Baie mense is nog altyd surprised om my in Kaaps te sien skryf. Evens my pa, wanner Miela’s Box uitgekom’t, het gesê: “I didn’t know Tasneem can write in Afrikaans!” Dié is nou dieselle pa wat leqqa in Kaaps innie huis skel since ek klein was. Ek kan net tog maa innie ee’ste plek Miela’s Box skryf want ek is van daai wêreld. Een van Miela se lines, “Salaam Alaykoem, kan ek verby kom”, is actually iets wat my granny (my pa se ma) gesêrit wanner sy wil afshow. Plustens kom my hele familie van District Six originally, soe daa’s oek daai.
Ek lag vi my klaa vi my ma en pa wat in hoë Engels wil praat oo politics oppie news, dan two seconds later stry hulle lelik met mekaa (“Hoekô doen djy daai! Djy’s mos onbeskof!”) as my pa tea op my ma se toon spill. Ek lag my lelik, maa daa is oek beauty en waarde in ôse unguarded moments, en daai’s wanner ôse true language roots uitkô.
Soe it baatie djy maintain daai hoë Engels’ie en jou real self suppress’ie – iewers is daa ’n trip swtich ennie walking distance na daai trip switch is ’n warme koppie rooibos tea. As mentioned, is dieselle mense wat nou my Kaaps geskrywery onner ’n microscope wil sit. Maa okay, okay, ek sal hulle halfway meet en ’n bietjie hierie confusion uitpak. Ek is after all oek ’n English major – ek het Engelse literatuurstudie tot derde jaa by UWC gestudy. Engels is oek my ee’ste taal. My ee’ste boek wat ek as ’n kind gelies’t was Noddy goes to the fair. Maa nog altyd stry ek ha’d met hulle, want ek wil hulle thinking challenge. Ek sê altyd dat om Engels te praat en om Engels te wies, of as Engels te identify, is heeltemal anners. Wie het anyway gesê dat hierie feite mean dat ek nooit ooit innie Kaaps space kan wies as ’n skrywer?
Since ek in Kaaps skryf, is daa allerande funny dinge wat uit anner mense se monne uitkô. ’n Ou colleague het vi my op Facebook gesê: “lmao for trying to talk in Afrikaans with your English accent.” Anner mense – dieselle mense wat moeite maak om my wêk in Kaaps oo en oo te lies, sê evens vi my dat hulle dink ek skryf bietere in Engels.
My ding is, ek is bilingual. Obviously gaan my Engels sensibilities overlap met my Kaaps sensibilities! Is mos tog natural, boe-op ’n reflection vannie multilingualism van Suid-Afrika. En ek gannie vi eire pa’t apologise’ie. Kaaps issie taal vannie heartbeat of the Cape Town nation – of course gaan ek pa’t van hierie movement wies as ’n storyteller en ’n born-en-bred Kaaps meisie. Ees’te ommie wit Afrikaans space te challenge en remind dat hierrie taal behoo’t aan ôs ammal, en twiede om oek die Malay Muslim Kaaps stem te maintain langsaan die res vannie giants innie Kaaps movement.
Wanner ek laas jaa as ’n poetry judge oppie Young Cape Muslim Cultural Showcase met Voice of the Cape Radio gewêk’t, het ek daai point baie gestress. Die feit dat Kaaps nie net die taal vannie gangster offie gaatjie oppie taxi is nie! Kaaps stereotypes moet nou laain, en dis tyd dat mee Malay Kaaps Muslims daai feit moet onthou ennie skaamte daa’oo los – soes ôs sê, “Skaam is Haraam.”
Dissie surprising’ie dat die jong poets wat ek in daai program ge’mentor het, nou in Kaaps skryf al hoe is hulle so-called Engels. Want hulle het dieselle ding gerealise – die feit dat Kaaps soes ’n tipe soul food is waarin djy simply net moet in dowel. Amper soes djy vi ’n lang tyd net soesji ge’iet het, en dan sien djy jou neighbour se boyfriend met ’n full house steak Gatsby dala – djy sal daai wasabi en California rolls virrie honne voer en in daai lang lyn by Golden Dish oek wil staan, al hoe dra djy hoë hakke.
Vannie Kaap express hierie idea in ’n leqqa way: “Whether you overseas or live on the Cape Flats, whether you support Springboks or the All Blacks, whether you work in an office or work in a factory, whether you live off Sassa or live like a laanie”, Kaaps belongs to us all en dissie heartbeat van ôse nation. Taal is important en moet included wies in alle conversations oo representation, en dié is pa’t van my representation, my storie as ’n Kaaps meisie-wattie-mee-maa-nog-altyd-’n-meisie-is. Om jou eie storie innie ve’keede taal oo te dra gaanie mos reg klinkie, en as djy binnebek praat kan niemand vi jou mos hoo nie.
Soe virrie mense wat het baie om te sê oo my proudly Kaaps identity, maa djy lies nog altyd my stories, issie joke op jou. As djy innie Miela’s Box audience gewies’t en vi jou klaa gelag’t, issie joke op jou. My Engels-maa-oek-Kaaps sal miskien vi jou confuse, maa in al twie tale kan ek without a doubt die waarheid praat. Miskien issit bietere use van jou tyd om net jou comments in jou back jeans pocket te hou en net die waarheid van my stories te follow, wat oek jou waarheid is. (Assitie oek jou waarheid issie, dan hoekô lies djy die ding innie ee’ste plek?) Plustens is leqqa’rer om saam Gatsby te iet as om te stry oo onorage goed’ie – daai full house by Golden Dish het ammal ôse name daa’op.
Lees ook:
Om ’n Malay Muslim-meisie in die 21ste eeu te wees – ’n mengelmoes van identiteite!
Is alles oraait byrie hys?: ’n Onderhoud met die stigter van Vannie Kaap


Kommentaar
Mense moet meer in Kaaps skryf. Hoe meer, hoe beter.