...
Lees Die kapokdokter met ’n oop gemoed, bedagsaam en met doelbewuste empatie. James Barry was merkwaardig. Loots skryf met groot verwondering oor die goeie werk wat Barry gedoen het.
...
Titel: Die kapokdokter
Skrywer: François Loots
ISBN: 9781415211106
Uitgewer: Umuzi
“Ons is almal mense. Party van ons is vryer as ander.”
- James Barry in Die kapokdokter, bl 12
In Augustus 1865 het die Britse koerante behoorlik gegons. ’n Vreeslike geheim het aan die lig gekom!
Historiese agtergrond: Wie was dié kapokdokter?
James Barry was in Augustus 1865 ’n senior hospitaalinspekteur in koningin Victoria se weermag toe hy oorlede is. Na meer as 40 jaar in die mediese korps sterf die dokter ironies genoeg aan diarree, alleen en sonder enige oorlewende familie.
Barry het bekend geword vir sy onbaatsugtige diens aan lord Charles Somerset en dié se familie gedurende Somerset se goewerneurskap aan die Kaap. Barry se moderne mediese praktyke het ook opspraak gemaak. Sy sin vir gelykheid en deernisvolle behandeling van pasiënte van aristokrate tot slawe was ongehoord. Die verbetering van higiëne in tronke en hospitale is met ywer aangepak en die totstandkoming van die hedendaagse Somerset Hospitaal in Groenpunt is grootliks aan Barry se inisiatief te danke.
So waarom die skandaal?
Tydens die lyksbesorging van James Barry is daar ontdek dat hy as vrou in die wêreld gekom het.
Dié enorme geheim is soos ’n verterende veldbrand deur die pers aangeblaas en het sy reputasie en menswees ’n ernstige knou toegedien. Daar word gesê dat die lyksbesorger, ’n verpleegter, vergoeding wou hê om hierdie geheim stil te hou; so het sy die strop van bedrieër om Barry se nek gehang.
History – haar en sy stories: Hoekom is historiese fiksie belangrik?
Historiese fiksie is ’n genre wat my geweldig interesseer; history – sy storie, haar storie, ons stories.
Die geskiedenis skenk aan ons die geleentheid om sin te maak van ons eie komvandaan en ons toekomstige keuses.
Die kapokdokter doen presies dit. Die roman laat ons toe om met ’n hedendaagse lens na ’n historiese figuur te kom. Sou ons dinge in die toekoms beter kon doen?
My geliefde geskiedenisonderwyser het altyd gesê: “Elke storie het drie kante: joune, myne en die waarheid. Dit is ons verantwoordelikheid, as vrydenkende landsburgers, om geskiedkundige gebeure te bevraagteken. Ons land se mense was nooit vry nie – sorg dat jy hierdie boodskap eendag oordra.”
Sy was ’n antiapartheidsaktivis al het sy dit nooit erken nie.
Hoekom het ek ingestem om hierdie boek te resenseer?
Sommige mense sou my vandag ’n genderaktivis noem. Ons huidige realiteit rondom gender noop ons om meer krities as ooit te dink.
Ek was nuuskierig of die verhaal weldeurdag sou wees en ’n moderne blik op die lewe van James Barry sou gooi. Die vraag was ook of ek moontlik met die karakter sou kon identifiseer.
Op die voorblad sê Joan Hambidge dat hierdie werk belangrike kommentaar lewer in ’n tyd van genderdebatte en politiek oor gender-as-’n-konstruksie. Ek is dit met haar eens, maar net tot op ’n punt.
In sy resensie van 21 November 2022 op Netwerk24 skryf Kerneels Breytenbach dat genderaktiviste sal aanvoer dat Barry ’n man was “omdat sy met mans geïdentifiseer het”. Dan maak hy hierdie vreemde opmerking: “Die kapokdokter is minder verward oor die hele kwessie, maar steeds nie byster helder nie.”
Interessant genoeg het ek Breytenbach se geskrif in my kunsklaskamer op ’n ou stuk Burger raakgesien en dit onmiddellik uitgeskeur. Daar is niks wat vuurmaak onder ’n “gender-aktivis” soos iemand wat verwarring aanvoer nie. Ek kon nie anders nie. Ek moes self uitvind. Toe LitNet my nader vir ’n resensie, was daar geen keer meer nie.
Die leeservaring
Die kapokdokter lees maklik en boei die leser reeds op die eerste bladsy waar Barry en ’n kollega in ’n tweegeveg in Nuweland se woud betrokke is. Die spanning is tasbaar.
Die verbeeldingryke beskrywings van die dorp Kaapstad en sy natuurlike omgewing is fantasties – ek kon die klam grond van die woud onder my voete voel. Ons stap gereeld in daardie bos waar Barry om sy lewe geveg het.
