Quo vadis vir ’n tradisionele universiteit met ’n kampus en studentelewe?
Kunsmatige intelligensie (KI) en tradisionele universiteite was van die onderwerpe wat in een van die diskoersgesprekke die afgelope week by die Toyota Stellenbosch Woordfees aan bod gekom het. Op 2 Oktober het Deresh Ramjugernath en Chris van der Merwe met Leslie van Rooi oor die toekoms van hoëronderwysinstellings gesels.
Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die gesprek.
Toyota Stellenbosch Woordfees: Kunsmatige intelligensie en die tradisionele Universiteit (Netwerk24-gespreksreeks)
Universiteite sal oor 100 jaar van nou af steeds deel wees van hoër onderwys, maar sal moet ontwikkel en aanpas by nuwe omstandighede om gegradueerdes vir die volgende 40 tot 50 jaar se werksmag te lewer.
So het die Universiteit Stellenbosch (US) se aangewese rektor, Deresh Ramjugernath, by die Toyota Stellenbosch Woordfees gesê tydens ’n paneelbespreking oor die toekoms van hoëronderwysinstellings.
Die gesprek het onder andere ook gehandel oor KI en tradisionele universiteite. Die ander deelnemer was Chris van der Merwe, stigter van Curro, Suid-Afrika se grootste privaatskoolonderneming, en die medestigter van Stadio Holdings, die maatskappy se hoëronderwysafdeling, wat ook op die JSE genoteer is. Die gespreksleier was Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie by die US.
Die paneel was dit eens dat daar altyd ’n rol vir universiteite sal wees, maar dat daar op verskeie terreine nuut oor hoër onderwys gedink sal moet word.

Leslie van Rooi, Deresh Ramjugernath en Chris van der Merwe (Foto: Jean Oosthuizen)
Ramjugernath sê die volgende fase waarop universiteite sal moet fokus in hul evolusionêre ontwikkeling, is ’n groter klem op die ontwikkeling van die regte vaardighede wat in ’n komplekse en veranderende wêreld nodig is.
Van der Merwe sê dit is ’n uitgemaakte saak dat universiteite daar is om denke te bevorder en studente nie net moet leer om te memoriseer nie. “Ons kom na ’n universiteit toe om universele denke te ontwikkel, en dit is standvastige denke wat nie alleenlik in vandag se orde geldig is nie, maar toekomsgerig is.”
Volgens Van der Merwe is daar te min universiteite in die land. As daar na werkloosheid gekyk word, blyk dit dat 40 persent van Suid-Afrikaners wat nie werk het nie, ook nie matriek het nie. Wanneer daar gekyk word na mense wat wel matriek het, daal die werkloosheidsyfer syfer na 34 persent, wat volgens hom reeds iets sê van ’n matriekkwalifikasie.
Wanneer ’n BA-graad verwerf word, daal die werkloosheidsyfer verder na tussen ses en tien persent in die Suid-Afrikaanse konteks. Die kans om ’n werk te kry as jy ’n BA-graad het, is dus baie goed.
Dit beteken daar moet baie meer kinders op skoolvlak in basiese onderwys gereed gemaak word om te kwalifiseer om as eerstejaars toegelaat te word tot die top openbare en ook privaat universiteite, het Van der Merwe gesê.
Volgens Statistieke Suid-Afrika was sowat 74 persent van die openbare universiteite se studente in 2022 swart. Hy sê dit is goed vir die land, omdat die grootste deel van die bevolking swart is en die voorreg moet hê om universiteit toe te gaan, maar veels te min studente kry steeds die geleentheid om verder te studeer.
Die deel van die data wat hom toegewyd en opgewonde maak om in die opvoedkunde te bly, is dat slegs 5,5 persent swart jongmense tussen 18 en 21 jaar inskryf vir hoër onderwys. Dit behoort volgens hom verhoog te word na 20 tot 30 persent om werkloosheid te verminder en die ekonomie te laat groei.
Van Rooi sê die punt is dus dat die land vyf tot sewe meer universiteite so groot soos Stellenbosch s’n nodig het om ’n duik te maak in die aantal studente wat behoort te studeer om ’n verskil aan die ekonomie te maak.
Wat die veranderende landskap van universiteite betref, glo Ramjugernath daar sal altyd ’n behoefte wees aan fisiese onderrig in lesingsale of klaskamers, ondanks die nuwe tegnologie. Hy sê dit is omdat die mens ’n sosiale spesie is wat floreer in omgewings waar hulle met mekaar kan betrokke raak en van mekaar kan leer.
Dit sal nie verander nie, en daarom sal daar sal altyd ’n behoefte wees vir residensiële universiteite. Hy voorsien wel ’n kombinasie van aanlyn studies en persoonlike onderrig in lesingsale waar daar ook sosiale interaksie is.
Van der Merwe sê omdat daar nie net residensieel gegroei kan word nie, is aanlyn leer egter net so belangrik. “Ons wil studente die voorreg gee om makliker toegang te kry tot die tersiêre ruimte en wil veral studente wat nie noodwendig suksesvol is om toegang tot openbare universiteite te kry nie, aanmoedig om aansoek te doen.”
Die land se 26 openbare universiteite het net plek vir sowat 100 000 eerstejaars. Sowat 300 000 kwalifiserende eerstejaars moet dus meeding vir die ongeveer 100 000 plekke in dié 26 universiteite. “Wat gebeur met die ander 200 000 studente? Hulle het die passie en die vermoëns en het hulle hele skoolloopbaan lank gewerk om toegang te kry, maar daar is nie plek vir hulle nie.”
Dit is volgens Van der Merwe waar openbare en private hoëronderwysinstellings mekaar goed kan aanvul. Studente hoef nie op te hou droom as daar nie vir hulle plek is by openbare universiteite nie, want daar is elders vir hulle ook ’n plek.
As private universiteite of hoëronderwysinstellings teen ’n baie bekostigbare bedrag deur die gebruik van die internet en algoritmiese metodes vir ’n kind kan toegang gee tot ’n tersiêre ruimte en dieselfde kwalifikasies met dieselfde kwaliteite kan gee, al is dit oor ’n effens langer tyd, vul die private sektor die publieke domein aan, het Van der Merwe gesê.
Wat KI en masjienleer betref, is Ramjugernath en Van der Merwe dit eens dat dit gekom het om te bly. Hulle sê dit gaan die manier waarop daar in die toekoms aan universiteite geleer word, verander, maar dit hoef nie ’n negatiewe verandering te wees nie.
KI kan volgens hulle as gereedskap gebruik word om dit makliker te maak vir mense om te leer mits dit reg aangewend word. Dit beteken daar moet die nodige etiese reëls wees om die gevare wat dit inhou uit te wys. Daarom moet daar groter klem daarop gelê word om ’n waardestelsel te ontwikkel van etiek en integriteit onder studente, sodat hulle kan verstaan hoe om KI met integriteit te gebruik.
Van der Merwe sê die kruks van die saak is dat daar altyd ’n menslike faktor sal wees wat eienaarskap moet verklaar en verantwoordelikheid moet aanvaar sodat dat daar verantwoordbaar met KI omgegaan kan word.