
My se Ouma by die skemerkelkonthaal in die stadsaal saam met Gert van der Bergh (Dulcie se man; Reghardt se pa) met die maak van film King Hendrik in 1965 (Emil Nofal film) op Graaff-Reinet.
Elise Bishop skryf op Facebook (Graaff-Reinet History Group):
Ek was tot toé nog net vantevore by twee begrafnisse, Blad Brummer die undertaker en Billy Boy ouma se oujongjêrelbroer s’n, gewees. Dit was so begin 1960’s ...
In daardie dae kon die kis nog in die kerk ingedra word deur die draers, met die undertaker wat voor loop, om deel te wees vannie diens. Dis latertyd mee weggedoen by die Nuwekerk, weet nie of net daarsô nie, maar hierdie stomme lyk moes buite in die straat (binne in die hearse), in Graaffernet se warm son bly lê. G’n boom in sight vir bietjie skaduwee nie. Dis dié laat ek toe die hoë note insit en Dolly Terblanche weglê met The Lord’s Prayer oppie organ, dat ek my rug oppie gemeente gedraai het en na die hearse se kant toe vir haar nagedagtenis gesing het – allenig daar van die gallery af: “For ever and for ever! Amen.”
Dit was ook daai tyd wat die hearse so stadig aangekruip het deur die strate voor die stoet. Die lang tou karre agterna, nes ’n rusper op pad na die begraafplaas, ampers die hele lengte van Kerkstraat, van die Grootkerk tot by die Berrangébrug.
Die mense langers die straat het mos daai tyd loop stil staan en hoede gelig uit respect for the dead as die hearse verbykom.
Binne was die kis en kranse, en ’n gestorwe geliefde se liggaam; in die eerste kar agterna was die hartseer family.
By party van die hearste kon mens mos sien, deur vensters aan die kante van die opligdeur. Al die colours van die blommekranse gedrape oorie kis.
Ouma s’n was so. Sy kon nog vir oulaas vir die GKW, die Corner tearooms, die club en Grootkerk, die banke, Advertiser, library, magistraatskantoor, ou Meintjies, Drostdy, Fisheries, Gem garage, ou Nolte, Joe Kroon, die Whitlocks, Therons, Brummers, Taffie, Radium drycleaners, Van Zyls, die hele lot, almal koebaai sê soos die stoet aankruip brug toe.
Maar nooit meer sou sy Sondae die kerkklok hoor lui nie: kom kerk toe, bring ’n pennie saam; kom kerk toe, bring ’n pennie saam…
Germishuizen Undertakers, die broers Marthinus en Jannie in Murraystraat oorkant Huis Werda vannie college, was vir hierdie dag uitgekies. Wonder steeds hoekom oupa vir Marthinus en Jannie uitgesoek het? Vicky Brummer was dan vêrlangers family. Seker goedkoper. Oupa was mos maar baie gesteld op sy wallet.
Anyway, dis dáársô, by hulle ondernemerswerkswinkel in Murraystraat, wat ek ouma die laaste keer allenig koebaai kon sê. Met ’n tere soen. Op haar voorkop. Saggies gevrywe oor haar wang. Bewerig en in ’n tranedal het ek die bossie violets uit haar tuin langers haar gesig gesit.
Jannie het haar uit die yskaste loop haal daar agter, op een van daai uitgerekte silwer waentjiegedoentes met die wieletjies, en die deksel vir die gesig oopgemaak. Dis toe wat ek haar kon sien en groet ...
Hy’t naderhand my sag aan die skouer kom vat en gesê ek moet maar stadigaan huis toe se kant toe staan. Vir oulaas het ek saggies oor die kis gevrywe, die deur saggies toegemaak en op my tone uitgegaan.
Ek weet nie hoe het my bicycle by 7 Milnerstraat teruggekom nie, ek kon niks sien deur al my trane nie. En vandag, oor ’n halfeeu daarna, huil ek nog altyd steeds in my hart vir my ouma. My eie se ouma.
Ek was darem so baie lief vir hierdie vrou: Georgina Irene Barnard.
Sy’t my van kleintyd beskerm, gespoil en voorgetrek. Sy’t my van als geleer: mense, family, kosmaak, klere, kleure, maniere, blomme, plante, musiek, liefde, omgee, respect, ag man, sommer alles wat mens ’n mens maak. Sy’t my aangeskou as haar bakermat, haar eie, al was ek net ’n kleinkind.
Ouma is eerste hemel toe van ons almal: In 1969, 15th July.
Sal altyd onthou die aand wat ek en Jenine, my niggie, op die kar se agter seat op ons kniekoppe deur die agterste ruit van die kar gestaar het om te sien wanneer oupa, mammie en Nytjie uitkom uit die Midland Hospital in Albertynstraat.
Ouma het swaar en allenig daar gesterwe. Sy’t daai dae maagkanker gekry wat nie kon gekeer word deur operasies, inspuitings, pille of pleisters nie. Sy’t só erge pyn gehad, mens wou net als laat eindig. Dit was gesê deur ou Dr Albert Naudé sy’t nog darem drie maande oor, maar toe’s dit net sewe weke. Sy’s die sêlle aand nog hemel toe. Half nege. Sister Loots het gekyk oppie horlosie aan haar uniform vastgespeld.
Links gedraai, nou verby die spooroorgang vannie stasie, kragstasie en showgrounds, oorie treinspoor.
Die begraafplaas is annerkant die spoorlyn, die Grootkerk s’n eerste en dan die Nuwekerk s’n; dis einste daar, in die skaduwee van oom Dolf en ant Babse Botha se fourposter grafsteen, wat ouma se oorskot in die safte sand gebêre is. Onder rose petals uit haar eie tuin uit. Ek het die sagpienk Peace gepluk en die petals vannie roos se kroon afgemaak op die klein skinkbordjie wat om gepass was ommie graf. Van stof, tot stof sal hy vergaan waaruit hy gekom het.
