “businessification” van die universiteit, loop parallel aan die “neoliberalisasie” van die groter samelewing. In hul verkorporatisering speel finansies by universiteite ’n oorheersende rol. Terwyl staatsfinansiering krimp, moet die besigheid floreer. Lenings, effekte, beleggings, skenkings en skuld raak onvervreembaar deel van die operasie. In die VK eers, toe in die VSA en elders, is staatsubsidies aan studente omskep in lenings.
Die welbekende studenteskuldkrisis was die gevolg. In 2019, met die skryf van die boek, was die totale studenteskuld in die VK £121 miljard. Dit word vandag op tot £295 miljard geskat. Die bedrag per student is gemiddeld £53 000. In die VSA is die algehele studenteskuld $1,81 triljoen ($1,6 triljoen in 2019), waarvan 92% federale lenings is. Die gemiddelde student se aandeel, vir ’n baccalaureusgraad, is tussen $27 000 en $29 000. Ten tyde van die skryf van die boek was daar 8,3 miljoen Amerikaners ouer as 60 jaar met onbetaalde studielenings. Mens gaan jou loopbaan as ’n finansiële slaaf binne, dikwels sonder enige realistiese hoop om die skuldlas ooit te bowe te kom.
Fleming behandel ’n aantal kenmerke en gevolge van die korporatiewe universiteit in groter diepte en dit is die moeite werd om vervolgens ’n oomblik by van hulle te vertoef.
Impak
Industriebetrokkenheid word toenemend ’n voorvereiste vir die ontvangs van staatsfondse. Wat binne die laboratorium, die studeerkamer en die klaskamer gebeur, moet ’n impak op die wêreld daarbuite toon. Baie van wat hoëronderwys tradisioneel bied, word gesien as sinloos en elitisties. Dit laat studente sonder bedryfsvaardighede, word gesê. Universiteite moet bydra tot besigheid en dien, sê die American Association of Universities, as ekonomiese enjins vir hul gemeenskappe en streke. So lui die triomf van neoliberale ekonomie en die markimperatief oor universiteite, aldus Peter Fleming.
In hierdie paradigma is ekonomie die alleenarbiter van sosiale waarde en ’n meestermerker wat alle ander waardes transendeer. Niks is vrygestel van monetêre waardebepaling nie. Die universiteit, in hierdie gedaante, moet tegniese oplossings vind vir alles van nasionale veiligheid en oorlog tot armoede, klimaatsverandering, werkskepping en al wat ’n vraagstuk van ons tyd is. Dit vra klaarblyklik ’n tegnokratiese intellektuele raamwerk en ’n toenemend tegnokratiese institusionele logika.
Metrika (“a spreadsheet with hair”)
Fleming beskryf die maniere en reëlmaat waarmee die prestasie van akademici gemeet word. “Homo academicus is now one of the most measured and audited characters in modern society!” (42). Hy praat van die “tyranny of metrics”.
Onder die traplere wat akademici moet klim, is die rangorde van joernale waarin hulle publiseer, die impakfaktore van hul akademiese arbeid, navorsingsbeurse en hul Google-sitaatrang. Trouens, die hele universiteit is op mededingende voet met ander vir die wêreldrangordes wat gereeld uitgereik word. Hoe hoër jou plek op die lys, hoe meer buitelandse en veral nagraadse studente kan jy trek. Dit is nie sonder gevolge vir elke dosent se dagtaak nie, van wie verwag word om die universiteitleiding se strewe na ’n hoër posisie te verwesenlik, soms met strafmaatreëls indien teikens nie gehaal word nie. Hoe minder realisties die aspirasie, hoe aggressiewer word dit nagejaag.
