Hoe om die antigenderbewegings teen te werk

  • 0

Daar word tans baie druk geplaas op gesondheidswerkers wat dit durf waag om hulp te verleen aan transgender persone. Enige aanspraak van gelykheid tussen genders word ook bevraagteken.

Ingrid Lynch, onafhanklike konsultant en navorsingsgenoot in die program Critical Studies in Sexualities and Reproduction (CSSR) aan Rhodes-universiteit, het ’n tegniese verslag geskryf waarin sy antigenderbewegings definieer en vertel hoe om hulle teen te werk. Ook skryf sy waarom dit alles saak maak.

Haar verslag, getiteld Justice, abundance, and possibility for all: Countering anti-gender movements in South Africa, is belangrik omdat daar wêreldwyd ’n toename in antigenderretoriek en diskriminasie teen diegene in die LGBT+ gemeenskap (spesifiek die transgender gemeenskap) is. Disinformasie is ’n belangrike deel van die antigenderdiskoers.

Elsabé Brits (2025) het onlangs in ’n artikel oor Lynch se 2024-verslag geskryf: “The disinformation is deliberate, designed to question the existence of transgender and gender-diverse people and justify discrimination against them.”

Lynch se verslag is gratis aanlyn beskikbaar, maar ek poog hiermee om haar 34 bladsye op te som in toeganklike Afrikaans.

1 Definisie van ’n antigenderbeweging

Antigenderbewegings verwys na enige wedywering om gendergelykheid te kniehalter. Hierdie bewegings is gewoonlik goed befonds en is meestal gekant teen enige tipe transformasie, insluitend gendergelykheid, liggaamlike outonomiteit en dikwels die gelykheid van verskillende seksuele oriëntasies. Hierdie bewegings beskou gendergelykheid as deel van “genderideologie”, ’n konsep wat geskep is deur ultra-konserwatiewe Katolieke in die 1990’s. Hulle uiteindelike doel is om mag te sentraliseer en patriargale strukture in plek te hou.

Hierdie organisasies is slegte nuus vir gelykheid van enige aard.

Daar is ook dus ’n sterk verband tussen antigenderdenkwyses en rassisme, soos toe JK Rowling vir Imane Khelif daarvan beskuldig het dat sy ’n man is. Lynch (2024) skryf dat die beeld van ’n tipiese familie (uitgebeeld as patriargaal, cisgender en heteroseksueel, of te wel cis-heteronormatief) geskoei is op die idee van voortplanting en dus berus op die volgende oortuigings:

  • Daar is slegs twee geslagte (wat hiërargies beskou word, met die manlike geslag wat altyd belangriker is).
  • Ongelykhede tussen mans en vroue is die natuurlike gevolg van biologiese verskille. Hierdie verskille moet nie en kan nie verander word nie.
  • Vroue se sentrale rol is om die nasie, ras en godsdiens voort te bou.

Antigenderbewegings gebruik vrees: die vrees dat ’n man in ’n rok jou gaan aanval of die vrees dat tradisionele waardes in gevaar is. Op hierdie manier koppel hulle nasionalistiese doelwitte aan die konsep van die voortbestaan van die “natural family”, soos Lynch (2024) dit verwoord.

Antigendergroepe beskou hulself as die slagoffers van genderideologie, ondanks die feit dat hulle reeds met ontsaglike mag en hulpbronne sit. Antigendergroepe teiken mense wat histories gemarginaliseer is en wat steeds verskeie vorme van onderdrukking ervaar. Die impak van hierdie bewegings in Afrika is verreikend. Fundamentalistiese Christen-organisasies uit die VSA is die katalisator vir vele van Afrika se regressiewe wette, insluitend die antihomoseksualiteitswet wat in 2023 in Uganda van krag gemaak is.

