Van Afrikaans gepraat en Finding Afrikaans deur Christo van Rensburg: ’n lesersindruk

  • 2

Titels: Van Afrikaans gepraat en Finding Afrikaans
Skrywer: Christo van Rensburg
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799384765 en 9780799384772

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Afrikaans is een van die jongste tale ter wêreld en daarmee saam kom die lang lys vrae oor waar Afrikaans vandaan kom. Hierdie twee boeke deur wyle Christo van Rensburg is propvol inligting en lees soos ’n storieboek. ’n Storieboek met baie feite. Ek kan beslis die rooi boekie aanbeveel vir klaskamers, elke student wat Afrikaans op universiteit studeer, en elkeen wat ’n belangstelling in tale het.

Die navorsing is deeglik en uitgebrei sedert die verskyning van So kry ons Afrikaans (2012). Van Afrikaans gepraat (2018) is ook in Engels beskikbaar as Finding Afrikaans (2018), met ’n blou omslag. Dié twee veelsydige tekste verskaf hope inligting rondom die Afrikaanse taal en die herkoms daarvan. Hier word beslis deure oopgemaak ten opsigte van taalverwerwing en -bevordering.

Christo van Rensburg is bekend vir sy werk as taalnavorser en taalhistorikus, veral onder taal- en letterkundestudente, asook navorsers in sosiolinguistiek. Van Rensburg se So kry ons Afrikaans (2012) het reeds die ontwikkeling van Afrikaans as taal teruggevoer na ongeveer die 16de eeu, veel vroeër as wat in vorige naslaanwerke beweer word (Le Cordeur 2013:123). Met verwysing na Achmat Davids se navorsing maak Van Rensburg verskeie verbintenisse tussen Afrikaans en die Moslems in die Bo-Kaap, spesifiek in verband met die ontwikkeling van Afrikaans as geskrewe taal. Hierdie aspekte van Afrikaans se ontwikkeling het aansienlik bygedra tot die vestiging van die taal, alhoewel dit vir lank nie erken was nie. Van Afrikaans gepraat en Finding Afrikaans, maak ruim gebruik van Davids se navorsing soos gevind in The Afrikaans of the Cape Muslims (2011).

Wat Finding Afrikaans (2018) besonders maak, is dat dit hierdie inligting nou beskikbaar stel vir 'n leserspubliek wat nie noodwendig Afrikaans magtig is nie. Dit maak hierdie inligting ook meer toeganklik vir oorsese navorsers en potensiële lesers.

Die Afrikaanse weergawe is ideaal vir skoolklaskamers. Dit is toeganklik. Alhoewel die register meer akademies is, is dit so geskryf dat al die verwysings en tegniese terminologie nie te erg pla nie. Die boeke is die konsentraat van jare se navorsing wat in een teks saamgevat word, wat dit ’n wonderlike teks maak om as ’n hoofbron te hê vir enige klaskamer, huis of selfs studentehuis.

Ek sal beslis vreemde- of addisioneletaal-sprekers aanraai om die Engelse weergawe te lees, omdat die register ‘n bietjie hoër is as in basiese toeristeplakkate. Dit is steeds akademies geloofwaardig, alhoewel die woordeskat dalk ‘n bietjie meer gevorderd is as dié van die deursnee- Afrikaanse leser op straat. Terselfdertyd is dit nie só akademies geskryf dat die gemiddelde leser dit nie sal kan lees nie. Die Engelse teks is ook akademies van aard, maar moontlik meer toeganklik vir ’n wyer lesersgehoor. Hierdie aspek van albei boeke is waarskynlik die belangrikste voordeel van die teks. Die Engelse weergawe maak dit moontlik om die oorsprong en geskiedenis van Afrikaans vanuit Afrika te vertel op 'n wyse wat steeds interessant is, maar toeganklik is. Terselfdertyd word dit verteerbaar aangebied vir ’n internasionale leserspubliek.

Die tweede belangrike aspek is die rol van nieblanke sprekers in verband met die herkoms en ontwikkeling van die taal en dat daar erkenning gegee word aan hulle bydrae tot die vestiging van Afrikaans. Davids se navorsing, waarna Van Rensburg ruim verwys, betrek spesifiek die Moslems in die Bo-Kaap. Hierdie mense was grotendeels slawe uit Afrika en die Verre Ooste en hulle het Afrikaans in Arabies geskryf, lank voor die publikasie van Afrikaanse tekste na 1875.

Die rol van die Khoi en hulle omstandighede aangaande handel en onderhandeling vir grond, water ens word in besonder uitgelig. Die vloeibaarheid van die ware oorsprong word benadruk met die gebruik van gevallestudies en verwysings na bronne wat dateer uit so vroeg as die 1500’s (Van Rensburg 2018:17). Wanneer die onderwerpe van die eerste Afrikaanse woorde en tekste bepreek word, word hierdie vloeibaarheid selfs verder beklemtoon. Van Rensburg maak gebruik van woorde en name in bekende Afrikaanse letterkundige tekste wat terugverwys na Khoi-woorde en die vroeë vermenging met die Nederlandse woordeskat. Voorbeelde sluit in die karakter van Matiens Hessekwa in Elias P Nel se werk, waarvan sommige mense sal weet vanweë die onlangse uitsendings en voorlesings op RSG. Johnnie Klein het dié eiesoortige verhale in ’n streekvariant van Afrikaans, soos dit in die Noord-Kaap gepraat word, voorgelees.

