...
Ek moes gewoonweg in haar skoene klim, in haar haaipolfaais balanseer, of ek nou wou of nie.
...
Titel: Twee lewens
Skrywer: Elise Bishop
Uitgewer: Hemel & See
ISBN: 9781998958870
Why were we crucified
into sex
why were we not left
rounded off
and finished in ourselves
~ DH Lawrence
Inderdaad, mnr Lawrence, waarom dan? Drie uit ’n duisend mense in Suid-Afrika worstel met hierdie vraag. Die meeste kry nooit die geleentheid om hulle ware self in die spieël te aanskou nie. Die waglys vir sjirurgie by Groote Schuur is 30 jaar. Jy kan ’n deeglike motor koop vir die prys wat sjirurgie onder ’n privaatpersoon se mes sou kos. Selfs om hormone te bekom, is moeilik in Suid-Afrika, om nie eers te praat van toilette waar almal welkom is nie.
En nou hierdie boek.
...
Hierdie boek kan cisgender mense help, soos dit my kon help met my eie rebellie teen Elise se binêre sienings van manwees en vrouwees.
...
Tien of wat minute gelede het ek die laaste bladsy van die outobiografie Twee lewens van Elise Bishop klaar gelees. Dit is ’n taamlike dik boek, by die 300 bladsye. Tog dink ek dat 300 bladsye beslis nie die 70 jaar van hierdie mensch se lewe kan saamvat nie.
Vir 23 jaar het Pierre van der Merwe psigies en liggaamlik gesmag na vrouwees, tot hy (Elise) in 1975 met ’n “geslagshertoewysingsoperasie” uiteindelik volwaardig vrou kon word. Uit Adam, kom Eva. Uit Pierre, deur Pierre, is Elise geskape.
Meer as 40 jaar ná die eerste manuskrip voltooi en afgekeur is, het Elise se boek vanjaar in Julie 2022 verskyn.
...
Opvallend is die toeganklikheid van Elise se verhaal. Sy skryf met ’n vloeiende, poëtiese sekerheid.
...
Terwyl ek hierdie resensie skryf, sweef die klavierklanke van Beethoven se Für Elise soos vlinders deur die voorhuis en oor my sleutelbord. Soms lig en spelerig, byna soos ek Elise weerbarstige krulkop in ’n moedswillige Kaapse windjie sou voorstel, een wat liggies pluk, sodat ’n jakarandabloeisel geruisloos in die kraag van haar bloes kan tuimel.
Die plaat speel. Soms is daar ’n pouse, ’n byna onopmerklike huiwering in die pianis se vingerval, dalk soos iemand wat met behoedsame opgewondenheid ’n roltrap na benede ry, na ’n nuwe werk of dalk die ingang van ’n hospitaal. Die hamers maak daarna vuur op die snare soos die maestro Für Elise se kruin bereik – konsternasie, die onstuimigheid van verandering en die aanpassing by ’n (tweede) lewe.
Toe die naald van die platespeler lig, skuif ek hom terug na die eerste groef. Weer dans Elise vir my in ons voorhuis.
Die rebel teen die boek
Toe ek aanvanklik gevra is om ’n resensie te skryf, was ek skepties en taamlik beangs. Ek het die taak met ’n ongewone rebelsheid aangepak. Hoe skryf ek oor iets wat pynlik teen my eie grein indruis?
...
Vir Elise was dit die hoekpunt van vrouwees, die absolute bevryding uit die stryd, die oorstap van man-gebore-vrou-word-daarom-mens-wording, ’n sjirurgiese verlossing.
...
Elise verwys met trots na haarself as ’n transseksuele persoon. Die terme transseksueel of transseksualiteit word lank reeds as argaïes beskou en word deur die grootste gedeelte van die (Suid-Afrikaanse) transgemeenskap verwerp.
Ook geslagshertoewysingsterapie word nie meer gebruik nie. Niemand tree trouens permanent oor die gendergrens in ons moderne denke nie.