Loots kyk en skets fyn: die seebries in Vishoek, Kaapstad se besige hawe van toentertyd, hordes mense in die dorp met sy klein stegies, gewone mense se woonkwartiere en ook weelderige herehuise – alles baie interessant. Lord Somerset en sy familie se dinamiek is ewe fassinerend. Ons leer ook meer oor slawe en vrygestelde slawe; die verskille tussen die sosiale klasse word lewend.
En Barry? Aanvanklik word net hier en daar leidrade oor die “ware” identiteit van Barry gegee. Hy smag deurgaans na die vryheid en die stilte agter sy kamerdeur. Maar waarvan wil hy homself dan vry maak?
Dit is eers veel later in die boek dat ons agterkom dat Margaret Ann Bulkley aan die Universiteit van Edinburgh toegang verkry het tot mediese studie deur haarself as ’n man te “vermom”.
In die laat 1700’s kon geen vrou aan ’n universiteit studeer nie – vroue moes ander take verrig. ’n Oom van Barry het Barry se talent vir die akademie raakgesien en daar is saam besluit dat hierdie die enigste uitweg sou wees, ook om die familie uit armoede te red.
Vryheid
Die verlange na vryheid is deurgaans ’n tema in die boek.
Barry dra ’n korset om sy liggaamlikheid te verbloem. In ’n lang, dralende hoofstuk word hy in ’n storm vasgevang en vind hy skuiling in ’n plaashuis ver van die dorp. Hier verval hy in ’n diep verlange na bevryding en ’n hereniging met sy “ware” self – vrouwees. Hy droom oor sy kind wat hy agter moes laat. Die leser sal hier moontlik verwarring ervaar – daar word wild tussen die manlike en vroulike voornaamwoorde rondgespring.
Werk dit? Ek kyk openlik met ’n moderne oog na die boek, en die karakter. Vir my is die saak eenvoudig – dit gaan oor die persoon James Barry, ongeag of hy as man of vrou gebore is. Spekulasie oor sy verlange na sy “ware” self dien wel die verhaal, maar dit doen afbreuk aan die storielyn, veral weens die manier waarop dit eindeloos aanhou terwyl Barry sy perd se pote borsel.
Kerneels Breytenbach vind die talle verwysings na Barry as vrou interessant. Lees gerus sy resensie.
Ek, weer, kan om die dood toe nie die punt van hierdie ellelange worsteling in die konteks van die historiese fiksie verstaan nie. Met ’n eenvoudige Google-soektog kan alles oor Barry se lewe gevind word. Dieselfde retoriek word telkens voorgehou: ’n vrou wat opspraak in die geskiedenis gemaak het deur as ‘n man te lewe, bekwame sjirurg, modern mediese praktisyn.
Ek voel die strop van bedrieër om Barry se nek al stywer trek.
Wat my fassineer en irriteer
Die titel vind ek vreemd, maar kom ons ondersoek dit.
Die enigste verwysings na kapok in die roman is die dons van die kapokbossie wat Barry gebruik om sy baadjie se skouers mee op te stop.
Ek neem dus dan aan dat dit te doen het met die dokter se fisieke voorkoms, sy klein postuur. Barry is ’n kapokhaantjie. Kerneels Breytenbach bevestig dié mening in sy resensie.
Is dit moontlik ’n soort korrektief van die skrywer se kant? ’n Kapokhaantjie is ’n kordate kleinbietjieniks, dapper en reg om enige vyand aan te durf. En manlik.
Loots hou egter in die teks opgepofte skouers voor, die kunsmatigheid, die vrou wat bedrieg.
Ek het meer verwag.
Natuurlik kan daar geargumenteer word dat Barry bloot ’n vrou was wat die voorregte van manwees weens sy vermomming kon geniet. Dit is ’n gegewe – vroue kon nie dokters word nie.
...
Barry sou homself nie trans kon genoem het nie, want hy had nie daardie keuse, of selfs woordeskat nie. Ons kan egter deur hierdie lens na hom terugkyk en sê trans mense word aanhoudend verwond met dit wat die cis mensdom wil hê hulle moet wees.
...
Subtiel, of dalk selfs minder so, hou Loots die vraagteken agter Barry se naam: Man, of vrou?
Ek beskou dit as ’n strop: Waarom is dit die belangrikste gegewe van Barry se pragtige lewe?
Die vrese, die grense
Hoe het Barry sy eie menswees beleef? Hier kan ons slegs spekuleer, soos Loots. Bitter min is bekend oor Barry se persoonlike lewe.
Een feit bly staan: Hy het fisieke ondersoeke deur dokters vermy.
