...
Graaffrikaans is vir my ’n spreektaal, ’n oretaal. Dis nie die Afrikaans van die taalonderwyser of predikant wanneer hy sy nering uitvoer nie, dis die algemene taalgebruik in daaglikse omgang tussen Graaffernetters met mekaar en ander.
...
In Christo van Rensburg se Van Afrikaans gepraat verduidelik hy dat Afrikaans drie verskillende spilpunte gehad het.
In die Wes-Kaap het ’n unieke taal ontstaan toe die slawe en die plaaslike inwoners hulle eie tale met dié van koloniserende Nederlands begin meng het. Daardie variant bestaan steeds en staan bekend as Kaaps. Skrywers soos Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Ashwin Arendse en Tasneem Daniels belig van die fyner variante daarvan. Ook Bettina Wyngaard lewer soms stukke in ’n variant van Kaaps.
In die Noordweste van die land het die Griekwa- en Nama-invloed ’n ander variant tot gevolg gehad, wat ook vandag nog bestaan. Dit word Gariepafrikaans genoem. Lynthia Julius, skrywer van Uit die kroes, belig graag hierdie variant. Anastasia de Vries het ook gepromoveer met ’n studie oor Gariepafrikaans. Hans du Plessis se omdigtings van bekende Bybelverse is ook gedoen in ’n poging om daardie variant te belig.
In die Oos-Kaap het ’n derde variant ontstaan, wat bekend was as Grensboerafrikaans. Die unieke vermenging van Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse setlaars, het hiervoor gesorg. Danksy protesaksies en migrasie, wat sou bekend word as die Groot Trek, het hierdie variant noordwaarts versprei.
Grensboerafrikaans sou uiteindelik die dominante variant van Afrikaans word en is uiteindelik gestandaardiseer om die weergawe te vorm waarin hierdie inleiding getik is.
Standaardisering het egter nie streeksvariante van die dominante variant uitgesluit nie en Elise Bishop, ’n gereelde bydraer tot LitNet, skryf opsetlik in Graaffrikaans – die Afrikaans wat sy uit haar jeugjare in Graaff-Reinet onthou.
Izak de Vries het haar gevra om hieroor uit te brei.
*
Elise, ek wil tong-in-die-kies sê: You mos mix your tale lekker, het jou ma jou nie properly geteach nie? Op ’n ernstige noot: Verduidelik asseblief hoekom jou Afrikaans skynbaar lukraak deurspek is met Engelse woorde en frases?
Graaffrikaans is vir my ’n spreektaal, ’n oretaal. Dis nie die Afrikaans van die taalonderwyser of predikant wanneer hy sy nering uitvoer nie, dis die algemene taalgebruik in daaglikse omgang tussen Graaffernetters met mekaar en ander. Dis ’n lui taal in soverre jy vinnig praat en dalk instinktief nie die korrekte woord kon vertaal kry nie en jy vervang hom dan met een uit die ander taal. Uit hierdie oogpunt gesien kry jy daadwerklik dat Afrikaans deurspek is met Engels, maar ook die teenoorgestelde, dus Engels deurspek met Afrikaans. Als is afhangend van waarop jou huistaal gegrond is, hetsy Afrikaans of Engels. Partymaal is dit ook nie slegs net ’n woord nie, maar selfs sinsnedes in die ander taal.
Die mag van gewoonte maak ook maar sy bydrae.
Dit kom alles egter neer op die groot invloed wat die 1820-setlaars met hul Engels gehad het op Hollands, Afrikaans, Frans – ’n merry mixture called Graaffrikaans!
En dan was daar boonop politiek ook! Boere en rooinekke ...
Jy word soms op Facebook gekritiseer dat jy jou tale te veel meng, maar dan is daar byna altyd iemand wat teenpraat en sê hulle het daar in "Graaffernet" grootgeword en hulle onthou dit ook so. In watter jare was daardie variant waarin jy skryf dominant in julle streek?
Dis waarskynlik reeds langer in gebruik as die begin van die 20ste eeu. Die twee groot skole op die dorp is gestig in die vroeë 1900's en alhoewel korrekte taalgebruik daar geleer en onderrig sou word, moet ’n mens ook nie uit die oog verloor dat Afrikaans eers in 1925 erken is as amptelike taal nie. My eie ervaring kom maar uit die eerste twintig jaar van my lewe, toe ek op Graaff-Reinet gebore is en daar grootgeword het.
Was dit die taal van Boere en die mense in die winkels? Jou oupa was ’n onderwyser, jou ma het in die hof gewerk – julle het dus "opvoeding" gehad?
Almal het Graaffrikaans gepraat – selfs die hooghartigstes. Laasgenoemdes dalk minder pertinent. Dit was ’n kommunikasiemiddel wat almal gebruik het: Die slagter praat van cutlets en nie kotelette nie; die motorwertuigkundige praat van ’n spanner en nie ’n moersleutel nie, en so kan mens aanhou ...
En dan is daar boonop nog anglisismes ook, soos flour en meel wat veralgemeen is na flouer.
As skolier het mens geweet wat is die verskil tussen reg en verkeerd, maar as mens saam gesels, “you join the team”!
Het die dominee ook so gepraat op die tennisbaan?
Ek kan dit nie met sekerheid beantwoord nie, maar ek twyfel.
Daar is sekerlik nie in Graaffrikaans gepreek nie?
