Wat is meertaligheid nou eintlik? En wat is meertaligheid aan die Universiteit Stellenbosch (US)? Vir sommige is daar assosiasies met woorde soos “frustrasie”, “mediastorm”, “reëls” en “klug”, en frases soos “’n waas waaragter Afrikaans stadig maar seker verdwyn”. Ander voel meertaligheid het raakpunte met ubuntu en is iets wat taal juis vier en beskerm – taal, wat die kern van ons uitdrukkingsvermoë uitmaak. Sommiges reken dit behels grotendeels vertaling en tolking; om ander tale rondom jou te sien en te hoor. Ander sal weer sê dit is chaos, waar ons verskeie tale in ’n pot saamgooi en hoop dat wanneer ons ’n skeppie uit die pot neem, daar iets van alles in ons bakkie sal wees. Vir party van ons is meertaligheid ’n droom, om soos die poliglot op YouTube vreemdelinge in die straat voor te keer en hulle te verstom deur met hulle in hulle eie taal te gesels.
’n Gewillige ingesteldheid
Wat ons by die US Taalsentrum ervaar, is dat meertaligheid ook iets minder tasbaar kan wees; iets meer fundamenteel; en weliswaar minder van ’n “iets” en meer van ’n “is” – ’n manier van wees – kan wees: ’n gewillige ingesteldheid.
.....
Taal staan sentraal in ons naam en werk. Ons neem egter nie swaard en skild op om vir taal in boeke of op papier te veg nie. Ons lê juis die swaard neer om mense aan die hand te neem.
.....
Taal staan sentraal in ons naam en werk. Ons neem egter nie swaard en skild op om vir taal in boeke of op papier te veg nie. Ons lê juis die swaard neer om mense aan die hand te neem. As Taalsentrum wil ons nie hê dat enigiemand enige deel van hulle identiteit – met inbegrip van hulle taalidentiteit – moet agterlaat om by die Universiteit se deure te kan instap en suksesvol hier te wees nie. Ons wil hier aan ’n universiteitsgemeenskap bou waar elke persoon én hulle taal belangrike en nodige boustene is.
Werksessies oor meertaligheid
In die gees hiervan het die Taalsentrum in April en Mei 2023 ’n projek genaamd “Hoe meertaligheid gemeenskappe bou” saam met die Universiteit se Sentrum vir Studentegemeenskappe in die universiteitsgemeenskap geloods. Die projek het altesaam twintig werksessies van sowat drie uur elk behels en is deur 730 koshuishoofde, huiskomiteelede en mentors bygewoon.
Ons doel met die projek was om ’n veilige ruimte te skep waar die gesprek oor taal verruim kon word en waar deelnemers hulle sienings en ervarings van taal en taalidentiteit op ’n meelewende manier met mekaar kon deel. In hierdie ruimte kon hulle saam sowel as van mekaar leer, en in die proses beter toegerus word om potensiële struikelblokke te hanteer wat met taal- en kulturele aspekte in hulle onderskeie gemeenskappe verband hou.
Hoewel die projek momentum gekry het ná die aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) dat leiers in studentegemeenskappe opleiding oor die hantering van taalkwessies ontvang na aanleiding van bewerings van ’n verbod op die gebruik van Afrikaans in sommige koshuise tydens die verwelkomingstydperk in 2021, is hierdie inisiatief nie die eerste van sy soort nie. Die Taalsentrum fasiliteer reeds die afgelope drie jaar op ’n klein skaal soortgelyke werksessies vir studente en studenteleiers, en op hierdie manier is die behoefte aan ’n groter gesprek oor ervarings van en uitdagings met die hantering van taal geïdentifiseer. Die huidige inisiatief was egter innoverend wat die struktuur en skaal daarvan betref en het die weg gebaan om ’n baie groter studentegroep te bereik.
Fasiliteerders se ervaring
Ná noukeurige beplanning is 22 fasiliteerders uit die Taalsentrum gekoöpteer en opgelei om die sessies aan te bied. Hierdie fasiliteerders beskik almal oor opvoedkundige en/of taalverwante kwalifikasies sowel as diepgaande kennis van die verskillende fasette van taalpraktyk in ’n universiteitskonteks.
As fasiliteerders vertel ons graag meer oor die werksessies en wat ons daar opgelet het.
