Terugkeer na moedertaalonderrig?

  • 5

 

Fotobron: http://www.parent24.com/Teen_13-18/Development/care_nutrition/The-languages-we-speak-at-home-20110415

Internasionaal (behalwe in Suid-Afrika) is daar ‘n toenemende bewuswording van die pedagogiese waarde van moedertaalonderrig, en ‘n stadige terugkeer daarna.

Unesco erken moedertaalonderrig as ‘n basiese mensereg en het reeds in 1999 verklaar dat Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie van elke jaar gevier sal word.

Moedertaalonderrig ‘n mensereg

Reeds in 1953 het Unesco dit so gestel:

Moedertaalonderrig behoort die beste manier te wees vir kinders om te leer, aangesien dit die gaping tussen huistaal en die taal van onderrig oorbrug. … Daarom moet moedertaalonderrig so lank as moontlik verleng word. Onderrig in ‘n lingua franca, of 'n taal van meer algemene kommunikasie, kan nooit 'n plaasvervanger vir moedertaalonderrig wees nie, en dit moet uitgestel word totdat die kind sy moedertaal ten volle bemeester het.

Tereg het die Franse taalkundige André Martinet opgemerk dat moedertaal “die taal is waardeur mens tot ‘n begrip van die wêreld kom”.

Die opvoedkundige DP Pattanayak kom in 2003 in ‘n studie oor die onderwys in Indië tot die gevolgtrekking dat “moedertaal die integrale komponent is van enige kultuur, en die basiese bestanddeel van multikulturele of interkulturele opvoeding”.

Dit word beaam deur die toekomskundige Philip H Spies1 wanneer hy twee belangrike redes gee waarom moedertaalonderrig belangrik is:

Die eerste raak die mens se vermoë tot uitdrukking en selfgelding aan omdat:

  • Taal as ‘n medium van kommunikasie ‘n uitdrukking is van die spreker se identiteit en as sulks ‘n integrale deel van sy kultuur is; en dus
  • ‘n persoon in staat stel om effektief deel te neem in die aktiwiteite van sy/haar gemeenskap.
  • Taal is ook ‘n medium van estetiese aktiwiteit in ‘n gemeenskap waardeur die mens se opwindende skeppingsvermoë en oorspronklikheid gemanifesteer word.
  • Dit is die medium waarbinne die tradisies, insigte, idees en wysheid van geslagte bewaar en gekoester word.
  • Dit is ‘n bron van sosiale bemagtiging en beweeglikheid om geleenthede te soek en te benut

Die tweede rede sluit aan by die eerste rede, te wete, moedertaal is ‘n ontwikkelingsinstrument.

Hy noem as voorbeeld:

Nadat Afrikaans in 1925 amptelike status in Suid-Afrika gekry het, het dit – deur moedertaalonderrig – ‘n reusebydrae gemaak tot die selfrespek en sosio-ekonomiese ontwikkeling van “wit” Afrikaanssprekendes – iets wat vandag ook met die “bruin” Afrikaansprekendes kan gebeur indien hulle dieselfde onderriggeleenthede sou kon ontvang.

Dit beteken dat moedertaalonderrig die kern is van mens- en gemeenskapsontwikkeling. Daarom is ‘n oproep om moedertaalonderrig nie net ‘n hartewens nie – en gebaseer op ons menseregte nie – dit is ook ‘n besonder praktiese wens sodat gemeenskappe kan ontwikkel.

Suid-Afrika het na 1994 ‘n grootskaalse wegbeweeg van moedertaalonderrig ervaar vanweë vele sosiale en politieke oorwegings, maar veral vanweë ‘n wanpersepsie dat onderrig deur middel van Engels vir Engels-tweedetaalsprekers beduidende voordele sou inhou. Dit het gepaard gegaan met in ‘n sterk toename in die getal eerstegeslag Engels-“huistaalsprekers”.

Verskeie studies toon onteenseglik dat twee dekades van hierdie benadering gefaal het, veral ten opsigte van onderrig in wiskunde en die natuurwetenskappe – noodsaaklike vakke vir die welvaartskeppende beroepe.