Beslis nie. Preke was só hoog der tale, ’n mens is meestal huis toe sonder ’n boodskap.
Weet jy of hierdie variant waarin jy skryf, nog te bespeur is in Graaff-Reinet?
Wel, ek woon reeds afgelope 50 jaar nie meer daar nie, maar my kontak met dorpenaars sê vir my dis steeds in gebruik. Dalk nie so algemeen sedert “digitale taal” oorneem nie ... Deesdae gaan als oor petrol, loadshedding en budgets!
Jy het as jong kind ’n plaatopname vir die destydse SAUK gemaak. Op skool sou julle waarskynlik gedwing gewees het om ’n Standaardafrikaans te gebruik. Beide variante was dus aan jou bekend van jongs af. Wanneer het jy besef dat jy tussen twee tale leef – een openbaar en een veel meer privaat?
Ek het na ’n Engelse skool gegaan, en alhoewel mens reeds Engelse woorde gebruik het as ek dink aan woorde soos custard, jam, chutney, bananas, suitcase en bicycle, het ek nie geweet hoe om te vra om die kamer te verlaat nie! Die kinders het my dit tot matriek nooit laat vergeet nie. Ek was dus op ’n baie vroeë ouderdom bewus van die meng van tale.
Lees ook:
Van Afrikaans gepraat en Finding Afrikaans deur Christo van Rensburg: ’n lesersindruk
Kommentaar
Ek woon 56 jaar op Graaff-Reinet en is baie dankbaar dat ons spesiale taal so wonderlik deur Elise uitgedra is na vele hoeke van ons land. Dink nie ek weet van iemand wat dit voorheen met soveel trots gebruik het nie. My skoonsuster was op Ikeys en sy het gesê 'n student is dadelik uitgeken as 'n Graaff-Reinetter as hy Graaffrikaans gepraat het, en dit was al plus-minus 70 jaar gelede.
GRAAFRIKAANS is so eie aan Graaff-Reinet en sy kultuurgeskiedenis. Toe die museum die eerste keer die artikel oor Graafrikaans in die nuusbrief gepubliseer het, het 'n dame haar misnoeë in die plaaslike koerant onder 'Briewe' gepubliseer. Nodeloos om te sê, sy was nie 'n Graaff-Reinetter nie!
Ek kom van Colesberg af, waar daar destyds baie Engelssprekendes gebly het. Ons het grootgeword met `n soortgelyke taal as Graafikaans.Ek bly al jare lank nie meer daar nie, daarom kan ek dalk die verandering in spreekwyse duidelik waarneem. Ek weet nie of dit is omdat daar baie minder Engelse mense woon nie, maar die taal het baie meer soos standaard-Afrikaans geword.
Ek stem saam. As ek nie vinnig genoeg aan 'n woord kom nie, slaan ek sommer oor in Engels en voltooi my sin. Let's face it. Ons Graaff-Reinetters is unieke mense. Baie goed geskryf, Elise, soos net jy kan.
Dis ook bekend as swak taal of as jy beleefd wil wees, Englikaans!
Ai toggie, ons sal altyd die bitterbekke met ons hê. Ek beskou my as 'n taalpuris, maar het Graaffrikaans as ons eie kontreitaal aanvaar.
Hoe uiters bly is ek nou op dié smart artikel. My taal is ook deurspek van Engelse woorde. Kon nooit verstaan hoekom dit net so outomaties uitkom nie. Nou't dit 'n naam: Graaffrikaans.
Ps. Ek't op Hanover grootgeword. Nou weet ek ek hoef my nie onnodig deur taalpuriste te laat skuldig voel nie.
Eienaardig dat dit Graafferkaans genoem word. Ek het grootgeword met anties wat jerseys brei en om sulke woorde te gebruik was algemeen ... Ver weg van Graaff-Reinet. So geleer by my ma, wat ook seker 'n vierdegeslag nasaat van Engelse voorouers was. Ek dink dit kom wyd voor, nie net in die Karoo nie.
❤️
Daar is nog vele Graaff-Reinetters wat puik Graafikaans gebruik. Dit is net natuurlik vir hulle en ek dink dit sal so bly. Dit is nie werklik die meng van tale omdat jy lui is om die regte woord of beskrywing te gebruik nie. Oulike en voorspoedige boere gebruik dit nog, oorgeërf van geslag tot geslag. Hoe vertaal 'n Engelse boer aan sy werkers wat slegs Afrikaans magtig is? "We will have to mend the fence in the top pasture"?
My wortels lê ook in Graaff-Reinet, en nes Elise is ek vanuit die Engelse skool, Union, maar die 'taal' sal ek nooit afleer nie! Dis wie ons is en trots daarop!!!
Mý wortels lê nou weer in Stellenbosch – grootgemaak met "kies Afrikaans of Engels, maar praat dit dan 'suiwer'".
Ek is met ’n Graaff-Reinetter getroud en vind Graaffrikaans só amusant!
Dis sommer ’n lékker manier van gesels, waar boer of Brit hulle nie deur ’n gebrekkige woordeskat laat keer nie. Almal gesels saam, ruil woorde uit en verstaan mekaar met báie lag!
Ek het in Hofmeyr en Cradock grootgeword. Ons het gepraat van Ant Ella en Ant Dassie, nie van Tant Ella en Tant Dassie nie.