Van koshuise, tale en kommissies

  • 8

http://www.sun.ac.za/english

Die Menseregtekommissie (MRK) het bevind die Universiteit Stellenbosch het in sy beleid in koshuise verskeie menseregte van studente geskend deur hulle te verbied om in ’n sosiale konteks Afrikaans te praat. - LitNet-redaksie


Dis dalk een van die grootste teenstrydighede waaraan ek in my regsloopbaan gewoond moes raak: Net omdat iemand ’n beslissing in hul guns in die hof of voor ’n kommissie behaal, beteken dit nie hulle het gewen nie.

Juis daarom lees ek met gemengde gevoelens dat die Menseregtekommissie (MRK) beslis het dat die Universiteit Stellenbosch fouteer het deur te beslis dat studente nie Afrikaans mag praat in koshuise nie. Dit voel alte veel soos ’n Pirrhiese oorwinning. Die oomblik dat van ’n geregtelike gesag verwag word om in persoonlike verhoudinge tussenbeide te tree en dit te reguleer, het albei partye reeds verloor.

.........
Die oomblik dat van ’n geregtelike gesag verwag word om in persoonlike verhoudinge tussenbeide te tree en dit te reguleer, het albei partye reeds verloor.
..........

Ek is seker daarvan dat daar vandag met groot euforie in sekere geledere feesgevier word oor die bres wat vir Afrikaans geslaan word, en ek is seker dat daar in sommige koshuise nou met leedvermaak Afrikaans gepraat sal word. Ek is ewe seker dat daar nou ander is wat hierdie Afrikaanse feesviering met bitterheid sal gadeslaan.

Wat doen dit vir verhoudinge tussen koshuismaats?

Ek is absoluut oortuig daarvan dat elke persoon toegelaat moet word om hulleself in die taal van hul keuse uit te druk. Dat dit selfs gesê moet word, is verstommend. Ek is net so oortuig dat wanneer verskillende kulture en groepe saamleef, daar ’n mate van akkommodasie vir mekaar behoort te wees.

.........
Ek is absoluut oortuig daarvan dat elke persoon toegelaat moet word om hulleself in die taal van hul keuse uit te druk. Dat dit selfs gesê moet word, is verstommend. Ek is net so oortuig dat wanneer verskillende kulture en groepe saamleef, daar ’n mate van akkommodasie vir mekaar behoort te wees.
..............

Gestel ’n Afrikaanssprekende koshuisstudent woon tussen ’n klomp Spanjaarde in hul koshuis op Stellenbosch. Gaan hulle verwag dat die Spanjaarde Afrikaans moet leer en verstaan? Ek wil my verstout om te sê hoflikheid sal vereis dat hulle ’n taal praat wat almal verstaan, selfs al beteken dit dis ’n tweede of dalk selfs derde taal vir almal in die groep. Die kwessie van watter taal gepraat moet word, sou nooit uit die koshuis en na kommissies en koerante geneem gewees het nie.

Dat taalgebruik in ’n gedeelde ruimte wat beide openbaar en privaat is, die onderwerp van regsgedinge word, is aanduidend van ’n verbrokkeling van verhoudinge wat nooit met regsuitsprake herstel kan word nie. Kom ons praat padlangs. Dit gaan nie hier om taal nie, soos my voorbeeld van die Spanjaarde hier bo uitbeeld. Dis die uitspeel van dieper verhoudinge, van ras en kultuur en ’n geskiedenis van onderdrukking en oorwinning wat hierdie stel studente nooit eens van bewus moes gewees het nie wat hier ter sprake is.

Probeer ek daarmee te kenne gee dat minderheidsgroepe nooit regsprosesse mag gebruik om miskende regte af te dwing nie? Natuurlik nie. Soms is regsprosesse die enigste manier waarop ’n mate van geregtigheid kan geskied. Maar dit behoort net as laaste uitweg gebruik te word.

