DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US

  • 1

Foto van Danie van Wyk: verskaf

“Die tyd het aangebreek dat die Universiteit Stellenbosch kennis neem van konflik wat ontstaan waar taal en kultuur nie gerespekteer word nie en dit aanleiding gee tot onnodige wantroue onder studente,” sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk.

DAK Netwerk het kennis geneem van die bevinding van die MRK se ondersoek na die gruwelike vertrapping van die taalregte van Afrikaanse studente in die koshuise asook die kampus van die US, na aanleiding van ’n ondeurdagte beleid soos geformuleer deur koshuisbesture of verteenwoordigers in koshuise van die universiteit.

...........
Die praktyk waar studente verhoed was om in hul moedertaal, Afrikaans, te kommunikeer, was absurd en ’n gruwelike skending van hul basiese menseregte. Dit was ’n snotklap in die gesig van alle Afrikaanse studente verbonde aan die US.
..............

Die praktyk waar studente verhoed was om in hul moedertaal, Afrikaans, te kommunikeer, was absurd en ’n gruwelike skending van hul basiese menseregte. Dit was ’n snotklap in die gesig van alle Afrikaanse studente verbonde aan die US. Die universiteitsowerhede moes vinniger op hierdie klag gereageer het toe hulle daarvan te hore gekom het. Dit gebeur telkemale dat die US-bestuur onkant betrap word en onwetend toelaat dat ’n kwessie wat inhoudelik opgelos kon word, eers buite verband gedryf word voor reaksie of optrede. Dit op sigself in ’n aanklag teen die US-bestuur.

Dit laat my dink aan die Shakespeare-drama Julius Ceasar (hier effens aangepas):

Wim: “The Ides of March have come.”

MRK: “Aye Ceasar, but not yet gone.”

Taalregte is menseregte en word grondwetlik bevestig en erken. Die MRK se finale uitspraak:

In light of the Commission’s investigation and analysis herein, the Commission finds that the Respondent, through the residence policies, unfairly violated the human rights of the affected students to

  1. Freedom of expression
  2. Language and culture
  3. Equality and not to be discriminated against on the basis of language and
  4. Human dignity.

DAK Netwerk aanvaar hierdie uitspraak as goeie nuus omdat ons ook uitgenooi was deur die MRK om getuienis in hierdie verband af te lê. DAK Netwerk was verteenwoordig deur ’n gedugte span: David Jantjies, Verna Stuurman, Willem Fransman en Danie van Wyk. DAK het sy afkeer van hierdie beleid onomwonde uitgespreek in belang van die taalregte van Afrikaanse studente wat spesifiek geraak was. Dit was duidelik vir DAK dat by die aanhoor van die getuienis van lede van die bestuur van die US, hulle hul grootliks wou verskoon van die uitsprake, gedrag en beleid van die spesifieke koshuise ter sprake. Die verbod op Afrikaans was afgedwing in Minerva, Irene, Huis Fransie Van Zyl, Capri Studente-organisasie en die Tygerberg-koshuis.

DAK het ons ook vereenselwig met die regte van agtergestelde Afrikaanse studente en het dit duidelik gestel dat dit nie slegs wit Afrikaanse studente is wat deur daardie “edik” soos uitgevaardig, geraak was nie, maar alle Afrikaanse studente. Wat vir DAK belangrik was, was dat die fokus weer eens geplaas was op die taalregte van studente. Dit is ononderhandelbaar en ’n gegewe dat taalregte van alle studente op kampus beskerm moet word en nie slegs van Afrikaanse studente nie. Die US predik veeltaligheid, maar verontagsaam hul eie beleid as dit by die praktiese uitvoerbaarheid daarvan kom.

..........
DAK aanvaar dat die US nooit weer ’n Afrikaanse universiteit sal wees nie, maar vra dat daar groter erkenning moet wees vir die tale waarin studente kommunikeer, insluitend Afrikaans.
...........

DAK aanvaar dat die US nooit weer ’n Afrikaanse universiteit sal wees nie, maar vra dat daar groter erkenning moet wees vir die tale waarin studente kommunikeer, insluitend Afrikaans. As deelnemers aan die proses van ondersoek en getuienis soos afgelê deur die DA en die VF+ was dit vir ons duidelik dat ’n gesamentlike protesaksie, of dit nou mondelings of op ’n ander wyse gedoen word, altyd die gewenste uitkoms het of lewer. Nie een van die betrokke partye kan alleen op ’n oorwinning aanspraak maak nie, aangesien die getuienis van elk van die partye krag gedra het.