Na myself verwys ek sonder voorbehoud as ’n transgender persoon.
Transgender is ’n hedendaagse term vir ’n persoon wie se psigiese en biologiese self of liggaam nie ooreenstem nie. Cisgender is die teenoorgestelde van trans, dit verwys na ’n persoon wie se psigiese en liggaamlike ervaring van self ooreenstem. Cis kom uit die Grieks, dit beteken dieselfde.
So, is transseksueel en transgender nie dieselfde nie?
Nee.
Beide terme kom dalk op dieselfde neer, maar soos met baie ander terme in Suid-Afrika, het ons aanbeweeg.
Selfs ons verstaan van die term trans – om die liggaamlike met die psigiese ervaring van self te versoen – het aanbeweeg.
’n Mens word nie ineens ’n “man” of ’n “vrou” nie. Die sosiale aspek van die transisie is ’n lewenslange aanpassing- en leerproses; want gender is ’n sosiale konstruk, ook by cisgender mense.
Ja, daar is medisinale of sjirurgiese ingrype om die psigiese en die liggaamlike ervaring van self met mekaar te versoen in trans mense, maar...
Jare gelede is transseksualiteit, die term wat Elise nog gebruik, as ’n gemoedsversteuring in die DSM-III omskryf. Dit het ’n diagnose vereis om “behandel” te word. (Almal ken die DSM, danksy Grey’s Anatomy. Dit staan vir Diagnostic and statistical manual for mental disorders.)
Die hersiene DSM-V verwys nou na genderdisforie; sagter, maar ’n “diagnose” word steeds benodig om toegang tot terapie te bekom.
Die WHO se International Classification of Diseases 11, beter bekend as ICD-11, gebruik egter die term genderonverenigbaarheid, in Engels is dit gender incongruence. Die term kom glad nie meer voor in ’n hoofstuk oor “geestessiektes” nie, nee, dit is nou bloot deel van die hoofstuk oor seksuele gesondheid.
Transseksueel en transgender is dus eenders, maar tog nie dieselfde nie.
Elise skryf in haar boek dat sy destyds as volkome “transseksueel” verklaar is, ’n titel wat sy steeds met trots toeëien.
Daar is ’n ander rede waarom Elise se reis van toentertyd met die realiteit van vandag kontrasteer: Verreweg die meeste transgender mense het nie toegang tot geslagsbevestigingsjirurgie nie. Vir Elise was dit die hoekpunt van vrouwees, die absolute bevryding uit die stryd, die oorstap van man-gebore-vrou-word-daarom-mens-wording, ’n sjirurgiese verlossing. Piere in. Persoon met penis. Elise uit. Vrou, met vagina en borste.
Nie alle trans mense wil so verander nie.
Al word ek die halfmiljoen rand wat so iets my vandag uit die sak sou jaag, aangebied, of al kry ek so ’n oproep ná die 30 jaar op ’n staatshospitaal se waglys, sou ek nooit daarvoor kies nie. Ek is mens. Volmaak, ten volle gemaak, so is my lyf vir my.
Elise se radikale transisie is dus nie noodwendig die norm nie.
My dilemma was dus aanvanklik onoorkombaar – hoe versoen ek my (eie volwaardige!) trans identiteit en ervaring van self waarvoor ek jare lank moes veg en verduidelik, met iemand wat trots verkondig dat sy (argaïes!) transseksueel is?
Hoe inderdaad?
En die antwoord aan myself? Ek moet dit doen met empatie en deernis.
Ek moes gewoonweg in haar skoene klim, in haar haaipolfaais balanseer, of ek nou wou of nie. En jeetje, wat ’n pynlike ervaring was dit nie.
Haaipolfaais skaaf naamlik ’n mens se enkels aan stukke, maar in die weke wat ek voort gestoei het, het die bloederige blase tog gesond geword.
En my eie pyn kon woorde word.
Die seuntjie wat anders was
Pierre van der Merwe het as ’n klein tjokkertjie met sy ouma se rooi handsakkie in haar huis op Graaff-Reinet gespeel.