Suid-Afrika se swak onderwysgehalte

In die WEF (Wêreld Ekonomiese Forum) se Global Information Technical Report 2014 word Suid-Afrika se gehalte van wiskunde en wetenskapsonderrig heel laaste van 148 lande geplaas. Suid-Afrika se totale opvoedkundige stelsel word die 146ste plek toegeken, onderkant Botswana, Kenia, Zimbabwe en Lesotho (onder andere). Die WEF-studie baseer sy bevindings op hoe voorbereid ‘n ekonomie is om die voordele van informasie- kommunikasietegnologie aan te wend vir die bevordering van ekonomiese groei en welvaart.

Ewe pateties is Suid-Afrika se prestasie in die internasionaal gestandaardiseerde TIMSS- (Trends in International Mathematics and Science Study-) toetse2 wat plaaslik deur die RGN behartig word. Dit assesseer graad 8-leerlinge se vermoëns in wiskunde en natuurwetenskappe. In Suid-Afrika is TIMSS-studies in 1995, 1999, 2002, 2011 en 2015 uitgevoer, maar vanweë die swak prestasie van Suid-Afrikaanse leerders – Suid-Afrika was gereeld heel laaste van die meer as 50 deelnemende lande – is dit die laaste twee toetsgeleenthede plaaslik in graad 9 gedoen. Desnieteenstaande het Suid-Afrika weer die laaste plek beklee.

In 2011 is 285 uit ‘n moontlike 10 085 Suid-Afrikaanse skole gekies om aan die TIMSS-oefening deel te neem, en het 11 969 leerlinge die toetse afgelê. Die toets kan in Suid-Afrika in Afrikaans of Engels geskryf word. Die TIMSS-resultate word geskaleer om ‘n internasionale gemiddeld van 500 en ‘n standaardafwyking van 100 te gee. Die TIMSS-prestasieskaal is ‘n aanduiding van ‘n leerling se vermoëns in toetsitems wat ontwerp is om ‘n wye bestek van kennis en vaardighede in wiskunde en (natuur)wetenskap te evalueer. Prestasies onderkant 400 op die TIMSS-skaal word as onvoldoende beskou. Die norm is prestasies tussen 500 en 600 op die TIMSS-skaal. Wenlande se leerlinge se gemiddelde prestasies was in die omgewing van 700 en meer.

Vir 2011 was Suid-Afrikaanse leerlinge se gemiddeld vir wiskunde 352 en vir natuurwetenskappe 332, ver benede die “onvoldoende”-prestasiepeil.

Moedertaalonderrig fasiliteer skolastiese prestasie

Maar dit is veral ten opsigte van moedertaalonderrig dat insiggewende gegewens, veral in Suid-Afrika, na vore kom wanneer die resultate ontleed word. Suid-Afrikaanse leerlinge wat die wiskundevraestel in hul moedertaal (Afrikaans of Engels) beantwoord het, se gemiddelde prestasie was 405, en vir natuurwetenskappe 412, albei nét bokant die “onvoldoende” peil. Suid-Afrikaanse leerlinge wat die TIMSS-toetse in ‘n tweede taal afgelê het in omgewings waar die toetstaal selde tuis gepraat word, se prestasies was 312 (wiskunde) en 264 (natuurwetenskappe).

Die voorsprong wat moedertaalonderrig bied, is beduidend: 30% beter prestasie in die geval van wiskunde, en 56% in die geval van natuurwetenskappe.

Die laaste keer dat die TIMSS-uitslae bekend gemaak was vir leerlinge wat die toets in Afrikaans of Engels afgelê het, was in 2003. Die veel beter prestasie van leerlinge van wie die moedertaal Afrikaans is (prestasie 370 in wiskunde en 376 in wetenskap, teenoor onderskeidelik 253 en 231 vir leerlinge wat die toets in Engels afgelê het), staan uit: Afrikaanse leerlinge (wat almal Afrikaans-moedertaalsprekers is) se prestasie is 46% beter in wiskunde, en 63% beter in natuurwetenskappe, as dié van leerlinge wat die toetse in Engels afgelê het. Van laasgenoemde groep was 85% Engels-tweedetaalsprekers.

