’n Paar jaar gelede lewer ek ’n referaat by ’n konferensie oor interkulturele filosofie in Wene. Die tema van my bydrae was die voorwaardes vir die voortbestaan van Afrikaans as akademiese taal in Suid-Afrika, met ’n klem op die belangrikheid van vertaling. Ek het sterk aansluiting gevind by NP van Wyk Louw se belangrike essay “Vertaling is die werktuig van ’n lewende kultuur”. Na my mening was hierdie benadering in geen opsig kontroversieel, onbillik of enklawisties nie.
Net voor ek my praatjie begin, fluister die organiseerder in my oor dat ’n (wit, Duitse) Afrika-studies-dosent ’n kritiese toespraak geskryf het wat sy wil voorlees na afloop van my referaat. “Maar sy het nog nie eers gehoor wat ek wil sê nie,” merk ek verbaas op. Na my relaas het sy toe haar vurige en passievolle toespraak gelewer waarin sy die afskaffing van hoëronderrig in alle plaaslike tale in Suid-Afrika bepleit, insluitend Afrikaans, ten behoewe van ekonomiese groei. Sy ondersteun haar standpunt deur daarop te wys dat jongmense dringend werk benodig en wat hulle daarvoor nodig het is opleiding, nie digkuns en sulke soort “nuttelose tydverdrywe” nie. Die pleidooi vir die voortbestaan van Afrikaans was kennelik ’n hindernis by die verwesenliking van haar filantropiese visie. “Hoe verskil hierdie mensbeeld van die koloniale idee van die Afrikaan as blote arbeider en niks meer nie?” wou ek weet. (Die voorstel vir likwidering van ’n minderheid om ’n utopiese visie van ’n Duitser te dien, het ook vaagweg vir my bekend geklink ...) Die gehoor het met skamerige grinnike besef wat ek gesê het: Mag net Europese vastelanders en Engelstaliges digkuns en filosofie in hul moedertale bestudeer terwyl die res van die wêreld net indiensopleiding moet kry?
’n Vorige week se beriggewing oor die afwysende standpunte van ene David Love by US oor die inisiatief van die Afrikaanse Alumni-vereniging om nagraadse studies in Afrikaans te befonds, het my weer aan hierdie episode laat dink. Volgens dié geleerde is dit kwansuis uitsluitend om in enige taal behalwe Engels (toevallig Love se moedertaal) te studeer. Ek kan my kwalik ’n meer uitsluitende idee as hierdie blatante taalimperialisme voorstel! Dit het my by die slotsom gebring dat Love daadwerklik blind is, ooreenkomstig met die bekende gesegde.
Meer Geesteswetenskappe
Hoe gebeur dit dat so ’n stomme en neerhalende neokoloniale mensbeeld in ons onderrigsektor posgevat het? Hierdie benadering gaan veel verder as net een of twee persone se standpunte. Die aanbod van studieprogramme by plaaslike privaat instellings toon ’n onwilligheid om ruimte vir die Geesteswetenskappe te skep. Dit lyk of hulle die ekonoom Dawie Roodt se idee voorstaan dat vakke soos Politieke Wetenskap nutteloos is en dat die Geesteswetenskappe beperk behoort te word tot ’n paar bemarkingsvakke. Kom dit uit ’n vrees dat “ideologie” hul “pragmatiese” ingesteldheid gaan kelder, terwyl hulle self dogmaties verbind is aan die idee dat die mens slegs homo economicus en niks meer is nie, en dat die verryking van die gees tot ’n verarming van die ekonomie gaan lei? Prof Love se aandrang op “inklusiwiteit” verskraal insgelyks die uitbouing van menskapitaal tot blote ekonomiese oorlewing.
Die Geesteswetenskappe dien in hierdie scenario alleen die doel om ekonomiese imperatiewe te verwesenlik. Hierdie benadering is tekenend van ’n toenemend tegnokratiese aanslag wat mense in ontwikkelende lande nog méér aan instrumentalisering blootstel. Dit is telkens mense in Afrika wat die prys moet betaal vir die uitgediende Westerse verlossingswaan, wat tans gestalte kry in die vorm van kobaltmynwerkers in die DRK en getraumatiseerde KI-data-werkers in Kenia – en ook in Love se standpunte te lees is.
........
Hierdie benadering is tekenend van ’n toenemend tegnokratiese aanslag wat mense in ontwikkelende lande nog méér aan instrumentalisering blootstel. Dit is telkens mense in Afrika wat die prys moet betaal vir die uitgediende Westerse verlossingswaan, wat tans gestalte kry in die vorm van kobaltmynwerkers in die DRK en getraumatiseerde KI-data-werkers in Kenia – en ook in Love se standpunte te lees is.
........
Die Geesteswetenskappe staan voor die uitdaging om te verval tot opleiding in reklame om sosiale imperatiewe te dien en nie meer te interpreteer en bekritiseer of herbedink nie. Gesonde, kreatiewe en konstruktiewe debat word vervang met sogenaamde “safe spaces”, wat dikwels niks meer is nie as eggo-kamers wat “die oppervlak” verabsoluteer ten koste van “diepte”.