Daarby kom ook nog die studente se beoordeling van dosente, byvoorbeeld deur die Lickert-skaal. Dié instrument gee jou ’n aantal stellings waarby jy op ’n vyfpunt-skaal aandui hoeveel jy saamstem of verskil. Wat ’n student egter bevredig, is nie altyd goeie pedagogie nie. Dosente, onder loopbaandruk en heimlik bewus van die gewig wat studentebeoordeling op hul prestasieprofiel het, begin konsert hou in die klaskamer. Die student-kliënt kry minder waarde soos wat die lesings aan substansie verloor, terwyl hulle aan vermaaklikheid wen. Fleming haal ’n artikel van E Bunge, getiteld “Students evaluating teachers doesn’t just hurt teachers. It hurts students”, aan waar hy sê:
[...] standards decline, so students learn less as the cost of their education rises. Ironically, this happens because students are now considered customers, so colleges want to keep them happy. (77)
Dit is die selfweersprekende verloop van die kommodifisering van opvoeding, en wat genoem word ’n perverse insentief. (Hiervan verhaal Fleming die keer toe die Franse owerheid in 19de-eeuse Hanoi beloning vir rotsterte aangebied het om ’n plaag te beveg. Die gevolg was grootskeepse rottelery buite die stad en ’n toename van rotte.) Nog ’n onbedoelde gevolg van studentebeoordeling is dat studente-essays hoër aangeslaan word as wat hulle verdien. Hoe beter die punte, hoe gewilder die dosent, hoe beter sy of haar professionele profiel. En hoe laer die standaard.
Maar dit raak erger. Die internasionale mark vir studente is besonder lonend vir universiteite wat nooit genoeg fondse het nie. In die neoliberale universiteit word, soos gesê, buitelandse studente by uitstek, maar ook die ander, verbruikers wat sukses eis in ruil vir betaling. In ’n werksomgewing wat reeds swaar dra aan toesig en wat Fleming noem “managerialism”, word die magsdinamiek teen die instrukteur gekantel en word studente op ’n vreemd omgekeerde manier bestuurders, of minstens supervisors, van hul leraars. Die baassindroom manifesteer nou hier ook, ongelukkig soms in die vorm van aggressiewe disrespek. Naas die amptelike gradering is daar ook ’n webwerf soos ratemyprofessor.com waar dosente behoorlik gekanselleer kan word.
Agter die meting en beoordeling sit ’n departement wat wêreldwyd sonder ironie “menslike hulpbronne” genoem word. Korporatiewe departemente vir menslike hulpbronne kry toenemend kritiek, en op die uiterste word hul bestaansreg bevraagteken. Ten beste het hulle weinige werklik positiewe impak op werknemers. Ten slegste speel hulle minder van ’n konstruktiewe rol as dat hulle ’n swaard teen die werknemer en ’n skild vir die maatskappy is. By verkorporatiseerde universiteite moet die verwagting nie anders wees as in die bedryf nie.
Van ’n min of meer goedaardige rol het daar, nie toevallig nie, sedert die jare tagtig en die neoliberale wending ’n verskuiwing plaasgevind na toesig, beheer, dissiplinering en uiteindelik ’n instrument om mense afgedank te kry. Weliswaar kom daar by universiteite, soos elders, vanuit hierdie departement advies en programme om kreatiewe ontspanning en ’n gesonde werk-lewe-balans te bevorder. Dié is egter al moeiliker om te behaal na gelang die werklas toeneem.
Loodswaai sou jou kon help asemhaal, maar jy verkeer onder, wat Fleming noem, ’n Stalinistiese vlak van toesig en monitering, wat op sigself spanningsvlakke opjaag. So bereik “menslike hulpbronne” die teenoorgestelde van wat voorgestel word. Fleming haal ook voorbeelde by van personeel wat onder die druk geswig het, en waar die universiteit in staat was om verantwoordelikheid te ontken deur te wys op die bestaande programme vir werk-lewe-balans.
Publish or perish
Maklik die ergste perverse insentief is wat die gevolg is van die publiseerimperatief. Dit is die moeite werd om Fleming hieroor breedvoeriger aan te haal:
Incentive: Reward researchers for increased publications. Intended effect: Improve research productivity and performance. Actual outcome: Growth in substandard papers, incremental-orientated research, increase in false or misleading use of data. Incentive: Reward researchers for increased citations. Intended effect: Reward influential and impactful research. Actual outcome: Lengthy and instrumental self-referencing, journal reviewers and editors insisting their own papers be cited. Incentive: Reward authors who publish papers in top-ranking journals. Intended effect: Encourage research excellence. Actual outcome: Authors have little interest in the actual “content” of their articles, diminishing innovation in the field, bestowing elite journals with tremendous powers. (78)
Publikasie in vaktydskrifte en die druk waaronder dit gedoen word is ’n groot oorsaak van die institusionele angstigheid, sê Fleming, wat akademici treiter. Loopbane is in die weegskaal en hierdie tydskrifte kan die sleutel hou. Daarby buit korporasies wat die joernale besit, universiteite uit deur buitensporige inskryfgeld in te vorder. Sommiges behaal ontsaglike winsmarges en “laat Rupert Murdoch soos ’n sosialis lyk”.