Selfs in die moderne tyd kan ek sy vrees verstaan:
- Een van my grootste vrese is om eendag alleen in ’n situasie te beland waar ek onder mediese sorg nie by my positiewe is nie.
- ’n Tweede is dat ek eendag ’n gemene mens sal raakloop wat my menswees (volgens sommige seker ’n geheim?) teen my sal gebruik. Loots gebruik die karakter van Cloete om hierdie kwessie aan te spreek.
Daar is maar altyd risiko aan openlikheid of openbaarmaking verbonde. Daarom dat baie trans mense nie openlik onsself kan wees nie.
Selfs in hierdie eeu bestaan die woordeskat, polities gedrewe aannames en genoeg diskriminasiegereedskap om my en my geliefdes onomkeerbare skade aan te doen. Binne oomblikke kan ek my reputasie en my professionele loopbaan kwyt wees. ’n Trans persoon ken die verlies aan outonomie soos min ander. ’n Mens besef die voorreg van vryheid indien jy dit ooit kwyt was.
Vandag nog is dit die geval. Hoeveel te meer sou Barry daarmee moes geworstel het?
Loots is nie verkeerd om dit te vra nie, maar ek voel dat Barry nie die erkenning ontvang wat hy verdien nie – juis omdat sy smagting na vrouwees in Loots se boek deurentyd beklemtoon word.
Indien ’n mens jou lewe lank as man leef – 50 jaar lank, soos Barry – waar lê die grens tussen man en vrou? Het daar ooit ’n grens vir Barry bestaan? Ek sou dink dat grense ophou bestaan en tekens van ’n vorige bestaan sou vervaag.
Dalk lê die probleem juis by die aandrang op grense.
Verreweg die meeste cis mense soek na ’n vertroostende narratief dat gender en geslag dieselfde is, dat daar streng gesproke slegs man en vrou bestaan. Selfs trans mense moet dan in hierdie geskepte bokse, die veilige cis bokse, pas.
Die transbeweging daag juis hierdie bokse uit.
Barry sou homself nie trans kon genoem het nie, want hy had nie daardie keuse, of selfs woordeskat nie. Ons kan egter deur hierdie lens na hom terugkyk en sê trans mense word aanhoudend verwond met dit wat die cis mensdom wil hê hulle moet wees.
Bokse, bokse, bokse.
“We should get over that stuff”
Voor ek aan die resensie begin skryf het, het ek eendag ’n geskiedeniskollega gevra of hy al van James Barry gehoor het. Ja, sê hy: “Wasn’t he that surgeon at the Cape in the time of Somerset? He changed policy around hygiene, and they wrote about him as a female actually …”
Inderdaad.
Dus vra ek of hy dink dat dit belangrik is dat hy as ’n vrou gebore was. Hy antwoord: “You know, we should get over that stuff. It doesn’t matter in history, as in, it doesn’t add to historical skills that we try to stimulate. History is there to learn from the past and not to repeat it; to do better.”
Ek stem heelhartig met die naby-60-jarige kollega saam. Hy is ’n cis man, weet nie dat ek trans is nie en sal waarskynlik ook nie omgee indien hy sou uitvind nie.
Gustave LeBon het gesê: “Freedom, to many, is the ability to choose their own slavery.”
Dit is ’n jammerte dat Loots gekies het om die fokus van Die kapokdokter so erg te laat verval in die vrae rondom man of vrou. Loots en die leser word daardeur in hulle eie slawerny geboei. Ek sou tog wou hoop dat ons in 2023 anders oor hierdie dinge sou kon skryf en dink.
Tog, Kerneels Breytenbach het dit anders gelees as ek. Sy resensie is aanlyn beskikbaar, lees gerus hoe hy na Loots se hantering van Barry kyk.
Die laaste woord
Lees Die kapokdokter met ’n oop gemoed, bedagsaam en met doelbewuste empatie.
James Barry was merkwaardig. Loots skryf met groot verwondering oor die goeie werk wat Barry gedoen het.
Laat geeneen van ons onsself toelaat om in die strikke en bokse te trap en daar te bly nie.
Barry het nie.
Lees ook:
Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze
Kommentaar
Theo, die menslike wyse waarop jy jou insig gebruik om te resenseer, is vir my sprekend en ek’s seker dit sal Loots groots plesier. Ek wens James Barry kon dit self gelees het!
Is dit reg om Barry by hierdie kwessie by te trek? Sy/hy is deur omstandighede gedwing om hierdie stap te neem. Dit sou ekonomies wees en die uitlewing van haar begeerte om medies te studeer. Volgens die boek sou dit net 'n tydelike "bedrog" wees, maar weer het omstandighede nie die geleentheid geskep om om te draai nie.
Barry sou in elk geval nie die term transgender geken het nie!