Wilgenhof: Wie bepaal die skrif aan die muur?

  • 2

Foto: Gerrit Rautenbach

Ek sit vanaand en dink aan een van die heel grootste hoogtepunte in my lewe. Dit was in 1978, my eerste jaar in Wilgenhof. Ek was toevallig ook ’n eerstejaar op Universiteit Stellenbosch, maar dit speel tweede viool in my kop. My gedagtes begin loop.

Maar wag, om reg te dink oor al die dinge, moet jy mos jou atmosfeer reg skep.

Musiek. Ek glo aan die emotiewe krag van musiek. Musiek wat jou laat verlang, laat dink, laat wonder, laat weet wat jy nog nie geweet het nie. Die verstaan.

“Druk die groen knoppie,” sê my kop. Die Spotify-knoppie. Ek druk sonder om te kyk wat gaan volg.

“Mother, do you think they'll drop the bomb? / Mother, do you think they'll like this song?” begin Pink Floyd. Tydgenote. Relevant. Iemand het ’n bom gelos. Missiele gerig op Die Plek.

...........
“Mother, do you think they'll drop the bomb? / Mother, do you think they'll like this song?” begin Pink Floyd. Tydgenote. Relevant. Iemand het ’n bom gelos. Missiele gerig op Die Plek.
............

Volgende op die atmosferiese lys is ’n ietsie in ’n glas. Toentertyd was dit Tassies in die Akker, maar (nou niks fout ooit met Tassies nie) vanaand is dit ’n Simonsig-pinotage met ’n mooi lagie stof op. ’n Wyn wat nog gemaak is in die tyd van oom Frans Malan, wat die leisels oorgegee het aan sy seuns. Almal Wilgenhoffers, hulle. Johan was saam met my ‘n eerstejaar en Francois saam met my ouer broer.

Foto: Gerrit Rautenbach

Ja, vir dié wat nie weet nie, Wilgenhof is nie net erg tradisievas nie, maar erg familievas.  

“Mother, will they put me in the firing line? / Mother, is it just a waste of time?” vra Roger Waters; vra ek ook.

Van die begin van hierdie jaar van 2024 is daar baie mense (wat nie een ’n Wilgenhoffer was nie, nooit sal kan wees nie) wat erge aantygings en vingerwysings gemaak het oor Die Plek. Die sogenaamde kamers van euwel is oopgemaak, uitgewys en toegeverf. Terme soos neo-Nazisme en rassisme en gruweldade en trauma word soos piengpongballe heen en weer geklap. Dis asof Die Plek nog sy hele bestaan lank ’n onheilskamp was.

Wat weet hulle, regtig?

...........
Jy sien, die ding is, ’n Wilgenhoffer praat nie uit nie, en sonder om ’n aks te verklap, kan ek net sê dat die jaar wat ek daar was, my meer as enigiets anders geleer het oor die lewe en hoe dit eintlik werk. Jy het gou geleer om vir jouself te dink, maar jy het ook net so gou besef dat jy nooit alleen op hierdie aardbol is nie.
............

Jy sien, die ding is, ’n Wilgenhoffer praat nie uit nie, en sonder om ’n aks te verklap, kan ek net sê dat die jaar wat ek daar was, my meer as enigiets anders geleer het oor die lewe en hoe dit eintlik werk. Jy het gou geleer om vir jouself te dink, maar jy het ook net so gou besef dat jy nooit alleen op hierdie aardbol is nie. Die inwyding in Wilgenhof is meer werd as ’n leeftyd se sielkundige terapie. Jy leer lewenslesse wat ’n leeftyd hou.    

Ek dink een van die grootste motiverings van die mense daar buite om Die Plek te vernietig, is jaloesie. Hulle wil die groter septer swaai om beheer oor te neem. Dis asof hulle ’n vrees het vir mense wat vir hulself kan dink. Ongeag hoe suksesvol dit hulle maak.

