Die Universiteit Stellenbosch (US) se raad sê die bewerings van nepotisme waarby die rektor en visekanselier, Wim de Villiers, betrek word, is ernstig.
Daar heers groot verdeeldheid onder oudstudente van die US oor pogings om van die rektor ontslae te raak weens bewerings van nepotisme.
...........
Daar heers groot verdeeldheid onder oudstudente van die US oor pogings om van die rektor ontslae te raak weens bewerings van nepotisme.
............
’n Mosie om De Villiers van sy amp te onthef het by Maandag se raadsvergadering van die US-raad gedien. Die mosie is voorgestel deur die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, en gesekondeer deur Jan Heunis, president van die US se konvokasie.
Na afloop van ’n omvattende debat het die raad ooreengekom dat die kwessie eers verwys moet word na ’n raadskomitee bestaande uit drie persone, van wie een ’n onafhanklike regsgeleerde moet wees.
“Die komitee sal die feite onderliggend aan die mosie ondersoek, waaronder bewerings van nepotisme en ’n moontlike verbreking van die betrokke reëls betreffende die rektor se diskresionêre plasings en die plasing van familielede van die rektor en visekanselier,” lui ’n verklaring wat laat Maandagaand deur die universiteit uitgereik is.
..........
“Die bewerings van nepotisme is ernstig,” het die nuwe voorsitter van die raad, dr Newton-King, gesê. Sy sê die raad besef die impak van hierdie kwessie op die US se belanghebbendes.
...........
“Die bewerings van nepotisme is ernstig,” het die nuwe voorsitter van die raad, dr Newton-King, gesê. Sy sê die raad besef die impak van hierdie kwessie op die US se belanghebbendes.
Newton-King is as nuwe voorsitter verkies ná die afsterwe van die vorige voorsitter, Ainsley Moos, op 31 Januarie 2023. Sy het sedert Moos se dood as voorsitter waargeneem voordat sy Maandag as voorsitter van die raad verkies is.
“Sodra die raad die komitee se verslag ontvang het, sal die raad die verslag evalueer en die mosie deur dr Schreiber oorweeg. Die raad besef hoe belangrik dit is om hierdie kwessie as ’n saak van dringendheid te hanteer en is daartoe verbind om dit op ’n wyse te doen wat regverdig is teenoor sowel die universiteit as die rektor, en op ’n manier waarin die instelling se belangegroepe vertroue kan hê,” het Newton-King gesê.
“Ons verwelkom die geleentheid vir noukeurige ondersoek en refleksie, wat ons in staat sal stel om die hoë standaarde te handhaaf waarvoor ons bekend is en om aandag te gee aan sake waarop moontlik verbeter kan word. Ek wil die versekering gee dat die stabiliteit en kontinuïteit van die universiteit in hierdie stadium ons prioriteit is,” het sy gesê.
Die raad het ook besluit die kwessie van die rektor se diskresionêre plasings moet in geheel beoordeel word deur die relevante akademiese oorsigstrukture vir oorweging deur die raad.
Schreiber het die verskoning wat die US uitgereik het betreffende gevalle wat in die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag oorweeg is, verwelkom. Hy het bevestig dat sy mosie gegrond is op bewerings van nepotisme en dat dit as ’n saak van dringendheid ondersoek sal word.
Die raad sê in hulle verklaring hulle het ook kennis geneem en saamgestem dat daar aspekte in die verslag van die SAMRK oor taal in US-koshuise gedurende die verwelkomingstydperk in 2021 is waarop die universiteit moontlik vollediger sal wil reageer en moontlik selfs wil betwis.
Die US beoog egter nie om die inwerkingstelling van die kern van die SAMRK se regstellende optrede en aanbeveling te vertraag tot die datum wat die kommissie bepaal het (13 Mei 2023) nie.
Die US herhaal ook sy vorige verklarings dat die soort optrede wat in die SAMRK se verslag uiteengesit is en wat die gebruik van Afrikaans in koshuise beperk het, verkeerd is en nooit moes plaasgevind het nie.
“Soos die SAMRK aangedui het, sou die universiteit se Taalbeleid nie toegelaat het dat enige student verhoed word om om die taal van hulle keuse in koshuise te praat nie.”
Die US win tans regsadvies in oor aspekte van die SAMRK-verslag, waarna dit volledig op die verslag sal kommentaar lewer. Die universiteit sê hulle verwelkom egter die SAMRK se bevinding dat daar nie “’n flagrante en gekonsentreerde verbod op Afrikaans was wat deur ’n gesamentlike poging van die US en sekere individue in die bestuur aangevuur en gemotiveer is om Afrikaans by die US uit te roei nie”.
Die US vra alle studente in die koshuise Minerva en Irene wat deur praktyke gedurende die verwelkomingsweek in 2021 geraak is en wat gevoel het dat hulle menseregte en waardigheid aangetas is deur nie Afrikaans in ’n sosiale konteks te kon praat nie, onomwonde om verskoning.
