
Ontgroeningsprent: Geskep
Die LitNet AkademiesWeerdink-reeks skakel akademiese navorsing met die brandende kwessies van 2024.
Eduard Potgieter, navorser en medeskrywer van twee artikels wat in LitNet Akademies verskyn het (lees een artikel hier en die ander een hier) praat in hierdie Weerdink-onderhoud met Naomi Meyer oor ontgroening.
Eduard, jou belangstelling en navorsing fokus op ontgroening. Teen die agtergrond van die Wilgenhof-gesprek op Stellenbosch het ek ’n paar vrae vir jou. Wat is van die vroegste optekening van ontgroeningspraktyke waarvan daar kennis gedra word?
........
Ontgroeningspraktyke het sy ontstaan vanaf Plato se dae. In die Suid-Afrikaanse konteks kom dit veral vanaf die militêre opset.
..........
Ontgroeningspraktyke het sy ontstaan vanaf Plato se dae. In die Suid-Afrikaanse konteks kom dit veral vanaf die militêre opset. Baie soldate is eers liggaamlik afgebreek en dan word hulle weer opgebou om lojaliteit te toon. Veral die afskeer van hare, vernederende aktiwiteite en blootstelling aan ekstreme omgewingsituasies is gebruik om die soldate af te breek en te verkleineer. In baie gevalle het hierdie soldate dan dieselfde weer gaan toepas in die onderriginstellings waar hulle gaan studeer het.
Ontgroening het baie name. Wat is sommige van die name in die Afrikaanse omgewing? En elders? Ander lande, of ander kulture?
Insouting, ontgroening, doop en inburgering is van die bekendste name wat veral in die Suid-Afrikaanse konteks gebruik word. In Frankryk staan dit bekend as bapteme, in Nederland as doop, en dan is van die twee bekendstes hazing in Amerika en fagging in Indië. In laasgenoemde twee lande is die oorgangsritueel of “rite of passage” nog baie sigbaar in talle onderriginstellings. In Suid-Afrika moet mens ook net duidelik onderskei tussen ontgroeningspraktyke en inisiasiepraktyke. In inisiasiepraktyke moet ‘n jongman rituele meemaak om as ’n man in die gemeenskap aanvaar te word. Dit behels ekstreme aktiwiteite waaraan hulle blootgestel word. Ontgroeningspraktyke word onder alle kultuurgroepe gevind en beoefen, veral by skole en universiteite.
Ek is ten seerste bewus daarvan dat verskillende kulture en elk se unieke rituele en rites verskil. Maar die narratief se raakpunte is die rituele wat ondergaan moet word sodat die eindpunt bereik kan word: om as ’n volwaardige lid van ’n groep gereken te word. Is ek reg? Wil jy hieraan verfyn?
Dit is tydens ontgroeningspraktyke dat die beginsel geld dat jy eers aan aktiwiteite blootgestel moet word om jou lojaliteit te toets. Dit kan baie eenvoudige of gemaklike aktiwiteite wees, maar kan ook verander in ekstreme gevalle waar nuwelinge onderwerp word of vereis word om diefstal te pleeg, naak te verskyn in die openbaar, en blootstelling aan lewensgevaarlike situasies. As hierdie lojaliteit teenoor die groep bewys word en die seniors tevrede is, word jy dan as volwaardige lid van die groep, span of vereniging beskou.
Wat is aan die orde van die dag in hedendaagse skole?
Omdat skole gehoor moet gee aan die “regulations to prohibit initiation practices in schools” ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet, het die meerderheid skole op oriënteringsprogramme begin fokus. Ontgroening is dus onwettig en mag nie plaasvind nie. Skole moet aan hierdie beleid gehoor gee en mag hulle nie daarvan onttrek of aandui dat dit nie op hulle van toepassing is nie.
Leerders kry steeds byname, moet naambordjies dra, ens, maar dit gaan nie gepaard met vernederende aktiwiteite nie. Daardeur leer hulle meer van die skool, die tradisies, die opvoeders en die kultuur van die skool. Daar sal beslis steeds skole gevind word waar die ongeoorloofde aktiwiteite agter geslote deure uitgevoer word in koshuise waar opvoeders nie teenwoordig is nie. En iets wat baie interessant is, is dat alhoewel kinders verneder word of blootgestel word aan ekstreme situasies, hulle nie sommer daaroor sal praat nie. Dit word van hulle vereis dat hulle moet aanvaar dat dit is hoe die skool nog altyd gehandel het. Ter wille van die groepsgebondenheid kom hierdie aktiwiteite of die blootstelling daaraan bitter min op die lappe.
