Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Wat die De Villiers-era aan die Universiteit Stellenbosch ons kan leer

  • 3

Foto van lesingsaal: Pixabay

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Die Universiteit Stellenbosch is stellig die universiteit wat die (Afrikaanse) media die meeste om die verkeerde redes haal – spesifiek weens ’n aantal sake wat die huidige rektor, Wim de Villiers, regstreeks betrek het of wat hom en die universiteitsowerhede in ’n breër sin betrek het. Hierdie voorvalle sluit in:

– hoe die US-bestuur die student Theuns du Toit hanteer het toe hy na bewering onder die invloed van alkohol rassisties teenoor sy kamermaat sou opgetree het

– hoe gevalle van beweerde verkragtings waar wit studente nie ter sprake was nie, volgens sommiges se persepsie op die oog af in die doofpot gestop is  

– hoe De Villiers toegelaat is om in sy amp aan te bly nadat hy hom aan klaarblyklike nepotisme skuldig gemaak het deur twee van sy nefies as mediese studente aan die US geplaas te kry

– en les bes, ernstige aantygings deur die gerespekteerde kanselier van die US dat die verslag van die eksterne ondersoekpaneel na Wilgenhof-koshuis deur De Villiers en ander US-bestuurslede “gedokter” is om dit te laat lyk asof die paneel die sluiting van die koshuis eensydig sou aanbeveel.

Wat al hierdie voorvalle gemeen het, is eenvoudig:

  1. Waar studente uit die US se historiese voedingsgemeenskap op die terrein van ras onder die vergrootglas beland het, is hulle by voorbaat deur die US-bestuur verdink van die eietydse Suid-Afrikaanse doodsonde van rassisme voordat die basiese feite nog uitgeklaar is – terwyl studente wat oënskynlik nie uit die US se historiese voedingsgemeenskap kom nie, se beweerde seksuele wangedrag min of meer met stilswye deur die US-bestuur begroet is en die publiek nie weet of dié studente ondersoek is en, indien nodig, gedissiplineer is nie.

  2. Waar getuienis oor onetiese gedrag waaraan De Villiers hom sou skuldig gemaak het, klinies ingewin en in die openbare domein beland het, was daar nie sprake van gepaste strawwe vir De Villiers nie. En dit ondanks die feit dat hy ’n produk van die tradisionele Stellenbosse elite van die vorige politieke bedeling in Suid-Afrika is.

Anders gestel: Dit wil voorkom asof wit studente wat onder die geringste verdenking van rassistiese optrede staan, so te sê onmiddellik deur die US-bestuur in die openbaar aangekla, skuldig bevind en veroordeel word – terwyl onetiese gedrag deur die rektor waaroor daar min openbare twyfel kan bestaan, deur die US-bestuur weggepraat word en die rektor toegelaat is om in sy amp aan te bly.

Hoe moet hierdie teenstrydighede verstaan word? En hoekom is dit belangrik om dit te verstaan?

Belangrik om te verstaan

Ons begin by waarom dit belangrik is om dit te verstaan.

  1. Die regerende party wat die vorige politieke bedeling van 1948 tot 1994 oorheers het, het as draer van die aspirasies van die veelbewoë Afrikaners teen 1948 wêreldwye simpatie geniet, maar namate ’n politieke bedeling gevestig is wat die aspirasies van Suid-Afrikaners wat ewe veel en meer onder Britse imperialisme gely het, deur die regerende party misken is, is daardie wêreldwye simpatie verkwis en vir wêreldwye veroordeling verruil. Die apartheidsideologie is in beduidende mate in die 1930’s aan die US ontwikkel, en daarom is dit te verstane dat die US in die besonder, en die Afrikaners in die algemeen, met die aanbreek van die huidige politieke bedeling in 1994 dringend op soek was na morele rehabilitasie.

  2. Die noue band wat tussen 1948 en 1994 tussen die US en die staat gevestig is, het ’n wesenlike rol in die US se morele kontaminasie deur assosiasie met die apartheidstaat gespeel. Omdat die US teen 1994 die voorste Afrikaanse universiteit was, maar terselfdertyd tussen 1948 en 1994 hoofsaaklik die belange van wit Afrikaanse studente ten koste van die belange van bruin Afrikaanse studente gedien het, was een van die keuses wat die US vir sy morele rehabilitasie ná 1994 kon (en moes) maak, om hom toe te spits op ’n grootse poging om aan bruin Afrikaanse studente groter toegang tot die US te gee.

  3. In plaas daarvan het die US ’n ander roete ingeslaan, naamlik om die sogenaamde neutrale opsie te kies – by verstek téén Afrikaans en vír Engels – deur te besluit om sigself te omvorm tot wat die Anglo-Amerikaanse wêreldranglyste as ’n voortreflike universiteit beskou, soos ek dit hier bespreek het.

