PATHSA se verklaring oor transgender jongmense: Wat beteken dit vir die gewone mens?

  • 0

Skets deur Gerd Altmann en Maicon Fonseca Zanco | Pixabay

...
Suid-Afrika word dikwels in regsirkels geprys vir die progressiewe grondwet wat die land het. Dit beteken wel nie dat daar gelykheid vir almal in die praktyk is of dat almal gehoor gee aan die Grondwet nie.
...

Op 15 Oktober 2024 het die Professional Association for Transgender Health South Africa, oftewel PATHSA, ’n verklaring bekend gemaak wat hul posisie oor die behandeling van transgender jongmense stel. Kortom ondersteun PATHSA jongmense se reg tot selfbeskikking; die beskerming van omgewings wat die reg tot selfbeskikking bevorder; ondersteuning en bewysgedrewe benaderings tot gesondheidsorg; en laastens die beskerming van die stemme van jongmense binne hierdie konteks.

Ek het kundiges op die gebied van transgender-sorg genader om dieper te delf in die betekenis en implikasies van hierdie verklaring. In alfabetiese orde is hierdie kenners Pierre Brouard, Jenna-Lee de Beer-Procter, Chris McLachlan, Elna Rudolph en Lee-Anne Walker.

Rudolph en Walker het die verklaring aangeprys as gebalanseerd en feitlik. Hulle het albei beklemtoon dat ’n gebalanseerde en bewysgebaseerde benadering nodig is in die huidige klimaat, waar anti-transstemme prominent en goed gefinansier is. Hulle het ook klem gelê op die feit dat die verklaring grotendeels gebaseer is op die Grondwet.

Dit was juis die bedoeling met hierdie verklaring, volgens die PATHSA-lede waarmee ek gesels het. Nie net moes die verklaring goeie bewyse kan lewer dat transgender jongmense beter vaar met die nodige sorg nie, maar die Grondwet moes ook in gedagte gehou word.

Suid-Afrika word dikwels in regsirkels geprys vir die progressiewe grondwet wat die land het. Dit beteken wel nie dat daar gelykheid vir almal in die praktyk is of dat almal gehoor gee aan die Grondwet nie. Diegene wat veg teen grondwetlike beginsels is gewoonlik ook gekant teen gelykheid vir die LGBT+ gemeenskap.

“Dis ’n magtige ding om hulle nie op die naam te noem nie,” het Brouard verduidelik toe ek vra oor wie hierdie verklaring dalk mag teenstaan. Uit die gesprek is dit wel vasgestel dat hierdie mense en belangegroepe gewoonlik aan die konserwatiewer of selfs verregse kant van die politiese spektrum is.

Ek was nuuskierig oor wat PATHSA gemotiveer het om hierdie verklaring te skryf. Daar is groot teenstand wat sekere groepe bied teen enige transgenderkwessies. Soveel so dat sommige lede van PATHSA of hul families, asook ander partye wat sorg gee aan transgender jongmense, gedreig is deur sekere anti-transgroepe. Dit was ’n groot bydraende faktor vir die samekoms van ’n aantal PATHSA-lede en ander belanghebbendes in Kaapstad vroeër vanjaar waar hierdie verklaring konseptualiseer is. De Beer-Procter het gesê die verklaring werk ook teen die anti-transsentimente, sonder om te veel te fokus op die wetenskap daaragter. Daar is reeds ’n aantal stukke wat PATHSA gepubliseer het wat die wetenskap agter sorg aan transgender jongmense verduidelik.

“Ons het probeer om die ideologiese kwessies agter die anti-transbeweging ook aan te spreek,” brei De Beer-Procter uit. “Een van die dinge oor die anti-transbeweging is hoe dit mense verdeel in twee kampe. Ons verklaring handel oor eenheid en ondersteuning van transgenderregte. Ons het gefokus op transgender jongmense juis omdat hulle die teikens is van die anti-transbeweging. Ondersteuners van anti-transretoriek maak of dit kom uit ’n plek van omgee en kommer.”

“’n Groot deel van hierdie verklaring is ook om transgender jongmense se stemme te laat hoor,” het De Beer-Procter bygevoeg.

“Wat ons wil sê aan die wêreld, aan Suid-Afrika en aan transgender jongmense is: Ons is hier vir julle. Ons is eties, ons is verantwoordelik, ons is deursigtig en ons is hier om dienste aan julle te lewer,” vertel McLachlan verder. McLachlan het ook benadruk dat daar groot klem is op bewysgedrewe gesondheidsorg (oftewel evidence-based medicine in Engels).

