...
Die meeste Wilgenhof-oumanne het soete herinneringe van hul tyd in die oudste koshuis op Stellenbosch. Almal praat van ’n familie – ’n deelwees van iets veel groter as jy self. [...] Maar ons kon vasstel dit was beslis nie almal se ervaring nie."
...
Hierdie koshuis heet nou die Wilgenhof House of Horrors nadat News24 uitgelekte foto’s van geheime kamers, artefakte, omstrede simbole en togas met punthoede (wat sterk aan die Ku Klux Klan-beweging herinner) onthul het. En toe volg ’n storm van uiteenlopende reaksies wat meer vrae as antwoorde laat.
Ek en ’n kollega wou agter die kap van die byl kom. Ek was immers self ’n inwoner van ’n gewilde universiteitskoshuis in Bloemfontein – nogal in die tyd waarin die mediastorm rondom die Reitz 4 geheers het.
Ons het ’n reeks oproepe gemaak. Aan die een kant het alumni vinnig gesê: “Ag nee man, dis nie so erg nie”, of “Ek was baie gelukkig”, of “As iemand nie daarvan gehou het nie, hoekom het hulle nie ’n ander koshuis gaan soek nie?” Hulle sou ook beklemtoon: “Jy is nie gedwing om deel te neem nie. Jy kon ‘opt out’.” Hierdie mense was die harder stemme in die vurige debat. Daar is selfs dié wat volgehou het “Die bewerings is alles leuens!”, of meen “Vandag se kinders” is snowflakes wat nie ’n minuut in die weermag sou oorleef nie.
Die meeste Wilgenhof-oumanne het soete herinneringe van hul tyd in die oudste koshuis op Stellenbosch. Almal praat van ’n familie – ’n deelwees van iets veel groter as jy self. Oor die dekades heen het daar al hoeveel sport-, sake-, akademiese en literêre reuse deur daardie gange gestap. Dink maar aan Christo Wiese, Whitey Basson, Edwin Cameron, Jan Rabie en selfs Beyers Naudé, wat later jare een van die grootste antiapartheid aktiviste was. Wilgenhof spog graag self oor hoe progressief hulle is.
Maar ons kon vasstel dit was beslis nie almal se ervaring nie. Daniel* is ’n persoon van kleur en was nie té lank gelede nie nog op Wilgenhof. Hy onthou ’n erge drinkkultuur wat glad nie strook met sy godsdiensvoorkeur nie. Dele van die inlywing was vir hom uiters traumaties, soos dat almal glo verplig was om tydens sekere strafsessies kaal uit te trek. News24 het van hierdie kaalbasfoto’s gepubliseer. Vir baie was dit dalk “studentepret”, maar vir hom was dit erg vernederend.
Hy was oortuig die Nagligte (dissiplinêre komitee) se swart gewade met die punthoede was simbolies van die Ku Klux Klan, al is daar agterna gesê daar is geen verband nie. Weens Suid-Afrika se geskiedenis van onderdrukking het hy uiteraard (en tereg) geweldig aanstoot geneem. Die konkoksie met lynsaad en aalwynkristalle het hom menige nag siek gehad.
Daniel wou nie aan die inlywing deelneem nie. Hy weet hy het die opsie gehad om te “opt out”, maar sy seniors het hom laat verstaan jy kan nie ’n “ware” Wilgenhoffer wees as jy nie deelneem nie. En as ’n student van kleur wou hy nie nog meer aandag op homself vestig nie. “Ek het my ouers vertel (wat daar aangaan) en my ma het gesê ek moenie moeilikheid maak met die wit mense nie,” het hy aan my kollega op WhatsApp gesê. Toe studente van die LGBTQIA+-gemeenskap, onder wie Daniel, tydens een so ’n strafsessie “holn****rs” genoem is, het hy besluit hy is klaar met koshuislewe aan die Universiteit Stellenbosch.
Ek praat met Peter* deur sy vrou. Hy sien nie kans om self te praat nie. Hy is ná al die jare steeds vas oortuig dat as hy uitpraat, “gaan hulle hom kom haal”. Hy sê hy weet dit klink dalk belaglik, maar dat dit ’n diepgewortelde vrees is wat hy net nog nooit kon oorkom nie.
Hy skryf later iets korts om tog van sy ervaring met my te deel. As ’n bruin man onthou Peter nie die prettighede van die ontgroening nie. “(Wilgenhof) is ’n plek wat my en soveel ander ongetwyfeld getraumatiseer het. Ek vra my dikwels af hoekom ek nie daaroor praat nie. Ek dink dit is omdat dit so ’n indruk laat dat wanneer jy uiteindelik Die Plek verlaat, jy nooit hoef terug te kyk nie. Hierdie ervarings het letsels gelaat op maniere wat ek nie verstaan nie.”
...
Hy is wit en Afrikaans en is Wilgenhof toe omdat sy familie vir geslagte voor hom ook daar was. Maar hy wil ook nie hê ons moet sy naam gebruik nie, want vandag besef hy alles was nié wel nie.
...