Pierre het, sedert sy eerste onthou, anders as ander kinders gevoel. Liggaamlik en van gees was hy ook opmerklik anders. Gewone “seunsdinge” het hom nie aangestaan nie. Geen gekarretjiery nie, hy was nie ’n terggees nie. Genadiglik het sy goedhartige ouma hom laat begaan en het nooit werklik oor sy andersheid getob nie.
Elke kind behoort tog geborge in sy ouerhuis te voel.
Liewe Elise, as ek maar in my huis sorgeloos in my kortbroekie kon rondhardloop! Hierdie anderster neigings is met goeie bedoelings uit my geneuk.
Soos dit met jou gebeur het toe jou oupa moeg was vir die rooi rok.
Die onvoorwaardelike ondersteuning van sy ma en ouma, en vele ander vroue later in sy lewe is deurgaans opmerklik.
Die leeservaring
Twee lewens lees gemaklik en vertroostend in ’n eertydse Afrikaanse skryfstyl en woordeskat.
Opvallend is die toeganklikheid van Elise se verhaal. Sy skryf met ’n vloeiende, poëtiese sekerheid. Omskrywings van die omgewing en haar ervarings is genotvol en ryk. Die lees van hierdie boek het my opnuut herinner hoe diep my liefde vir Afrikaans nou eintlik lê.
Dit is meer as net ’n boek oor ’n transisie. Veel meer. Twee lewens is daarmee ook ’n eerste in Afrikaans.
Heelparty boeke oor ’n transisie vertel oor die proses, van die sogenaamde begin tot einde. Oor die mens agter die trans identiteit word daar min uitgewei.
Hier is dit anders.
Pierre tree ná sy diensplig as korporaal uit die weermag. Tydens sy diensplig het hy ook sy belangstelling in mans begin erken; hy worstel dus deur ’n legio skuldgevoelens en onsekerheid. Hy worstel ook met sy identiteit en geloof. Is dit dan alles werklik? Maak God dan ook mense soos hy?
Kort ná sy diensplig gaan sien hy op 19-jarige ouderdom ’n dokter wat hom na Groote Schuur stuur vir behandeling – ’n eerste stap in die rigting van volkome vrou word. Sy familie is egter daarteen gekant en, uit vrees, besluit hy om sy soeke na selfverwesenliking te laat vaar.
Die enorme versugting na selfbegrip wat Pierre beleef, is hartverskeurend.
Uit Pretoria, waar sy met die steun van haar pa woon en uiteindelik vir Pierre sou groet, skryf Elise: “Mense is geneig om hulle menswees as vanselfsprekend te aanvaar – mans is mos as mans gebore en vroue is vroue.”
Toe nie.
Wetenskaplike navorsing bewys dat geen van ons uitsluitlik man of uitsluitlik vrou is nie. Tussen die X- en Y-chromosome, tussen ons liggaamlike en psigiese kenmerke, is daar ’n see van tussen-inne.
- Jou geslag by geboorte is aan jou toegewys deur die medikus wat jou in die lewe gehelp het.
- Jeremia 1:5 sê: “Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is.”
- Die Boeddhiste sê dat ons onsself by geboorte ken, onsself vergeet en dan ons hele volwasse lewens spandeer om onsself weer te vind.
Ek kan verstaan dat dit vir diegene wat nog nooit oor hulle liggaamlikheid of hul ervaring van self getwyfel het nie, ’n besondere uitdaging moet wees om transwees en die onafwendbaarheid van “geslagshertoewysing” te begryp.
Hierdie boek kan cisgender mense help, soos dit my kon help met my eie rebellie teen Elise se binêre sienings van manwees en vrouwees.
Ons moet almal leer om begrip te toon vir die ander se standpunt. Dit bring versoening.
Die verligting wat Elise ervaar toe sy uiteindelik as “transseksueel” gediagnoseer word, is tasbaar. Dit is asof sy mens word, asof sy skielik werklik bestaan.
