LitNet Akademies Weerdink-onderhoud: onderrig in die tale wat kinders en studente tuis praat

  • 1

Foto van Asambese Mkumatela: verskaf

Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met die brandende kwessies van 2024. In Suid-Afrika is moedertaalonderrig voortdurend in die nuus, en onder andere op hierdie stadium uiters nuuswaardig weens die BELA-wetsontwerp.

Asambese Mkumatele praat met Naomi Meyer oor of dit realisties of ideaal is vir Suid-Afrikaanse leerders en studente om onderrig te ontvang in die tale wat hulle tuis praat.       

Asembese, jy het onlangs 'n akademiese artikel oor vertaalmetodes in LitNet Akademies gepubliseer. Watter taal praat jy tuis en waar het jou belangstelling in vertaling ontstaan?

..........
Ek praat Xhosa by die huis en my belangstelling in Afrikaans het op skool ontstaan. Ek het die vak baie geniet en daarvan gehou om Afrikaanse boeke te lees om my woordeskat uit te brei.
............

Ek praat Xhosa by die huis en my belangstelling in Afrikaans het op skool ontstaan. Ek het die vak baie geniet en daarvan gehou om Afrikaanse boeke te lees om my woordeskat uit te brei.

Dink jy dis belangrik vir Suid-Afrikaners om mekaar se tale te leer ken, en hoekom of hoekom nie? Hoe kan vertaling hiermee help, op praktiese en alledaagse vlak, as Suid-Afrikaners met mekaar praat?

Dit ís belangrik vir Suid-Afrikaners om meer tale aan te leer. Meertaligheid is baie belangrik in ’n land soos Suid-Afrika om met mense van verskillende kulture en wat verskillende tale praat te kan kommunikeer. Wanneer ’n mens ’n taal aanleer, leer jy ook meer oor die kultuur en dit kan help om belangrike verhoudings met verskillende mense te bou, en dit hou ook baie ekonomiese waarde in om meertalig te wees. Om ’n nuwe taal aan te leer brei ’n mens se kennis uit en skep eindelose nuwe moontlikhede.

.............
Wanneer ’n mens ’n taal aanleer, leer jy ook meer oor die kultuur en dit kan help om belangrike verhoudings met verskillende mense te bou, en dit hou ook baie ekonomiese waarde in om meertalig te wees. Om ’n nuwe taal aan te leer brei ’n mens se kennis uit en skep eindelose nuwe moontlikhede.
.................

Vertaling kan help met woordeskatuitbreiding en om mense wat ’n nuwe taal aanleer, minder angstig te laat voel. Wanneer mense byvoorbeeld met taalaanleerders gesels, moet hulle woorde wat ’n bietjie ingewikkeld is vir die beginnersvlak kan vertaal tydens gesprekke. Hulle moet die woord steeds sê, maar onmiddellik daarna byvoorbeeld die Engelse (of die taalaanleerder se eerste taal se) vertaling daarvan verskaf. Om na liedjies in die doeltaal te luister en dit te probeer vertaal, of die sprekers van die doeltaal te vra om sommige van die woorde uit die lirieke te vertaal, is ook een praktiese en prettige manier om woordeskat op te bou in ’n nuwe taal. Mense kan dit doen wanneer hulle met mekaar gesels en “uithang”. Dit is wat ek en my vriende byvoorbeeld doen wanneer ons in die klub of by ’n kuier is en daar speel musiek. My nie-Afrikaanssprekende vriende, asook my nie-Xhosa-sprekende vriende, sal altyd vra wat ’n sekere woord in die lirieke beteken, en so kan hulle ook die liedjie meer verstaan en geniet. Deur saam te sing en die lirieke te onthou, leer hulle ook nuwe woorde en kan hulle hierdie woorde maklik onthou asook die verskillende kontekste waarbinne die woorde gebruik kan word.  Die taalaanleerder kan ook hom- of haarself uitdaag om rigtingaanwysings aan te vra in die doeltaal en ook leer hoe om dit aan mense te gee. ’n Ander praktiese alledaagse manier is byvoorbeeld om telefoongesprekke in die doeltaal te voer om woordeskatkennis op te bou en te leer hoe om woorde in verskillende kontekste te kan gebruik. Wanneer ek oor die foon praat of stemnotas stuur, vra my vriende soms na die tyd wat sommige woorde wat hulle opgetel het tydens die gesprek, beteken, en tydens die vertaling en verduideliking van die woorde gee ek vir hulle verskillende voorbeelde van die kontekste waarbinne die woorde gebruik kan word. Die taalaanleerder kan kyk na ooreenkomste tussen hul eerste taal (brontaal) en die doeltaal (die taal wat hulle aanleer / tweede of vreemde taal) en daardie woorde vertaal en aanleer. Om ooreenkomste te kan identifiseer tussen die doeltaal en brontaal kan die taalaanleerder help tydens die taalaanleerproses. Dit help altyd wanneer die taalaanleerders taalaanleeropdragte uitvoer wat verband hou met hul lewens. Om TV-programme te kyk met subtitels help ook baie om ’n nuwe taal aan te leer op ’n praktiese alledaagse manier. Die meerderheid van my nie-Afrikaanssprekende vriende het met behulp van programme soos 7de Laan hul woordeskat uitgebrei. Dit het my ook baie gehelp, met nuwe woorde en byvoorbeeld idiomatiese uitdrukkings wat ek nie op skool geleer het nie, en dit was baie nuttig, want ek kon die woordeskat en uitdrukkings in ware alledaagse kontekste gebruik en nie net op ’n akademiese manier nie.

