...
Fear not the witches, but those who burn them.
...
Om Rebekah Bruesehoff aan te haal: “I am the scary transgender person the media warned you about.” Ek dink dis hoogtyd dat ’n transgender mens ook ’n bietjie in Afrikaans skryf.
Ek het al heelwat dinge gelees oor mense soos ek. Sommige daarvan in Afrikaans ook deur onder andere Elsabé Brits, Bettina Wyngaard en Izak de Vries. Wat my effe dwars in die krop steek, is dat die meeste (indien nie alle) Afrikaanse skryfsels deur cisgender mense geskryf is. Ek sê “effe” want daar is nie besonder baie van ons (transgender Afrikaners) nie en nie almal voel genoop om te reageer op rubrieke en ander skryfsels nie. Dis ook nie die feit dat die skrywers cis is wat nie reg sit met my nie.
...
Wat my effe dwars in die krop steek, is dat die meeste Afrikaanse skryfsels deur cisgender mense geskryf is.
...
Daar moet wel ’n handjievol van ons wees wat wel wil reageer of skep, maar dit lyk vir my dat daar stilte is. Sover is daar min skryfsels deur transgender Afrikaners. Ek dink aan Elise Bishop se outobiografie Twee lewens en die roman Bottelnek breek bek van Dianne Du Toit Albertze. Maria du Pré se verhaal in Hartlam wys ook een van die karakters wat sukkel met kwessies van genderidentiteit. Ek het self ’n stukkie geskryf in Stilet jare gelede, maar dis min. Dit is ongelooflik min. Helaas vaar Engelse transgender skrywers nie veel beter nie, met slegs drie titels waaraan ek kan dink deur Anastacia Tomson, Landa Mabenge en Robert Hamblin.
Ek kan byna my ma se stem hoor wat sê dat ek dankbaar moet wees vir wat ek het en dat ek werklik geseënd is. Ek reken as ek en my ma gepraat het oor dinge sou sy een van daardie wees wat sê: “Maar het ons nog feminisme nodig?”
Oukei, wat dan van die ander Afrikaanse LGBT+ mense wat nie ouers het met begrip nie of geen toegang tot mediese sorg nie of selfs net wil weet dat hulle nie alleen is nie? Verdien ek om gelukkiger te wees as enige ander transgender mens? Ek het geweier om in die kas te bly en daardie besluit het sy tol geëis. Ek verruil dit wel vir niks nie. Ander het nie die geleentheid om hulself te wees nie.
Die grondwet sê dat daar nie gediskrimineer mag word op grond van gender of seksuele oriëntasie nie. Wonderlik as jy leef in ’n liberale bubble waar almal die woord “kwêrts” gebruik en niemand beledig word nie. Die teenpool daarvan is transgender persone, sommige wat ek self ken of geken het, wat huil omdat hulle nie aanvaar word nie; in die kas wegkruip tot hulle op hulle eie kan bly óf selfs tot die ekstreem gaan om alles te beëindig.
...
Ons gaan jou nie probeer betas in ’n badkamer nie en ons probeer nie jou kinders trans maak nie.
...
Dit is dus vir my verblydend om te sien dat relevante en aktuele kwessies oor gepraat word in my taal. Ek is bly dat skrywers soos De Vries en Wyngaard nie verval in trans exclusionary radical feminist oftewel TERF-gesprekspunte nie en ook aktief teen sulke idees gekant is. Wyngaard het gewys daarop dat die derde golf feminisme ’n beweging is om gelykheid met mans op alle vlakke van die samelewing te kry, ongeag jou ras, genderidentiteit of seksuele oriëntasie. Dit is tog hoe dit moet wees.
Net jammer dat daar soveel verkrampte mense is wat vereistes stel vir wat ’n vrou is. Hierdie vereistes stem gewoonlik baie mooi ooreen met TERF-argumente soos “jy kan nie kinders kry nie” of “jy is nooit gesosialiseer as ’n vrou nie” of die geykte “jy sal nooit ’n vrou wees nie.”
My gunsteling bly steeds “jy’t ’n demoon in jou.”
Die ongeluk hiervan is cisgender mense kan ook skade ly, veral as jy nie pas in die kader van “vroulik” nie, maar dis dalk ’n storie vir ’n ander dag.
Wat ek agtergekom het, en dis dalk net in my bubble, is dat Afrikaanssprekende LGBT+ mense geleidelik minder erken dat hulle Afrikaans is. Daarom moet ek ’n storie deel.
