’n Ope brief aan die nuwe minister van Hoër Onderwys

  • 0

Geagte dr Nobuhle Nkabane

’n Hartlike woord van gelukwensing met u aanstelling as nuwe minister van hoër onderwys. Ek verneem u studeer tans vir ’n meestersgraad in die wetenskap, en tesame met u doktorsgraad in die administrasie, ander kwalifikasies en die feit dat u deeltyds klasgee by Unisa, maak u goed toegerus vir die reuse taak wat voorlê.

Om te begin: Ek vind dit vreemd dat ’n ministerie vir wetenskap, tegnologie en innovasie geskep is apart van u ministerie. Die President het waarskynlik sy redes, maar as iemand wat tans studeer vir ’n meestersgraad in die wetenskap weet u dat wetenskap, navorsing en hoër onderwys nie geskei kan word nie. Ek vertrou dat u die President hiervan kan oortuig. Dit sal ons almal baie geld bespaar.

NSFAS 

Uit die aard van my werk as visedekaan van Leer en Onderrig in die Fakulteit Opvoedkunde op Stellenbosch-universiteit is ek daagliks betrokke by studente en dit wat hulle leer en onderrig raak. Die aantal klagtes wat ons daagliks moet hanteer insake die NSFAS-beursskema, is te veel om op te noem. Studente kry kennis dat hulle ’n beurs sal ontvang en tref dan reëlings daarvolgens. Dit sluit in verblyf, inskryf vir kursusse, die aankoop van boeke en studiemateriaal, en etes. En dan hoor hulle in September dat hulle nie meer ’n beurs sal ontvang nie wanneer hulle reeds groot kostes (skuld) aangegaan het. Studente se uitslae word teruggehou en hulle kan nie aansoek doen vir werk nie. Trouens: Hul hele lewe word op halt geplaas en lei tot erge frustrasie. Ons hoor telkens dat daar opgetree of ingetree sal word, maar sien geen resultate nie. Ek lewer dus ’n pleidooi dat u die NSFAS-beursskema as ’n saak van dringendheid sal ondersoek.

Doellose grade en terugploeg 

Om vir ’n graad aan ’n moderne universiteit te studeer, kos baie geld. En tog, Minister, is daar honderde studente wat grade voltooi wat hulle nie in staat sal stel om ’n werk te kry nie. Dis waarom so baie gegradueerdes vandag sonder werk sit en tot die werkloosheidsyfer onder die jeug bydra. In die proses het kosbare hulpbronne en geld van die staat én individu verlore gegaan. My pleidooi is dat u saam met die universiteitsbesture sal vergader en ’n sisteem sal uitwerk waarvolgens slegs studente wat grade behaal wat hulle toegang tot ’n loopbaan gee, ’n NSFAS-beurs sal ontvang. Grade en kursusse wat entrepreneurskap en werkskepping bevorder, behoort voorkeur te kry. Toe ek jare gelede ’n beurs van die staat ontvang het, was daar ’n voorwaarde dat jy net solank as wat die beurs geldig was, plus nog een jaar, vir die staat moes werk. Dit is tyd dat ons terugkeer na daardie sisteem.

Dit breek my hart as studente die land verlaat om elders in die wêreld te werk nadat die staat hulle vir vier of vyf jaar gedra het. As ’n arm ontwikkelende land met baie skuld kan ons dit nie langer bekostig nie. Voorts sal dit die jeug leer dat niks in hierdie lewe gratis is nie. Dit bekommer my dat so baie van die moderne jeug ’n houding inneem dat hulle op ondersteuning geregtig is sonder dat hulle self iets terugploeg. Dit beteken nie dat ek hulle die geleentheid misgun om oorsee te reis en te werk nie. Maar tans is die heropbou van ons land almal se eerste prioriteit. Soos ek self (en u) agtergekom het, sal daar meer as genoeg geleenthede wees om oorsee te gaan. 

Vaardigheidsontwikkeling

Dr Nkabane, as iemand wat self verskeie kursusse aan ’n universiteit voltooi het, sal u weet dat daar talle studente saam met u op kampus was wat in die eerste plek nooit daar moes gewees het nie. Te veel matrikulante en hul ouers dink steeds dat universiteitsopleiding na skool die enigste pad na sukses is. Dit is waar dat ons baie onderwysers, dokters en advokate nodig het. Maar êrens moet ons begin om vir Suid-Afrikaners te laat besef dat ons ook mense nodig het om die hospitale, skole en howe te bou en in stand te hou. Sonder ambagsmanne -en vroue, messelaars, timmermanne en loodgieters kan geen moderne samelewing bestaan nie. Ek hoef slegs te verwys na die oneindige probleme wat munisipaliteite met watervoorsiening ondervind, asook die uitdagings rondom ons kragvoorsiener, Eskom. Dié probleme ontstaan omdat ons nie oor genoeg mense met die kundigheid en vaardighede beskik nie.