...........
En iets wat baie interessant is, is dat alhoewel kinders verneder word of blootgestel word aan ekstreme situasies, hulle nie sommer daaroor sal praat nie. Dit word van hulle vereis dat hulle moet aanvaar dat dit is hoe die skool nog altyd gehandel het. Ter wille van die groepsgebondenheid kom hierdie aktiwiteite of die blootstelling daaraan bitter min op die lappe.
...........
Wat van universiteite in die land?
Dit is moeilik om inligting van universiteite in te win. Die geheimhouding is nog sterker as by skole. Daar was al gruwelike gevalle in Suid-Afrika waar studente aan ondenkbare rituele blootgestel is. Met al hoe meer studente wat vanuit studentehuise studeer en slegs by stadskoshuise aansluit, is dit nog moeiliker om data in te win. Die onlangse geval in Stellenbosch dui egter daarop dat ontgroeningspraktyke steeds voorkom. Wat ook kommerwekkend is, is die toesighoudingskomponent van ’n stadskoshuis waar daar nie ’n koshuisvader/-moeder inwoon nie. Die seniors is dus in volle beheer.
Studies is duur. Waarom die aandag van die akademie aftrek deur middel van sekere praktyke wat dan uiteindelik net daarna strewe om mense saam te bind (as dit die oogmerk is)? Daar is nog vele ander vrae wat gevra word oor waarom ontgroening nodig geag word in koshuise van leerinstansies. Wat is sommige van die vrae wat jy al gehoor het – en hoe reageer mense wat die tradisies in stand hou daarop?
Baie persone plaas ontgroeningspraktyke onder die dekmantel van “oriëntering”. Dit klink sagter en dan is die hoop daar dat die aktiwiteite ook van meer waarde vir die nuwelinge sal wees. Sekere tradisies is ongelukkig baie keer nié goed vir ’n skool nie. Daar is tradisies wat geen doel dien nie. As jy nie jou ouers of die plaaslike media kan vertel van wat aangaan in jou skool of universiteit of instelling nie, is daar alreeds iets verdag daaraan. Samehorigheid is belangrik in ’n skool of ander onderriginstelling. Ek dink net dat mense hul oorspronklikheid verloor het en dan altyd terugdeins na die eng praktyke van die verlede. Die probleem is ook in baie gevalle waar ’n groep skoliere of studente bymekaarkom. As die humeure opvlam of die aandag word toegespits op ’n nuweling wat nie sy of haar kant bring nie, wil hierdie seniors hul gesagsposisie ten toon stel. Sou hulle dan nie opstaan teen die rebel nie, word hulle as swakkelinge beskou. Dus het seniors met goeie waardes al ongelukkig in die strik van groepsdruk getrap en so ekstreem opgetree dat hulle later daaroor spyt was.
Praat met my oor wat jy tov ontgroening aanhoor – negatief en positief?
Ek moet sê dat daar al hoe meer positiewe stories oor ontgroening na vore kom. Die meerderheid skole het regtig wegbeweeg van ou geykte praktyke en begin fokus op oriëntering, opheffing en ondersteuning van nuwelinge. Aan die ander kant sal negatiewe stories ongelukkig ook in die nuus verskyn. Die probleem is dat die kringloop van ontgroening gebreek moet word. Daar gaan nie ’n begin van ’n jaar verby dat mens ongelukkig steeds ’n negatiewe berig sien rakende ontgroeningspraktyke nie. Een kritieke aspek van ontgroening/oriëntering is voldoende toesig. Waar onderwysers teenwoordig is en rondbeweeg, is die kans skraal dat aktiwiteite in iets negatief kan ontaard. Skole moet vooruit beplan en presies weet wat elke dag tydens die eerste twee skoolweke gedoen gaan word. Leerders wat nuut by ’n skool aansluit en self sien wat beplan word, of wat saamgebring moet, word sal beslis ook meer gerus en op hul gemak wees.
Dink jy as ’n hele samelewing opstaan teen iets, sal daardie siklus gebreek word?
