Ontgroening: Territoriale aggressie

  • 7

"Hierdie is ’n baie slegte week vir ons in die onderwysdepartement," het die LUR vir basiese onderwys, Panyaza Lesufi, onlangs gesê. En terwyl die tonge los is oor ontgroening/verwelkomingsrituele/oriëntering as barbaarse praktyke ná die dood van twee leerders die afgelope tyd, is dit waarskynlik wys om in gedagte te hou dat menslike gedrag nie uniek is nie, maar dat die mens inderwaarheid baie gedragspatrone en sosiale strukture met sekere diersoorte deel. Oorgangsrituele (rites of passage) is so oud soos die mensdom self, en vind op gewelddadige wyse uitdrukking in die inisiasiepatrone van bendes, tronk-gangs, die mafia, en dies meer. Hierdie behoefte om aan ’n groep te behoort is dus ’n gevestigde sosiale en kulturele tradisie, ’n eienskap wat ooreenkomste toon by mens en dier as dit kom by territoriale gedrag. “Sagter” vorme van ontgroening kom by skole en koshuise voor, maar die gevolge is dieselfde – kinders kry seer en sterf selfs. Mens kan tereg vra of die eufemistiese verwysing na “oriënteringskampe” nie maar net ’n verskuilde vorm van ontgroening of inisiasie is nie. Want ’n gemoedelike “verwelkoming” is dit gewis nie.

In ’n artikel in National Geographic vertel die navorser van olifante, Caitlin O'Connell, hoe sy gereeld na die noordelike dele van Namibië reis om die dominansiehiërargie van olifantbulle te bestudeer. Laasgenoemde dui op die sosiale interaksie van ’n betrokke spesie om die rangorde te bepaal. In die diereryk kompeteer diere om toegang tot waterbronne, kos en reproduksie, oftewel die drang om voort te plant. Die dominante diere het groter sukses hiermee en die ondergeskiktes aanvaar hulle lot gelate; daag hulle die alfas uit, mag dit ontaard in gevegte of selfs dodelike konflik.

In ’n studie oor die gedrag van olifantbulle wat handel oor territoriale aggressie in die Nasionale Etoshawildtuin en wat O'Connell "The boys' club'" noem, beskryf sy die voorkoms en karakter van die leier van ’n trop olifante, Greg. Die ooreenkomste tussen die trop en die mafia is opvallend. Só sal die ondergeskikte olifante hulle slurpe oplig en in Greg (ook die Don genoem) se bek plaas, ’n ritueel wat dui op ontsag. O'Connell vergelyk dit met die soen van die hoofmafioso (die Don) se ring deur die ondergeskikte lede van ’n betrokke mafiasindikaat. Wanneer Greg gaan water drink, maak die olifante as't ware die pad vir hom oop, wat op sy beurt herinner aan ’n erewag. Greg het ook toegang tot die heel beste watergat, ’n bron van fonteinwater, en hy suip heel eerste. Die meer dominante olifantbulle wat ook uit Greg se watergat wil suip, sal "toestemming" vra deur hulle slurpe op te lig en in sy bek te plaas. Die individue laer af in die hiërargie sal nie eers die moeite doen om te vra nie, maar reguit na die minder aangename souterige watergate loop om te suip. Greg se voorkoms is nie juis opvallend nie, aldus O'Connell; hy is nie die grootste bul in die trop nie, maar dis asof ’n aura van waardigheid en ontsag hom omhul. Ook is Greg nie 'n besonder “ou” olifant nie – in menslike terme is hy in sy veertigerjare. Belangriker as grootte of fisieke voorkoms is Greg se liggaamshouding en die persepsie wat die ander olifante van hom as die mees dominante olifant het. En sou enige individu Greg uitdaag, of sy plek heel bo aan die voedselketting probeer versteur, sal hy ongetwyfeld deur lede van die trop gedood word. Territoriale aggressie gaan dus oor mag, dominansie, waardigheid, brutaliteit (gevegte om ’n hoër posisie in die hiërargie), en – die belangrikste van alles – die behoud van die “familie” of sosiale struktuur.

Diere is ook bekend vir hulle doodsrituele (wat baie menslik voorkom). Of is dit dalk andersom, dat die mens maar net ’n soogdier is en in sy oerbewussyn hierdie geënkodeerde rituele steeds navolg? Weer eens olifante: In ’n artikel op BBC Future vertel Jason Goldman van die doodsrituele van olifante en wat sterk herinner aan die religieuse oorgangsrites van Joodse of Rooms-Katolieke denominasies. Deel van die mens se rouproses is om na die liggaam van ’n gestorwe geliefde te kyk, ’n liminale gebruik wat olifante deel. Goldman vertel vervolgens van ’n olifantkoei wat gesterf het en hoe enkele koeie in die trop by haar karkas bly waak het. Ander olifantfamilies het ook die betrokke individu se karkas besoek en dit aangeraak met hulle slurpe of voete, of daaraan geruik, amper soos ’n laaste eerbetoon. Jakkalse, hiënas en aasvoëls het ondertussen op die toneel verskyn, maar die dooie olifant se trop het vir dae aaneen binne ’n radius van ’n paar honderd meter oor haar oorskot "gewaak".