........
Dit is ’n scenario waarin die mens self ’n hulpbron geword het wat “ontgin” word, dit wil sê die werker se velkleur of geslag tel meer as sy bekwaamheid, aangesien dit vir die voornemende maatskappy kontrakte kan bewerkstellig. Dit is op sy ergste uitbuiting van arbeid, en op sy beste miskenning daarvan. Dit is alles in reaksie op die geskiedenis.
........
Dit is ’n scenario waarin die mens self ’n hulpbron geword het wat “ontgin” word, dit wil sê die werker se velkleur of geslag tel meer as sy bekwaamheid, aangesien dit vir die voornemende maatskappy kontrakte kan bewerkstellig. Dit is op sy ergste uitbuiting van arbeid, en op sy beste miskenning daarvan. Dit is alles in reaksie op die geskiedenis. Oor die geskiedenis kan ons die volgende sê: Dit is geen pretpark waar jy net op die ritte wat vir jou nostalgies is kan klim nie, maar die uitdagings wat dit bied is insgelyks nie iets wat met kitsoplossings en onbekwaamheid opgelos gaan word nie.
Die Geesteswetenskappe is natuurlik vatbaar vir wanopvattings, wat NP van Wyk Louw opsom as die vatbaarheid vir allerlei kitsantwoorde op wat met “menslikheid” bedoel word, en gepaardgaande daarmee vir skeefgetrekte “mensliewendheid”, waaraan Love hom skuldig maak.
Indien dieper kyk én gesonde debat – die werktuie van die Geesteswetenskappe – moet plek maak vir “selfregulerende” vraag en aanbod en die klakkelose implementering van politieke beleid, gaan dit allermins die emansipasie in die hand werk wat beloof word. Soos ons tans sien, gaan die mark juis ekstra dogmatistiese druk begin plaas op die universiteit om imperatiewe kritiekloos in meetbare uitkomste toe te pas. Meer van dieselfde of selfs ’n verder geradikaliseerde aanslag gaan nie minder van dieselfde resultate oplewer nie. Die ongenuanseerde politieke debat, wat ontaard in ’n moddergooiery, eie beeldpoetsing en geraasmakery, getuig hiervan.
Meer as feestale
Die kultivering van moedertale is nie ’n belemmering vir die groei van ’n selfstandige, diverse en dinamiese samelewing nie, maar die voorwaarde daarvoor.
........
Die kultivering van moedertale is nie ’n belemmering vir die groei van ’n selfstandige, diverse en dinamiese samelewing nie, maar die voorwaarde daarvoor.
........
Die bewuswording hiervan eis meer as blote wedersydse “verdraagsaamheid”, dit vereis wederkerige erkenning en belangstelling om in dieselfde ruimtes verskillende nuanses aan die werklikheid te gee, om ’n wêreld te skep waarin eenheid en verskeidenheid interaktiewe dimensies van algemeenheid word. Die troos wat gegee word dat Afrikaans gedy omdat daar feeste gereël word en letterkunde bestaan, is nie goed genoeg nie, en getuig voorts van ’n verkleutering van moedertale as bron van nostalgie en vermaak, verbruikersitems, en as naelstring wat geknip word sodra die vakansie verby is en die universiteit weer voortgaan met Engels, die taal van die kop (capitas), die taal van die kapitaal.
........
Die troos wat gegee word dat Afrikaans gedy omdat daar feeste gereël word en letterkunde bestaan, is nie goed genoeg nie, en getuig voorts van ’n verkleutering van moedertale as bron van nostalgie en vermaak, verbruikersitems, en as naelstring wat geknip word sodra die vakansie verby is en die universiteit weer voortgaan met Engels, die taal van die kop (capitas), die taal van die kapitaal.
........
Is dit werklik so dat lande steeds gedy wat nie hul moedertale kultiveer nie? Kyk na die Ooste vandag, dit wys die teendeel. Niks minder nie as die Verligting het getoon dat wanneer eentaligheid, wat vir eeue lank die septer geswaai het deur middel van Latyn en stagnering op talle vakgebiede in die hand gewerk het, plekmaak vir die ontwikkeling van moedertale tot op die hoogste vlak, dit lei tot ’n skerper kurwe in kulturele en wetenskaplike vooruitgang vir die mensdom as geheel.
- Hercules Boshoff is medewerker by die Instituut vir Filosofie en die Samelewing
Lees ook:
Theuns Eloff: Aftakeling van Afrikaans as akademiese taal universiteite se eie skuld
Eeufeesviering van Departement Afrikaans en Nederlands, US: Kanselier Edwin Cameron se toespraak
DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US
LitNet Akademies Weerdink-onderhoud: onderrig in die tale wat kinders en studente tuis praat
Hoër onderwys en die uitbou van demokrasie te midde van ’n polities omstrede landskap



Kommentaar
Hercules, 'n skitterende en insiggewende artikel. Ons het die helder denke in ons tyd dringend nodig.