Dit is trouens ’n algemene belewenis van trans persone. Eindelik is sy eg! Vandag gebruik ons ander terme, maar Elise se uitnodiging om in haar skoene te klim, sal baie mense help verstaan.
Die binêre lewe
“Is dit verby?” vra Elise aan haar suster toe sy ná haar operasie bykom en afkyk na haar nuutgevormde vrouwees. Die hoogtepunt van haar selfverwesenliking breek uiteindelik in ’n hospitaalbed in Pretoria aan. Elisie is 23 en volkome vrou! “Ek is ’n vrou! Ag dankie Here – ek is ’n vrou!”
...
Manwees, vrouwees, menswees, was nog nooit verbonde aan hoe ’n liggaam daar uitsien nie. Ek moes myself dus herinner dat die sienswyse van man en vrou in 1975 presies hieraan gemeet is – die liggaamlike.
...
Asof sy nooit tevore vrou was nie, dink ek.
Dit was die oomblik waar ek heeltemal van Elise se haaipolfaais afgedonder het, en eenvoudig nie my balans kon hou nie.
Deernis, aanvaarding. Meelewendheid. Ek moes myself herinner.
Vandag veg die trans gemeenskap met mening teen die binêre, doelbewuste en verwoestende narratiewe van cisgender persone wat steeds redeneer dat slegs die liggaamlike bepaal wat werklik man of vrou kan en mag wees.
Manwees, vrouwees, menswees, was nog nooit verbonde aan hoe ’n liggaam daar uitsien nie. Ek moes myself dus herinner dat die sienswyse van man en vrou in 1975 presies hieraan gemeet is – die liggaamlike.
Deernis, Theo.
Die tog oor die gendergrens ná haar operasie het aan Elise besondere fisieke en emosionele pyn besorg.
In 1975 was dinge baie anders as vandag.
Wat my dwars in die krop steek, is dat sy die medici se voorskriftelikheid glad nie vreemd gevind het nie. Glad nie. Sy het dit aanvaar.
Vandag baklei trans persone en -organisasies hard teen die patologisering van die transbelewenis. Dis nie ’n siekte wat met pille en messe genees kan word nie.
Deernis, Theo.
Ten spyte van die vele beproewinge voel dit tog of Elise skielik nie alleen tuis in haar vel voel nie, maar ook ’n betekenisvolle en suksesvolle lewe lei.
Haar storie. Haar belewenis. Haar skoene. Haar woorde.
Elise se lewe was nie altyd maanskyn en rose nie.
Aangrypende verliese loop haar tegemoet. Haar ouma en ma sterf kort na mekaar. Later sterf ’n liefdesmaat onverwags. ’n Inherente oorlewingsdrang, dieselfde een wat haar gehelp het om oor die gendergrens te kon reis, dra haar deur.
Ten spyte van talle beproewinge behaal Elise groot suksesse in haar loopbaan; eers in Namibië en later in Kaapstad.
Pierre en Elise pryk in volkleur langs mekaar op die middelblad. Byna soos broer en suster wat mekaar lank reeds totsiens gewuif het. Elise is op daardie foto net so jeugdig soos Pierre eens was.
Op 70 woon Elise in ’n tuinwoonstel in die Strand wat sy met Nopsie, haar getroue Maltese-kameraad, deel. Dikwels drink sy tee op die agterstoep wat wemel van groenigheid en glasogies wat fladderend besoek aflê. Sy is geskei van haar wederhelf van 28 jaar, Marinda. Hulle het intussen tog weer maats geword. Geen oomblik gaan verby sonder Fine Music Radio op die draadloos nie. Die Mozart-borsbeeldjie hou steeds wag op die saaidbord, soos in haar boek. Ek sou graag ’n sopper daar met haar en Nopsie wou deel.
Für Elise
Weke lank het ek aan hierdie resensie geswoeg, juis omdat ek myself nie in die oë wou kyk nie.