In hierdie omgewing kry jy die ernstigste van die perversiteite: die wanvoorstelling van data, of, erger, die vervalsing daarvan. Een voorbeeld daarvan is data-baggering (dredging). Jy laat loop jou statistiese analise oor en oor deur die program totdat jou data ’n beduidende patroon vertoon. Omgekeerd, vorm jy ’n hipotese eers nadat ’n statistieke beduidenis gevind is. ’n Ander voorbeeld is die sogenaamde droë laboratoria (dry labbing), waar jy die hele eksperimentele proses kortsluit en data uit die lug gryp, dit versin om gewenste resultate te lewer, of bloot ou data herhaal. Laasgenoemde was die geval toe ’n invloedryke sielkundige en later dekaan aan die Tilburg-Universiteit deur sy eie doktorale studente uitgevang is. 58 van sy artikels wat oor verskeie dekades heen verskyn het, moes aan vaktydskrifte onttrek word.
Fleming weerspreek die beswaar dat dit ’n geïsoleerde geval kan wees deur daarop te wys dat die onttrekking van akademiese artikels die hoogte in skiet. Hy gee hier geen bron aan nie, maar ’n kort soektog gee mens genoeg aanduiding dat hy reg is. Volgens een bron het die aantal onttrekkings van 3,5 per 10 000 artikels wêreldwyd in 2014 gestyg tot 11,2 per 10 000 in 2022 – hoewel nie almal om redes van wangedrag nie. Daar is in ieder geval ruim gepubliseerde getuienis van joernaalbedrog en skandaal.
Fleming maak nie ’n regstreekse vergelyking nie, maar spesmase vertel mens dat die slopende klem op publikasie (hy noem dit ’n fetish) iets moet wegneem van ’n toewyding aan onderrig. Laasgenoemde word wel ook gekwantifiseer met die doel om goeie leraars te beloon, maar hierbo sien ons hoe verkeerd so-iets kan loop. As dit is soos Fleming sê dat baie dosente weens hul werklading skaars tyd kry om boeke te lees, moet iets iewers aan kwaliteit inboet.
Om hierdie stand van sake om te keer lyk moeilik. Staatsubsidiestrukture het die patroon in sement gegiet. Loopbane is geïnvesteer in artikelgraderings. Tog, die vermenigvuldiging van artikels aktiveer die wet van verminderende opbrengste. Talle artikels word nooit gelees nie, nog minder gesiteer.
Gevolge
Die kultuur van werksdruk en gelddruk, mededinging, toesig en beheer en die toetrede van die industrie tot die ivoortoring van geleerdheid het gevolge vir samewerking en kollegialiteit, vir kennisverwerwing, die geesteswetenskappe en persoonlike gevolge vir dosente en studente insgelyks.
Kollegialiteit
........
Wedywering was nog nooit afwesig in ’n akademiese omgewing nie, maar hoe minder vaste aanstellings daar is, hoe feller word die gestamp van elmboë in ’n vol kamer. Die ideaal is ’n kollegiale kultuur van mededeling en ondersteuning. Belangrik is die sin vir kollektiewe rentmeesterskap van studie en kennis.
........
Wedywering was nog nooit afwesig in ’n akademiese omgewing nie, maar hoe minder vaste aanstellings daar is, hoe feller word die gestamp van elmboë in ’n vol kamer. Die ideaal is ’n kollegiale kultuur van mededeling en ondersteuning. Belangrik is die sin vir kollektiewe rentmeesterskap van studie en kennis. In ’n beduidende sin het die universiteit vroeër (vir seker nog in die oorgang tussen die jare sewentig en tagtig toe die uwe op Stellenbosch was) behoort aan die akademici. Die verskynsel van die “diktaat-spuwende” bestuurder weerspreek die waardes van kollegialiteit.
