Ontgroening. Oriëntering. Inisiasie. Insouting. Inlywing. Doop.
Noem dit wat jy wil. Die afgelope paar jaar was ek nogal, naïef genoeg, onder die indruk dat dié belaglike tradisie by skole en universiteite grotendeels stopgesit is nadat dit soveel keer onder die soeklig gekom het in die media; nadat soveel kinders en gesinne se lewe in die naam van “onskuldige pret” hel gemaak of verwoes is; nadat daar male sonder tal uit owerheidsgeledere druk uitgeoefen is om enige vorm van ontgroening by akademiese instellings te staak.
Maar selfs voordat die dood van ’n graadagtseun tydens ’n sogenaamde “oriënteringskamp” van Parktown Boys’ High vandeesmaand die kwessie opnuut op die voorgrond geplaas het, het ek weer al hoe meer begin hoor van sulke praktyke by skole.
En dit steek my dwars in die krop.
Die meeste mense wat ek ken, weet van ’n nare ontgroeningstorie of twee.
Ek het my skooljare in ’n klein Karooskooltjie deurgebring, waar ek in (die destydse) standerd ses relatief lig daarvan afgekom het. Ons moes ’n paar dae lank pouses gruisklippies laat “resies jaag” oor die die warm plaveisel met behulp van slegs ons neuse, hande agter ons rug gehou; elke seun moes “toutjie kou” met ’n meisie totdat julle lippe aan mekaar raak en ons moes elkeen vir ’n matrikulant van die teenoorgestelde geslag ’n hartstogtelike liefdesverklaring skryf en dit hardop voorlees. Afgesien van ’n bietjie skade aan my neus en ego, was ek oukei.
Die kinders wat in die koshuis was, het dit nie so maklik gehad nie.
Veral die seuns.
Daardie eerste ruk in standerd ses het van my klasmaats fluister-fluister kom vertel van die dinge wat gebeur saans as die ligte afgaan.
Ek vermoed die meeste Afrikaanse mans van my generasie ken sulke stories.
Stories oor kinders wat geslaan is – met lyfbande, met rottangs, met rugbystewels.
Stories oor seuns wie se geslagsdele met Deep Heat gesmeer is, of wat gedwing is om dit aan hulleself te doen.
Stories oor kinders wat nag ná nag uit die slaap gehou, gevloek, verkleineer en geterroriseer is; uit hulle beddens gesmyt en gedwing is om in die gange of storte te slaap.
Stories oor kinders wat gedwing is om allerhande vreeslike konkoksies te drink.
En kom ons wees eerlik: dit is nog lank nie eens die ontstellendste van die dinge wat tydens ontgroening in sommige skoolkoshuise gebeur het en waarskynlik steeds gebeur nie. Ek weet van ouens wat op skool veel, véél erger dinge moes deurmaak.
Maar dit word stilgehou.
In my studentejare het ek vryskutartikels vir ’n plaaslike koerant geskryf. Op ’n kol het die ma van ’n eerstejaarstudent my genader nadat hulle ten einde raad besluit het om hul seun uit die universiteitskoshuis te haal. Ek het saam met die seun en sy ouers gaan koffie drink. Hy het my vertel hoe hy nag ná nag aangerand en geteister en verkleineer is; hoe eerstejaars se kamerdeure deur dronk seniors afgeskop is en hulle afgedreig is om stil te bly. Sy ouers het vertel hoe magteloos hulle was om iets aan die saak te doen; oor skouers wat net opgetrek is as hulle kla. Ek, voortvarende, nat-agter-die-ore wannabe-verslaggewer, het ’n berig daaroor geskryf en dit aan die koerant voorgelê. Dit is nooit gepubliseer nie.
In ’n ander voorval het ek gesien hoe een van my pelle, ’n paar jaar jonger as ek, deur seniors in sy universiteitskoshuis met ’n stewel geslaan is tot hy pimpel en pers was. Hy was te bang om iets daaroor te sê. Stories oor “ontgroeningskampe” buite die stad waar studente gedwing is om te drink tot hulle bewusteloos is, en met krieketkolwe en ander voorwerpe geslaan is, was volop.
Waarom word hierdie dinge doodgeswyg?
Waarom laat ouers wat self deur hierdie soort hel is, toe dat hulle kinders in die naam van “tradisie” voortgaan om aan sulke praktyke blootgestel te word en dit op hul beurt weer aan ander te doen?
Waarom hou sommige skoolhoofde en beheerliggaamlede en onderwysers, wat van beter behoort te weet, hulle blind vir dié soort praktyke, of verdedig dit selfs aktief of vee dit onder die mat in?
Hoekom bestáán daar hoegenaamd nog in die jaar 2020 iets soos ontgroening?