Die universiteit sê hoewel daar omvattende opleiding vir studenteleiers oor die toepassing van die Taalbeleid ingestel is, waarvan die opleiding vanjaar versterk is, sal die universiteit voortgaan met hierdie opleiding. “Ons bevestig terselfdertyd ons verbintenis tot ’n meertalige, multikulturele universiteit wat menseregte en waardigheid respekteer en waar al ons belanghebbers welkom voel. Die US Senaat ondersteun hierdie stap.”
Intussen het die versoek deur die konvokasie se uitvoerende komitee dat De Villiers die trekpas kry, skerp reaksie uitgelok van diegene wat hom steun, sowel as van die universiteit self.
Die konvokasie se uitvoerende komitee word daarvan beskuldig dat hulle geen mandaat gehad het om namens die 230 000 US-alumni te praat nie.
Die mosie waarin die konvokasie se bestuur geëis het dat De Villiers moet bedank, wou ook die kop eis van die registrateur, Ronel Retief.
Die “eensydige besluit” deur die hoofbestuur van US se konvokasie om te versoek dat De Villiers en Retief bedank, is nie aanvaarbaar nie, sê die groep wat daarteen gekant is.
.........
Die “eensydige besluit” deur die hoofbestuur van US se konvokasie om te versoek dat De Villiers en Retief bedank, is nie aanvaarbaar nie, sê die groep wat daarteen gekant is.
...........
Hulle sê in ’n petisie wat die naweek op die internet versprei is dat baie prominente lede van die konvokasie reeds hul stemme daarteen verhef het.
“Die onregmatige en eensydige versoek is nie die besluit van die US Konvokasie nie; dit verteenwoordig nie die mening van die meerderheid van die studenteliggaam, personeel of alumni nie; en is nie in die US se beste belang nie,” lui die petisie op change.org wat reeds deur sowat 1 400 mense onderteken is.
Een van die petisie se ondertekenaars wat teen die konvokasie se bestuur se mosie gekant is, Truida Prekel, het ter motivering vir waarom sy die petisie onderteken het, gesê die uitvoerende gesag het nie die konvokasie geraadpleeg oor 'n stap wat die US ongekende skade kan berokken nie. “Prof De Villiers is dalk nie gewild by almal nie, maar hy het baie bereik in positiewe transformasie. Dit is 'n persoonlike vendetta van mense met regse neigings,” sê Prekel.
Van die ander alumni het die konvokasie se bestuur ook daarvan beskuldig dat hulle besig is met ’n eie agenda wat nie in belang is van die US nie. “Het nie tyd vir konserwatiewe agendas nie!! Damn!!” het die digter Diana Ferrus van haar laat hoor.
Heunis is egter vies omdat die universiteit geweier het om hulle mosie aan alle konvokasielede te versprei. Volgens hom verhoed die US die konvokasie om met sy lede te kommunikeer en sê dit is niks anders as sensuur nie.
Lees ook:
Opening the GG Cillié Building and visual redress at Stellenbosch University (VRSU)
DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US
Professore Quinot en Liebenberg van die US "eet die brood, spreek die woord"
Human Rights Commission ruling on Afrikaans at Stellenbosch University: Frederik van Dyk’s testimony
Kommentaar
Ja nee, sommige verlekker hulle oor die petaljetjie in die Bos.
Hul schedenfreude en eie genoegdoening oor Wim se Ding hierdie keer kan ek tot hier in Houston voel. As jy 'n brak wil bliksem is enige stok blykbaar goed genoeg.
En hierdie artikel is natuurlik die pennevrug van 'n uitgesproke anti-Wim joernalis wat geen 'skin in the game' het nie. 'n Buitestaander met geen akademiese bande met die Universiteit van Stellenbosch nie en iemand wat die konserwatiewes se agenda op Stellenbosch basuin by elke geleentheid (dis immers sy brood-en-bitter, jammer, botter)
Ek skaar my heelhartig by die alumni wat kapsie maak teen daardie klein kabaal van Heunis en kie wat nou al vir jare die rektor probeer bykom.
Ek eis dat die raad van die Konvokasie onmiddellik bedank.
Luister gerus na adv Jan Heunis, US-konvokasie-president, vanaf minuut 10:00 tot 14:45 - https://www.rsg.co.za/rsg/omny/monitor-18-april-2023/
Charl Adams, jy impliseer dat net persone wat "akademiese bande met die Universiteit van Stellenbosch" het, oor gebeure by die Universiteit mag skryf! Dis bog. En van Schadenfreude edm is daar in die artikel niks te bespeur nie; dis 'n saaklike weergawe van die feite wat ooreenstem met wat elders (insluitende die Universiteit se eie publikasiekanale) verskyn het.