...............
Om TV-programme te kyk met subtitels help ook baie om ’n nuwe taal aan te leer op ’n praktiese alledaagse manier. Die meerderheid van my nie-Afrikaanssprekende vriende het met behulp van programme soos 7de Laan hul woordeskat uitgebrei. Dit het my ook baie gehelp, met nuwe woorde en byvoorbeeld idiomatiese uitdrukkings wat ek nie op skool geleer het nie, en dit was baie nuttig, want ek kon die woordeskat en uitdrukkings in ware alledaagse kontekste gebruik en nie net op ’n akademiese manier nie.
...................

Is dit belangrik dat Suid-Afrikaanse kinders in hulle huistaal skool gaan, en hoe gemaak as dit nie moontlik is nie?

Om skool te gaan in jou huistaal hou voordele in, maar ek dink nie dit is ideaal binne die  Suid-Afrikaanse konteks nie en dat dit baie tyd sal neem voordat dit moontlik kan wees. Dit sal ook nie meertaligheid en diversiteit bevorder nie, want almal wat dieselfde huistaal praat, sal dieselfde skool bywoon en die geleentheid om met kinders van ander kulturele agtergronde wat verskillende tale praat, te meng, sal nie daar wees nie. Ek dink wel dat dit sal help by skole met leerders van minderbevoorregte agtergronde om meer te fokus op taalopleiding, want as gevolg van hul tekort aan sommige hulpbronne sukkel hulle met byvoorbeeld Engels in die algemeen, en dit kan veroorsaak dat hulle sukkel met die res van hul skoolvakke, aangesien alles in Engels is. Wat kan help, is wanneer onderwysers opgelei kan word om veeltalig te wees, sodat hulle die leerders kan help met ’n paar verwysings, voorbeelde en verduidelikings wanneer hulle sukkel in die klaskamer. Dit beteken dat hulle minimaal gebruik kan maak van vertaling asook  van die verskillende studente se huistale binne die klaskamer (transtaligheid). Ek dink dit is belangrik dat ’n meertalige omgewing geskep moet word vir leerders en onderwysers, aangesien dit die werklikheid van Suid-Afrika, wat ’n meertalige land is, weerspieël.

..............
Ek dink dit is belangrik dat ’n meertalige omgewing geskep moet word vir leerders en onderwysers, aangesien dit die werklikheid van Suid-Afrika, wat ’n meertalige land is, weerspieël.
.................

Hoe lyk 'n ideale skool- of universiteitsomgewing en die tale waarin onderrig word, vir jou?

