Ontgroening: ’n pleidooi vir integrasie en solidariteit

  • 1
Ontgroening/Oriëntasie

1495: Leipzig-universiteit verban sogenaamde ontgroening op nuwelingstudente. Die statuut verbied enigeen om nuwelinge te irriteer of onnodig seer te maak en om nuwelinge af te kraak deur gefluitery, in 'n angswekkende stem op hul te skree, of te durf om hul op enige manier hoegenaamd aan te rand.

1873: The New York Times noem ontgroening 'n “boosheid wat heeltemal uitgewis behoort te word”.

2020: Die dood van die 13-jarige Enoch Mpianzi laat die media brom oor sogenaamde oriëntasie en ontgroeningspraktyke, met konsensus dat “oriëntasie” 'n argaïse praktyk is.

'n Bose kringloop wat homself aanhoudend herhaal – nuwelinge arriveer, ontgroening vind plaas, iets loop skeef, media lewer verslag. Dit is die tendens wat ons al sedert (ten minste) 1495 volg. Al van 525 jaar gelede af! Geen helderdenkende persoon het 'n akademiese verslag nodig om uit te spel dat inisiasiepraktyke dalk net nie goed is nie – inteedeel, dis 'n kankeragtige parasiet wat homself in al wat 'n instansie en al wat 'n patriargiese instelling is, gevestig het. Hierdie stelling, nee empiriese feit, word bevestig deur die alewige lys van dié wie se lewens geëis of verwoes was deur praktyke wat nie net onmenslik is nie, maar die heiligheid van 'n menslike lewe tweede viool laat speel en dit alles onder die dekmantel van ontgroening, of nóg beter, tradisie.

Die inherente probleem met ontgroening in die Suid-Afrikaanse konteks

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek probeer nie as doemprofeet optree en al wat 'n tradisie en verwelkomingspraktyk is, kritiseer nie. Maar 'n broodnodige kopskuif oor hoe ons na oriëntasie kyk, is lank uitstaande.

Wat ons eerstens sal moet verstaan, is dat ons land met ongelooflike diversiteit sit en dat dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar, nie noodwendig aanvaarbaar is in 'n ander kulturele konteks nie. As voorbeeld kyk ek terug na my eerste jaar in 'n vooraanstaande universiteitskoshuis in die land. Ontgroening was in die koshuis se amptelike hoedanigheid so te sê uitgewis, maar die senior studente sou steeds onder mekaar maar hier en daar 'n “tradisie” aan die eerstejaars voorstel en dan van hulle verwag om hul opdragte na te kom. Een so 'n “tradisie” is dat daar verwag word dat eerstejaars die seniors se skottelgoed was. Niks ernstig nie. Een van die Xhosa-studente het egter eenvoudig geweier om iemand van wie hy nie veel weet nie se skottelgoed te was en is deur die res van die studente op daardie vloer uitgejou en as 'n luiaard bestempel, wat natuurlik tot baie vernedering gelei het. Wat die seniors op daardie stadium nie verstaan het nie, is dat hy in sy kultuur as 'n (volwasse) man geag word, aangesien hy die vorige jaar aan die tradisionele Xhosa-inisiasie deelgeneem het. Dit was dus uiters vernederend vir hom om afgebreek te word tot op die vlak van iemand wat ander se vuilgoed skoonmaak as “inisiasie” – direk in teenstelling met die feit dat hy nou volwasse is. Hy was die volgende jaar uit die koshuis uit.

Verder word daar dikwels gesê dat ontgroening van jou 'n man maak, dat dié wat nie daarvan hou nie, of “sensitief” is, die ontgroening “soos 'n man moet vat”. Dit word gesê dat manlikheid beteken om hard te wees, om pyn te kan vat, om deur ontgroening te gaan en dit te aanvaar. Dié wat nie wil deelneem nie, word onder andere “moffies” genoem en ander afbrekende terme toegejou.

Gegewe hierdie siening oor hoe mans behoort op te tree en hoe ons hulle optrede kondisioneer deur ontgroeningspraktyke, is dit glad nie skokkend dat Suid-Afrikaanse mans van die gewelddadigste in die wêreld is nie. Geweld en die patriargie/hiërargie is tog inherent ingeprogrammeer in ontgroeningspraktyke. En nie net mans word hierdeur gekondisioneer nie, maar selfs vroue. Aan die ander kant van die euwels van oriëntasie sit ons met vroue en meisies wat deur ontgroening gebreinspoel word oor die ideale beeld van wat 'n vrou behoort te wees – goedversorgd, vroulik (in Engels feminine), onderdanig. Die ideale vrou geskep deur die ideale van 'n patriargie. En dus skep ons vir ons 'n ideale stelsel van ideale waarna elke mens moet streef. Ongelukkig lyk hierdie ideaal meer soos Ethiopië as “Utopië”.

Die inherente probleem van ontgroening lê dus in die magsposisies wat ons daardeur skep – in die patriargie. En met posisies van mag vind mens altyd magsmisbruik. Binne hierdie hiërargie gaan ons individualiteit, diversiteit, kultuur verlore, en dikwels word dié wat aan enige vorm van hul eie menswees probeer vasklou, deur die stelsel uitgeskakel. Ontgroening het dalk die einddoel van solidariteit, maar in hierdie geval moet ons eers die weegskaaltoets slaag: Opgeweeg, wat gee ons prys vir hierdie solidariteit? Ons menswaardigheid? 'n Mens hoef eenvoudig net 'n vinnige Google-soektog te doen om hordes op hordes artikels te vind oor menseregteskending wat onder die dekmantel van ontgroening en tradisie plaasvind.

Integrasie en inklusiwiteit: moontlike oplossings?

Solidariteit is inherent nie 'n slegte ding nie. Dit skep dikwels 'n gevoel van inklusiwiteit onder mense en laat ons lojaliteit ervaar teenoor ander en ons organisasie/instansie. Solidariteit kan egter net so effektief as 'n middel van uitsluiting aangewend word. Ek wil dus 'n kopskuif oor ontgroening voorstel: integrasie, met die einddoel van inklusiwiteit en solidariteit. Integrasie, oftewel (soos deur die HAT gedefinieer) die proses waardeur dele tot 'n geheel gemaak word, is hoe ons gelykheid bewerkstellig, hoe ons magsmisbruik voorkom. Om verskillende mense van verskillende agtergronde te neem en hulle toe te laat om hulle individualiteit te behou deur 'n metode van integrasie, waarin elke nuweling by 'n universiteit, skool of organisasie die geleentheid kry om die waardes van hulle instansie hul eie te maak. Om hul te laat inkoop op die verwelkomingspraktyke van hul instansie, mag moontlik vir ons al die voordele van 'n ontgroening bied (nl solidariteit, dissipline, lojaliteit) sonder om mense af te breek en hulle te misbruik, en sonder al die geheimhouding wat gewoonlik met ontgroening gepaard gaan.

Ek mag dalk hier baie idealisties wees, maar is dit nie juis ideale wat ontgroening so 'n magtige houvas op ons samelewing gegee het nie?

Lees ook:

Dood by die doop en ander ontgroeningsverhale

  • 1

Kommentaar

  • Ontgroening is van meet af ‘n mors van tyd. Toe ek as student ontgroen is het ek geweet dis nonsens en die geskree en gegil van die seniors was net bluf en ek het nie vernederd gevoel nie, maar my studietyd is gemors. Boonop is ons in die middel van die nag beveel om al ons klere bo oor mekaar aan te trek en buite rond te loop . Ek het longontsteking na die episode opgedoen ien kon vir lank nie klas bywoon nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top