Frikkie* was nie ’n slagoffer of ’n lid van die Nagligte nie. Hy is wit en Afrikaans en is Wilgenhof toe omdat sy familie vir geslagte voor hom ook daar was. Maar hy wil ook nie hê ons moet sy naam gebruik nie, want vandag besef hy alles was nié wel nie. Die kultuur van geheimhouding maak dat ons hard moet werk om hom te oortuig om met ons te praat. Dis dalk deels ook weens skuldgevoel. Hy sê hy voel aandadig omdat hy goed gesien het, maar nooit iets gesê het nie. Frikkie onthou die erge drinkkultuur (beslis nie uniek aan Wilgenhof nie), die druk om vrouestudente ná ’n dans bed toe te sleep, en seniors wat boekhou van juniors se bedmaats (ook nie uniek nie). Hy onthou die wreedheid van sekere ontgroeningspraktyke.
Iets wat ek vroeg in my lewe geleer het, is dat jy mense se weergawes kan probeer weerlê of die persone selfs weens jou eie emosionele onvolwassenheid kan probeer gaslight vir wat hulle voel, maar dat jy nie hul slegte ervarings ongedaan kan maak nie. Jy hoef nie daarvan te hou of daarmee saam te stem nie. Dit maak hul belewenisse nie minder waar, minder geldig of minder traumaties nie.
Louis van der Riet, ’n oud-HK-lid van Wilgenhof en geordende predikant, sê hy was gelukkig in die koshuis. Maar as iemand wat ook betrokke is by ’n organisasie wat rasse- en genderverhoudinge bevorder, is hy nie blind vir die gevare van ’n koshuiskultuur wat sommige mans laat voel dat hulle onaantasbaar is nie.
“Wat onbloot is hier, is ’n kultuur van geheimhouding, selfs miskenning, wat ’n baie subverte manier is van mag behou. Want daar is hierdie reputasie deur al die dekades dat Wilgenhof eintlik die episentrum van die wêreld is.” Louis onthou ’n aanhaling deur HB Thom, voormalige rektor en voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, wat hy sê steeds op Wilgenhof se nuusbriewe voorkom: “As Wilgenhof nie reg is nie, dan is Stellenbosch nie reg nie, en as Stellenbosch nie reg is nie, dan is Suid-Afrika nie reg nie.”
Sjoe … dit word tog sekerlik tong-in-die-kies bedoel – of wórd dit?
“Daar is natuurlik op ’n manier iets aantreklik daaraan,” sê Louis. “Ek dink dis een van die dinge wat Wilgenhof Wilgenhof maak – hierdie misterie en geheimhouding. Ek dink die doel wat dit dien, is dat die mense aan die binnekant op ’n manier voel hulle is die eienaars van die waarheid. En dan bevestig die geskiedenis van die koshuis (die groot name wat op Wilgenhof was) dat dit eintlik ’n goeie manier is om te dink.”
’n Vrouestudent met wie ek ook gesels het, vertel dat Wilgenhof nie in haar tyd saam met die res van koshuise aan die joolaktiwiteite deelgeneem het nie. Louis beaam dit: “Daar was altyd net die ding van ons gaan dinge anders doen; ons gaan dinge op ons manier doen, en ons manier is eintlik beter as ander mense s’n.
“Die skadukant is dat jy toelaat dat daar praktyke plaasvind en dat mag uitgeoefen word wat nie verantwoordbaar gehou kan word nie,” sê hy.
Hy hou vol dat Wilgenhof nie ’n spesifieke ideologie aanhang wat oor die jare oorgedra is nie – dat die Nazi-teken langs ’n “Free Palestine”-vlag en langs die swart punthoede sou hang en dat dit nie beteken dat die koshuis sekere politieke voorkeure het nie. “Hierdie dinge het eerder ten doel om alles meer misterieus te maak,” sê hy.
Maar dit beteken nie ’n mens kan maar toondoof wees in ’n demokratiese konteks nie. “Mense verdedig dit (allerlei simbole) as die kern van Wilgenhof sonder om te dink hoe dit regtig aanstoot gee, of hoe dit kommunikeer na buite toe. Dis asof Wilgenhoffers voel: Ons het nie ’n verantwoordelikheid teenoor die wêreld daar buite nie. Ons wil nog steeds mag of gesag hê, maar ons wil nie verantwoordbaar gehou word nie.”
’n Hofuitspraak oor die vertoning van die ou Suid-Afrikaanse vlag verduidelik dit vir my nogal mooi. Die Hooggeregshof het ’n paar jaar gelede die ongevraagde vertoning (gratuitous display) van die ou landsvlag as haatspraak verklaar. In ’n poging om vas te stel waar die streep tussen vryheid van spraak en haatspraak lê, het AfriForum die saak tot in die Appèlhof gedryf.
Hoewel AfriForum toegegee het dat die vertoning van die ou vlag misbruik kan word om ’n persoon geweldig seer te maak, het hy aangevoer dat dit nie altyd die geval is nie – soos wanneer die vlag in die privaatheid van jou huis hang waar mense vrywilliglik kom. Die Appèlhof was egter nie hiervoor te vinde nie en het gelas dat jy nie kan aanneem dat almal wat by jou aan huis kom, gewillig is om in die ou landsvlag vas te kyk nie.