Vir my lyk ’n ideale skool- of universiteitsomgewing meertalig. Dit beteken nie dat alles in die tale onderrig moet word nie, maar dat dit inklusief is en dat mense wat verskillende tale praat, geakkommodeer moet word op ’n manier wat inklusief is. So kan ander studente ook ander tale aanleer en ook meer leer oor verskillende kultuurgroepe. In ’n meertalige universiteitsomgewing sal meer studente byvoorbeeld aangemoedig word om te kan deelneem aan die verskeie inisiatiewe soos leierskap en sosiale interaksie sonder dat hulle uitgesluit voel omdat hulle die taal wat die meerderheid praat, nie goed verstaan nie. Dit kan ook help om meer gemaklik te voel in die klaskamer wanneer die kursusmateriaal by meer universiteite vertaal word in die lesingskyfies, asook die beskikbaarheid van tolkdienste vir studente. Ek dink dat dit ideaal sal wees wanneer al die tale ’n gelyke posisie kan behou, veral op universiteitsvlak, waar daar meer mense is van verskillende kulturele agtergronde wat nie noodwendig die taal wat deur die meerderheid by die universiteit waar hulle studeer, goed verstaan nie. In ’n ideale universiteitsomgewing sal al die studente uit verskillende fakulteite aangemoedig word om ’n tweede of vreemde taal aan te leer, wat hulle sal help nie slegs binne die universiteitskonteks nie, maar ook om met ander in die werskomgewing en ander verskillende kontekste te kan kommunikeer nadat hulle hul studies voltooi het.

Het jy praktiese idees oor hoe om die uitdagings van die verskillende tale in 'n leeromgewing aan te spreek? As almal in Engels onderrig ontvang, hoe kan leerders steeds vorder en die inhoud in hul eie taal onder die knie kry? (Ek sien julle bevindinge behels dat studente beter vaar as hulle kort stukkies moet vertaal. Is dit dalk 'n oplossing? Dat studente na 'n Engelse teks moet kyk en dit stukkie vir stukkie vir hulleself moet opbreek en dan vertaal sodat dit verstaanbaar raak? Of is dit meer ingewikkeld as hierdie voorstel?)

Nee, ek dink in die leeromgewing moet vertaaldienste materiaal vir die studente vertaal. Dit help byvoorbeeld wanneer lesingskyfies vertaal word vir die studente. Dit is definitief meer ingewikkeld as hierdie voorstel. Daar is te veel in die kursusinhoud, en vir studente om self te vertaal om beter te vaar sal net moeiliker wees en meer tyd neem. Ek het byvoorbeeld vir myself op skool woorde en kort sinne vertaal om myself te help toe ek Afrikaans aangeleer het, maar ek sou dit nie met modules op universiteitsvlak kon doen nie, behalwe tydens die aanleer van ’n ander taal. Dit sal byvoorbeeld help as studente met ’n Engelse woord in die leermateriaal sukkel en daardie spesifieke woord vertaal of die dosent vra om dit te vertaal, asook die gebruik van daardie woord in verskillende kontekste. Soms sukkel studente met terminologie, slegs omdat hulle nie weet waarna daar verwys word in die doeltaal nie, maar weet wel wat dit in hulle huistaal is, en vertaling kan in daardie kontekste help deur hulle byvoorbeeld ’n visuele uitbeelding van die voorwerp/item waarna daar verwys word, te wys. Die gebruik van voorwerpe is ook ’n woordeskataanleertegniek waarna daar verwys word en wat voorgestel word in die studie. Die bevindinge is gebaseer op taalaanleer, en sal nie noodwendig maklik toegepas kan word in enige konteks binne die leeromgewing nie. Dit kan wel as riglyne gebruik word, maar ander metodes en tegnieke sal ondersoek moet word wat relevant is tot die spesifieke veld binne die leeromgewing.

Lees ook:

Terugkeer na moedertaalonderrig?

’n Ondersoek na die gebruik van vertaalmetodes deur Afrikaanstaalverwerwingstudente

BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona

BELAB and mother tongue education: an interview with Mphuthumi Ntabeni

BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Hoe kan daar onderrig word in tale wat kinders en studente tuis praat as einstes nog in die proses is om taal onder die knie te kry? Luister maar na kinders en studente - hulle, oor die algemeen, praat geradbraakte Afrikaans

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top