Suid-Afrika het ’n kopskuif nodig as dit by hoër onderwys kom. Nie alle matrikulante kan en hoef universiteitsgrade te doen nie. Dit beteken dat u as minister van hoër onderwys baie meer fasiliteite moet bou vir vaardigheidsopleiding. Dit is ’n enorme taak, want ons het ’n groot agterstand. Maar ons sal êrens moet begin. Baie van die ou onderwyskolleges is tans in onbruik en kan met vrug hiervoor aangewend word. U en u kollega by basiese onderwys moet saamwerk sodat die skoolkurrikulum aangepas word en leerlinge vroeër op die vaardigheidsbaan geplaas word.

Koshuiskultuur 

Minister, ek is seker u het kennis geneem van die onverkwiklike debat rondom die Wilgenhof-koshuis op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Ek sal u nie verveel met die besonderhede nie. Dit is al oor en oor in die media en langs braaivleisvure gedebatteer. Almal het hul eie opinie. Vir my gaan dit daaroor dat ons na 30 jaar van demokrasie steeds nie ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse kultuur sien op ons universiteitskampusse nie. Ek was ’n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland in die tyd toe studente-onrus aan die orde van die dag was. Ek kan vandag met trots terugkyk na wat die studente  en veral die koshuisstudente, vermag het deur op te staan teen die apartheidsregering.

Ek het egter vrede gemaak dat daardie geskiedenis tot die verlede behoort. Dit beteken nie dat ons die verlede vergeet of as onbelangrik afmaak nie; inteendeel, my vriend en kollega Hein Willemse het ’n boek daaroor geskryf en ek sal die herinneringe altyd in my binneste koester. Ek het egter vrede gemaak met die idee dat as ons ’n sukses wil maak van ons jong demokrasie, moet almal bereid wees om te gee en te deel. Dit is nie verkeerd om die verlede te vertroetel nie, maar Suid-Afrika van die hede is nou ons eerste prioriteit. Minister, Suid-Afrika het ’n daadwerklike veldtog nodig om ’n nuwe kampus- en koshuiskultuur te vestig as ons ernstig is oor die demokrasie.

Ons inheemse tale 

Geagte Minister, my vakgebied is Afrikaanse letterkunde, en my navorsingsfokus is moedertaalonderrig. Oor die waarde van moedertaalonderrig het ek al boeke, hoofstukke en bladsye vol geskryf. U is welkom om dit na te slaan. Genoeg om te sê dat dit wêreldwyd op wetenskaplike wyse bewys is dat onderrig in die moedertaal die effektiefste manier van enige onderrig is. Ek dra hierdie boodskap uit op elke platform waartoe ek toegang het. Dus ook hier.

Ek is trots dat my universiteit alles in sy vermoë doen om Afrikaans as onderrigtaal te bevorder. Ons is nie altyd orals ewe suksesvol nie en dit gaan gepaard met baie kostes, maar ten minste probeer ons.

Die fout wat baie Suid-Afrikaners maak, Minister, is dat moedertaalonderrig dikwels gesien word as sinoniem met Afrikaansonderrig, terwyl dit veronderstel is om na al 11 amptelike tale te verwys. Dié misverstand is danksy die Afrikaanse gemeenskap wat onverpoos bly veg vir onderrig in hulle taal. Dit is iets waarmee die Afrikaanse gemeenskap heelwat sukses behaal, al moet ek dit self sê. Ten spyte van baie teenkanting was ek ’n stigterslid en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en ek is die ondervoorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en betrokke by heelwat inisiatiewe om Afrikaans as onderrigtaal uit te bou.

Geagte Minister, die vraag wat ons moet vra, is wat van die ander inheemse tale? Afgesien van die Universiteit van KZN, waar Zoeloe naas Engels ook as ’n taal van onderrig gebruik word, en enkele universiteite waar Afrikaans in ’n meerdere of mindere mate nog ’n plek het, is daar baie min om te wys na 30 jaar van demokrasie. Ondervinding elders in die wêreld, onder andere in Japan, Rusland en China, bewys dat ander tale as Engels met vrug gebruik kan word as tale van onderrig. Ek wil aanbeveel dat u departement fondse (wat u gaan bespaar deur slegs beurse toe te ken wat tot ’n eindproduk sal lei) beskikbaar stel om by elke universiteit ’n leerstoel vir die inheemse taal van daardie streek te finansier.

Hier dink ek aan Kaaps aan die UWK en KSUT, Afrikaans aan die US en Sol Plaatjie, Venda aan die Universiteit van die Noorde, Xhosa aan die Nelson Mandela Universiteit, Engels aan Ikeys en Rhodes, Zoeloe aan KZN en Durban-Westville, Sotho aan die Universiteit van die Vrystaat en Tswana aan NWU. Daar is ander. Die navorsing oor ons inheemse tale, in samewerking met die Nasionale Navorsingsraad (NRF), kan lei tot talle woordeboeke en handeboeke wat vir die student wat verkies om in sy moedertaal te studeer, oneindig baie sal beteken. ’n Mens kan mos droom, of hoe?

Ek wens u alle sterkte toe met hierdie moeilike portefeulje.

Michael le Cordeur is die visedekaan van Leer en Onderrig, Opvoedkunde aan die US.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top