’n Koshuiskultuur van “belangrikheid” en selfs entitlement is nie uniek aan Wilgenhof nie. Frederick Fourie, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat, onthou die Reitz-skandaal in sy tyd asof dit gister gebeur het.
In ’n video wat in 2010 selfs oorsee opslae gemaak het, sien jy swart werkers op hul knieë besig om ’n brousel te eet of drink, en jy kom verkeerdelik onder die indruk dat die studente wat om hulle staan en hul uitjou, daarin geurineer het.
Dit was blykbaar die gebruik dat tweedejaarstudente hierdie brousel as deel van hul tweedejaarsontgroening moes afwurg, maar in hierdie geval was dit ’n rassevoorval wat verband gehou het met die universiteit se nuut aangekondigde intergrasiebeleid en wit studente se misnoeë daaroor. Die vier studente, wat as die Reitz 4 bekendgestaan het, is later skuldig bevind aan crimen injuria.
Volgens Fourie het ook Reitz, hoewel hulle nie die oudste koshuis op kampus was nie, “gedink hulle is beter en meer besonders as enige ander koshuis”.
...
Hy sê hy is verstom dat daar vandag nog op ’n moderne kampus oor ontgroening gestry word. “Ontgroening in 2024 mis heeltemal die punt.”
...
Hy sê hy is verstom dat daar vandag nog op ’n moderne kampus oor ontgroening gestry word. “Ontgroening in 2024 mis heeltemal die punt. ’n Klomp diverse studente kom in ’n koshuis in. Hulle is die eerste keer weg van die huis af, weg van die skool af en weg van hul gemeenskap af. Hulle kom uit verskillende agtergronde. Baie van die studente kom uit homogene wit of swart skole. Hulle kom dalk nou vir die eerste keer as grootmense in een koshuis bymekaar. Benewens rasverskille is daar ook klasverskille – arm en ryk. Een se ouers werk dalk op die plaas van die ander een se ouers. Ontgroening het boggherol met hierdie soort uitdagings te doen,” sê hy.
“Leer eerder vir koshuisstudente insigte en vaardighede om in diverse kontekste te funksioneer – om te werk en vriende te maak met mense wat anders as jy is. Ek sou dink die groot uitdaging vir jongmense vandag is juis om nie vas te klou aan, of te konformeer tot ’n groep of tradisie nie, maar om vaardighede te leer om mense wat vir jou vreemd is, nie meer as vreemd te beskou nie – om gemeenskaplikhede te ontdek sodat julle kan saamwerk. ’n Universiteitskonteks bied geweldige geleenthede om hierdie dinge te doen.”
Hy glo dis ’n universiteit se verantwoordelikheid om ’n kultuur van diversiteit te vestig, ook in die wyse waarop studente in koshuise hanteer word. “Ek voel die opvoedkundige verantwoordelikheid van die universiteit is om, naas vakkundige opleiding, vir studente human skills en diversiteitsvaardighede vir die Suid-Afrika van vandag te leer. Dáárvoor is ontgroening regtig totaal onvanpas.”
Die Universiteit Stellenbosch se kommentaar
Wim de Villiers skryf in ’n verwelkomingsbrief aan nuwe studente dat die US die afgelope paar jaar hard werk om ’n inklusiewe instelling te wees waar “menswaardigheid en wedersydse respek” die fondasie van interaksie vorm. Daarom dat die “inhoud” wat by Wilgenhof gevind is, vir hom “diep ontstellend” is.
Die universiteit het ’n paneel aangestel om dit te ondersoek en die rektoraat verwag ’n verslag teen einde Februarie.
Intussen is daar maatreëls vir eerstejaars ingestel wat insluit dat aktiwiteite vir 24 uur per dag gemonitor word. “Die veiligheid en welstand van ons studente is ononderhandelbaar. Die universiteit het ’n beleid van geen verdraagsaamheid teenoor enige dade, gedrag of strukture wat bydra tot die vernedering van enige lid van die universiteitsgemeenskap nie. Vir hierdie doel het die universiteit ’n proses van diepgaande introspeksie begin ná ’n paar onlangse betreurenswaardige voorvalle.”
De Villiers skryf dat die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die (Khampepe-) Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) vroeg verlede jaar met sy werk begin het en besig is om inisiatiewe uit te rol om hervorming te verdiep en te versnel – “van die kultuur in die koshuise en alle studente- en personeelruimtes tot die manier waarop ons ons navorsing doen en betrokke raak by die onderrig-leer-omgewing.
“Dus, wat ook al die bevindings van die paneel is, wil ek die hele universiteitsgemeenskap verseker dat die uitvoerende bestuur van die US nie kompromieë sal aangaan as dit by ons waardes kom nie, terwyl ons die interverhoudings-DNS van ons instelling hervorm op ons reis die toekoms in,” skryf De Villiers.
* Nie die persone se regte name nie.
Lees ook:
Ontgroeningspraktyke in uitgesoekte Vrystaatse hoërskole en skoolkoshuise: ’n verkennende studie