Professore Quinot en Liebenberg van die US "eet die brood, spreek die woord"

  • 1

https://pixabay.com/photos/bread-toaster-food-toast-1077984/

Die sogenaamde foute waarop die twee regsprofessore te wete Geo Quinot en Sandra Liebenberg in die SAMRK-verslag wys, dui duidelik aan dat hulle die verslag asook die aanbevelings van die SAMRK nie slegs betwyfel nie, maar verwerp, en uit die aard van die saak die taalbeleid van die US verdedig,” voer Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk, aan.


Daar is ’n Afrikaanse spreekwoord wat lui: “Wie se brood mens eet, die se woord mens spreek.” Beide hierdie professore is werknemers van die US en sal dus natuurliksgewys met vooroordele na die verslag kyk. Vervolgens voer hulle op ’n subtiele wyse aan dat die bevindings van die SAMRK daarop gemik was om swart studente aan die US te benadeel. Dit dui verder daarop dat hierdie studente histories uitgesluit was van studies aan die universiteit. Hiermee word spesifiek bedoel “African in particular” – swart studente – soos volgens die ANC en ander politieke groeperings omskryf. Dit sluit dus ander “swart studente” uit waarvoor die generiese term “black in general” gebruik word om bruin en Indiёr-persone te omskryf.

Die US het drie jaar gelede hul eeufeesviering gehou en die 100-jarige bestaan van die universiteit op luisterryke wyse herdenk. Dit kan aangevoer word dat veral bruin Afrikaanse studente vir 50 plus jaar nie hul voete op die US-kampus kon sit nie as gevolg van ’n politieke bedeling wat die US slaafs nagevolg het. Die universiteit was nie toeganklik vir Afrikaanse bruin studente nie. Toe die toelatingsbeleid van die universiteit wel aangepas is in 1978 en bruin Afrikaanse studente wel aan die universiteit kon studeer in vakrigtings wat nie by die UWK aangebied was nie, het hierdie pioniers erge diskriminasie en vernedering ervaar. Ten spyte van die probleme wat hulle ervaar het, het hulle presteer en staan vandag hul plek vol as medici, ingenieurs, wetenskaplikes en in ander belangrike betrekkings.

..........
Dit is steeds DAK se gevoel dat die US aan daardie studente ’n verskoning verskuldig is weens ’n toelatingsbeleid wat polities gefundeer was en tot diskriminerende praktyke gelei het wat dit moeilik vir spesifiek bruin studente gemaak het om aan die inrigting te studeer.
............

Dit is steeds DAK se gevoel dat die US aan daardie studente ’n verskoning verskuldig is weens ’n toelatingsbeleid wat polities gefundeer was en tot diskriminerende praktyke gelei het wat dit moeilik vir spesifiek bruin studente gemaak het om aan die inrigting te studeer. Die twee geleerde professore kan gerus hul huiswerk gaan doen en hulle vergewis van die feite, soos dat daardie studente nie in die koshuise kon woon nie, dat hulle nie aan enige sport of kulturele aktiwiteite kon deelneem nie en ook nie die amptelike kleure van die US kon vertoon nie. Hulle was onsigbare Maties.

Die vraag wat dus onwillekeurig ontstaan, is waarom daar nie na die historiese uitsluiting van bruin Afrikaanse studente verwys word nie. Dit skyn asof uitsluiting slegs op “African” studente betrekking het en dat daar geen verwysing in hul verslag is na hierdie historiese werklikhede nie. Dit sluit die Khampepe-verslag in en kan dit byna soos ’n goue draad in beide bevindings gesien word. Die SAMRK se verslag word wanvoorgestel as ’n poging om die billike gebruik van ’n lingua franca teen te staan. Die bevinding is egter duidelik: Die US het basiese menseregte geskend in soverre hulle rolspelers in die koshuise studente aangesê het om slegs in Engels te kommunikeer.

Verder: Die verdagmakery van motiewe dat die hele gedoente ’n “regse fopstryd” is, is bloot ’n vrot strooiman en spreek nie die kernkwessie aan dat studente aangesê is om slegs in Engels te kommunikeer nie, en dat dit feitelik en behoorlik voor die MRK voorgelê is.

DAK Netwerk het op uitnodiging van die MRK getuienis gelewer as ’n organisasie wat die belange van agtergestelde Afrikaanssprekendes vooropstel en insluit. DAK kan nie as ’n regse organisasie gesien en gekenmerk word wat bruin nasionalisme wil vestig of bevorder nie. Die studente wat deur die absurde beleid soos deur koshuisleiers voorgehou en geïmplementeer is, geraak is, was nie slegs wit Afrikaanssprekende studente nie, maar wel ook ’n groot persentasie bruin Afrikaanssprekende studente. Die twee professore laat dit buite rekening dat dit veral bruin, voorheen benadeelde Afrikaanse studente is wat ook net so nadelig geraak was.

.........
Die twee professore laat dit buite rekening dat dit veral bruin, voorheen benadeelde Afrikaanse studente is wat ook net so nadelig geraak was.
..........