Die situasie in Suid-Afrika is heel uniek, omdat die wette (onder andere die Grondwet en die beleid op seksuele en reproduktiewe regte – bekend as die National Integrated Sexual and Reproductive Health and Rights, of SRHR) besonder progressief is. Ten spyte hiervan is die antigenderbewegings besig om grond te wen, omdat daar spesifieke uitdagings is wat die SRHR in die gesig staar. Dit sluit in:

  • skadelike idees oor gendernorme (soos dat vroue hoort in die kombuis of seuns mag nie huil nie);
  • hoë voorkoms van geslagsgebaseerde geweld (wat ook verband hou met homofobiese en transfobiese haatmisdade);
  • hoë voorkoms van onbeplande swangerskappe (weens onder andere gebrekkige kennis oor voorbehoedmiddels, onvoldoende toegang tot mediese sorg en seksuele misbruik en geweld);
  • hoë MIV/Vigs-syfers;
  • onvoldoende opleiding in seksuele gesondheid en verhoudings op skoolvlak;
  • cis-heteronormatiewe gesondheidsorgstelsels en stigma van verskaffers van gesondheidsdienste teenoor mense wat nie in boksies pas nie;
  • en laastens ’n gesondheidsorgstelsel wat onderhewig is aan sistemiese probleme, soos ’n gebrek aan hulpbronne en tekorte aan middels soos voorbehoedmiddels of hormone.

Hierdie uitdagings is vererger deur Trump se onttrekking van USAID-fondse aan verskeie lande, insluitend Suid-Afrika.

Daar is drie tipes rolspelers wat deel uitmaak van die antigenderbeweging in Suid-Afrika. Die eerste is burgerlike, nie-winsgewende organisasies, soos Cause for Justice (CFJ) en First Do No Harm SA (FDNH-SA). Die tweede is godsdienstige groepe, soos CitezenGo en Freedom of Religion SA (ForSA). Laastens is politieke partye en hul verteenwoordigers, soos die ACDP, die VF+ en Helen Zille. Hierdie rolspelers het vier strategieë ontwikkel wat hoofsaaklik gebruik word om antigenderboodskappe te bevorder:

  • die koöptering van godsdienstige narratiewe;
  • die koöptering van dekoloniale narratiewe;
  • die popularisering van die narratief dat transgender mense nie bestaan nie;
  • beperking of afsluiting van toegang tot siviele ruimtes vir enige een wat nie in tradisionele genderboksies pas nie.
2 Vier strategië om antigenderboodskappe te bevorder

Ek bespreek kortliks elkeen van hierdie punte.

2.1 Die koöptering van godsdienstige narratiewe

Hierdie strategie gebruik godsdiens om die genderideologie teen te staan deur dit voor te hou as die verdediging van godsdienstige waardes. Hierdie groepe werk transnasionaal en beskou hulself as verdedigers van die “tradisionele” familie en voorstanders van godsdienstige vryheid.

Hiermee ondermyn hulle ’n breë spektrum van regte en ondersteun hulle bestaande strukturele ongelykhede. Dit sluit pogings in om omvattende geslagsvoorligting (OGV), toegang tot veilige en wettige aborsies, asook verbeterde beskerming van die gesinne of families van LGBT+ individue teen te staan, te vertraag of te stop. Hul baseer hierdie idees op die “Bybelse huwelik” tussen een man en een vrou, wat nog nooit die norm in Suid-Afrika was nie. Die taalgebruik van sulke groepe en veldtogte eggo dié van soortgelyke groepe in die VSA.

Hul vertrekpunte word ook gebruik om die SRHR te ondermyn en om ondersteuning vir gendergelykheid binne godsdienstige gemeenskappe toe te smeer of teen te staan.

2.2 Die koöptering van dekoloniale narratiewe

In Suid-Afrika en die Globale Suide raak dit steeds meer populêr om OVG, LGBT+-regte en ander progressiewe idees teen te staan, aangesien sulke idees kwansuis beskou word as neo-koloniale invloede wat Westerse magte probeer op die Globale Suide afdwing. Deur godsdiens te gebruik hiervoor, word dit makliker om in Afrika die ideologie van, byvoorbeeld, fundamentaliste uit die VSA op die kontinent te bevorder. Daardeur word werklike kommer oor ware neokoloniale invloede verwring om sodoende ’n agenda van eksklusiwiteit te bevorder. Wat hiermee bedoel word, is dat ’n “vrou” se rol eksklusief en eksplisiet omlyn moet word, so ook haar man s’n. Binne so ’n denkraamwerk word genderrolle nie uitgedaag nie. Terme soos “kulturele imperialisme” en “ideologiese kolonisasie” word gebruik wanneer daar oor gemarginaliseerde groepe gepraat word.