By party skole, verneem ek, word daar deesdae eerder verwys na ’n “verwelkoming” vir die graadagts, ’n gemoedelike, prettige bekendstelling aan die nuwe skool en sy waardes – en as dit so toegepas word, onder behoorlike, verantwoordelike volwasse toesig, is daar sekerlik nie fout daarmee te vind nie. Maar my gesonde verstand sê vir my geen “verwelkoming” behoort ’n kind op enige manier te verkleineer of ongemaklik of minderwaardig te laat voel nie. Geen “verwelkoming” behoort hom soos ’n “sot” te laat voel, sy menseregte aan te tas of hom te dwing om iets teen sy sin te doen nie. ’n “Verwelkoming” behoort ’n kind gerus te stel dat hy/sy in ’n nuwe skool veilig gaan wees en beskerm gaan word teen boelies; dit behoort nie sy/haar eerste kennismaking met en blootstelling aan daardie einste boelies te wees nie.
“Ek is destyds ontgroen, en ek het niks daarvan oorgekom nie,” is ’n argument wat baie mense opper. Of: “Ag, ek het op die ou end sterker ander kant uitgekom.”
Met alle respek, hierdie debat gaan nie oor jou nie. Dit gaan oor daardie kinders wat nié die vernedering en emosionele en fisieke teistering kan hanteer nie. Die kinders wat nié heel aan die ander kant uitkom nie.
Ek gee nie om of dit ’n “onskuldige” groentjiekamp is of ’n ontgroeningsweek waar ’n skool se graadagts vriendelik verplig word om ’n paar nagte in die koshuis deur te bring nie. Ek gee nie om of dit seuns of meisies is nie. Ek gee nie om of dit deel is van ’n eeue oue skool- of koshuistradisie nie.
Te duiwel met tradisie.
Een kind se lewe, een kind se welstand, is belangriker as enige tradisie.
Jy laat eenvoudig nie kinders aan ander kinders se genade oor nie. Jy as verantwoordelike volwassene in wie se sorg kinders toevertrou is, skep nie doelbewus ’n gulde geleentheid vir boelies om te doen wat hulle die graagste doen nie. Jy laat nie toe dat kinders hoegenaamd verneder of verkleineer of aangerand word bloot – en veral nie – omdat hulle jonk en nuut in ’n skool is nie. Party sal dalk eendag om die braaivleisvure grappies daaroor maak. Vir ander laat dit lewenslange letsels.
En as jy as skoolhoof, onderwyser, beheerliggaamlid of ouer bewus is daarvan of vermoed dat hierdie soort praktyke by jou skool plaasvind, en nie bereid is om daarteen op te staan en jou stem dik te maak nie, is jy ook aandadig wanneer daar die dag iets gaan skeefloop.
Kommentaar
Dit laat my nou dink aan die sogenaamde Grensoorlog (1966 - 1989). Oor die bestaan daar presies ook sulke uiteenlopende reaksies. Een klomp sal jou sê dit het van hulle manne gemaak. Die ander klomp sal sê nee dit het hulle beste jare gemors. So reageer mense ook op ontgroening. Een klomp se dit het hulle niks gemaak nie en voel dit moet voortgaan, ander is weer teen ontgroening.
Ja, so word die een generasie na die volgende se individualiteit gesmoor met tradisie. Laat ons nie eens godsdiens bysleep nie - dis net so eindelose donker put van tradisie.
Ontgroening of wat dit ook genoem word is nie noodwendig die probleem nie maar eerder die mense wat dit uitvoer. Hier is oorsig en betrokkenheid van die situasie belangrik. In my skooldae as standerd 6 moet ek erkenning gee vir die onderwysers en die meeste matrieks wat binne perke optree, maar jy het altyd een wat afwyk. Harry was so 'n man, maar gou het agter gekom watse lafaard hy was... Tussen baie groot meneer maar alleen 'n hardloper.
Ook in die weermag dieselfde ervaring met korporaal Spiras... Man met al die kontakte en name maar op die einde die grootste nat spikkel wat mens kan ken. Nooit ervaar dat grens toe ontgroening gehad nie...Daar was dit ernstig en weer die leierskap wat mens gelukkig gehad het... Miskien was ander net nie so gelukkig nie.
To quote Jordan Peterson - "... pick up your damn suffering and bear it" [https://www.youtube.com/watch?v=wLvd_ZbX1w0] because "... life is hard" [https://www.youtube.com/watch?v=7Hym_R3gCvQ]. "Een kind se lewe, een kind se welstand, is belangriker as enige tradisie." Mag waar wees, but stop being pathetic! Om die individue teen alles in die lewe te wil beskerm, bewys daardie individu ook geen guns nie. Iewers gaan die individu moet leer om teen die wind te hardloop - en om saam met mense in 'n groep te werk. Mense in groepe is 'lelik' met mekaar! Vir 22 jaar van die eerste 28 jaar van my lewe het ek in koshuis-tipe huisvesting deurgebring - 12 jaar op skool, weermag en universiteit. Ek het die positiewe en negatiewe realiteite van mense in groepe persoonlik en in al sy vorme beleef en ervaar. As kinders nie op 'n beheerde wyse deel raak van groepe nie, gebeur daardie proses op 'n informele brutale wyse waar stereotipering en bullying aan die orde is - dikwels op 'n baie subtiele manier.