“Mother's gonna make all your nightmares come true. / Mother's gonna put all her fears into you. / Mother's gonna keep you right here under her wing ...”

Ewenwel, wat my so dwars in die krop steek, is dat hierdie Huis van Horror sedert sy ontstaan meer as ’n eeu gelede blykbaar deurentyd onmin en onheil gekweek het, maar terselfdertyd groot geeste op absoluut alle vlakke van die land opgelewer het. Vat nou maar die ongegronde aantygings van rassisme in Wilgenhof. Dit terwyl Beyers Naudé ’n groot man van Die Plek was. Ek weet nie waar DF Malan was nie, maar sy rylaan in Northcliff het in die nuwe demokrasie verander na Beyers Naudé-rylaan. Vat so, katvis. Beyers was ’n man wat sy lewe gewy het aan die afbreek van apartheid.

..........
In 1937 het Jan Rabie ook Die Plek betree. “Prosapionier en politieke padwyser” noem JC Kannemeyer hom. Politieke padwyser, ja, ’n Sestiger, ’n ikoon wat apartheid deurentyd bevraagteken het.
............

In 1937 het Jan Rabie ook Die Plek betree. “Prosapionier en politieke padwyser” noem JC Kannemeyer hom. Politieke padwyser, ja, ’n Sestiger, ’n ikoon wat apartheid deurentyd bevraagteken het. “Wilgenhof was ’n ‘moederaanwesigheid’ waar ’n mens deur die huisgees, die samesyn en buurskap saam met ander jongmense iets soos jong wyn in jou voel borrel en gis het,” reken Jan oor Die Plek.[i]

’n Paar dekades later was dit Van Zyl Slabbert, wat nog harder teen die euwel van apartheid baklei het. Almal hartstogtelik lief vir en lojaal teenoor Die Plek. Mense wat Die Plek en die lewe gouer en beter leer verstaan het. Die feit dat Wilgenhof aanvanklik ’n suiwer witmanskoshuis was, was nie hulle toedoen nie. Inteendeel. Daai onheil lê voor die deur van die destydse regerende party. Sedert Demokrasie is almal ingetrek in Die Plek. ’n Prestasie waarop oumanne soos Beyers, Jan, Van Zyl en ’n lot ander sou juig. Swart, bruin en wit sit vandag lekker saam in die kwod. “A racist will never make it in here,” verklaar een van die (swart) inwoners kort gelede. Ek het laas jaar ’n uitvoering van die Kraaie, Wilgenhof se huiskoor, gehoor. ’n Swart-en-witborskraai. Jy moet daai songs nóú hoor. Halala Afrika. En hulle sing steeds ook “Doll dear”, “Big night” en “Sloop John B”.

Maar dan kan mens nou ook ‘n bietjie dieper kultureel raak. Philip McLachlan het hierdie einste Kraaie begin en later jare die universiteitskoor op ’n vlak gekry wat jou laat wonder hoe hy so suiwer gebly het na sy paar jaar in die bose Wilgenhof. Nog ’n stappie verder was sy opvolger, Johan de Villiers. Nie net het hy die koor een van die heel bestes, indien nie die heel beste nie, wêreldwyd gemaak, maar die meeste van daardie jare was hy huisvader van hierdie plek waar hy al die neo-Nazisme en ander gruwels moes verduur terwyl sy koor uit die hemel uit in die Endler sing. Hoekom is daar soveel ongegronde teenstellings?

Miskien moet ons nog ’n klompie name bywerk. Christo Wiese en sy seun Jacob, Whitey Basson, Paul Harris, Thys du Toit, pas afgetrede regter van die Konstitusionele Hof Edwin Cameron, wat baie bekend is vir sy MIV/Vigs- en gayregte-aktivisme en vereer is deur Nelson Mandela as “een van Suid-Afrika se nuwe helde”. Edwin kom ook uit hierdie Huis van Onheil. Hoe bring mens die kloutjie by die oor? Ja, daar is ’n horde groot name wat uit die plek uitgekom het en steeds kom, maar belangriker nog is dat daar jaar na jaar manne klaargemaak het en graad gevang het en uitgegaan en reuse suksesse van hul lewens gemaak het. Gebalanseerd en regverdig, en betrokke by die groter gemeenskap.