Op eie bodem word soortgelyke strategieë gebruik om openbare menings te beïnvloed en steun te werf vir die antigenderbeweging. Anti-OGV-veldtogte is populêre platforms vir hierdie groepe.

Sodanige veldtogte word voorgehou as plaaslike inisiatiewe, maar word gedryf deur die groep Protect Children South Africa Coalition, wat sterk bande met antigenderbewegings in die VSA het. Sodoende kan antigenderorganisasies in die VSA hul agendapunte as “plaaslik” probeer voorhou.

Die groepe kon nie ’n invloed op wetgewing bewerkstelling nie, maar openbare menings word reeds sterk beïnvloed, veral wanneer dit kom by OGV. Lynch (2024) skryf “creating and sustaining moral panic is as much a goal for the anti-gender movements as achieving policy changes”.

2.3 Die aanhitsing van die narratief dat transgender mense nie bestaan nie

Om voor te gee dat transgender mense nie bestaan nie, is van uiterste belang as jy opposisie wil skep teen die sogenaamde genderideologie. Die fundamentalistiese beginsels van die bewegings word dan beskou deur ’n sekulêre lens, wat dit meer verteerbaar maak vir sekulêre mense. Dit is ook ’n strategie om steun te werf vir antigenderbewegings.

Sentraal tot hierdie ontkenning van trans mense se bestaan, is die idee dat geslag ’n binêre konstruk is wat sosio-politiese en ekonomiese hiërargieë tot gevolg het, daarom sou hierdie binêre verskille kwansuis inherent en onveranderlik wees. Binariteit word voorgehou as die rede waarom transgender mense nie bestaan nie, of nie moet bestaan nie.

Blatante transfobiese narratiewe neem toe in Suid-Afrika en word spesifiek gemik op die regte en welsyn van transgender jongmense en genderdiverse jongmense. Hierdie propaganda fokus op twee sake: opposisie teen OGV in skole en die beperking van transgender individue se toegang tot genderbevestigende gesondheidsorg (GBGS).

Antitransnarratiewe word toenemend gebruik in anti-OGV-veldtogte.

Transgender identiteite word weer uitgebeeld as iets nuuts, of iets wat geforseer word en gevaarlik is. Dit lei tot morele paniek onder die publiek en skep die indruk dat die “transgenderideologie” cisgender kinders kan trans maak. Die beskerming van kinders word dus gebruik om antigenderargumente te bevorder, wat sigbaar was in ForSA se teenstand teen ’n gids van die Departement van Basiese Onderwys, getiteld “Promoting gender equality in early childhood development: A practical guide for teachers and practitioners in South Africa”. ForSA se petisie het beweer dat die gids ’n slinkse wyse is om “gender identity training” in skole te implementeer. Hierdie bewering verwring die gids se bedoeling en voer ook die groeiende antitranssentimente.

Die aanval op gesondheidsorg kan gedeeltelik toegedig word aan die organisasie First Do No Harm South Africa (FDNH-SA). Die organisasie bestaan uit medici met gebrekkige kennis oor die behandeling van transgender en genderdiverse jongmense, ook van die breër LGBT+ gemeenskap. Die medici se spesialisvelde is ook nie verwant aan GBGS nie. Hulle beweer, soos ander antigendergroepe wêreldwyd, dat GBGS ideologies liewer as bewysgedrewe is. FDNH-SA ontken die bestaan van transgender identiteite en beywer hulself vir die implementering van “exploratory psychotherapy”, wat beskryf is as ’n vorm van aversieterapie, iets wat onwetenskaplik en onmenslik is. FDNH-SA se standpunt is teenstrydig met plaaslike en internasionale mediese organisasies wat GBGS beskou as noodsaaklik.

Groepe soos FDNH-SA maak dit moeiliker vir transgender individue om gesondheidsorg te kry en speel ’n beduidende rol in hoe transgender mense beskou word. Lynch (2024:14) skryf:

FDNH-SA has directed considerable efforts toward influencing healthcare professionals and decision-makers in research and academic institutions, capitalising on the marginalisation of transgender voices in these spaces.

2.4 Beperking of afsluiting van toegang tot siviele ruimtes

Suid-Afrika het wetgewing wat toelaat vir die registrasie en bedryf van burgerlike organisasies wat sonder staatsbeheer hulle werk kan doen.