Professor Jonathan Jansen se uitlating dat die MRK ’n handpop van Afrikaanse regsgesindes op die US en ander kampusse is, word verwerp met die minagting wat dit verdien. Hy het hom bewys as ’n persoon wat op allerlei wyses Afrikaans as taal asook die sprekers van die taal as verdag en reaksionêr voorstel. DAK is nie ’n politieke organisasie nie en ons distansieёr ons van alle politieke uitsprake en aktiwiteite. Op geen stadium was dit ons doel om ’n mosie van wantroue in die visekanselier en sy bestuur te ondersteun nie.

DAK sal nie deel vorm van politieke opportunisme nie en sal ons standpunte onafhanklik en ongekontamineerd stel.

DAK sal nie deel vorm van enige regse groepering wat die bestuur van die US beledig of hul leiding verdag maak nie.

Dit is op rekord dat DAK verskeie gesprekke met die visekanselier en sy bestuur gehad het in die verlede en goeie vordering gemaak het deur ons ontmoetings.

Ek wil dit ook duidelik aan die geleerde professor Jansen stel dat hy weer eens ’n perd opsaal  sonder om hom te vergewis van die standpunte van ’n rolspeler soos DAK. Vir sy inligting: DAK ondersteun die taalbeleid van meertaligheid aan die US, maar het kommer oor die dominansie van Engels op alle vlakke op die kampus, alhoewel Afrikaans en isiXhosa veronderstel is om op gelyke voet met Engels te verkeer. Die taalbeleid is dus inklusief, maar word nie so uitgedra in die praktyk nie.

Dit is ook nie die doel van DAK om die US as ’n universiteit voor te stel wat Afrikanerkultuur vooropstel nie. DAK Netwerk  bevorder die identiteit van bruin Afrikaanssprekers asook anderstalige bruin mense. Professor Jansen kan nie almal oor dieselfde kam skeer en daarmee stellings maak asof alle Afrikaanssprekers nie die US se beleid van meertaligheid ondersteun nie. Ons almal aanvaar, en het dit ook so in vorige skrywes en verklarings gestel, dat die US nooit weer ’n enkeltalige Afrikaanse universiteit sal wees nie, maar ’n Suid-Afrikaanse universiteit wat die mense van Suid-Afrika sal dien. DAK betwyfel nie die akademiese uitnemendheid van die US nie en sal graag wil sien dat alle rolspelers erns maak om van die US ’n wêreldklas universiteit te maak wat sy plek sal volstaan in internasionale geledere.

Vir Jansen en Khampepe om aan te voer dat Afrikaans inherent rassisties of diskriminerend is, is vergesog. Ek gee toe, professor Jansen, dat alle amptelike tale, soos vervat in die Grondwet, dieselfde status geniet. Met alle respek teenoor Animal Farm van George Orwell: “All animals are equal, but some animals are more equal than others.” Hiermee wou Orwell die verskille in samelewings uitbeeld. Ons kan dit net sowel op die taalbeleid van die US van toepassing maak: Alle tale is gelyk, maar sommige tale is meer gelyk as ander. Ek wil voorstel dat die geleerde professore die Afrikaanse vertaling van Animal Farm gaan lees, te wete Diereplaas, soos onlangs deur emeritus professor Wium van Zyl vertaal.

Waar laat hierdie twee verslae – die Khampepe-verslag met haar bevinding asook die SAMRK se verslag – ons nou en wat sou ’n weg vorentoe wees? Slegs die tyd sal wys of die wil bestaan om te verhoed dat die US nie weer in dieselfde slaggate sal trap in die toekoms nie.

Lees ook:

Universiteitseminaar: Die US, rassisme en die toekoms

Van koshuise, tale en kommissies

US rektor sê hy het reeds verskoning gevra vir taaldebakel

DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US

Opening the GG Cillié Building and visual redress at Stellenbosch University (VRSU)

’n Dekoloniale toekoms? Musiek, ras en taal aan die Universiteit Stellenbosch

The pedagogical risk of transformation

Deal decisively with dehumanising institutional culture, or step aside

Race and Transformation in Higher Education Conference raises crucial themes in pursuit of Stellenbosch University’s transformation journey

The ambiguity of the name Luckhoff: my thoughts at the Race and Transformation in Higher Education Conference at Stellenbosch University

Universiteitseminaar: Yale onttrek van ’n ranglys

We cannot go back: my reactions to the Race and Transformation in Higher Education Conference at Stellenbosch University

 

Human Rights Commission ruling on Afrikaans at Stellenbosch University: Frederik van Dyk’s testimony

 

  • 1

Kommentaar

  • Anton Visagie

    Ek is nie oortuig dat die US teen bruin, of enige ander, studente diskrimineer nie? Nog minder is dit ’n geval van die US wat Afrikaans minag of aftakel. Net onlangs was twee navorsingsstoele vir Afrikaans by die universiteit geskep. Die skrywer is net sleg ingelig. Sy gebrekkige veralgemenings is hartseer. Die universiteit volg ’n deurdagte beleid van meertaligheid. Daar was om verskoning gevra vir gebrekkige interpretasie van die taalbeleid deur enkelinges by twee koshuise. Die US is verbind tot volgehoue opleiding om meertaligheid meer effektief te implementeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top