Kollegiale selfbestuur was vroeër die onuitgesproke manier van doen. Hierdie simboliese eienaarskap moes egter ongedaan gemaak word as voorwaarde vir die kommersialisering van hoëronderwys, sê Fleming:
Subsequently, academics are no longer a collegium of peers but hired labour [...] employees who sell their skill and availability to employers who enjoy true entitlement over the university. (55)
In welke omstandighede die uitoefening van beheer van bo vanselfsprekend makliker word, om nie te sê aantrekliker nie. En nie net van bo nie, maar ook in die mate dat studie en kennisverwerwing gekontrakteer word aan industrieë, van buite. Die “pre-neoliberalised” universiteit, sê Fleming, het na kollegiale selfbeheer gestreef, nie omdat dit gawer was nie – dikwels die teenoorgestelde – maar omdat dit die beste manier was om ’n werksmag met die eiendomlike kwaliteite van akademici te organiseer. Die ideologie van bestuurisme het daardie idee gekelder.
Kennisverwerwing
Die oormaat van meting aan die universiteit word meer deur beheer geïnspireer as deur funksionele koördinasie. Die toesig (surveillance) skep ’n unieke vorm van terreur, aldus Fleming. Dit lei tot onmiddellikheid en skep ’n korttermyn-begrip van akademiese inspanning. Intellektuele ondersoek ly wanneer selfs die lees van ’n boek die skynsel van ’n selfbederwery verkry. Daar moet resultate wees, en in ’n besigheidsomgewing is tyd gelyk aan geld.
........
Die oormaat van meting aan die universiteit word meer deur beheer geïnspireer as deur funksionele koördinasie. Die toesig (surveillance) skep ’n unieke vorm van terreur, aldus Fleming. Dit lei tot onmiddellikheid en skep ’n korttermyn-begrip van akademiese inspanning. Intellektuele ondersoek ly wanneer selfs die lees van ’n boek die skynsel van ’n selfbederwery verkry. Daar moet resultate wees, en in ’n besigheidsomgewing is tyd gelyk aan geld.
........
“[A]cademic labour is abstract,” sê Fleming, “and can’t be prompted by factory-like performance incentives. Yet they pervade the sector with a vengeance” (8). Dit werk teen die longue durée van die komplekse en tydrowende denk- en eksperimentele arbeid van diepgaande akademie. Die skroewe word al hoe vaster gedraai téén die tydsame wag op ’n deurbraak, ’n toevallige ontdekking, teen doodloopstrate, vals beginne en ’n nuwe aanpak. Dit kan akademici trouens ontmoedig om jare in hul studieveld te belê.
Ook die kultuur van eweknievergelyking, met sy ondermyning van samewerking en kameraderie, ry kennisverwerwing in die wiele.

Foto: Canva
Geesteswetenskappe
Onder die hoë-impak-imperatief is die geesteswetenskappe die groot verloorder. Hulle moet kapasiteit afstaan aan die sogenaamde Stem-vakke (science, technology, engineering en mathematics), wat beroepsgereed studente lewer. Hierdie verskuiwing vind sekerlik op organiese manier plaas deurdat meer studente vanself kies vir laasgenoemde grade, maar dit word ook afgedwing in die vorm van staatsondersteuning. Fleming haal ’n voorbeeld uit Australië aan waar die federale owerheid in 2020 die prys van grade in die geesteswetenskappe verdubbel het ten einde meer studente na die Stem-dissiplines toe aan te du.
Onder die leraarskorps beteken dit dat die aantal poste grootliks verminder. Fleming haal verskeie voorbeelde aan. ’n Amerikaanse gepromoveerde, nadat hy oplaas die hoop op ’n vaste aanstelling laat vaar het, skryf ’n artikel, getiteld “Getting a Literature Ph.D. will turn you into an emotional wreck, not a professor.”