  4. Indien die US ná 1994 gekies het om eerder op die regstelling van die onreg teen bruin Afrikaanse studente te fokus, sou dit nie moontlik gewees het om dit te doen sonder die steun van die wit Afrikaanse elite wat die US tussen 1948 en 1994 bedien het nie. Anders gestel, sou die US en sy wit Afrikaanse elite daardie keuse uitgeoefen het, dan sou dit die organiese band tussen die US en die voedingsgemeenskap waaruit dit in die laaste derde van die 19de eeu ontwikkel het, verdiep het. Terselfdertyd sou dit hierdie organiese band verbreed het deur dit uit te brei na dieselfde bruin Afrikaanse gemeenskappe wat die US en sy wit Afrikaanse elite tussen 1948 en 1994 misken het. Per implikasie sou so ’n keuse nóg ’n keuse impliseer het, naamlik die herstel van sy historiese fokus voor 1948 op die gemeenskap, pleks van, soos ná 1948, op die staat – wat hom ook per definisie in spanning sou geplaas het met die staat onder leiding van ’n nuwe nasionalistiese, sentralistiese regerende party in die gedaante van die ANC.

  5. Dit is onvermydelik om te wonder of die feit dat die US eerder vir die beeld van die voortreflike Anglo-Amerikaanse universiteit gekies het, ook daarmee te make het dat die US teen 1994 ’n knusse verhouding van amper ’n halfeeu met die staat geniet het. Om vir die “neutrale” Anglo-Amerikaanse idee van ’n voortreflike universiteit te kies, sou op die oog af moontlike spanning met die nuwe regering beperk. Maar met daardie keuse is terselfdertyd per implikasie gekies téén die belange van die wit Afrikaanse elite wat die US in dieselfde amper halfeeu gedien het, wat die US in ’n al hoe groter spanning met dié groep sou plaas. Hierin skuil ’n besondere ironie: Leidende figure onder hierdie elite, soos Koos Bekker, Jannie Mouton, Johann Rupert en andere, was en is nog altyd nie slegs krities teenoor die rassisme van die vorige bedeling nie, maar ook uitgesproke oor hoe belangrik dit is om die onreg van die verlede teen bruin Afrikaanstaliges reg te stel.

  6. Namate die huidige regerende party, nes sy voorganger, aanvanklik wêreldwye simpatie en ’n stewige balans van morele kapitaal geniet het, het hy dit, nes sy voorganger, met ’n rasse-ideologie verkwansel en toenemend immoreel begin handel. As instellings wat ’n groot rol in die vorming van ’n morele burgery speel, het universiteite ’n besondere verantwoordelikheid om ’n morele voorbeeld te stel – des te meer in ’n bedeling soos die huidige, waar die regerende party ’n al hoe meer immorele kale keiser is. Gegewe sy eie buitengewone aandeel as universiteit in die immoraliteit van die vorige politieke bedeling, en gegewe die groeiende immoraliteit van die huidige bedeling, het die US ’n buitengewone morele plig om deur voorbeeld te lei. Dít is veral waarom die handel en wandel van die US-bestuur van soveel openbare belang is.

........

Gegewe sy eie buitengewone aandeel as universiteit in die immoraliteit van die vorige politieke bedeling, en gegewe die groeiende immoraliteit van die huidige bedeling, het die US ’n buitengewone morele plig om deur voorbeeld te lei. Dít is veral waarom die handel en wandel van die US-bestuur van soveel openbare belang is.

........

Morele teenstrydighede

Maar wat dan nou van die morele teenstrydighede wat die US toenemend kenmerk – en hoe moet dít verklaar word?

  1. Met die keuse vir ’n “neutrale” Anglo-Amerikaanse model van voortreflikheid, en die geïmpliseerde opskorting van sy organiese band met sy (veranderingsgesinde) wit Afrikaanse voedingsgemeenskap, het die US sy aanspreeklikheid teenoor sy tradisionele steunbasis prysgegee, tesame met die moontlikheid vir aanspreeklikheid teenoor sy histories miskende bruin Afrikaanse steunbasis. Dit verklaar waarom, ondanks die volgehoue pogings uit die wit en bruin Afrikaanse gemeenskappe ná 1994 om die US tot verantwoording te roep, dié pogings bly misluk – vanaf deelname aan die US-raad tot druk deur die US-konvokasie, Afrikaanse intellektuele, ens.

  2. Veral twee sake illustreer hierdie toedrag van sake onder veral De Villiers. Eerstens verkondig hy en sy aanhangers gereeld hoeveel miljarde onder sy leiding vir die US ingesamel is om die US se sogenaamde derdestroominkomste te verhoog. Hierdie suksesvolle fondswerwing is om verskeie redes waardevol, waarvan ’n vername een is dat dit die invloed wat die US se tradisionele wit Afrikaanse elite by wyse van skenkings aan die US kan uitoefen, geheel en al gerelativeer is.