Tog is dit belangrik om te noem dat die moderne kwessies en debatte rondom die taal in die hedendaagse Suid-Afrika ook hierin vervat is. Dit word met respek bespreek. Aandag word geskenk aan die funksies van Afrikaans, en die talle vrae rondom Afrikaans as onderrigtaal by skole en universiteite, asook kwessies rondom die Afrikaanse media word bespreek. Die omstredenheid van sensuur en die beperkings wat op Afrikaanse tekste geplaas is in die 1960’s en 1970’s, word vlugtig bespreek. Afrikaans as taal in die kunste geniet ook aandag.

Die Engelse teks hanteer dieselfde kontemporêre kwessies met sensitiwiteit, maar bring dit ook onder Engelse lesers se aandag en verskaf die gepaste konteks. Die gedeelte “visibility of the varieties of Afrikaans” stel die wanpersepsie van ’n enkele korrekte Standaardafrikaans aan die kaak. Van Rensburg begin met GR von Wielligh se optekeninge van Afrikaans in sy variëteite, wat reeds in 1925 gepubliseer is. Hy meld dat dit moeilik is om hierdie variasie te akkommodeer, veral in skoolboeke. Hy benadruk die verskynsel van variasie in Afrikaans en dat dit steeds ’n kontemporêre rol het om te speel. Al is dit moeilik om te akkommodeer, is daar plek vir erkenning.

Finding Afrikaans (2018) is ’n uitstekende bron om te gebruik vir enige taalonderrig aangaande Afrikaans, hetsy linguistiek, sosiolinguistiek of Afrikaans as kommunikasietaal, hoofsaaklik omdat hierdie bron nie Afrikaans se herkoms deur 'n Nederlandse of Europese lens aanbied nie, maar vanuit ’n perspektief waar Afrikaans lank reeds (voor die VOC se vestiging in 1652) tussen die plaaslike Khoi en Europese reisigers en handelaars gebruik is. Dit is om hierdie rede ’n Afrikataal.

Vir my as aanbieder van Afrikaans as vreemde taal aan ’n privaat instansie in Kaapstad was hierdie boek die ruggraat van die kurrikulum rondom die herkoms van Afrikaans. Die studente, almal internasionale uitruilstudente, kon die leeswerk sonder enige probleme voltooi. Tog het hulle teruggekom met baie vrae en verwarde uitdrukkings op hul gesigte.

Hierdie groep studente het aanvanklik verskillende vooropgestelde idees oor Afrikaans gehad, byvoorbeeld dat Afrikaans 'n Afrikataal in die sin van 'n swart Afrikataal is wat deur swart of bruin mense gepraat word. Van Rensburg was uiters behulpsaam in hierdie situasie, omdat daar genoeg akademiese stof was om geloofwaardigheid te verleen. Daar is intens op sy navorsing staat gemaak om te verduidelik in watter omstandighede die taal ontwikkel het. Dit het ook gehelp om te verduidelik hoekom dieselfde omstandighede nie elders in die wêreld tot ’n taal soos Afrikaans gelei het nie. Die proses van standaardisering word nie noodwendig beheer deur dié sprekers wat die nouste by die ontstaan en ontwikkeling daarvan betrokke was nie.

Die studente het tot die besef gekom dat Afrikaans baie verskuldig is aan die bydraes van die Khoi en al die tale van sprekers wat die Kaap aangedoen het. Dit sluit in die vermenging van tale onder die slawe uit die Ooste en uit Afrika. Teen die einde van die kursus het hulle 'n nuwe waardering vir Afrikaans gehad, in al sy variteite.

Ten slotte: Beide Van Afrikaans gepraat en Finding Afrikaans is beslis nuttige taalgeskiedenisverwysings vir taalstudente en skoolleerders wat meer oor Afrikaans wil leer. Die samestelling is van so ’n aard dat daar ’n goeie balans tussen die akademiese feite en waarde en die leeservaring is. Dit is geskik vir ligte plesierlees sowel as akademiese navorsing. Verdere navorsing oor die onderwerp sal definitief ’n aanwins vir die vakgebied asook die Afrikaanse taalgemeenskap wees.

 

Bibliografie

Davids, A. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims. Pretoria: Protea Boekhuis.

Le Cordeur, M. 2013. ’n Ontdekkingsreis deur die geskiedenis van Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(1):123–5.

Van Rensburg, Christo. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    Van Rensburg beweer in sy 2018-boek dat Afrikaans in 1595 ontstaan het; in sy 2012-boek selfs dat Afrikaans in 1495 ontstaan het. Dit is wensdenkery waarvoor daar geen dokumentêre bewys bestaan nie. Wat Van Rensburg gedoen het, is om oor te kompenseer vir die hedendaagse geneul oor die beweerde nie-erkenning van die rol van almal wat nie wit is nie, in die ontstaan van Afrikaans.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Is Afrikaans werklik 'n "Afrika-taal"? In menige ensiklopedie word Afrikaans beskryf as 'n "Wes Germaanse" taal. En ek kan u verseker dat, wanneer ons politici praat van "African languages", dan sluit hulle nie Afrikaans daarby in nie. Die ironie darem maar ne? Dat Afrikaans die naam van Afrika in sy titel dra, maar nie as 'n Afrika taal beskou word nie.

    Oor die ouderdom van Afrikaans, dit is vir my ietsie van 'n sinnelose filosofiese beuselagtigheid. Mens sal daaroor kan gesels as daar parameters gestel word. Soos byvoorbeeld, wanneer is 'n taal, 'n taal? Is dit wanneer dit 'n boek, 'n Bybel, 'n woordeboek of erkenning in 'n wetboek het? Sonder daardie wedersydse verstaan van wat maak van 'n taal, 'n taal, is daar gewis geen sin aan so gesprek nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top