Wiskunde vereis omvattende vakterme

Dat die taal van onderrig hierin ‘n belangrike rol speel, kan nie ontken word nie: Afrikaanssprekendes se beter prestasie moet ongetwyfeld toegeskryf word aan onder meer die feit dat hulle hul wiskunde- en wetenskapsonderrig deur middel van hul moedertaal ontvang het. Afrikaans beskik oor ‘n omvattende en goedgedefinieerde vakterminologie in hierdie twee vakgebiede.

Wiskunde het ‘n eie “taal” om te bemeester, en is ‘n dissipline waarin nieverbale kommunikasie, en visuele simboliese en grafiese voorstellings tot ‘n groot mate gebruik word. Die wiskunde-“taal” het ‘n ryke grammatikale struktuur en is ryk aan terminologie wat net in hierdie besondere studieveld aangetref word. Nogtans is die wiskundige woordeskat van een gesproke taal soortgelyk aan dié van vele ander, maar uniek binne die betrokke taal self. Fundamenteel is wiskunde egter ‘n aktiwiteit en ‘n skathuis van kennis wat oor baie eeue heen versamel is.

Dit kan ten beste ontsluit word, en die resultate daarvan gekodifiseer word, in die moedertaal van die leerder wat hierdie vakterrein nuut probeer bemeester. Die moedertaal maak konseptualisering en probleemoplossing bloot soveel makliker as ‘n taal waarvan die leerling ‘n tweedetaalspreker is.

Wanneer kinders die eerste keer skool toe gaan, moet hulle nuwe woorde en gebruike van taal op velerlei gebiede aanleer. Die opvoedkundige rituele van wiskunde verskil egter aansienlik van dié van ander metodes van kommunikasie. Om die kwadratiese uitdrukking y = ax2 + bx + c in gewone woorde uit te druk, is haas onmoontlik, en word veel moeiliker wanneer dit in ‘n vreemde taal (tweede taal of ander niemoedertaal) moet gebeur. Om die wortels van so ‘n vergelyking voor te stel is elementêr in wiskundige notasie; in niewiskundige “taal” is dit eenvoudig nie doenbaar nie. En hoe verklaar jy A = πr2 (π = pi) as die oppervlakte van ‘n sirkel in eenvoudige woorde?

B Wilmon (Reading in the Context Area: A “New Math” terminology list for the primary grades) het byvoorbeeld bevind dat ongeveer 500 nuwe wiskundige woorde (terme) gedurende die laerskooljare in gebruik geneem word in skoolhandleidings, en aangeleer moet word deur leerlinge wat in dié stadium oor ‘n totale woordeskat van ongeveer 4 000 woorde beskik.

Die onderrig in en aanleer van wiskunde sluit nie slegs die gesproke woord (luister en bespreek) in nie, maar behels ook die geskrewe vorm van die taal, dws die aktiwiteite van lees en skryf. Taalontwikkelingsoorwegings in die ontleding van wiskunde-onderrig vereis dat die gewone gesproke taal die aanvanklike verduideliking van en kommunikasie oor wiskundige konsepte, vakterme en vaardighede sal fasiliteer. Dit word gedoen deur by kinders die verstaan van wiskundige begrippe tuis te bring deur gebruik te maak van “gewone” taal wat aan hulle bekend is. Met dít as basis kan hulle vorder na wiskundige simbolisme, die mees gesofistikeerde vlak van kommunikasie.

‘n Wiskundige uitdrukking bly in sy eenvoudigste vorm een van die mees elegante voorstellings van ‘n spesiale “snelskrif”; ‘n taal binne ‘n taal. Nieverbale voorstellings en simbole speel ‘n belangrike rol, hetsy dit die gebruik van simbole en afkortings soos %, +, ÷, kg, m of die gebruik van grafieke, vloeidiagramme en grafiese meetkundige sketse insluit.