Baie jare gelede het ek ’n verhouding gehad met ’n outjie op skool. Kom ons noem hom Anton. Anton het toe al geen begeerte gehad om geassosieer te word met die konserwatiewe Afrikaner nie. Die skeiding tussen hom en die Afrikanerdom het net groter geword hoe ouer ons geword het. Onder my jonger LGBT+ pelle word Afrikaans nog minder gebruik as medium van kommunikasie as by Anton. Anton weier volstrek in die meeste gevalle om Afrikaans te praat, so dink jouself net in.
Dit blyk dus dat Pannevis reg was oor Afrikaans wat vermoor word, maar dit lyk my die skuldige in ons tyd is die Afrikaner self, met eng denkwyses en dogmatiese navolging van godsdiens as twee van die moontlike wapens. Daar is baie lede van die NG Kerk wat van mening is dat die sinode moet bykom wat LGBT+ lidmate betref. Dit voel helaas vir my of daar steeds menigte is wat ons wil terugneem na die tyd van Luther en Calvyn toe. Ons sit reeds grotendeels sonder elektrisiteit, so waarom sommer nie nog ’n paar eeue terugloop nie?
Wyngaard het tereg uitgewys dat ons in hierdie era verskeie interpretasies het van wat feminisme behels. Alles van “dis nie meer nodig nie” tot “nee, ek hou van mans”, tot die stereotipiese lesbiër met kort hare in ’n check hemp wat mans blameer vir die hele wêreld se probleme.
Dan: Terwyl ons onder mekaar veg oor wie kwalifiseer as ’n feminis, neem hulle aborsieregte weg in die VSA, gesondheidsorg in die VK en sommer ook die reg vir LGBT+ mense om te bestaan in Uganda en Afghanistan. Vroue, ongeag genderidentiteit of seksuele oriëntasie, tjop die slegste af in daardie plekke, juis omdat daar strukturele ongelykhede is wat nie opgelos word nie.
Beurtkrag en korrupsie is dalk belangriker op hierdie stadium vir die Suid-Afrikaanse publiek as kwessies van aborsie of gender, maar moenie jouself bluf nie: Dit gaan een of ander tyd ter sprake kom. Stephen Fry, as ek reg onthou, het gesê: “Where America leads, England soon follows.” Dis eintlik die ganse wêreld wat volg.
...
Interseks persone soos Caster Semenya word ook deur hierdie venyn geraak. Alles net omdat hulle glo nie vrou genoeg is nie.
...
Mense wat glad nie omgee oor swem nie, was skielik baie behep oor die integriteit van vrouesport toe Lia Tomson bespreek is in die media. Gal is gebraak oor Laurel Hubbard se deelname in die Tokio-Olimpiese spele. Snaaks dat hulle stil is oor Schuyler Bailar, maar dalk omdat hy ’n transgender man is.
Laat ons ook nie vergeet nie: Interseks persone soos Caster Semenya word ook deur hierdie venyn geraak. Alles net omdat hulle glo nie vrou genoeg is nie.
In Suid-Afrika kom ons hierdie denkwyses ook teë wat eintlik stink van suiwer onkunde (soos liewe Helen Zille se onlangse tweet). Dis tog waar die idees vandaan kom dat mans pryse wil wen deur as dames deel te neem in sport of (soos Steve Hofmeyr beweer het) dat Disney wil hê jou kinders moet bestialiteit beoefen – suiwer onkunde.
Dis waarom daar mistasting is oor wat feminisme is of waarvoor die Pride-beweging hulself beywer. Feminisme en Pride is slegs twee bewegings wat hul beywer vir gelykheid:
- Ons wil nie die wêreld oorneem nie.
- Ons gaan jou nie probeer betas in ’n badkamer nie en ons probeer nie jou kinders trans maak nie.
- Ons wil net kan wees wie ons is, sonder dat dit enige gevaar vir onsself inhou.
- Ons wil mediese sorg (soos aborsies) aan almal wat dit nodig het, verskaf.
- Ons wil hê dat almal gelyk behandel word ongeag gender, oriëntasie, ras of enige ander faktor.
- Ons wil ’n veilige plek wees vir almal, insluitend jou kinders – en veral as jy hulle verwerp wanneer hulle sê “ma, ek’s skeef”.
My naam is Hermione Ellis. Ek is ’n transgender vrou en ek is ’n feminis. Bring jou haat en braak jou gal. Dit gaan my nie pla nie, want ek het nie haat binne my nie, net hartseer omdat ons onder mekaar baklei terwyl ons regte gestroop word. Fear not the witches, but those who burn them.