Beslis. Ontgroening en magsmisbruik loop in baie gevalle hand aan hand. Seniors wat juniors verneder, onderdruk en beseer, besef nie wat later gebeur nie. Daardie jongeling gaan nie beter as hulle seniors raak nie. Inteendeel, hulle gaan hulle eie ontgroening teenoor die nuwelinge wil wreek. So as daardie siklus nie gebreek word nie, sal dit beslis nie maklik stopgesit word nie. ’n Kopskuif moet eenvoudig net gemaak word. Dit gaan een sterk jaargroep in ’n skool verg wat die hele dinamika sal kan verander. Jy sal wel persone kry wat teen die besluite gekant is, maar hulle moet net oortuig word om die groter plan in te sien. Somtyds is dit onderwysers en van die skoolbestuur wat aan die verouderde idees vasklou.
Ek sien in een van julle akademiese artikels dat baie mense ontgroening as positief ondervind het. Maar dan weet mens ook dat baie mense dit nié as positief ervaar nie. Daar is kollektiewe geheime wat bewaar word, en soms is daar ook afpersing of afdreiging wat dinge afdwing. Kan mens die absolute stellings aan weerskante vertrou? Dat iets soos ontgroeningspraktyke voor die voet negatief is, of voor die voet positief?
Nee, beslis nie. Soos met alles in die lewe, gaan sekere persone aandui dat hulle daarvóór of daartéén is. Die kognitiewe-dissonansie-teorie kom veral by ontgroening na vore. Alhoewel persone weet dat die praktyk sleg is, onaanvaarbaar is, en hul ’n afkeer daarvan het, sal hulle steeds daaraan deelneem, want hulle moet aanhoor dat dit tot voordeel is van die hele groep. Dus sal hulle maar deelneem, al is die ervaring hoe sleg, ter wille van die einddoel wat bereik moet word. Morgentau se magsbalansteorie word ook weerspieël tydens ontgroeningspraktyke, waar een persoon wat opstaan of iets verkeerd uitwys, eenvoudig deur die groepe gedomineer word en maar by hulle moet inval, al is dit teen hul beginsels.
.............
Morgentau se magsbalansteorie word ook weerspieël tydens ontgroeningspraktyke, waar een persoon wat opstaan of iets verkeerd uitwys, eenvoudig deur die groepe gedomineer word en maar by hulle moet inval, al is dit teen hul beginsels.
............
Dan is daar ook goeie gevalle waar seniors en juniors saam positiewe aktiwiteite meegemaak het sonder die vernederingsaspekte en vandag nog vriende is.
Wat is jou gedagtes in die algemeen oor sogenaamde ontgroeningspraktyke onder skoolkinders of studente?
Ek herhaal dat dit teen die Grondwet en die Skolewet is om ontgroeningspraktyke toe te pas of toe te laat. Laat staan dit en fokus op die oriëntering van nuwelinge. Kinders wil so graag behoort en net deel wees sonder om uitgesonder te voel. Leer kinders dat almal anders is en dat ons mekaar se verskille as positief moet ervaar. Begin nuwe tradisies by die skool deur die leerders vir nuwe idees te vra. Betrek die hele skoolpersoneel by die aktiwiteite.
Eduard, hoe hanteer mens ’n tema soos ontgroening met die nodige deernis? Of kan mens dit net voor die voet afmaak as bog? As volwassenes eendag terugkyk na ’n omgewing, gaan hulle ’n plek onthou waar hulle gebly het (as dit ‘n koshuis was, skool of universiteit). ’n Onvolmaakte woning. Met foute en al. Party gaan met verlange en nostalgie terugdink. Ander gaan getraumatiseer voel. Soveel mense, soveel ervarings. Is dit dieselfde met ontgroening, dink jy? Alles voor die voet sleg? Hoe benader mens sulke praktyke op die regte manier?
Ongelukkig kan ons nie die verlede verander nie. Daar het al baie kinders en studente met hul lewens geboet tydens ontgroeningspraktyke. Ons kan wel in die rigting van ’n nuwe toekoms werk met nuwe idees, oortuigings en gebruike wat tot almal se voordeel moet wees. Bemark jou skool/instelling daarvolgens. Betrek ouers/personeel en die gemeenskap by die aktiwiteite. Nooi ouers na die konsert, laat personeel self ook deelneem. Moenie vashou aan geykte gebruike net omdat die old boys/girls of groot borge jou dwing nie. Wees werklik ’n agent van verandering. Daardeur sal die vloek van ontgroening gebreek word. Julle skool sal later bekend word vir die waardes waarvoor julle staan en wat julle toepas.
Lees ook:
Ontgroeningspraktyke in uitgesoekte Vrystaatse hoërskole en skoolkoshuise: ’n verkennende studie