Vakterme het in die wiskundige en wetenskaplike vakrigtings eksplisiete betekenisse, byvoorbeeld krag, druk, drywing, energie, digtheid, hitte, temperatuur, massa, gewig. So byvoorbeeld is spoed (‘n skalaar) en snelheid (‘n vektor) nie sinonieme nie. Dit op sigself vereis ‘n unieke en eenduidige definisie vir elke vakwoord. Simbole het eweneens ‘n unieke betekenis, bv Σ en Δ en π, of selfs = en >. Dit alles word ten beste deur middel van die moedertaal verduidelik wanneer leerlinge die betekenis van woorde en simbole vir hulself moet konstrueer op ‘n nuwe en vreemde terrein, oftewel ‘n “nuwe” (wiskundige of wetenskaps-) “taal” om die dikwels teenintuïtiewe en “onnatuurlike” terreine van die wetenskap en wiskunde te bemeester. Selfs in die moedertaal is geletterdheid dikwels ‘n probleem op laerskoolvlak, en om nuwe en moeilike vakterreine in dié stadium dan in ‘n tweede taal te moet bemeester, vererger die probleem meervoudig.

Koloniale tale oorheers op skoolvlak

In postkoloniale Afrika was die onderrigtaal op laerskoolvlak in baie lande na onafhanklikwording dié van die voormalige koloniale oorheerser: Frans, Engels, Spaans en Portugees. Sedert die sewentigerjare het ‘n besef van die belangrikheid van moedertaalonderrig, ten minste in die aanvangskooljare, deurgedring. Die International African Institute (IAI) het 'n resolusie aanvaar wat lui: "It is a universally accepted principle in modern education that a child should receive education in and through his mother tongue, and this privilege should not be withheld from the African child."

Die verwagte teikenslaagsyfer in matriek vir leerlinge wat die eindeksamen in hulle moedertaal aflê, oor voldoende hulpmiddels beskik, en in klasgroottes van nie meer as 30 ingedeel is nie, is 80%. Dit verminder na 40% wanneer dieselfde omstandighede heers, maar die eindeksamen in ‘n tweede taal afgelê word. Met klasgroottes van meer as 30, onvoldoende hulpmiddels, en wanneer die eksamen in ‘n tweede taal afgelê word, verminder die verwagte slaagsyfer na 20–30% – tipies in sommige Suid-Afrikaanse skole.

Soos Agnes Azzolino dit uitdruk in The Languages of the Math Classroom:

Language, as embodied in a mother tongue, was spoken long before mathematics was created. This makes the mother tongue the most basic of math class languages even though the verbal languages are in general the most sophisticated. If the listener doesn't understand the mathematics, speak the mathematics in the mother tongue or in a more concrete language.

Die redes vir die swak prestasie van Suid-Afrikaanse leerlinge in die TIMSS-toetse is deeglik ontleed, en sluit in faktore soos onderwyseropleiding, hulpbronne beskikbaar by die skool en huis, huislike omstandighede, handboeke en skoolhandleidings, maar veral ook die feit dat die meeste leerlinge nie wiskunde- en natuurwetenskap-onderrig in hul moedertaal ontvang nie.

Onderopgeleide onderwysers

‘n Pas vrygestelde verslag van ’n ondersoek deur Sacmeq3 na die gehalte van onderwysers in 15 Afrikalande, wat Suid-Afrika, Botswana, Kenia, Lesotho, Mauritius, Malawi, Mosambiek, Namibië, Uganda, Zambië en Zimbabwe insluit, toon die agteruitgang in Suid-Afrika, veral in sleutelvakke soos Engels en wiskunde.

In die jongste Sacmeq-studie het graad 6-taal- en -wiskunde-onderwysers soortgelyke toetse as in TIMSS afgelê. Suid-Afrika het die sesde plek beklee, swakker as lande met ‘n veel kleiner ekonomie en lewenstandaard, en het swakker gevaar as in ‘n soortgelyke studie in 2007, wat op agteruitgang dui. Baie onderwysers kon nie die vrae beantwoord wat van graad 6-leerlinge verwag word dat hulle dit kan beantwoord nie.