Territoriale aggressie vind uiting in mobbing wanneer ’n betrokke groep of kollektief aggressief optree en “saamstaan” om ’n roofdier af te skrik of te verjaag.

Die voorkoms van boeliegedrag onder sjimpansees is welbekend. Die adolessente fase van primate is nie maklik nie en word gekenmerk deur liggaamlike verandering, onsekerheid en ’n toename in testosteroon (in die geval van mannetjies). Die individu se rol binne die groep vorm parallelle met menslike gedrag; pogings om aan die groep te behoort en suksesvol in te skakel tussen ouer primate lei tot konflik. ’n Interessante waarneming is dat daar ’n kantelende magsdinamiek in so ’n trop ontstaan wanneer ’n individu nie by die reëls van die trop hou nie en hierdie individu geteiken, aangeval, of selfs gedood word. Met ander woorde: Wanneer ’n jong individu in die trop se stryd om dominansie tot ’n asimmetriese magsverdeling lei, word hy as die “sondebok” uitgewys en kollektief afgeknou. Die omegalid van die groep is die heel swakste en kan homself nie verdedig nie – as kwesbare teiken vervul hierdie dier dus outomaties die rol van die sondebok. Die ander lede van die groep haal al hulle frustrasies op hom uit (scapegoating) en laasgenoemde geweld dien as afskrikmiddel of sosiale gom vir die behoud en voortbestaan van die sosiale groep. Jonger diere word ook gereeld afgejak of selfs geboelie deur ouer diere: Jy moet jou plek binne die rangorde ken, en sou jy durf om dit uit te daag, is dodelike gevegte jou voorland – wat interessant genoeg weer die meganisme is hoe nuwe alfadiere hulle plekke bo aan die voedselketting oopbaklei en “verdien”.

In die diereryk is daar nie morele konvensies nie, net die drang om te oorleef of die oorlewing van die sterkste. Alhoewel diere se mikrostrukture van sosiale gedrag heelwat ooreenkomste met die mens s'n toon, durf die mens nie menslike gedrag op diere projekteer nie, en dis gewis nie die geval met die skryf van hierdie artikel nie. Die verwysings na territoriale aggressie en inisiasiepraktyke van diere is geensins ’n poging om menslike boeliegedrag binne groepsverband te normaliseer nie. Nee, dis bloot ’n poging om moontlik ’n ander perspektief te bied op die talle vrae rondom ontgroeningsrituele. Die mens beskou homself as uniek en spesiaal, en in baie opsigte is dit wel die geval. Maar dis ook so dat die mens heelwat gedragspatrone met honderde spesies in die diereryk deel, want per slot van rekening is die mens net ’n soogdier met ’n groter intellek.

Lees ook:

Dood by die doop en ander ontgroeningsverhale

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek weet dat die 41 nuwe eerstejaar studente by Bo-karoo Opleidingsentrum in Orania, hul koshuis elke oggend groet. Elke oom met hand groet en sing terwyl hul die entjie klas toe stap.
    Daar is plek vir beskaafde inwyding in die tradisies, want baie kom uit stede na die, nog, stowwerige Karoo-dorpie, Orania, vir hul tegniese opleiding, want dis te duur vir substandaard opleiding by tegniese kolleges in stede. Hier gaan hul alles self doen, pik kap, tot akademiese opleiding.

  • Hans,
    Orania lyk vir my al meer en meer na die enigste beskaafde plek in Suid-Afrika. 'n Mens groet tog as jy by mekaar verby loop, al is dit ook tien of honderd keer.

  • Dit blyk of die twee bogaande persone die artikel nie mooi verstaan nie. Die vergelyking tussen ontgroening/inisiasie wat ook in die dierewêreld voorkom met wat tans by skole gebeur, dui op tropgedrag - ook 'n menslike eienskap. Deur die reëls van tropgedrag slaafs na te volg, word die individu aanvaar as deel van die gemeenskap. Orania, wat as voorbeeld hierbo gebruik word, is juis 'n bewys van territoriale aggressie. 'n Rare soort apartheidsbehoefte noodsaak die inwoners van Orania om hulle van die res van die Suid-Afrikaanse gemeenskap te distansieer. Ek vind die tradisie(?) om singend klas toe te loop en elke oom wat verbykom met die hand te groet, vreemd. Hans Richardt verwys hierbo na die "beskaafde inwyding in die tradisies." Sou die gesingery as beskaafde inwyding beskou word? En waarom word tannies nie ook met die hand gegroet nie? Sou so 'n daad dan as barbaars beskou word? Wat sing die studente? Die ou volkslied of Deutchland uber alles? Wat word met die 42ste student gedoen wat nie aan die belaglike loop, sing, en groet-tradisie wil deelneem nie? En terloops Angus, ek hoor dit gaan nie so goed in Orania nie, m.a.w. dis ook nie die enigste beskaafde plek in Suid-Afrika nie. Nie as mens van binne-gevegte, 'n gebrek aan eensgesindheid en uiterste vorme van rassisme hoor nie. Daar bestaan nie so iets soos beskaafde inwyding nie, tensy daar na die doop van babas in die susterskerke verwys word. Ontgroening by skole en inwyding by tradisies is militaristies en ruik gans te veel na Afrikaner nasionalisme - iets wat liewer in die verlede moes bly. Koshuisgangers en kinders in Gr. 8 wat hoërskoolopvoeding betree, is daar om te leer, nie om 'n grusame dood in 'n rivier te sterf nie. Hou verby Orania. En elke skool wat inwyding/ontgroening/inisiasie voorstaan. Die ou weermagmentaliteit van voor 1994 geld nie meer nie. Ontgroening is niks anders as die skoolskelet van apartheid nie. Foei.