Maar wat verloor ons saam met die geesteswetenskappe? Fleming beperk hom tot ’n paragraaf oor filosofie waarin hy onder meer sê:
But when it comes to arguments about the desirability of free markets, animal testing and who should live or die when a pandemic lays civilisation low, philosophical thought is essential. (107)
Daar word baie oor dié saak geskryf. Oorsigartikels help om ’n prent te vorm, byvoorbeeld komende uit Suid-Afrika (en hier), uit Stanford, Harvard en Cornell. Dit is miskien goed om net ’n oomblik te verwyl by die implikasies van ’n wêreld waar die geestesvrugte van die mens se intellektuele arbeid oor millennia in hul aandskemering is (dié bespreking met KI-bystand):
Met die verlies aan ’n vermoë om komplekse tekste te lees, gaan die vermoë om argumente te ontleed, vooroordeel uit te snuffel en perspektiewe te vergelyk. Ons verleer om te verstaan wie ons is, hoe ons samelewing funksioneer, wat waardes beteken, hoe ons sin vind. So begryp ons al minder ons eie motiverings, gee etiese keuses ons al hoe meer moeite, soos ook die vraag waar ons kultureel en histories pas. Emosionele intelligensie verminder, asook nuanse in ons wedersydse begrip en daarmee saam ons kapasiteit vir empatie. Wat ons aan tegnokratiese vorming wen binne ’n suiwer Stem-paradigma, verloor ons aan refleksie. Ons word tegnies bemagtigde individue wat eties ongeanker is.
As landsburgers word ons bydrae gekompromitteer deur onvermoë om krities met die media om te gaan, propaganda te herken en ingeligte, redelike debat te voer. Ons beheersing van taal neem af en gepaard daarmee ons sin van vervlegting met ’n kollektiwiteit van stories, wysgerige tradisies, ’n geskiedenis. Sonder historiese insig het ons niks om op terug te val wanneer konflik dreig, vryheid in die gedrang kom, foute ingesien en gekorrigeer moet word nie. Algoritmes rig ons, ekonomiese waarde bepaal ons en voor die groot vrae oor geregtigheid, goedheid, skuld staan ons in kinderskoene.
Die mensemateriaal wat ons moet help weer teen hierdie verval, word ook minder en swakker. Ons verloor onderwysers, uitgewers, vertalers, kurators, geskiedkundiges. Die gehalte van leierskap is in vryval. Vra jou af wie onder internasionale leiers vandag is ’n morele baken vir die wêreld?
Dosente
Fleming bring mensekapitaalteorie (human capital theory) ter sprake. Hierdie teorie wat in die jare sestig aan die Chicago School of Economics ontwikkel is, gaan daarvan uit dat die menslike bestaan primêr ekonomies van aard is. By die werkplek beteken dit dat die onderskeid tussen jou werks- en persoonlike lewe, hoeseer balans ook gepredik word, al hoe moeiliker onderskei en geskei kan word. “The economy never switches off and nor should you” (90).
Die werkslading is hierbo bespreek, maar vir die groeiende korps tydelike personeel kom daar iets by: Hulle kan soms (die skrywer sê dikwels) nie ’n lewe bekostig nie, beland onder die broodlyn, slaap in hul motors en gebruik die gimnasium-badkamers.
Die neoliberale wending by universiteite voer die doserende personeel in ’n drukgang af wat vir te veel van hulle uitloop op die kwale wat geassosieer word met ekstreme kapitalisme, en wat aan universiteite ’n eiendomlike karakter gee. As jy ’n lys moet sif uit Fleming se boek, lyk dit sleg: professionele afguns en sabotasie, chroniese vermoeidheid, slapeloosheid, geïrriteerdheid, verswakte oordeel, paranoia, alkoholmisbruik, angs, depressie, gevoelens van waardeloosheid en hopeloosheid, chroniese stres en, helaas, selfdood.