Die MRK kan beveel dat sekere tale gepraat kan en mag word in sekere omstandighede. Hulle kan nie beveel dat daar hoflikheid binne gedeelde ruimtes moet wees nie. Of hulle kan dit nie afdwing nie. Hulle kan beveel dat ’n verskoning met ’n spesifieke bewoording aangebied moet word. Hulle kan nie opregtheid en ’n veranderde gesindheid daarmee saam beveel nie.

..........
Die MRK kan beveel dat sekere tale gepraat kan en mag word in sekere omstandighede. Hulle kan nie beveel dat daar hoflikheid binne gedeelde ruimtes moet wees nie. Of hulle kan dit nie afdwing nie. Hulle kan beveel dat ’n verskoning met ’n spesifieke bewoording aangebied moet word. Hulle kan nie opregtheid en ’n veranderde gesindheid daarmee saam beveel nie.
.............

Veel meer waardevol sou intensiewe diversiteitsopleiding en gepaardgaande groepsessies met ’n sielkundige wees om blywende verandering teweeg te bring.

Op die vooraand van Internasionale Menseregtedag is dit dalk ’n belangrike les om te leer: Die grondslag van menseregte is menslikheid en menslike verhoudinge. Dit kan nooit deur ’n regsbeslissing afgedwing word nie.

Lees ook:

DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US

US rektor sê hy het reeds verskoning gevra vir taaldebakel

Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC

Is Afrikaans aan die US ’n spyker ryker in haar doodskis?

Die US se tweede konseptaalbeleid van 2021: Maskerspele, of groeiende paleisrevolusie?

DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education

Leon Schreiber oor US en Afrikaans

Persverklaring: Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid

Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

  • 8

Kommentaar

  • Me. Wyngaard kyk baie sorgvuldig die olifant in die vertrek mis: geen regsgeding sou plaasgevind het as Afrikaans nie verbied was nie.
    Al haar lamentasies systap die feit dat dit nie die MRK was wat interpersoonlike verhoudings probeer reguleer nie, maar die persone wat die gebruik van Afrikaans probeer verbied het.

  • Deon Adriaanse

    As Me. Wyngaard reken "Dis dalk een van die grootste teenstrydighede waaraan ek in my regsloopbaan gewoond moes raak: Net omdat iemand ’n beslissing in hul guns in die hof of voor ’n kommissie behaal, beteken dit nie hulle het gewen nie", wonder ek of sy diegene wat hofsake verloor, probeer wysmaak dat hulle eintlik gewen het? Daardie lessie moet ek nog probeer verstaan.

  • Danie van Wyk se artikel is veel meer nugter. Ek sukkel om te verstaan wat jy probeer sê. Dit is vir my nogal veelseggend dat Suid-Afrika se tweede beste universiteit aan menseregteskendings skuldig is. En tog, soos Van Wyk skryf, is daar dikwels ook 'n goeie en vredeliewende gees onder die studente.

  • Wannie Carstens

    Bettina, ek stem heeltemal met jou saam oor die onderstaande:

    "Ek is absoluut oortuig daarvan dat elke persoon toegelaat moet word om hulleself in die taal van hul keuse uit te druk. Dat dit selfs gesê moet word, is verstommend. Ek is net so oortuig dat wanneer verskillende kulture en groepe saamleef, daar ’n mate van akkommodasie vir mekaar behoort te wees."

    Daar lê inderdaad werk voor om die regte klimaat te skep om dit waar te maak. Ons moet hiervoor 'n meertalige ingesteldheid ("multingual mindset") in die land gevestig kry. Dan word "menslikheid en menslike verhoudinge" ons riglyn. Groete!

  • Frederik van Dyk

    Bettina, jou poging om 'n soort teennarratief te skep sou lagwekkend wees as dit nie 'n ernstige vergissing was wat boonop gepubliseer is nie.