Oupa het sy hande vol gehad met mammie en Nytjie se geween. Ek moes maar skuins staan. Dis toe die petals by my verbykom en ek so hartstogtelik ruk en huil, laat Jannie, die undertaker, my só vasvat aan die skouer en styf vasgehou het teen hom ...
***
Dit was ses maande later dat ek die hardste raas van my lewe gekry het by oupa én by mammie. Sommer gelykskoots. Ek het mos my hele krismisvakansie se sakgeldverdienste by Bergers, daai tyd was Gertjie Delport nog manager en mens het R36 verdien vir die Krismisvakansie se werk, geloop staan en gespandeer en in hulle oë loop uitmors, om by Vicky Brummer ’n granietblompot te laat maak vir Ouma se graf. Dis daarop waarop ek laat graveer het: “My liefste Ouma – die nagtegaal is stil…”
Hy’s vandag nog daar oppie selle plek. Net waar Vicky en ek dit gesit het oppie gravel oppie graf.
Dis net Oupa en Mammie wat nog sedert toe ôk bygekom het.
***
Ek sê maar hierdie opstel is vir haar nagedagtenis, ‘seblief. My eie Ouma.


Kommentaar
Baie, baie mooi. Maak my sommer hartseer. Kan die stoetwaens so goed onthou. Sien nou nog vir die dorp se prokureur Gerrie Smit op aandag staan met my broer se begrafnis in 1970.
So uit die hart! So spreek die groot verlange. Mooi herinnering. Well done Elise! Jou woorde beskryf ou lief en leed.
Baie dankie Elise Bishop. Dit is presies hoe ek my eie oupas en oumas se begrafnisse op Graaff-Reinet onthou. Soveel herinneringe terug gebring.
Mooi herinneringe, mooi verwoord ...
Begrafnisse is nie meer soos vroeër jare s'n nie. In my kleintyd-jare was dit gewyde oomblikke. Jy is geskrop, skoon aangetrek en in skoene ingedruk. Kan nie sê ek was al by baie nie. Hou maar liewers verby. Vir my ’n te treurige gebeurtenis. Was ook al op "lekker" begrafnisse gewees. Wyn gesyp, en goeie tye opgeroep. Was nog nie op ’n braai-begrafnis nie. Sal seker my eie wees.
Ek dink dat Elise met gebruikmaking van Grafrikaans baie ouer, destydse bewoners van ons plattelandse gebiede, veral die Graaff-Reinetters, terugneem na hul jeugjare en daarop gewys hoe sulke gebruike en waardes in moderne tye bloot verdwyn.
’n Outydse begrafnis kon nie deur die hedendaagse beperkings (bv. as gevolg van COVID-19-maatreëls en moderne tegnologie) afgewater word tot sogenaamde “celebrations of life” waar die voorheen lewende ontslapene nou ewe die hoofrol speel in sy/haar eie eulogie.
Hier het ons werklik die afgestorwene letterlik sien terugkeer tot stof ten aanskoue van rou medelye en ’n eerbiedige buig voor Hom wat ons vooruitgegaan het om ’n nuwe plek te berei waarvan die menslike oog of oor nog nie gesien of gehoor het nie, en waarvan ook nog nie in die mens sechart (gedagtes) van kennis geneem is nie.
Reusedwerg, treurigheid ten spyt skyn jou heerlike sin vir humor geslaagd dwarsdeur…!
Male sonder tal het ek saam met Tony Meyer, baie bekende kroegman wat oor die 30 jaar by die Hotel Drostdy gewerk het op die stoep gesit en die stoete gade geslaan. Omdat 'n kroegman ook 'n biegvader was, het hy die hele dorp se laste en vreugdes geken. Vir een of ander rede het almal my as Ma aangespreek en dan sê Tony: "Ma, sien jy daardie 7de motor in die stoet, daardie man het vreeslik baie van die oorledene geskinder en sleggepraat en kyk nou, dit is seker sy skuldige gewete." Daar was baie kommentaar - meestal goed en met empatie. Daardie stoete het dan my ook laat besluit om veras te word. Elise, jy is 'n treffer storieverteller.
Reusedwerg, my ma was 'n siniese vrou.
Sy het gevra dat kinders haar met 'n boeredans moes onthou. So, daar was skynbaar 'n boeredans na haar begrafnis. My oudste dogter was gebore en dit was maar 'n benoude tyd in my lewe. My eksvrou was moeilik.
My pa se begrafnis was daardie affêre met 'n kis in die sitkamer en sy gesig agter 'n glasvenstertjie, vir almal om na te kyk. Dit was 'n erg traumatiese gebeurtenis, want daar was 'n snaakse reuk; dis warm in September in die Bosveld. Dis eers 'n dekade later wat rook my reuk afgestomp het. Die swart band om 'n wit hemp se mou. Tee en toebroodjiesmeer, driehoekbroodjies na die tyd deur die sustersvereniging ... en daarna maande van swaarkry om begrafnisskuld te betaal. Ek dink, veras en strooi dit in wind ...
Pragtige skrywe. Dit is sulke skrywe wat ek as Africana beskou.
Christa Hahn ‒ ek is seker daar is baie te vertel van die ou Drostdy se dae.
Wat ’n pragstuk met absolute meegevoel geskryf! Pragtige beskrywings en ontlok soveel empatie! Metafore goed gebruik soos in "stomme lyk". Vergelykings met roosblare en peace vir ouma laat mens met soveel deernis bekyk.
Goed gedaan Elise en doe so voort ter deling van al jou emosies wat soortgelyke emosies in ons loslaat!