Van meet af aan sou die werksessiegesprek fokus op die gebruik van taal in sosiale ruimtes en sou dit begrond wees in die gedagte van ’n meertalige ingesteldheid. Ons verstaan ’n meertalige ingesteldheid as die bereidwilligheid om te aanvaar dat meertaligheid belangrik en voordelig vir inklusiwiteit en diversiteit is, en om dan doelbewus ruimtes vir individuele en institusionele meertaligheid te skep. Waar individuele meertaligheid ’n mens se persoonlike taalrepertoire behels – al die tale wat deel uitmaak van jou identiteit, ook tale waarin jy nie noodwendig vlot is nie – handel dit by institusionele meertaligheid om die gebruik en sigbaarheid van verskillende tale in die ruimtes van ’n instansie. Beleid oor taal en die hulpbronne wat beskikbaar gestel word vir die bevordering van meertaligheid val ook onder institusionele meertaligheid. Maar vir ons is die hart en siel van meertaligheid ’n meertalige ingesteldheid. Dit behels nie noodwendig die aanleer van ’n nuwe taal nie, maar wel die aanvaarding en akkommodering van mense wat ander tale praat. Dit gaan om bereidwilligheid om ander te ontmoet waar hulle hulself bevind, en om hulle die ruimte te gun om hulleself te wees.
Uit die bostaande sou ’n mens kon aflei dat die werksessies nie op reëls gefokus sou wees nie. Daar is egter twee duidelike strepe in die sand getrek: eerstens, dat die gebruik van ’n taal anders as jou eie nie in beginsel op uitsluiting neerkom nie, en, tweedens, dat dit ongrondwetlik is om enigiemand te verbied om enige taal te praat.
Met die afskop van die sessies was daar tekens van onwilligheid en praatvoosheid onder die deelnemers, veral as dit by taalkwessies kom. Hoewel hulle aanvanklik meertaligheid as konsep wel met positiewe waardes soos respek, insluiting en empatie in verband kon bring, het die konsep ook vrees en gevoelens van frustrasie by hulle ontlok, omdat meertaligheid soms nie op kampus uitgeleef word nie, en, na sommiges se mening, nie noodwendig ’n oplossing vir groter uitdagings bied nie. Kortom, deelnemers het meertaligheid beskou as iets wat potensieel positief kan wees, maar nie ’n wondermiddel is nie.
Verrykende en verreikende taalreise
Heel eerste het ons die deelnemers gevra om oor hulle persoonlike reis met taal na te dink en hulle onderskeie taalgeskiedenisse in klein groepe met mekaar te deel. Die wye ervarings in ’n groot verskeidenheid tale wat in hierdie vertellings na vore gekom het, was verstommend en by tye roerend.
As aktiwiteit was die gesels oor taalreise baie suksesvol om die inkoop en deelname van deelnemers te kry.
Ons het ervaar hoe die deelnemers algaande meer begrip vir mekaar, maar ook vir hullesélf, ontwikkel het. Hulle kon terugtree en hulle onwillekeurige reaksie op taal beter verstaan; waarom hulle so sterk of entoesiasties oor sekere dinge gevoel het en so sensitief was vir ander. Dit het geblyk dat hulle algaande insig verkry het in mekaar se uitdagings. Hulle kon ervaar hoe eerste aannames oor mekaar dikwels onakkuraat was, maar ook hoe eenders hulle almal was, die ooglopende verskille ten spyt. Die aktiwiteit het ruimte geskep vir ’n nuwe soort gesprek oor taal en die skeppingskrag van taal. Daar was ’n duidelik waarneembare verskuiwing in houdings en ’n versagting teenoor mekaar.
.....
Ons het ervaar hoe die deelnemers algaande meer begrip vir mekaar, maar ook vir hullesélf, ontwikkel het. Hulle kon terugtree en hulle onwillekeurige reaksie op taal beter verstaan; waarom hulle so sterk of entoesiasties oor sekere dinge gevoel het en so sensitief was vir ander.
.....
’n Volgende aktiwiteit het deelnemers aangemoedig om waardegedrewe leierskap toe te pas deur saam oplossings vir hipotetiese probleemscenario’s in hulle koshuise en privaatwyke te vind. Huiswaardes en ’n meertalige ingesteldheid was belangrike hulpbronne vir hierdie aktiwiteit. Die deelnemers het verskeie praktiese insigte verwoord, byvoorbeeld:
- Elkeen moet self die vrymoedigheid hê om hulle eie taal te praat.
- Hou op om uit vrees te oorkompenseer.
- Moenie so maklik geaffronteerd raak of uitgesluit voel as jy ’n taal nie verstaan nie – herinner of vra die persoon om te herhaal as jy onseker is of nie verstaan nie, en help mekaar deur vir mekaar te tolk of teks te vertaal. Hiermee word nie bedoel dat die onus slegs op die persoon wat uitgesluit voel rus om iets daaraan te doen nie. Dit is ’n delikate dans van gee en neem: Probeer eerstens sorg dat niemand uitgesluit voel nie, maar indien jy wel uitgesluit voel, word jy genooi om die vrymoedigheid te hê om dit uit te wys en nie uit die staanspoor te voel dat die uitsluiting berekend was nie.
- Wees nuuskierig oor en gefassineerd deur tale.