Bronne:
Bishop, Elise. 2020. Twee lewens. Hemel en See: Hermanus
Brits, Elsabé. 2020. Ons moet almal veilig voel – en dit geld vir gender ook. LitNet soos op 26 Mei 2023. https://www.litnet.co.za/ons-moet-almal-veilig-voel-en-dit-geld-vir-gender-ook/
De Barros, Luiz. 2022. Steve Hofmeyr claims LGBTQ+ community includes bestiality. MambaOnline soos op 28 April 2023. https://www.mambaonline.com/2022/04/01/steve-hofmeyr-claims-lgbtq-community-includes-bestiality/
De Vries, Izak. 2023. Amanda Gouws: ek is ’n feminis, nie ’n transfoob nie. LitNet soos op 26 Mei 2023. https://www.litnet.co.za/amanda-gouws-ek-is-n-feminis-nie-n-transfoob-nie/?fbclid=IwAR2ljfWzP2OM9_YdGAT7rZjKpOqlHm1okxfnMONGtaKB6kXYRzxzcqhvRkM
Du Pré, Maria. 2017. Daardie pragtige swart nommertjie. In Gerda Taljaard en Deborah Steinmair (reds.). Hartlam: kortverhale oor die liefde. Tafelberg: Kaapstad
Du Toit Albertze, Dianne. 2022. Bottelnek breek bek. Human en Rousseau: Kaapstad
Igual, Roberto. 2023. OUT calls for Helen Zille to explain “queerphobic” tweet. MambaOnline soos op 28 April 2023. https://www.mambaonline.com/2023/04/26/out-calls-for-helen-zille-to-explain-queerphobic-tweet/?fbclid=IwAR0VVtlGEaRWWJbYYaMTaqth0yUUiD_YBnJWkC8JJ3TS9h2BLYe9K_jedUw
Le Roux, Hermione. 2019. Vormloos. Stilet Digital (31):413–415
Wyngaard, Bettina. 2023. Oor Feminisme 2023. LitNet soos op 26 Mei 2023. https://www.litnet.co.za/oor-feminisme-2023/
Lees ook:
Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze
Etienne van Heerden Veldsoirée: Elise Bishop oor Twee lewens
Kommentaar
Wow! Dankie Hermione. Jou gevoel strook volkome met my eie en waarom ek aangedring het “Twee Lewens” moes eers verskyn het in Afrikaans (ek werk tans aan Engelse vertaling). As reeds “bejaard” was daar 'n Afrikaanse lewe van 70 jaar van trans ervaring om te deel in 'n stryd om alledaagse begrip te vergemaklik. Veral vir die ouers van trans seuns en dogters wat onderskraging moét bied aan hul kinders. Ek sou miskien 'n wyer publiek in Engels bereik het, maar het gevoel dis die Afrikaanse geval en ouer wat insig en begrip moes verkry. Daar was 'n groot tekort in 'n verwysingsraamwerk.
Wow! Great geskryf en ek waardeer al die lekker verwysings en die oulike boeke op jou boekrak. Ai tog, ek is nou so blessit oud en kan nie myself in 'n feminis verander kry nie. Ek't mos maar altyd hierdie ondergeskikte gevoel - ai toggie tog.
Elk geval. Gesondheid! Op hierdie lewe.
Die mens is wenbehep en wil ten alle koste wen. Daarom gryp mense altyd die geleentheid aan om transvroue uit te skakel en dit word gedoen met die argument dat sulke atlete weens testosteroonvlakke 'n voordeel het.
Watter argument kan transseksuele mans se vyande aanvoer om hulle uit sport te hou? Hulle kan nie juis dieselfde argument van testosteroon aanvoer as wat teen transseksuele vroue aangevoer word nie.
Dis goed dat daar geskryf en gepraat word oor die dinge, hoewel hierdie issues seker nooit opgelos sal word nie. Indien mens werk vanaf die tradisionele standpunt dat daar verskille tussen mans en vroue is, dan regverdig dit seker verskillende afdelings. Maar so lank as wat daardie verskillende afdelinings bestaan, so lank sal die mensdom twis en stry en redeneer en redekawel daaroor. Daar is sommige sportkodes wat nou al 'n spesiale 'ope' kategorie aanbied waarin alle atlete mag deelneem, insluitend transgender en interseksuele mense.
Miskien moet alle sportsoorte die verskillende afdelings afskaf. Dan kan almal aan dieselfde kategorie deelneem. Die atlete wat dan voel hulle word deur andere se testosteroon benadeel, moet dan seker maar kan aansoek doen om vir 'n spesiale voorsprong of ekstra punte of wat ook die geval mag wees te kwalifiseer. Ons grondwet maak juis voorsiening vir redelike diskriminasie soos employment equity, waar benadeelde mense voorkeur ontvang. Dit is dus 'n erkende beginsel in die reg.