Die skending van burgerlike regte neem toe, met die voorstanders van menseregte wat in die visier is. Die situasie reflekteer ’n globale patroon, skryf Lynch (2024:14).

Antigenderbewegings in Suid-Afrika vererger die probleem op ’n mikrovlak. Aktiviste word geviktimiseer en geteister. So word bewusmaking en meningsverskille verminder.

Opsetlike teistering en intimidasie is ’n strategie wat gebruik word om ’n klimaat van vrees en isolasie te skep onder SRHR-aktiviste wat dan lei tot angs en uitputting. In sommige gevalle het dit ’n negatiewe effek op hoe effektief die SRHR-aktiviste hul werk kan doen. Antigenderbewegings teiken ook byeenkomste wat gemik is op die bevordering van SRHR om sodoende die ruimte vir bewusmaking en aktivisme te beperk.

Op ’n groter skaal werk hierdie groepe transnasionaal om befondsing vir siviele sake te verkry. Hul ideologie word in politieke stelsels verweef en pogings om te verseker dat beleid oor buitelandse hulpverlening genderbeperkend is, is ook op hul agenda. Dit dra by tot die inperking of afsluiting van openbare ruimtes, omdat befondsing weggeneem word van SRHR-organisasies af. Dit raak ook al hoe moeiliker om antigenderbewegings teen te staan in ’n toenemend vyandige omgewing.

Die herleiding van fondse na konserwatiewe groepe het ook verreikende gevolge vir OGV. Die VSA-gebaseerde organisasie Focus on the Family beywer hulself om in Suid-Afrika voorligtingsopvoeding te implementeer wat slegs fokus op onthouding, of “abstinence only sex education”, soos dit in Engels bekend staan.

3 Strategieë teen die antigenderbewegings

Daar is vyf strategieë wat Lynch (2024) bespreek om hierdie organisasies teen te staan. Dit kan opgesom word as:

  • die ontwikkeling van kollektiewe en gekoördineerde strategieë;
  • die verandering van die oorheersende narratiewe;
  • die bevordering van “onwrikbaarheid teen disinformasie” in hoëronderwys en navorsingsinstansies;
  • die gebruik van diplomatieke en buitelandse beleidsraamwerke;
  • die transformasie van befondsingspraktyke.

3.1 Die ontwikkeling van kollektiewe en gekoördineerde strategieë

Sonder ’n robuuste en gekoördineerde strategie is dit moeilik om die antigendergroepe se pogings teen te werk. Vele burgerlike organisasies fokus op dringende sake en noodsaaklikhede wat die beplanning van langtermyn strategieë belemmer. Lynch (2024:17) gee vier elemente wat in ag geneem moet word wanneer so ’n strategie beplan word.

Eerstens moet daar daadwerklike pogings wees om bewustheid oor antigenderbewegings te skep en bewegings teen hulle te bou. Die gebrek aan bewustheid lei tot gefragmenteerde antwoorde op die antigenderbewegings se uitdagings.

Tweedens moet die antwoorde teen die antigenderbewegings gegrond wees op interseksionaliteit. Vele organisasies funksioneer in isolasie, waar byvoorbeeld baie LGBT+-organisasies fokus op huweliksregte, SRHR-groepe fokus op aborsie en transgender-organisasies fokus op die ontkenning van transgender mense. Hierdie fragmentasie neem nie die onderlinge verbintenisse van hierdie sake in ag nie. Daar is wel organisasies soos die Sexual and Reproductive Justice Coalition (SRJC) wat ’n interseksionele benadering neem. Dieselfde kan gesê word oor Professional Association for Transgender Health (PATHSA) se 2024-verklaring oor transgender en genderdiverse jongmense wat baie aandag geniet het en interseksioneel is.

Derdens moet daar toegewyde en befondsde ruimtes wees vir burgerlike organisasies waar samewerking tussen organisasies bevorder word. Sodoende kan kennis uitgeruil word, kragtige reaksies teen die antigenderbewegings beplan word en gesamentlike strategieë om die antigenderbewegings te beveg kan ook beplan word.

Laastens moet daar ’n gekoördineerde en strategiese respons wees wat die welstand van aktiviste prioritiseer om langdurende en volhoubare aksies te verseker, veral gegewe die aanslag van antigendergroepe. Dit sluit ook die welstand van individue in organisasies soos universiteite, navorsingsinstansies of staatsinstansies in, waar institusionele ondersteuning ook verbeter kan word.