Fleming sê egter self dat dit meer kompleks is as ’n kwessie van vir of teen die neoliberale universiteit. In weerwil van wat hierbo staan, weerspieël dit nie die gemoed en belewenis van die meeste akademici nie:
[...] referring to the silent majority, reasonable and otherwise self-aware scholars who have, often out of necessity, quietly internalised the new dogma, leaning on it as the default option for how the profession works. (12)
Studente
Dit is maklik om studente en ander jong mense af te maak as sneeuvlokkies wat te maklik seergemaak voel. Fleming maak ’n nadruklike saak daarvoor uit dat studente dit vandag moeiliker as ooit het. Werksdruk is een ding, maar dit is die finansiële las wat miskien die swaarste lê. Universiteite, sê hy, is nie meer ’n veilige hawe teen die mark se eise nie, maar presies ’n uitdrukking daarvan. Daarmee saam gaan onder meer die mededinging om, hoop op en uiteindelike wanhoop aan loopbaangeleenthede wat die studie sal loon.
Onder die dogma van mensekapitaalteorie en neoliberale staatsfinansiering kom die finansiële las van studie op die individu neer. Hoekom moet ander help betaal vir jou fancy graad? is die vraag wat gevra word. Nie net ignoreer dit die onbetwiste en onmisbare openbare voordele van dat daar geleerde en opgeleide mense is nie, maar dit roep ook die teenvraag op: Waarom sou ’n jong mens in die aangesig van lewenslank versmorende studieskuld hoegenaamd na ’n universiteit gaan?
Fleming skryf hoofsaaklik oor die geval by universiteite van die globale noorde, asook Australië en sy geboorteland, Nieu-Seeland. In Suid-Afrika was daar ’n staatsleningmeganisme wat in 2018 omgeskakel is na ’n beursstelsel, NSFAS (National Student Financial Aid Scheme). Hierdie skema is veronderstel om meer as 800 000 studente te help aan klas-, registrasie- en eksamengeld plus ’n voorsiening vir boeke, verblyf, maaltye en ander koste. Dit word egter verlam deur korrupsie en wanbestuur, en studente ly die gevolge. Dit is nie ongekend dat studente wat algeheel op hierdie fondse moet staat maak, veral aan die begin van die jaar, op straat sit en honger ly nie.
’n Krisis van lewenskoste laat studente wêreldwyd swaar trek. ’n Vyfde van Franse studente leef onder die broodlyn. Deregulering plaas verblyf buite die bereik van talle in stede so verspreid soos Londen, Auckland, Austin en Toronto. Dit dryf party tot verdorwenheid soos prostitusie indien hulle wil aanhou studeer.
Intussen sit, volgens ’n studie van 14 000 studente in 19 lande, 35% van die studente in volgepakte lesingsale met geestesgesondheidsprobleme wat sterk ooreenkom met wat akademici ondervind. Beradingsverwysings skiet die hoogte in. Erger as by die dosente, is die voorkoms van selfdood onder studente, en dit weer eens wyd verspreid: byvoorbeeld binne enkele jare 13 by Bristol, in een jaar sewe by Columbia, 14 by Pennsylvania in iets soos vyf jaar. Suid-Korea en Hong Kong word ook onder die hot spots vir studenteselfdood getel.
Was hul graad die moeite, die geld en die verdriet werd? In ’n Australiese studie het 21% van millennials nee geantwoord. In die hiperkompeterende kultuur van loopbaanfiksasie, onder die drukte van werk en geldprobleme en met die atomistiese verindividualisering van die millennials, moet iets skietgee.

Foto: Canva
Suid-Afrika
Hier te lande is van die belangrikste vroeëre werk oor die aard van die universiteit in die algemeen in Afrikaans gepubliseer. HW Rossouw, in lewe filosoof en later vise-rektor op Stellenbosch, laat sien in 1993 die bundel, Universiteit, wetenskap en kultuur: opstelle oor die krisis, uitdagings en geleenthede van die moderne universiteit, die lig by Tafelberg. Sy kollega en medefilosoof Anton A van Niekerk is die samesteller. Rossouw sien die universiteit as ’n gesitueerde institusie binne ’n bepaalde kultuur waarmee dit, selfs in sy wetenskapsbeoefening, in wederkerige verband staan, en tog outonoom moet bly. Onder ’n stel krisisse van die moderne universiteit tel Rossouw die druk van ekonomisering en die beoordeling van die universiteit volgens winslogika, produktiwiteit en meetbare uitkomste. Dié bepaalde opstel is van 1990.
