BELA-wetsontwerp: Gaan Afrikaanse skole bly of gly?

  • 1

Alexa op Pixabay

Daar word ’n tyd lank reeds oor veranderinge aan die Suid-Afrikaanse skolewetgewing gepraat en ’n wysigingswetsontwerp het reeds tot stand gekom. Die wysigingswetsontwerp staan bekend as BELAB (Basic Education Law Amendment Bill/Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette). Nie almal is gelukkig met die wysigings wat deur die regering voorgestel word nie en die publiek het geleentheid gehad om op die wysigings te reageer.

Die portefeuljekomitee oor basiese onderwys is op die oomblik besig om openbare insette oor die BELA-wetsontwerp te oorweeg.

Omdat daar tussen 6000 en 9000 onverwerkte skriftelike voorleggings van die publiek oor die wetsontwerp in ag geneem moet word, is die komiteeverrigtinge tot Dinsdag die 5de September uitgestel.

Die parlement se portefeuljekomitee praat op die oomblik oor dié konsepwet.

Jaco Deacon beantwoord in hierdie tyd Naomi Meyer se vrae oor hierdie wysigings en veranderinge wat vir die Skolewet beoog word.

Jaco, ek dink ons is gewoond aan die geraas van gesprekke rondom BELA, die Skolewysigingswetsontwerp, wat in die agtergrond voortduur. Wat het dan nou weer gebeur?

Die konsepwet dien tans nog voor die parlement portefeuljekomitee vir basiese onderwys. Die komitee het eergister aangekondig dat hulle vir ’n week verdaag sodat die onverwerkte openbare kommentare (tussen 6 000 tot 9 000 – afhangende van na wie getalle ons kan luister) te verwerk. Ek sou egter baie verbaas wees as hulle binne sewe dae die 6 000 dokumente kan deurwerk of as die komiteelede substantiewe kommentaar per klousule in ag kan neem. Daar is ook ’n regsmening van die parlement se regsgeleerdes gevra oor die grondwetlikheid van sekere voorgestelde klousules en die mening is nou aan die komitee gegee. Ek het dit ook onder oë gehad en verskil met die advies wat gegee is.

Vir Afrikaanssprekende ouers is een van die kernprobleme dat dit klink asof die wetgewing aan die staat seggenskap of meer mag sal gee om te bepaal watter taal by verskillende skole die onderrigtaal sal wees. Maar wat van skole in omgewings waar die kinders Zoeloe- of Sothosprekend is? Wil mens nie graag vir alle kinders in die land die ruimte gee dat skole kan bepaal in watter taal hul kinders die beste leer nie?

Die beste struktuur om oor taal te besluit is juis die skool se beheerliggaam wat bewus is van die gemeenskap se behoeftes. Dit kan nie ’n amptenaar in ’n kantoor elders wees nie. Die staat moet seker maak dat daar genoeg skole is om die gemeenskappe te kan bedien.

..........
Die beste struktuur om oor taal te besluit is juis die skool se beheerliggaam wat bewus is van die gemeenskap se behoeftes. Dit kan nie ’n amptenaar in ’n kantoor elders wees nie. Die staat moet seker maak dat daar genoeg skole is om die gemeenskappe te kan bedien.
..........

As mens vir ’n oomblik vir BELA buite rekening laat en jy na die huidige Skolewet kyk, watter afdelings voel jy behoort aandag te kry sodat die land beter opvoeding vir die land se kinders kan bied?

Ons het meer as genoeg goeie beleide, maar ons is swak met die uitvoer van planne.

80% van ons land se skole is eenvoudig disfunksioneel en die meeste provinsiale onderwysdepartemente het eenvoudig nie die leierskap of kapasiteit om hulle werk te doen nie. Goeie skole presteer ten spyte van die staat – hulle neem eienaarskap, koester goeie onderwysers en sorg dat hulle die beste leiers het. Daar word heeltemal te min gedoen om die probleme in swak skole aan te spreek en dit blyk dat dit baie makliker is om goeie skole af te trek.

.........
Goeie skole presteer ten spyte van die staat – hulle neem eienaarskap, koester goeie onderwysers en sorg dat hulle die beste leiers het. Daar word heeltemal te min gedoen om die probleme in swak skole aan te spreek en dit blyk dat dit baie makliker is om goeie skole af te trek.
............

Te min van die reuse-onderwysbegroting wat in die parlement goedgekeur word, vind die weg tot by die skool, waar dit saak maak, en dit sal dringend aangespreek moet word.

Ek hoor ook (ek is ʼn regsgeleerde) dat opvoedkundiges en vakbonde al lank kla oor die inhoud van die kurrikulum – die huidige kurrikulum is te wyd, oorvol en het te min diepte – met onderwysers wat oorlaai word met administrasie.