3.2 Die verandering van oorheersende narratiewe

Antigenderbewegings het besonder baie hulpbronne toegewy aan die versinning en verspreiding van narratiewe wat ’n eng, patriargale wêreldbeskouing teen genderbewussyn vorm en bevorder. Hulle mag dalk in die hof ’n saak verloor, maar hulle wen gereeld grond op sosiale en politieke vlak deur die verspreiding van hierdie wêreldbeskouing.

Die burgerorganisasie Just Associates (JASS) wys dat die verandering van ’n narratief dieper lê as net strategiese boodskappe of kommunikasie.

[Narrative change’s] strength lies in the deeper work of understanding how invisible and systematic power shape meaning and how we can express transformational narratives that connect to what people care about and long for. (JASS in Lynch 2024:18)

SRJC is reeds besig met so ’n poging deur die taalgebruik in staatsbeleid te verander van apartheidera-“populasiebeheer” na ’n narratief van “reproduktiewe geregtigheid”. Hulle konstante betrokkenheid hierby het uiteindelik gelei tot verandering nie net op plaaslike vlak nie, maar ook op internasionale vlak.

Terwyl die fokus moet val op die verandering van narratiewe, moet daar ook gekyk word na die openbare beskouings van SRJR-sake, veral met antigenderbewegings wat in hoofstroommedia transfobiese inhoud versprei. Die publiek is steeds grootliks oningelig oor genderdiversiteit en dit kan lei tot ’n situasie waar antigenderbewegings die narratief beheer, wat weer kan lei tot die ondermyning van transgender individue se regte en welstand.

Godsdienstige organisasies moet ook hierby betrek word, aangesien die antigenderbewegings grootliks bestaan uit fundamentalistiese godsdiensorganisasies. Organisasies soos Inclusive and Affirming Ministries (IAM) en die Global Interfaith Network het nuttige hulpbronne wat gebruik moet word teen fundamentalisme.

3.3 Die bevordering van “onwrikbaarheid teen disinformasie” in hoëronderwys en navorsingsinstansies

Onwrikbaarheid teen disinformasie, of wat Lynch (2024) beskryf as “disinformation resilience”, berus grootliks op die bevordering van kritiese geletterdheid teen die antigenderbewegings, veral onder besluitnemers in akademiese en navorsingsorganisasies. Hierdie tipe geletterdheid stel instansies in staat om antigenderbewegings, op soek na geldigheid en kredietwaardigheid, te identifiseer en teen te staan. Dit behels die aanleer van vaardighede om tekste en narratiewe te ondersoek vir onderliggende magsverhoudings, vooroordele en agendas. Hierdie vorm van geletterdheid is besonder relevant vir die teenwerking van antigendergroepe se disinformasie, wat verpak is as nagevorste bewyse. Lynch se bevindinge toon dat antigenderbewegings in Suid-Afrika pseudo-wetenskaplike diskoerse gebruik om gevestigde wetenskaplike konsensus te ondermyn met betrekking tot SRHR-kwessies.

Hierdie taktiek is besonder effektief, omdat dit gewortel is in godsdienstige fundamentalisme. Dit val dus nie direk die regte en waardigheid van gemarginaliseerde groepe aan nie. Die bewegings lê “objektiewe bewyse” voor, wat neutraal lyk. Anti-aborsiegroepe gebruik byvoorbeeld “post-aborsiedepressie” om toegang tot veilige en wettige aborsies te keer, hoewel die idee van post-aborsiedepressie weerlê is. Antigenderbewegings gebruik soortgelyke taktieke om die geldigheid van transgender identiteite in twyfel te trek en beweer dat daar geen bewyse is dat GBGS veilig is nie.

Om hierdie tipe kritiese geletterdheid te ontwikkel, kan beskryf word as ’n inokulasieproses. Jy wys jou boodskap en dan die opponent se boodskap. Jy demonstreer hoe die opponent se boodskap onwaar of misleidend is en wys op die agenda én die agente agter die skerms. Dit lei tot groter weerstand teen disinformasie en lei tot beter begrip van onderdrukking, omdat dit nie net bloot inligting is nie. Sulke inokulasieprosesse is veral belangrik wanneer betroubare nuusagentskappe gebruik word deur antigendergroepe (soos FDNH-SA) om disinformasie te saai. Die media is dus ’n belangrike deelnemer in die opbou van kritiese geletterdheid in navorsing en hoëronderwys.