Brouard het voortgebou op hierdie sentimente. “Ek dink dit stuur ’n boodskap aan die anti-transbeweging wat sê ons gaan nie stil wees of tersyde geskuif word nie. Dis metafories ’n lyn wat ons getrek het om te sê ons het die morele en etiese reg tot ons eie sienswyses. Ons is gedrewe deur nie net bewyse nie, maar ook die belange van jongmense. Daar is ook ’n groot deel wat die narratief terugwin: die beginsels soos menseregte en ubuntu stel die kwessie in ’n konteks wat baie mense mee kan saamstem.”

’n Groot bydraende faktor was die Cass-verslag, wat deur sekere persone en groepe gebruik is om mediese sorg aan transgender jongmense te weier. Die Cass-verslag, kortom, het voorgestel dat beter navorsing gedoen moet word oor transgender jongmense, dat daar nie slegs een pad gevolg moet word vir mediese sorg nie en dat gesondheidsorg in die Verenigde Koninkryk gedesentraliseer moet word. Dit was wel op so ’n wyse gestel dat vele in die politieke wêreld dit beskou het as ’n teken om gesondheidsorg te weier of te staak.

Vele organisasies, onder andere die Amsterdam-Universiteit se Mediese Sentrum (UMC) en WPATH, het vel kritiek gehad teen die Cass-verslag. UMC se verklaring lui (my vertaling): “Amsterdam UMC stem nie saam met die gevolgtrekking dat daar ’n gebrek aan bewyse is rakende die gebruik van puberteitsremmers in transgender jongmense nie.” UMC het ook genoem dat die Cass-verslag selfs in Nederland ’n polariserende effek gehad het.

Die drie kenners van PATHSA wou beaam wat die wetenskap en die Grondwet sê, veral in die huidige politieke klimaat. Dit is juis wat hierdie verklaring doen en ook goed doen, volgens beide Rudolph en Walker.

“Daar is ’n gebrek aan wetenskaplike geletterdheid in Suid-Afrika,” sê Rudolph toe ek haar vra hoe mense dalk sal reageer op PATHSA se verklaring. Walker het ’n soortgelyke waarneming gemaak en die stand van sake betreur. Diegene wat nie akademies kan bybly met die gesprek nie, sal ander redes soek om gesondheidsdienste te weier.

Hierdie verklaring se doel is juis om transgender jongmense seggenskap te gee oor hul mediese sorg en hul regte. Die verklaring wys ook dat bewysgedrewe praktyke gevolg word in Suid-Afrika. Of dit die ideologiese kwessies gaan aanspreek op ’n beduidende wyse, is iets wat in die toekoms dalk bepaal kan word. ’n Petisie ter ondersteuning van hierdie verklaring kan gevind word op Change.org.

Kundiges wat geraadpleeg is

Pierre Brouard is ’n afgetrede akademikus voorheen verbonde aan UP en tans werksaam by PATHSA.

Jenna-Lee de Beer-Procter is ’n kliniese sielkundige in privaat praktyk en ondervoorsitter van PATHSA.

Chris McLachlan is ’n kliniese sielkundige verbonde aan (onder andere) ’n krisissentrum vir verkragtingslagoffers, lid van WPATH en voorsitter van PATHSA.

Elna Rudolph is ’n seksuoloog wat tans (onder meer) die hoof van die World Association for Sexual Health (WAS) en die kliniese hoof van MySexualHealth is.

Lee-Anne Walker is die uitvoerende direkteur van die voorspraakorganisasie Be True 2 Me, wat wedywer vir die bevordering van gelyke regte vir transgender mense.

Bronnelys:

Amsterdam UMC. 2024. Een reactie van Amsterdam UMC op de Cass review over transgenderzorg. https://www.amsterdamumc.org/nl/vandaag/een-reactie-van-amsterdam-umc-op-de-cass-review-over-transgenderzorg.htm (28 Oktober 2024 geraadpleeg).

Lees ook:

Press release: South African experts unite in a call for evidence-based care for transgender and gender-diverse young people

Whose voices matter? Trans erasure in public discourse

Die transgender kind en skole se grondwetlike verpligting teenoor leerders

Transgender: keuse of genetika?

Stadig met die sjerrie

’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

Eet gerus die pienk roomys

Feminisme: Die perspektief van ’n "bose" transgender vrou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top