    1. As die MRK, of paneel, bevindings maak, dan is daar oplaas 'n party wat gelyk gegee word op die kwessies voorhande. Dis die doel van sulke klagteforums, om geskille te besleg. In hierdie geval is die klaers gelyk gegee op die feite. Hoe wil jy die klaers nou kwalik neem?

    2. Jy het beslis nie die feite of beslissing gelees nie. Dit was nie oor mense wat aandring om Afrikaans te praat ten alle tye en in alle kringe (jou Spanjaard voorbeeld) nie, maar mense wat vra dat daar opgehou word om 'n slegs-Engels-beleid af te dwing, en dit op feite waar Afrikaanssprekende studente aangesê is om nie eens onderling met mekaar Afrikaans te praat nie. Moerse verskil!

    3. Inderwaarheid, dis ooglopend jy het nie gelees nie: Een van die MRK se bevele is dat daar voorts opleiding rondom die hantering van taaldiversiteit verskaf word aan oortrederamptenare en -huiskomitee lede. Is dit nie 'n poging om menseregte deur te laat vloei na grondvlakverhoudinge nie?

    4. Menseregtevindikasies het 'n besliste effek om perke te stel oor wat aanvaarbaar is en wat nie, in 'n menseregte-gebaseerde regstaat. Om net te verwys na “hoflikheid” en “verhoudinge” gaan dit nie alleen aanhelp nie. Probeer jy die situasie skynbaar versag? Vir wie se gemoed?
    Daardie geleenthede het lankal weggeval toe die US geweier het om die taalvoorvalle aan te spreek, waarna die MRK deur klaers genader is.
    Nou is daar duidelike menseregtelike raamwerke deur 'n bevinding geskep, waarbinne jou toekomstige “hoflikheid” en “verhoudinge” gebou kan word.

    Lees net ten minste die bevinding voor jy jou openlik uitlaat, dis darem die basiese verantwoordelikheid van 'n meningvormer.

  • Bettina se betoog is glad nie gemik teen die MRK nie.
    Dit was 'n proses wat moes plaasvind en almal aanvaar die Kommissie se beslissing.
    Die punt is dat, gesien teen die behoefte van die breë samelewing om mekaar te respekteer, verhoudinge en gesindhede nie afdwingbaar is deur wetgewing nie.
    Die wen-verloor-siening van sommige is sprekend van die binêre denke wat steeds onderlinge menslikheid misken.

  • Andre Badenhorst

    Die groot wen is dat die administrasie nou gedwing word om na beide kante te luister. Tot dusver het dit maar bitter moeilik gegaan, verwysend na die Luister-video, talle hofsake, oneindigende artikels op hierdie platform, duidelike misnoë vanaf hul eie Konvokasie en verskeie organisasies, hul eie dept Afrikaans en Nederlands, en op die koop toe, insigte uit hul eie Kampepe- en die Deloit-verslag. Al wat die rektor (en vise-kanselier) hoef te doen, is om tog maar net 'n skriftelike verskoning uit te reik soos wat die MRK so mooi gevra het, hierdie keer opreg - in die taal van ons hart. Hoflikheid kos mos niks nie, of hoe?

  • Die Spanje-vergelyking het sy kompleksiteite. Praat jou groepie Kastilies of Katalaans? Katalonië het al dekades 'n taalstryd aan die gang. As julle in Barcelona is, sal die Kataloniërs miskien gesteurd voel as die ander Spaanse burgers net Engels praat en nie hier en daar 'n woordjie Katalaans laat val nie. Die universiteit behoort nie-Afrikaanse studente aan te moedig om Afrikaans te praat, want dis 'n oorwegend Afrikaanse streek en dit sal hulle goed te pas kom as hulle eendag wil semigreer. Eweseer behoort Afrikaanse studente aangepor te word om Xhosa te praat. Die huidige situasie, waar Engels afgedwing word met watter goeie bedoelinge ookal, wil eerder verskille uitwis, iets waarmee nóg Kastiliese Spaanspraters, nóg Kataloniërs gelukkig sal wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top