Saam met my as eerstejaar was Adrian Kuiper, wat sy land met ’n wilgerlat verdedig het. Springbokkaptein Morné du Plessis. Carel du Plessis en Schalk Brits is ook oumanne van Die Plek. Springbokke en prinse. Maar seker die grootste Bok van Die Plek was huisvader Dok Danie Craven. Sy oupa aan ma se kant, George Nathaniel Hayward, was een van die eerste inwoners van Die Plek in 1903. Beteken tradisie nou net mooi niks meer nie? Danie Craven was ’n uitstekende akademikus, veelsydige sportman en ’n onmisbare baksteen in die boublokke van die land.

Maar hoe sing Pink Floyd? “All in all it’s just another brick in the wall ...”  

Maar is dit?

Is die skrif aan die muur?

Die vraag is, wat staan geskryf op daai muur? As dit “bekfluitjie” is, is die bliksem los.

Liewe Bliksem, groot Dok Danie Craven se hond, ja.

Niemand sal ooit die legendes van dié groot plek en sy groot geeste kan onderkry nie. En as die owerhede Die Plek uitlos, sal daar net sulke groot geeste van al die kleure van ons reënboog uit Wilgenhof kom. Die Plek het daai geneigdheid. Kleur is onbelangrik. Kameraderie is nie. Moenie hierdie mense iets groots ontsê nie. 

“Wie durf versmaad jou louere, Wilgenhof? / Wie nie bewonder jou verlede?”

Lees ook:

Oh! Doll, dear, you brokes my heart!

Wilgenhof: quo vadis, Willows?

Wilgenhof: "Ontgroening help nie met moderne studente se uitdagings nie"

 

[i] Kannemeyer, JC. 2004. Jan Rabie. Prosapionier en politieke padwyser. Tafelberg, Kaapstad.

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek dink terug aan die mooiste herinneringe aan my drie jaar in Wilgenhof 1971-1973. My ouboet was eerste hier en het geen twyfel gehad dat sy wonderlike studentelewe toe te skrywe was aan sy vormingsjare in Wilgenhof nie – ek het gegaan en dit net so wonderlik ervaar as 'n spanbou- en geesvang-koshuis soos min, met manne wat mekaar leer ken en ondersteun...!! 'n Ware "gentlemen-den". 'n Trotse koshuis wat seuns ontvang en toesien dat manne wat 'n verskil kan gaan maak daar uitstap ... Groot geeste op elke terrein van die lewe ... Ons vir jou, Wilgenhof! Ons vir jou, Suid-Afrika! Mag God self Wilgenhof bewaar en seën op die pad vorentoe na 2024🙏 ✝️

  • As 'n Rhodesiër (en nou Zimbabwier) was een van my lewe se grootste voorregte om in Stellenbosch landbou te studeer, en in Wilgenhof tuis te gaan met Dok Craven as ons koshuisvader.
    My seun het ook die voorreg gehad om daar te studeer en in Wilgenhof te bly.
    As daar nie besin word oor die besluit om Willows te sluit nie, sal die universiteit groot skade ly.
    1. Miljoene rande sal ophou vloei na die universiteit vanuit boedels van oud Wilgenhoffers.
    2. Wilgenhoffers sal nooit ophou baklei vir hulle koshuis se behoud nie.
    3. In die jare wat kom sal die universiteit terugkyk en berou oor die skade wat hulle aan die universiteit gedoen het deur Wilgenhof soos 'n swart skaap te hanteer.
    Ek was altyd 'n trotse Stellenbosser en Wilgenhoffer.
    Ek is nog steeds 'n trotse Wilgenhoffer...
    Deon Theron

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top