3.4 Die gebruik van diplomatieke en buitelandse beleidsraamwerke

SRHR-organisasies is lank reeds betrokke by die ontwikkeling van plaaslike wetgewing. Hulle verseker ook dat die Grondwet toegepas word deur die voorlegging van wetsontwerpe en ook deur hofsake. Dit is ’n fout om diplomatieke en buitelandse beleidsraamwerke ten opsigte van SRHR en genderregte oor die hoof te sien. Aktiewe betrokkenheid by buitelandse sake en diplomatieke strukture kan beteken dat invloed oor ’n groter sfeer versprei word en lei tot die bou van sterk samewerkingsooreenkomste en die bevordering van SHRH op streeks- en globale vlak.

Die Coalition of African Lesbians (CAL) het suksesvolle samesprekings met die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking gehad. Dit het gelei tot onder andere ’n versterking van Suid-Afrika se posisie as ’n leier op die kontinent rakend LGBT+-regte. Daarenteen werk organisasies soos die World Congress of Families (WCF) teen sulke inisiatiewe. WCF het in 2016 ’n organisasie in Kaapstad bekend gestel wat aktief werk teen huweliksgelykheid.

Suid-Afrika se Grondwet is een van die eerste wat diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie of genderidentiteit verbied en het sterk bande met Afrika en die Globale Suide. Ten spyte hiervan is Suid-Afrika se posisie oor LGBT+-regte nie standvastig nie en soms swak wanneer internasionale betrekkinge ter sprake is. Plaaslike beleid raak al hoe meer progressief, terwyl internasionale beleid ly onder ’n gebrek aan hulpbronne.

3.5 Die transformasie van befondsingspraktyke

Befondsing aan burgerlike organisasies is nodig om antigendergroepe effektief teen te werk. Daar is besondere beperkings op hierdie organisasies om effektief te reageer op antigendergroepe weens ’n gebrek aan hulpbronne en fondse. Daarenteen word antigendergroepe goed befonds en het ook vele kere sterk politiese en korporatiewe konneksies.

Lynch wys hoe die verskillende groepe befondsing aanwend. Vir genderregte-organisasies en soortgelyke organisasies (waar befondsing gebrekkig is) word befondsing versigtig aangewend, wat soms kan lei tot isolasie en wat samewerking tussen organisasies moeilik maak. Antigendergroepe is goed befonds en kan dus aan langtermyn projekte aandag gee, maklik saamwerk en funksioneer met min tot geen beperkinge.

Die fokus moet dus val op langtermyn, inskiklike befondsing wat kan reageer op die dinamiese aard van antigendergroepe. Dit sal ook groter standvastigheid bied aan hierdie organisasies, wat van belang is in ’n konteks waar siviele ruimtes aan die krimp is.

’n Organisasie se ervaring is ’n kernoorweging vir skenkers wanneer geld geskenk word aan gemeenskapsprojekte wat te make het met SRHR en genderregte. Organisasies met ervaring het die potensiaal om antigenderregte-organisasies teen te werk en kan ook bydra tot ander sake wat indirek bydra tot die bevordering van antigendergroepe. Skenkers kan op so ’n wyse verseker hul fondse word effektief en standhoudend gewy aan die teenwerking van antigenderbewegings.

4 Ten slotte

In ’n Vrouedag-artikel, getiteld “We live in dangerous times of anti-gender ideology and democratic backsliding”, het Amanda Gouws (2025) geskryf:

Anti-gender ideology is a part of the backlash against progressive politics and policies that have gained traction since the 1970s. This backlash is aimed at rolling back women’s equality, the acknowledgement of LGBTQI identities, same-sex marriage, gender fluidity and transgender rights. 

Of, soos PATHSA (2024) in hulle stellinginname skryf:

South Africa is a country built on healing from a past which harmed and divided us. We are all called to commit to a future which is rooted in compassion and acts of care and belonging that bring forth the tangible recognition and affirmation of our shared humanity.

Trans persone vind geen “affirmation of our shared humanity” in die aanvalle op ons menswees of die verskaffers van dienste aan ons nie.