    Tweedens, en in die verlenging hiervan, verkondig De Villiers graag dat wanneer dit by Afrikaans kom, dit nie die US se verantwoordelikheid is om Afrikaans te laat oorleef nie, want die US kan as openbare universiteit nie seksionele belange van slegs een taalgemeenskap dien nie. Binne die “neutrale” Anglo-Amerikaanse universiteitsmodel wat die US najaag, klink dit heeltemal logies, maar inderwaarheid misken dit ’n eenvoudige historiese werklikheid, naamlik dat die voortreflikheid wat die US verwerf het, in die eerste plek ondenkbaar sonder die steun en bediening van die (wit) Afrikaanse gemeenskap is. Dit ontken ook die feit dat in die naam van neutrale grondwetlikheid en nierassigheid die huidige regering sig ewe veel aan die najaag van seksionele belange van ’n klein elite ten koste van die res van die samelewing skuldig maak, wat geëggo word in die vorming van ’n nuwe elite onder De Villiers – ’n nuwe elite wat “nierassig”, “divers”, “transformerend” en Engelsgesind is, maar wat geen breë steunbasis in die US geniet nie, en wat dus al hoe minder moreel aanspreeklik is.

    Een van die grootste ironieë is dat wanneer veranderingsgesinde lede van die tradisionele wit, Afrikaanse Stellenbosse elite die US-bestuur tot verantwoording probeer roep, De Villiers se nuwe elite hulle daarvan beskuldig dat hulle bloot hul historiese belange probeer beskerm. Maar nou ja, as ’n nuwe elite sy éie belange beskerm en uitbou in die naam van “neutrale” ideale, is dit maklik om jou vuil hande telkens in die openbaar te reinig met net nog ’n komitee wat jou onskuldig bevind – in dié sin is komitees wat vergrype van De Villiers en die nuwe Stellenbosse elite moet ondersoek, die morele kouewater-Omo van ons tyd wat alle morele vlekke uitwis.

  1. Die feit dat De Villiers soveel skandale oorleef wat meer as voldoende sou wees om te eis dat ’n politikus wat sig aan dieselfde vergrype skuldig maak moet bedank, hou ongetwyfeld ook verband met die potensiële bedreiging wat die ANC steeds vir die US inhou. Dit kan deur ’n staaltjie gedemonstreer word: Nadat Rapport destyds die huidige rektor se nepotistiese begunstiging van sy twee nefies onthul het, het ’n prominente lid van die veranderingsgesinde tradisionele wit Afrikaanse Stellenbosse elite my gebel om my te pols oor die moontlike geskiktheid van ’n ander rektor met wie ek goed vertroud is as moontlike opvolger vir die huidige rektor indien hy nie die nefieskandaal sou oorleef nie. In die gesprek het dit geblyk dat die vrees dat die ANC ’n rektor aan die US sal kry wat húlle belange bevorder, gróót is – groot genoeg, sou dit blyk, dat De Villiers tot op 31 Maart 2025, die laaste dag van sy tweede termyn, deur die US-bestuur beskerm sou word. Dit is dus geensins onredelik om te bespiegel dat (een van?) die vernaamste rede(s) waarom De Villiers se opvolger uiteindelik gekies is, is dat hy hopelik die US se belange teen die ANC kan beskerm. (Dis nie eie aan die US nie – nes in die vorige politieke bedeling help dit ook in die huidige politieke bedeling as ’n gegewe universiteit in sy bestuur een of meer persone het wat op goeie voet met die regerende party is. ’n Mens sal moet sien watter invloed die opkoms van koalisieregerings in Suid-Afrika hierop gaan hê.)

  2. Daar is ’n laaste verklarende faktor vir die morele teenstrydigheid tussen hoe die openlik skuldiges aan die US en die openlik skuldig verklaardes onder De Villiers hanteer is, naamlik die kultuur wat De Villiers tydens sy bewind ingevoer het – die Amerikaans geïnspireerde kultuur van diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit (DGI, oftewel DEI soos dit in die VSA bekendstaan, en wat in die pas afgelope Amerikaanse presidentsverkiesing luidkeels deur die meerderheid kiesers verwerp is).

Kenmerkend van die DGI-benadering is ’n paar vreemde dinge.

........
Eerstens, terwyl gevestigde institusionele kultuur eensydig as boos verklaar word, word beloof dat die nuwe DGI-kultuur eensydig goed sal wees.
........

Eerstens, terwyl gevestigde institusionele kultuur eensydig as boos verklaar word, word beloof dat die nuwe DGI-kultuur eensydig goed sal wees.