In ’n oogwink vergeet ’n mens hoe pynlik jou eie transisie was, en is.
Eintlik is ek verstom dat Elise so vreesloos en onapologeties aan mense vertel dat sy “transseksueel” is, dat sy haar doelbewus weerloos maak, nou ook op skrif. Dit is ’n verlammende werklikheid wat ek nooit sou kon durf nie.
Everything you say, will be held against you.
Maar tog.
Elise, jy en ek is eenders, maar tog nie.
In ’n droomwêreld sou ek en jy mos maar kon geruil het by geboorte. Net soos mnr Lawrence sê. Ons sou nie mekaar se pyn kon verhoed nie, maar dalk gedemp het.
Ek het myself weer in jou boek ontmoet, dankie.
’n Getuienis
Toe ek Twee Lewens vir ’n laaste keer toeslaan, merk ek dat die platespeler se naald ongeduldig wip en gly op die langspeelplaat se gladde oppervlak. Ek spaar hom sy geskaaf, ek sit dit terug in sy groef. Für Elise, nog ’n laaste keer.
Soos ’n speelse Kaapse Suidoostertjie waai ’n mollige, blonde seuntjie huppelend die voorhuis in. Klippetieklop in sy hakskoentjies, ’n rooi handsakkie kom agterna.
’n Gebrilde tienerseun met opsigtelike borsies volg. Lomp en uitbundig val hulle mekaar om die nek en wip ritmies op die maat van Beethoven.
’n Jong man in ’n kakieuniform verskyn skielik in die deurkosyn,’n beblomde jakarandatakkie is in sy hand. Jonger Pierre deps die takkie speels, terwyl Pierre met die rooi handsakkie sy armpies opgewonde swaai soos hy sy lyfie dirigent hou.
Dit reën pers in die voorkamer.
Handsakkie-Pierre is skielik ’n bruid wat oor die pers confetti wals. Hy struikel oor die mat…
“Hallo, kleintjie. Versigtig op daardie hakkies, nè. Moenie jou handsakkie stukkend maak nie.” Dit is ’n fyn geklede krulkopdame en ’n effens geboë silwer ouma wat die kleinding help. Hulle wieg sorgsaam, hand aan hand op die maat van die klavier na binne. Terwyl ’n jeugdige Elise haar jonger sibbe opraap en omhels, gaan sit die matriarg in ’n leunstoel.
“Hallo, Ouma Elise,” sê klein Pierre, trippelend op sy hakskoentjies. “Ons is bly jy is uiteindelik hier. Ons het so lank vir jou gewag.”
Nou is almal in my voorhuis. En nou is ek ineens ook tuis.
Twee lewens is ’n getuienis van die universele menslike behoefte aan selfaanvaarding en geborgenheid. Lees dit tog met sagte oë.
Lees ook:
Etienne van Heerden Veldsoirée: Elise Bishop oor Twee lewens
Kommentaar
Absoluut uitsonderlik, hierdie resensie - veels geluk Theo!
Min mense verstaan hierdie reis. Hierdie oorgang van een geslag na die ander. Dit maak nie saak watter etiket om jou nek gehang word nie, dit bly 'n moeilike pad. Vir 26 jaar na my hertoewysing praat my broer steeds nie met my nie.
Die psigiaters (verpligtend by 'n hertoewysings program) sê ek het niemand se toestemming nodig om my lewe te lei nie, maar mens wil tóg deel wees van jou familie met goedkeuring.
Dankie vir die wonderlike resensie. En dankie Theo, dat jy bereid was om Elise se hoëhakke aan te trek en 'n paar tree in haar lewe te probeer stap.
Al verander mens van geslag, bly jy as persoon tóg maar dieselfde.
Ek was werklik gepluk deur die lees hiervan. Soveel deernis het in my kom posvat. Sterkte vir jou, liewe Elise. Ook vir die vele ander wat nog twyfel of hul moet deurdruk of nie, want hier kan mens self lees dat dit nie 'n maklike pad is nie. Sterkte weer eens.