Die aanvalle op mense wat mediese dienste bied, het onlangs drie akademici (Tracey Naledi, Marion Stevens en Elma de Vries) genoop om in ’n artikel, getiteld “When we know better, we must do better: Gender affirming healthcare as a test of justice” (2025), te skryf:

South Africa’s history is marked by both deep dehumanization and powerful resistance. That same spirit calls us to confront a new injustice: the systemic failure to provide trans and gender diverse (TGD) people, especially youth, with the healthcare they need and deserve.

Hierdie opsomming sou hopelik belangstellendes na Lynch se verslag kon lei, of na ander geskrifte oor die aanslag op genderbewegings en diensverskaffers aan sulke bewegings.

Dit is noodsaaklik om disinformasie teen te staan.

Bronne

Brits, E. 2025. The why behind the surge in Christian fundamentalist hate against transgender people. Daily Maverick, 29 June. https://www.dailymaverick.co.za/article/2025-06-29-christian-fundamentalist-hate-against-transgender-people-explained/.

De Beer-Procter, J-L, P. Brouard, L. Mabenge, E. De Vries, C. McLaclan, K. Adams, G.N. de Bever, R. Dyers, N. Luh Cele, J. Bosworth, J. Ancer, E. Kotze, C.J. Victor, K.L. Dunkie, S. Misweli, M. Muller, N. Chilimigras, S. Pickstone-Taylor, A. Spitaels, A. Wilson, J.A. Nel, M. Carrihill, N.L. Madlala, L. Levin, A. Tomson en M. Pillay. 2024. Embracing diversity, upholding rights: A South African position statement on evidence-based care for transgender and gender-diverse young people. PATHSA, 18 August 2024. Kaapstad. https://pathsa.org.za/wp-content/uploads/2024/10/SA-EBC-Position-Statement-2024-b.pdf.

Gouws, A. 2025. We live in dangerous times of anti-gender ideology and democratic backsliding. Daily Maverick, 7 August. https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2025-08-07-we-live-in-dangerous-times-of-anti-gender-ideology-and-democratic-backsliding/.

Lynch, I. 2024. Justice, abundance, and possibility for all: Countering anti-gender movements in South Africa. Kaapstad: Afrikagrupperna. https://afrikagrupperna.se/wp-content/uploads/2025/03/lynch_2024_countering-anti-gender-movements-in-south-africa_final.pdf.

Naledi, T., M. Stevens en E. de Vries. 2025. When we know better, we must do better: Gender affirming healthcare as a test of justice. International Journal of Transgender Health, 1–5. https://doi.org/10.1080/26895269.2025.2549122.

Lees en kyk ook:

Wilhelm Jordaan: Angus Buchan en sy Mighty Men

PATHSA: Whose voices matter? Trans erasure in public discourse

Jarred H Martin and Pierre W Brouard: Opinion: Gender-responsive pedagogy in early childhood education: Why it matters

Doniwen Pietersen: Geslagsgelykheid in opvoedkundige ruimtes en praktyke: ’n feministies-pedagogiese ondersoek

Marietjie Warrington: Die transgender kind en skole se grondwetlike verpligting teenoor leerders

Liné Loff en Ockie Vermeulen: Transgender: keuse of genetika?

Elsabé Brits: Ons moet álmal veilig voel – en dit geld vir gender ook

Liné Loff en Elma de Vries: Die bevordering van gendergelykheid onder kinders: ’n onderhoud met Elma de Vries

Mercia Coetzee: Kultuuroorlog teen kommunikasie: Wat ons wil, kan, moet, mag, en nie durf sê nie.

Fanie Olivier: Die oop gesprek, die toe debat en die vernietiging van mense

Hermione le Roux-Ellis: PATHSA se verklaring oor transgender jongmense: Wat beteken dit vir die gewone mens?

Ockie Vermeulen: ’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

Helen Efthimiadis-Keith en Graham Lindegger: ’n Verkennende ondersoek na die ervaring van Suid-Afrikaanse universiteitstudente as lesers van Rut 2 aan die hand van Ignatiaanse meditasie

Izak de Vries: Wat beteken die + in LGBTQIA+?

PATHSA: Press release: South African experts unite in a call for evidence-based care for transgender and gender-diverse young people

Maretha Jacobs: Gender en die Bybel

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top