US rektor sê hy het reeds verskoning gevra vir taaldebakel

  • 1

Die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Wim de Villiers, sê dat hy reeds om verskoning gevra het aan enigiemand wat moontlik negatief geraak is toe sommige studente glo gedurende die 2021-verwelkomingstydperk by sekere koshuise gedwing is om Engels te praat.

Die Menseregtekommissie (MRK) het Woensdag in hulle verslag oor die aangeleentheid gesê De Villiers moet in die openbaar ’n skriftelike verskoning publiseer waarin erken word dat die menseregte van Afrikaanse studente geskend is en onderneem om stappe te doen wat sal verseker dat geen student ooit weer verhoed sal word om enige taal te praat nie.

De Villiers moet ook persoonlik aan alle koshuisleiers skryf met ’n opdrag dat geen beleid van “slegs Engels”, of enige soortgelyke beleid, toegepas mag word nie.

In ’n verklaring wat laat Woensdagaand uitgereik is, sê De Villiers die US bly verbind tot menseregte, waardigheid, veeltaligheid en inklusiwiteit. Hy sê die US neem kennis van die MRK se verslag oor taal in US-koshuise.

Die US sê menswaardigheid is ononderhandelbaar by die universiteit en moet gerespekteer en gehandhaaf word.

“Die US is teleurgesteld oor die voorvalle wat aan die lig gekom het en neem kennis van die MRK se aanbevelings oor taal aan die US.

“Die US bly standvastig verbind tot die bevordering van menseregte, veeltaligheid en inklusiwiteit vir al sy studente, personeel en belanghebbendes en ontwikkel voortdurend om hierdie ingesteldheid en nakoming te beklemtoon in die US Taalbeleid (2021).”

Die rektor sê die universiteit neem ook kennis dat daar volgens die MRK se verslag nie ’n blatante en gekonsentreerde verbod op die kampus is om Afrikaans uit die US uit te roei nie.

“Nieteenstaande dit, het die rektor reeds in sy verskoning opgemerk indien daar studente was wat opdrag gegee is om nie Afrikaans in ’n sosiale konteks te gebruik nie, dit verkeerd was en nie die beleid van die universiteit nie,” sê die US in hulle verklaring.

Die US sê die universiteit is verbind tot ’n deurlopende ondersoek- en regstellingsproses. “Baie positiewe aksies wat in lyn is met die regstellende aksies wat deur die Kommissie aanbeveel is, word reeds onderneem. Dit sluit in om te beklemtoon dat in die gees van veeltaligheid daar geen verbod op die gebruik van enige taal, insluitend Afrikaans, is nie.”

Verdere beplande aksies sluit deurlopende opleiding vir koshuishoofde en studenteleiers in wat in ooreenstemming is met die remediërende handelinge in die verslag, lui die US se verklaring.

“Ek is op rekord dat ek sê dat die US se veeltalige reis nie maklik is nie. Foute is onvermydelik en ons sal daaruit leer om ’n progressiewe veeltalige en inklusiewe 21ste eeu Suid-Afrikaanse universiteit te wees. Binne hierdie konteks het die universiteit reeds opgetree sedert die eerste berigte oor die taalgebruik in ’n bepaalde koshuis wat in 2021 na vore gekom het – soos erken is deur die Kommissie,” sê De Villiers.

Hy sê die US erken dat transformasie veelvlakkig is en op veelvlakkige wyse aangespreek moet word om effektief te wees. “Dit was vir die afgelope twee dekades ’n voortdurende reis. Hierdie proses is morsig, moeilik en vra vir selfrefleksie. Ons sal hiermee voortgaan en waar nodig daarop fokus om die gaping tussen beleid en praktyk te verklein.”

Deresh Ramjugernath, adjunkvisekanselier: leer en onderrig, het De Villiers se sentimente beaam. Hy sê hoewel die US nie noodwendig saamstem met al die feitelike bevindings van die verslag nie, sal die universiteit die kommissie se bevindinge, voorgestelde remediëringsaksies en aanbevelings in besonderhede oorweeg, asook die optrede vorentoe.

Hy sê die US is terdeë bewus van die belangrikheid daarvan dat studenteleiers ingelig moet word oor die Taalbeleid en die gebruik van taal op kampus en in koshuise en sosiale ruimtes. “Die Kommissie se interpretasie van hoe gebeure ontvou het en hoe taal in koshuise gebruik word, is opgemerk terwyl ons voortdurend die gebruik van taal oor die kampus evalueer, sowel as om die taalbeleidsimplementering te verbeter.”

Lees ook:

DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US

Universiteit Stellenbosch kry slae by Menseregtekommissie oor Afrikaans

Van koshuise, tale en kommissies

Universities South Africa [USAf] colloquium: "The challenges in the implementation of the new language policy"

  • 1

Kommentaar

  • No worries. Afrikaans gaan nou geherstandaariseer word om klomp Engels in te bring sodat dit minder eksklussief is. Al wat hierdie mense probeer doen het is om inklussief te wees deur sekere tale te verbied.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top