Van Niekerk in sy inleiding beklemtoon ook outonomiteit in die aangesig van onder meer politieke mag, ekonomiese doeleindes en ideologiese eise. In sy eie werk stel hy dit sterker, onder meer in ’n artikel van 1991, getiteld “Akademie en politiek”, waar hy afstand van magstrukture en ’n kritiese eerder as ’n dienende ingesteldheid bepleit. Hierdie skrywers skakel vroeë rooi ligte aan oor bestuurders- en ouditkultuur, kommodifisering van navorsing en die universiteit as diensinstelling. Hulle beklemtoon die noodsaak van die universiteit as openbare goed. Van Niekerk sou oor die jare sedertdien terugkeer op hierdie tema.
Die prent wat gevorm word uit die meer onlangse geskrifte van verskeie akademici, kom sterk ooreen met wat Fleming oor ander wêrelddele skryf: Staatsondersteuning daal en finansiële druk neem toe. Dit forseer universiteite in ’n entrepreneuriese rol. Daar is mededinging vir studente, wat verbruikers word. Opvoeding word ’n kommoditeit. Nuwe bestuurspraktyke dwing ’n sake-oriëntasie af met die gepaardgaande vereiste dat akademici meetbare uitkomste lewer. Dit stuur universiteite weg van hulle rol as openbare goed. Bedenklike arbeidspraktyke neem toe, wat ’n toename in tydelike kontrakwerkers insluit en uitbuitende werksladings.
In ’n land soos Suid-Afrika tel by bogenoemde spesifiek ook die swak posisie van veral swart vroue en die verdiepende ongelykhede van klas en ras in die korporatiewe konteks.
Onderaan gee ek ’n lys skakels na Suid-Afrikaanse artikels oor die onderwerp.
Die redding
Fleming is nie vol vertroue dat die neoliberaal-korporatiewe wending omgekeer kan word nie, maar daar was in die onlangse jare wêreldwyd teenreaksie. In die VK het universiteite hul afhanklikheid van internasionale studente as inkomstemodel begin heroorweeg. Die onvolhoubare groei van administrasie kry aandag. In Australië word weer in voltydse aanstellings belê en korporatiewe konsultasie-eenhede binne universiteite word teruggesnoei. In Kanada word kollegiale leiding teruggebring, terwyl opgeblase administrasie verklein word. Nie-winsgewende akademiese programme word beskerm. In die Noorweë en Finland word KPA’s vir akademici uitgefaseer en bestuursmodelle ingevoer wat die senaat weer groter seggenskap gee.
Fakulteitsunies in Europa, Australië en die VSA word sterker. Hulle oefen druk uit vir meer vaste aanstellings in plaas van die bedenklike praktyk van kontrakwerkers. Hulle het ook suksesse behaal teen die uitkontraktering van navorsingsresultate en die korporatiewe prestasiebeoordelings. Administrasiegroei is ook in die visier.
........
Die ironie is dat hoe meer universiteite verkorporatiseer, hoe kwesbaarder word hulle vir die skokepisodes van die markte. Daar is universiteite wat hul posisie as openbare goed, akademiese outonomiteit en demokratiese bestuur herbevestig.
........
Die ironie is dat hoe meer universiteite verkorporatiseer, hoe kwesbaarder word hulle vir die skokepisodes van die markte. Daar is universiteite wat hul posisie as openbare goed, akademiese outonomiteit en demokratiese bestuur herbevestig. Sommige kolleges in die VSA het anti-korporatiewe planne aanvaar, wat kleiner klasse insluit, vaste akademiese aanstellings doen en ’n gemeenskapsmissie eerder as groei najaag.
Uit studentegeledere kom daar ook weerstand. Studentebewegings in talle lande (waaronder die VK, die VSA, Suid-Afrika en Nederland) is in opstand teen die student-as-verbruiker-model en die gepaardgaande hoë klasgeld. Daar word ook van universiteite ’n terugkeer geëis na die kern- akademiese funksie van onderrig en navorsing bó korporatiewe uitbreiding.