Ek voel presies dieselfde oor ontgroening. Dis 'n euwel en tas kinders se menswaardigheid aan deur die alewige vernederings en disrespek. Kinders moet juis met selfvertroue en vooruitsigte uitsien na 'n groter, beter toekoms. Waarom moet ons kinders so afgekraak en afgeknou word? Die skade en letsels by sommige leerders is lewenslank. Daar kan eerder 'n positiewe omgewing geskep word . Ek sou eerder graad aggies die heeljaar deur wou sien floreer deur 'n groentetuin daar te stel wat hulle moet bewerk, onderhou en bemark. Daar is genoeg leerders om dit prakties moontlik te maak.
Terloops, dis net vir my interessant dat die regering en baie ander so 'n bohaai oor "ontgroening" maak, maar tevrede is dat jong swart mans dood gaan op inisiasie-kampe. Dit is tog ook "tradisie"?
Terug na jou artikel. Dat kinders beseer en beledig word is vir my ook ontoelaatbaar, maar ek dink die groot probleem hier het te doen met boelies. 'n Boelie is 'n boelie, maak nie saak waar en hoe nie. Hy sal maniere kry om dit te doen, ontgroening maak dit dalk net makliker. Dit is dieselfde met optrede teenoor ander bevolkingsgroepe. Dit maak nie saak wat jy jouself noem nie, dis jou optrede teenoor daardie mense wat bepaal of jy 'n boelie is of nie.
Aan die begin van sy artikel gee Jacobs 'n lysie woorde wat hy klaarblyklik suggereer is sinonieme: "Ontgroening. Oriëntering. Inisiasie. Insouting. Inlywing. Doop." – inisiasie of inlywing inderdaad.
Die idee van sulke praktyke is (of minstens was) om nuwelinge in 'n bepaalde omgewing – fisies al dan nie – in te lei, in te lyf, om hulle deel te maak van 'n bepaalde groep.
Is sulke praktyke in die 21ste eeu uitgedien? Miskien. Is daar individue wat sulke praktyke selfs sadisties misbruik of hul eie tekortkominge daardeur probeer verdoesel? Gewis.
Maar hoe is die (skynbaar dikwels uiters gevaarlike) inisiasie wat tieners – blykbaar veral seuns – in van ons swart gemeenskappe deurloop, anders as dit waaroor Jacobs skryf? Die doel van sulke inisiasie is tog seker ook om die jong mense in te lyf in die wêreld van hulle volwasse gemeenskappe.
Ek probeer hoegenaamd nie die praktyke waaroor Jacobs skryf, goedpraat nie. Ek vra bloot waarom daar nie dieselfde besware en kritiek opgewerp word teen die "ander" vorme van inisiasie waarin daar jaarliks talle jong mans sterf juis as gevolg van daardie inisiasiepraktyke nie?
Is dit omdat dit polities nie korrek sou wees nie? Is dit omdat dit nie die Westerse kultuur (of wit of Europese of nie-Afrika-kultuur) is nie? Is dit omdat buitestanders hulle nie daaroor durf uitspreek nie?
Is dit nie 'n bietjie skynheilig om jaar ná jaar 'n bohaai oor ontgroening by skole, universiteite, koshuise en so meer te maak sonder om ook ewe heftig te reageer op "inheemse" inisiasieskole in die bos waarin talle jaarliks sterf nie?
Sonder om alle (kwaadaardige) inisiasiepraktyke goed te praat, moet 'n mens darem ook onthou dat inisiasie so oud soos die berge is, wêreldwyd by alle kulture voorkom en verskillende vorme aanneem. Wat is barmitswa anders as inlywing tot die volwasse Joodse godsdienstig-kulturele lewe? Of aanneming in Christelike kerke anders as toegang tot gebruike soos die Nagmaal? Of die doop (groot of klein) anders inlywing tot die Christelike geloofslewe? En so kan 'n mens voortgaan.
Weer: Ek probeer nie sadistiese of afstootlike praktyke goedpraat nie, maar 'n mens moet ook 'n breër perspektief behou. In Suid-Afrika, ten minste, moet inisiasiepraktyke wat soveel lewens kos, myns insiens ewe sterk en ewe gereeld onder die kritiese soeklig kom.
Menere ek dink nie julle is heeltemal in voeling met die wêreld nie. Daar is inderdaad baie besware teen inisiasiekampe en die besnydenis wat daar plaasvind. Baie moeders voel die besnydenis behoort eerder gekontroleerd in 'n hospitaal gedoen te word. Ek weet dit want ek het Xhosa-kollegas al met wie ek die saak al bespreek het.
Hierdie is 'n euwel oor tyd heen. Voorheen verswyg, nou openbaar. Maar dit bly dit 'n euwel.
Uiteindelik is dit maar 'n stryd om oorlewing en aanpassing en spanwerk. Dat daaruit ongewenste praktyke na vore gekom het is waar en dat hul moeilik beheerbaar is sonder nodige kundige toesig, is 'n probleem.