  • Susara, jou opinie het nogal water gedra tot daardie laaste sin. Ongroening is al deel van die samelewing sedert die begin van die mensdom. Dit gebeur in alle kulture, deurkruis tale en geslagte. Om apartheid, en die weermag (veral die SAW) daarvoor verantwoordelik te hou, dui daarop dat jy self, glad nie die essensie van die bogenoemde artikel verstaan nie. Jy wou net weer 'n steek inkry teenoor enige iemand wat 'n idee voorstaan wat nie vir jou aanneemlik is nie.

  • Dirk, my laaste sin is "Foei." Ek weet nie hoe jy alles in jou kommentaar in daardie een woord kan lees nie. Die artikel is maklik verstaanbaar: tropgedrag en inisiasie in die groep bestaan in die diereryk. Ontgroening /inisiasie by skole mimiek die gedrag. Eenvoudig. Maar wanneer twee kinders sterf a.g.v. die gebruik by skole, wonder mens hoe ver dit nog gedryf gaan word. Vestaan ook dat my deelname in antwoord was op Hans Richardt en Angus se kommentaar wat geen insig in die problematiek rondom die onderwerp getoon het nie. Kom ons erken nou maar teenoor mekaar dat Afrikaner nasionalisme 'n groot rol gespeel het in ontgroening by skole in die vorige bedeling, en vandag nog as simptoom daarvan voortsleep. Ek hou nêrens die SAW daarvoor verantwoordelik nie, maar wel die militaristiese toon van die gedrag wat deur die vorige regering aangemoedig is. Godsgenadiglik doen olifante dit nie. Uit Hans Richardt se kommentaar ten gunste van die inisiasiegedrag in Orania, is die militaristiese ondertoon duidelik sigbaar. Ek sal veel eerder wil sien dat kinders in skole geleer en toegelaat word om vir hulleself te dink, en dat die groep die kind(ers) wat anders dink verwelkom. Kinders wat die hoërskool/koshuis betree het die vermoë om self by die groep te inkorporeer en hulle eie subgroepe te stig, en het geen vorm van ontgroening of inisiasie nodig om die proses te bespoedig nie. Ek hoop jy verstaan die strekking van my kommentaar nou beter.

  • Susara, jy sal my asseblief moet reghelp, want ek verstaan nie jou reaksie op my skrywe nie.
    My opmerking dat mense mekaar behoort te groet as hulle by mekaar verby loop, is vir jou 'n bewys dat ek bogenoemde artikel nie verstaan nie. Hoe kry jy die kloutjie by daardie oor? Is dit miskien omdat ek na Orania verwys het? Ek het dit maar net vergelyk met my ondervinding hier in Durban. My buurman kyk my skuins aan as ek hom groet.
    Ek het geen kommentaar gelewer op Nini Bennett se skrywe oor ontgroening nie. Inisiasie het sy doel gedien in die voortbestaan van spesies, maar by die mens het dit begin ontaard, wat dit onnodig maak. Mekaar groet so in die verbyloop, het niks met ontgroening te make nie: 'n glimlag en 'n kopknik vir vreemdelinge as ek my op die wandelpaaie van die Drakensberge of in die supermark bevind, en 'n handgroet as dit bekendes is. Tannies groet 'n man nie met die hand nie; hulle moet gesoen word. En as ek moet sing terwyl ek stap, sing ek "As ek moeg word vir die lewe in die stad."
    Orania 'n voorbeeld van territoriale aggressie? Hoe so? Ek weet nie veel van die plek nie, maar ek neem aan elkeen daar het die stukkie grond waarop sy huis staan, gekoop. Ek neem ook aan hulle het dit nie verkry deur onteiening sonder vergoeding nie. Ek het ook nog nie gehoor dat hulle die wapentuig opneem teen die res van Suid-Afrika om hulle gebied uit te brei nie.
    Groete,
    Angus

  • Susara, Ek het vergeet om by te voeg: ek glo ook nie die inwoners sal iemand byt, as hulle by Orania afdraai nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top