- Wees medemenslik en help mekaar gemaklik voel.
- Maak dit ’n beginselsaak om mense eerder in as uit te sluit.
- Leer mekaar se tale aan.
- Wees pragmaties.
- Wees redelik en vriendelik teenoor mense wat jy as anders ervaar.
Die groep fasiliteerders was tydens hulle nabetragting eensgesind in hulle verwondering oor die kaliber van leierskap en die werk wat hierdie studenteleiers rééds vir die bevordering van taal, kulturele diversiteit en onderlinge aanvaarding doen. Hulle was aangenaam verras om ’n leierskorps aan te tref wat so oop was vir gesprekke en gewillig was om inligting te absorbeer. Dit was opmerklik dat die deelnemers deur die gesprekke geïnspireer is en dat ’n positiewe sentiment algaande posgevat het. Die studente wou in beginsel almal insluit, maar wou ook terselfdertyd prakties wees. Hulle benadering was breedweg: As ons om praktiese redes ’n spesifieke taal moet praat, sal ons dit doen, maar dit hoef nie ons ander tale uit te sluit nie – elkeen het te alle tye die vryheid om hulle eie taal te praat.
Voorbehoude, maar ook nuwe moed en insigte
Die deelnemers het ter afsluiting van die sessies geleentheid gehad om te gesels oor nuwe insigte waartoe hulle gekom het, maar ook oor hulle voorbehoude en vrese. Daar was ’n besef van die noue verband tussen identiteit en taal, en dat ’n meertalige ingesteldheid juis vir elkeen die ruimte gee om hulle gekose taal te gebruik en hulleself uit te druk; dat meertaligheid erkenning gee aan menswees, menslikheid en médemenslikheid; en dat meertaligheid kan saamsnoer en nie hoef te verdeel nie. Hulle het eerstehands ervaar dat diversiteit ’n bate is en dat dit ’n kosbare hulpbron kan wees, en dat taalhindernisse in geleenthede omskep kan word en nie noodwendig konflik of uitsluiting hoef te veroorsaak nie. Daar was ook die besef dat die gebruik van Engels nie die enigste manier is om inklusief te wees nie. Hulle het verstaan dat taalgebruik nie iets is wat jy kan verbied of met reëls kan reguleer nie, en dat taal nie deel van ’n politieke agenda of ’n geval van kant kies of iets wat afgedwing word hoef te wees nie. Daar het ’n opmerklike skuif na groter begrip van die potensiaal van meertaligheid plaasgevind.
Die reaksies was egter nie deurgaans net positief nie. Daar was steeds tekens van die spoke van taalpolitieke dogma wat Afrikaanse studente versigtig maak om hulle taal te praat, juis oor die stereotipies negatiewe beeld wat dit van hulle kan skep en wat aangeblaas word in die media. Daar was ook studente wat steeds gevoel het dat om net Engels te praat, die beste manier van insluiting bly. Wat belangrik is, is dat deelnemers veilig genoeg gevoel het om eerlik te wees en op ’n nuwe manier oor taal te begin gesels.
Oor die algemeen het die fasiliteerders ná die sessies ervaar dat die deelnemers besiel was en nuwe moed geskep het. Hulle het herhaaldelik hulle waardering uitgespreek vir die lewendige en insiggewende manier waarop die sessies gefasiliteer is, en het besef dat die Taalsentrum ’n waardevolle vennoot is. Hulle was ook opnuut onder die indruk van die hulpbronne en ondersteuning wat tot hulle beskikking is.
Potensiaal vir eenheid binne die verskeidenheid
Verskeie deelnemers het ná die sessies gevra dat soortgelyke sessies in die groter universiteitsgemeenskap aangebied moet word en dat hierdie tipe werksessies deel van die opleiding van nuwe studenteleiers moet word.
’n Soortgelyke reeks werksessies gemik op nuut verkose studenteleiers word reeds vir later vanjaar beplan. As Taalsentrum hoop ons dat die “is” – die uitleef van ’n meertalige ingesteldheid – sal uitkring om erkenning te gee aan die volle verskeidenheid identiteite in ons universiteitsgemeenskap. Dit behels ’n vryheid en vrymoedigheid vir elkeen om hulle menswees ook deur taal uit te leef, en terselfdertyd om voortdurend na maniere te soek om eenheid binne die verskeidenheid moontlik en ’n werklikheid te maak.
Deur Carmen Brewis, Susan Lotz, Sanet de Jager en Helga Sykstus van die US Taalsentrum
Hierdie meningstuk is ook in Engels beskikbaar.
Menings in hierdie meningstuk uitgespreek is nie noodwendig dié van die bestuur van die Universiteit Stellenbosch nie.
Kommentaar
Respek vir en geluk met die werk wat gedoen word!