Die kommissie het getuienis aangehoor waar studente verbied was om Afrikaans in die koshuise te besig, maar slegs Engels moet gebruik, en selfs buite op banke in die tuine van die koshuise. Ons vraag is: Wat van Xhosasprekende studente wat in Xhosa met mekaar kommunikeer? Geld die beleid ook vir hulle? Dit is wat hierdie beleid so absurd maak, dat Afrikaanse studente wat ’n koshuiskamer deel, slegs in Engels met mekaar moet praat. Selfs telefoniese gesprekke tussen Afrikaanse studente en hul familielede moes slegs in Engels geskied. Ten einde veeltaligheid op die kampus te bevorder, doen DAK ’n beroep op die universiteitsbestuur om dit ernstig te oorweeg om ’n program in koshuise asook op die breë kampus in werking te stel om gehoor te gee aan hierdie kwessie wat die US op verskillende tye in die verlede geraak het.

DAK het dit duidelik gestel dat hierdie beleid herroep moet word om alle studente toe te laat om in hul moedertaal te kommunikeer. Verder was daar ook ’n aandrang dat kennisgewings in koshuise in al drie tale moet verskyn. Dit sal verdraagsaamheid onder studente bevorder en erkenning van mekaar se tale en kulture ontwikkel. Die MRK kan slegs aanbevelings maak, maar kan dit nie afdwing nie. Uiteindelik gaan dit om die geloofwaardigheid van die US en sy bestuur.

Die MRK se bevinding en verslag dui op ’n kommunikasieprobleem in die algemeen in koshuise. Dit wil voorkom asof koshuiskomitees aan hulself oorgelaat is om hul eie beleide en standpunte tot uitspraak te bring sonder enige konsultasie. Dit plaas Afrikaanssprekende studente voortdurend onder verdenking terwyl sprekers van beide Engels en Xhosa skotvry daarvan afkom. Afrikaans is nie slegs ’n taal van kommunikasie nie, maar deel van ’n leefwyse wat deur ander sprekers gerespekteer moet word.

.........
Afrikaans is nie slegs ’n taal van kommunikasie nie, maar deel van ’n leefwyse wat deur ander sprekers gerespekteer moet word.
..........

Ek moet egter ook vermeld dat tydens ’n Varsity Cup-rugbywedstryd tussen die Maties en die Central University of Technology (CUT) dit opvallend was watter eengesindheid en aanvaarding daar tussen die studente geheers het. Hulle het almal hul span ondersteun en was almal Maties. Daar het ’n gees van eensgesindheid geheers waarvan kennis geneem kan word.

Die MRK-ondersoek het die swak punte in die taalgebruiksbeleid van die US in koshuise blootgelê wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Implementering van aanbevelings deur respondente in die ondersoek moet oorweeg word. Getuies was nie vyandiggesind teenoor die US nie, maar het hul kommer uitgespreek ten opsigte van gesonde menseverhoudinge. Uiteindelik gaan dit daarom om van die US ’n universiteit te maak wat die mense van Suid-Afrika op die beste moontlike wyse kan dien. Die US onder die bekwame leiding van die visekanselier en sy bestuur beskik oor die vermoë om die US die universiteit van die mense te maak in die ware sin van die woord met die inagneming van alle studente se taal, kultuur en menseregte.

Die hoop beskaam nie.

Lees ook:

Universiteit Stellenbosch kry slae by Menseregtekommissie oor Afrikaans

Van koshuise, tale en kommissies

US rektor sê hy het reeds verskoning gevra vir taaldebakel

Kan die akademie uitnemendheid oorleef?

Race and Transformation in Higher Education Conference raises crucial themes in pursuit of Stellenbosch University’s transformation journey

Eeufeesviering van Departement Afrikaans en Nederlands, US: Kanselier Edwin Cameron se toespraak

Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

Leon Schreiber oor US en Afrikaans

  • 1

Kommentaar

  • Wie kon dit nou dink, nè? Dat Afrikaans VERBIED word in koshuise by 'n Afrikaanse universiteit!?
    Indien die antwoord is dat dit nie meer 'n Afrikaanse universiteit is nie, is dit nog erger, want wie sou nou kon dink dat Stellenbosch 'n Engelse universiteit sou word?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top