Tweedens, omdat voorstanders van die DGI-kultuur dit van meet af opstel teen die gevestigde institusionele kultuur wat gewoon uitgewis moet word, kan die voorstanders van die DGI-kultuur sonder ’n breë steunbasis hul agenda slegs met behulp van ’n Trojaanse-perd-strategie deurvoer, naamlik deur genoeg invloed in ’n instelling se bestuur te kry en dan met allerlei administratiewe strategieë (ondersoekkommissies, beleidshersienings, beroepe op transformasie) onder almal se neuse ’n nuwe stel reëls en beleide te vestig waarteen niemand tog in beginsel gekant kan wees nie, want die DGI-kultuur is so goed en so moreel ...

Derdens, gegewe die gebrek aan breë institusionele steun vir die DGI-kultuur, sal lede van die gevestigde institusionele kultuur per geleentheid in spanning met die DGI-kultuur handel – en omdat die DGI-kultuur op morele onkreukbaarheid steun, moet sulke oortreders as eksponente van die ouer kultuur voor die voet verketter en verdryf word as voorbeelde van die verwerplike ouer kultuur. Vra maar die Wilgenhoffers.

Vierdens, omdat die geleidelike institusionalisering van die DGI-kultuur berus op die hoeksteen van eensydige veroordeling van die ouer institusionele kultuur, kan normale merkers van die ouer kultuur nie verduur word nie. Daarom is dit nie meer aanvaarbaar dat US-studente op koshuisgeleenthede ander tale as Engels gebruik nie, of moet hulle verkieslik hul geloofsoortuigings in die openbaar sensureer en slegs in die private uitleef, of moet hulle haastig in pas kom met die DGI-kultuur se sienings oor wat moreel in en moreel uit is.

Nalatenskap van die DGI-kultuur

Dit is die opkoms van die DGI-kultuur onder De Villiers wat enorm bygedra het tot dubbele standaarde: een vir eksponente van die ouer institusionele kultuur, en ’n ander een vir die draers van die DGI-kultuur – eersgenoemde in beginsel skuldig, laasgenoemde in beginsel onskuldig. En omdat die DGI-kultuur, soos hier bo genoem, slegs met invloed van bo afgedwing kan word, beland dit nie net in chroniese spanning met die ouer institusionele kultuur nie, maar erodeer dit ook daardie kultuur oor die tyd heen. Die belofte van die DGI-kultuur is áltyd om iets meer divers, gelyk en inklusief in die plek van die ouer institusionele kultuur te vestig, maar op die duur kom daar niks van hierdie beloftes nie. Dit is waarom daar vandag van ’n noemenswaardige studentelewe aan Suid-Afrikaanse universiteite oor die algemeen niks oor is nie, en ook waarom Suid-Afrikaanse universiteite vandag toenemend intern deur faksies gekenmerk word. Tensy ’n universiteit ’n nuwe ideaal ontwikkel waartoe die verskillende faksies hulle verbind, word die faksies nie geneutraliseer nie.

Wat die meeste universiteite egter in die praktyk doen, is om in die naam van verteenwoordigendheid en inklusiwiteit elke moontlike faksie op elke moontlike manier op elke moontlike forum “verteenwoordiging” te gee, vanaf die eenvoudige fakulteitskomitee tot die senaat. So word die faksies bloot geïnstitusionaliseer, neem die interne verdeling al hoe skerper toe, en word die universiteite toenemend verlam om oor enige saak van belang ’n behoorlike standpunt in te neem.

En dit is hoekom rektoraatslede toenemend met vuil hande en die spreekwoordelike moord wegkom. Morele leierskap is iets wat ons al hoe minder uit hierdie geledere kan verwag.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die Afrikaner Verklaring

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die toekoms van die geskrewe en gedrukte woord in Afrikaans

Uit die argief, US-taaldebat: 'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

US rektor sê hy het reeds verskoning gevra vir taaldebakel

US verwys bewerings van nepotisme by Maties vir evaluering 

Race and Transformation in Higher Education Conference raises crucial themes in pursuit of Stellenbosch University’s transformation journey

Universiteitseminaar: Die US, rassisme en die toekoms

Wilgenhof: "Ontgroening help nie met moderne studente se uitdagings nie"

Wilgenhof: Wie bepaal die skrif aan die muur?

Wilgenhof: quo vadis, Willows?

  • 3

Kommentaar

  • Baie dankie vir 'n eerlike en deeglike uiteensetting en verduideliking van wat by US gebeur.

  • Estelle Venter

    Die geweldige druk van die regering tov subsidies word nie genoem nie. Geen transformasie, geen fondse nie.
    Die huidige rektor het baie mense teleurgestel. Om van hom egter die slaansak te maak, is 'n eensydige perspektief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top