Fleming skryf vóór November 2022. Hy sou nie kon voorsien watter algeheel disruptiewe rol kunsmatige intelligensie (KI) in die akademie sou speel nie. As mens Johan Fourie se onlangse artikel in Rapport oor KI en die universiteit lees, klink dit na 'n uitgemaakte saak dat hierdie verskynsel die neoliberale wending aansienlik verder gaan neem. In 'n onderhoud met hom op LitNet sê hy: "Die onderrigfunksie van universiteite gaan al hoe meer deur KI ondervang word; die navorsingsfunksie deur groot maatskappye."
Fleming, vanuit sy perspektief, stel sy prekêre hoop op ’n samevloei van twee idees. Die een is ’n ideaaltipe universiteit wat die geesteskind is van Jacques Derrida, ’n universiteit waar die suiwere beginsel geld van volle staats- en private finansiering, maar sonder voorwaardes, en daarmee saam volle akademiese vryheid. Die ander idee is die werking van die undercommons, ’n konsep geneem uit ’n boek deur Stefano Harney en Fred Moten oor die bestaansmoontlikhede van onderdrukte minderheidsgroepe teen die hegemonie. Vir Fleming is daar by universiteite ’n stille, ongemerkte meerderheid van nie-instemmende akademici wie se arbeid en samewerking nogtans die universiteit funksioneel hou, op wie die universiteit trouens vir sy bestaan vertrou, maar sonder om dit te erken of selfs te herken.
Wat is die doel van die universiteit? vra Fleming ten slotte, en hy antwoord so:
To create important new fields of understanding and extend existing knowledge-bases, whether in terms of applied expertise, empirical examination and/or conceptual insights. This ought to better humankind on multiple levels, including the physical, theoretical, political, cultural, environmental and economic dimensions of life. In the final instance, the university serves to cultivate and democratise reason and the global benefits it can yield. (160)
........
Die universiteit is vandag oorbepaal – deur die staat, die ekonomiese matriks en die korporatief-industriële kompleks. Die korporatiewe universiteit is ’n simptoom van magtige konstellasies buite sy eie terrein. Om ’n geleerde te bly wat trou is aan die roeping, sê Fleming, is onmoontlik tensy iets meegee
.........
Die universiteit is vandag oorbepaal – deur die staat, die ekonomiese matriks en die korporatief-industriële kompleks. Die korporatiewe universiteit is ’n simptoom van magtige konstellasies buite sy eie terrein. Om ’n geleerde te bly wat trou is aan die roeping, sê Fleming, is onmoontlik tensy iets meegee:
Any free university in the future would therefore need to recover the entire meaning of efficacy and reverse its reduction to the most ethereal notion of all [...] relevance. (112)
Verdere leeslys oor Suid-Afrikaanse universiteite:
https://www.journals.ac.za/sajhe/article/view/5971/
https://files.eric.ed.gov/fulltext/EJ1452521.pdf
https://www.journals.ac.za/sajhe/article/view/6152
https://ifaaza.org/neoliberalism-and-the-crisis-in-higher-education-in-south-africa
https://thejournal.org.za/index.php/thejournal/article/view/405
https://www.journals.ac.za/sajhe/article/view/2162
https://td-sa.net/index.php/td/article/view/1439
https://scielo.org.za/pdf/jed/n96/02.pdf
https://en.wikipedia.org/wiki/FeesMustFall
https://sajhrm.co.za/index.php/sajhrm/article/view/2490
https://arxiv.org/abs/2511.07474
https://files.eric.ed.gov/fulltext/EJ1462188.pdf
https://www.politicsweb.co.za/documents/the-university-funding-crisis
https://allafrica.com/stories/202502250225.html
https://www.scielo.org.za/scielo.php?pid=S2520-98682024000300002&script=sci_arttext&utm
https://www.news.uct.ac.za/article/-2024-09-27-annual-financial-review
https://www.up.ac.za/media/shared/362/up-annual-report-and-financial-statements-2024.zp267802.pdf
Lees ook:
Die toekoms van die universiteit in ’n KI-wêreld: ’n onderhoud met Johan Fourie
Skeppende KI se uitdagings en oplossings vir akademiese vaktydskrifte