Kan ouers of behoort ouers van kinders in staatskole op hierdie stadium enigiets te doen?

..........
Ons het nie staatskole nie, ons het openbare skole. Dus behoort daardie skole aan die gemeenskap en nie aan die staat nie. Ouers behoort betrokke te wees by hulle kinders se skole, omdat ouers steeds primêr verantwoordelik bly vir die opvoeding van hulle kinders. Die skool word ouers se hoofvennoot sodra die kinders begin skoolgaan.
...........

Ons het nie staatskole nie, ons het openbare skole. Dus behoort daardie skole aan die gemeenskap en nie aan die staat nie. Ouers behoort betrokke te wees by hulle kinders se skole, omdat ouers steeds primêr verantwoordelik bly vir die opvoeding van hulle kinders. Die skool word ouers se hoofvennoot sodra die kinders begin skoolgaan. Ondersteun die skool en opvoeders, weet wat in jou kind se lewe en skool aangaan, meld aan om te dien op strukture by die skool, soos komitees of die beheerliggaam, betaal pligsgetrou skoolgeld en wees betrokke by fondsinsamelingsgeleenthede. Ouers: Wees bewus van die implikasies van die BELA-wetsontwerp en maak seker dat die skool se beheerliggaam deur ’n beheerliggaamorganisasie soos Fedsas ondersteun word.

Dankie dat jy opgeklaar het dat ons oor openbare skole in die land beskik, en nie staatskole nie. Praat met my oor die toekoms van Suid-Afrika se openbare skole, as jy enige toekomsblik wil waag. Hoe lyk staatskole in die res van die wêreld, elders in Afrika en Suid-Amerika? Hoe lyk daardie skole se skolewetgewing, as jy van enigiets weet wat relevant is vir ons?

Ons het oor die algemeen ’n goeie regsraamwerk vir onderwys en ouers het goeie inspraak in die aard van die onderrig van hulle leerders deur beheerliggame en omdat ons openbare skole het. Die meeste ander lander in Afrika het staatskole, waar die staat volle beheer neem en oor alles besluit. Dit maak hulle nog meer kwesbaar vir politieke beïnvloeding en neem die verantwoordelikheid uit ouers se hande. Daar is tog ʼn paar Afrika-lande wat beter vaar as Suid-Afrika, maar dan is daar ʼn politieke wil om seker te maak dat elke kind goeie onderrig ontvang en die beste opvoeders aangestel word. Ek dink ons wil soms te veel pleisters plak en korttermynoplossings kry. Ons het voorbeelde van wêreldklas skole in Suid-Afrika en die staat kan gerus kom kyk hoe daardie openbare skole funksioneer.

Lees ook:

Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (BELAB): Afrikaans oorleef op skool solank "redelikerwys doenlik"

The Basic Education Laws Amendment Bill (BELAB): what parents should know

Sê nou maar-SA skoleseminaar: Loit Sōls reageer

BELA-wetgewing en Afrikaans op skool: Merlyn van der Rheede gee haar mening

BELA-wetgewing: ’n onderhoud met ’n tuisskool-ouer

Waarom ouers nou wérklik aan die BELA-wetsontwerp aandag moet gee: ’n onderhoud met Jaco Deacon

BELA-wetsontwerp kort aanpassings, maar is nie uit die put van die hel nie

Moedertaalonderrig is van kardinale belang in Suid-Afrika; dis ononderhandelbaar

Just imagine SA schools seminar: Bassey Antia responds

Skoleseminaar en Wysigingswetsontwerp: waarom Afrikaanse ouers moet kennis neem

Skoleseminaar en die Wysigingswetsontwerp: Lesufi is die brein agter Afrikaans se verkragting

Khawufane ucinge SA schools seminar: Mphuthumi Ntabeni responds

Sê nou maar-SA skoleseminaar: Danie van Wyk reageer

Sê nou maar-SA skoleseminaar: Chareldine van der Merwe reageer

Omstrede Bela-wet voorlopig weer in spore gestuit

  • 1

Kommentaar

  • Sybrandus Adema

    Dis 30 jaar sedert meeste Afrikaanse skole oopgestel is aan alle rasse. En terwyl baie van hulle minstens die demografie van moedertaal Afrikaanses weerspieël, lyk dit nie asof die personeel- en bestuurkorps veel anders lyk as tydens apartheid nie. En dit maak dit makliker vir die regering om die skole te teiken. Sal interessant wees om te hoor hoe demografies verteenwoordigend die onderwysers is, en waarom?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top