Afgesien van die afwesigheid van goedontwikkelde, aanvaarde, en gestandaardiseerde vakterminologie in die inheemse Afrikatale is die afwesigheid van handboeke in wiskunde en wetenskap in hierdie tale ‘n ernstige knelpunt. Leerlinge moet wiskunde en wetenskap leer met handboeke wat nie in die moedertaal geskryf is nie, wat die verstaanbaarheid van die nuwe en vreemde begrippe daarin erg belemmer. Dit sal egter nie help om handboeke daar te stel indien vier voorwaardes nie nagekom word nie:

  • Dat die wenslikheid van moedertaalonderrig, veral vir die wiskundige en wetenskaplike vakke, erken en bevorder word.
  • Dat die politieke wil gedemonstreer word om dit te laat gebeur.
  • Dat aanvaarbare en gestandaardiseerde vakterminologie in die inheemse Afrikatale met bekwame spoed ontwikkel word.
  • Dat geskikte skoolhandleidings in hierdie tale daargestel word.

Om sake te kompliseer, is daar verskeie wanopvattings oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika wat gebruik word om die immer wisselende amptenarekorps van die Departement van Onderwys te verwar. Hierdie wanpersepsies sluit die volgende in:

  • Die meerderheid swart ouers verkies Engels as onderrigtaal vanaf graad 1.
  • Wiskunde en wetenskap is “moeilike” en droë vakke wat liefs vermy moet word.
  • Die land kan finansieel slegs een taal (Engels) as hoofonderrigtaal op skoolvlak bekostig.
  • Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat Suid-Afrika de facto slegs een amptelike taal (Engels) sal hê.
  • Dit sal te veel geld en moeite verg om vakterminologie in wiskunde en wetenskap vir al nege die amptelike inheemse Afrikatale te ontwikkel.
  • Vlotheid in Engels kan verwerf word slegs (of ten beste) deur dit as onderrigtaal vir die hele skoolloopbaan te gebruik.
  • Leerlinge moet van graad 1 af onderrig in Engels ontvang om hulle vlot in dié taal te maak, wat ‘n voorvereiste is vir toetrede tot die wêreld van werk.

Die waarde van moedertaalonderrig op skoolvlak, en bepaald in die aanvangsjare, is onaanvegbaar en moet nog ten volle deur onderwys-owerhede en ouers besef en verreken word.

Verwysings 

1 PH Spies: Gelyke Kanse se Stigtingsrede, 2016

2 V Reddy, TL Suze, M Visser ea: Beyond Benchmarks, RGB, 2015

3 2016-verslag van die Southern and Eastern Africa Consortium for Monitoring Educational Quality (Sacmeq)

 

  •  HC (Christo) Viljoen is ‘n afgetrede ingenieur en akademikus van Stellenbosch

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

 

  • 5

Kommentaar

  • Matthys Strydom
    Matthys Strydom

    Moedertaal-onderrig behoort 'n natuurlike (en noodsaaklike) vereiste te wees (tot die kind dit behoorlik onder die knie het), vir enige nasie wat trots is op sy kultuur.
    Hoekom sien ek dit glad nie by ons swart volkere nie - en al minder by die Afrikaners?

  • Christo , dankie vir jou weldeurdagte bydrae tot die taaldebat deur die moedertaalargument weer af te stof en blink te poets. Ons kan die waterdigte moedertaalargument formuleer en bewys net soos en soveel keer soos ons wil, selfs tot by oom Daantjie in die kalwerhok, maar die mense wat tans die besluite neem WIL dit nie verstaan nie. Daar is niemand so doof soos die een wat nie wil hoor nie.

  • Ek sou net wou byvoeg dat ek met dieselfde ywer as waarmee ek veg om in Afrikaans by Maties, Tuks of Kovsies te swot, moet veg vir die kind wat onder 'n boom in Dzinani moet skoolgaan om in Tshivenḓa onderrig te word.

  • Ek hou skool by 'n hoërskool in 'n township. Die onderrigtaal is hoofsaaklik Tswana, terwyl ek in Engels onderrig. Die handboeke is in Engels; in sommige vakke het leerders geen handboeke nie. Die toetse en eksamens moet in Engels afgelê word. Leerders se begrip en woordeskat van Engels is beperk. Is moedertaal-onderrig dan steeds gewens? Die stelsel laat ons leerders in die steek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top