Amanda Gouws, ek is ’n feminis, nie ’n transfoob nie

  • 9

...
Sy verswyg gerieflikheidshalwe dat ’n cis vrou, soos sy, ook nie die geleefde ervaring gehad het om as trans vrou gebore te word nie. Sy probeer duidelik nie eens die trauma van trans vroue verstaan nie.
...

Daar het in een week twee fassinerende artikels oor feminisme verskyn, en dit nogals in die Afrikaanse media:

Beide is relevant en beide het argumente waarmee ek heelhartig kan saamstem, maar Gouws maak ’n aantal denkfoute waaroor ek nie kan stilbly nie, want Wyngaard het hierdie lieflike sin in haar artikel kwytgeraak: “My eerste reaksie was om stil te bly en niks te sê nie, maar toe besef ek stilswye stem in.”

Ek gaan in die proses ook die artikel in City Press ontleed wat op 16 April 2023 verskyn het, aangesien Gouws, met reg, kritiek uitspreek teen van die kwessies in die artikel. Gouws het laat weet dit is geskryf deur Janice Phiri.

 

  1. Struktuur

Ons gaan Gouws se transfobie aanspreek en die vraag vra of ’n meer ontwikkelde feminisme ’n relevante oplossing kan wees vir Gouws se oudmodiese, patroniserende feminisme.

Ek begin egter eers met ’n kort, ware verhaal oor ’n trans vrou uit die Transkei.

 

  1. Kom ons praat oor ’n trans vrou

Ek wil graag iemand se storie vertel.

Haar naam is L.

Ek het L ontmoet toe ek vir opleidingsdoeleindes haar storie op video vasgelê het. Ek kan nie haar naam openbaar maak nie, maar sy het toestemming gegee dat ek haar storie mag vertel:

  • L is biologies as seun gebore in die Transkei.
  • L wou altyd, van kleins af, ’n dogtertjie wees.
  • L se grootste wens as kind was om ’n skoolskoen te dra wat ’n gespe het, soos die meisies s’n, en nie een wat veters het nie, want veters is wat seuns dra.
  • L is gespot en verneder en het fisiek slae gekry weens haar desperate pogings om haarself te wees.
  • As tiener kon L dit nie meer hou nie en het sy weggeloop. Kaap toe.
  • Wat kan ’n trans meisie met geen opleiding nie in die Kaap doen om kos te kry? Jy word ’n sekswerker en maak mans gelukkig.
  • L het in die video openlik gesels oor wat sy met mans doen, hoe moeilik dit is om onder bosse te slaap, hoe gereeld sy deur die polisie uitgeskop word waar sy ook al blyplek gevind het.
  • Het sy berou oor haar keuse? Geensins. Want in die Kaap word sy aanvaar vir wie sy is. Sy het deel geword van ’n groep susters wat mans se luste benut om kos in hul mae te kry.
  • L is ’n vrou. Sy skeer elke oggend (wanneer sy ’n skeermes kan bekostig) en sy het geen sjirurgie ontvang nie en was op daardie stadium nog nie op hormoonbehandeling
  • L is ’n vrou, die ding tussen haar bene ten spyt.

Enige goeie joernalis, of ’n belangstellende akademikus, kan gerus gaan kontak maak met die susters. Daar is nog baie sulke stories.

 

  1. Gouws trap klei

Amanda Gouws begin haar berig deur te verwys na ’n artikel in City Press oor mense wat kosmetiese sjirurgie gebruik om beter te lyk.

Sy argumenteer dan so:

Om hipervroulikheid voor te hou as die norm vir vroue lei juis tot liggaamsdisforie en dra by tot dieetsiektes. Feministe veg al jare lank teen dié oordrewe fokus op die liggaam, wat daartoe lei dat vroue dink hulle moet op ’n sekere manier aantrek of vertoon om mans te plesier. Dit beeld vroue as objekte uit en dra by tot geslagsgeweld en -diskriminasie.

Ek is nie seker wat “hipervroulikheid” sou beteken nie, en Gouws definieer dit nie, maar as dit ’n onrealistiese verwagting is van wat enige iemand met haar liggaam moet doen om goed te lyk vir ander (soos mans), dan stem ek saam.

Volpunte.

Ongelukkig rafel Gouws se argument dan uit.

Sy sê:

Die Claremont-tweeling het kosmetiese chirurgie ondergaan om te beweeg van aantreklike vroue tot karikature van hul vorige self. Transgender-estetika is oordrewe vroulikheid, met dun middels, groot lippe en groot borste – selde die norm vir enige vrou.

Nou, wag: Die Claremont-tweeling is twee cis vroue wat aan Amerikaanse realiteitstelevisie deelneem. Baseer Gouws nou “transgender-estetika” op die lywe van twee cis vroue wat gedurig onder die mes is?

Dit is gewoon bisar.

Daar is meer, maar kom ons kyk eers na die artikel in City Press.

3.1 Gouws se bron in City Press

Die artikel in City Press waarna Gouws verwys, is baie deurmekaar, dalk selfs verspot. Daar is klein juweeltjies in, maar ook talle foute.

Dit begin so:

We’re seeing a steady rise in people going under the knife these days.

From the popular Brazilian butt lift surgery to buccal fat removal and the fox eye lift surgery, anyone (who has the money) can look like the models they see on social media and in magazines.

For the trans community, however, these surgeries have long been a part of the culture that allows them to move through the world in a way that feels more authentic to them.

The rise of cosmetic surgery in the world is sparking debates surrounding gender affirmation and whether cisgender women are not only partaking in it, but also adopting what can be called the trans aesthetic.

Die grootste probleem wat ek het met hierdie artikel in City Press is die aanname dat plastiese sjirurgie algemeen is onder trans vroue. Dit is egter gewoon nie waar nie.

Statistiek oor die onderwerp is dikwels onbekombaar of oud, maar in 2010 is ’n studie in die VSA gepubliseer (Grant ea 2010) wat toon dat slegs 18% van al die trans vroue wat aan die studie deelgeneem het, borssjirugrie gehad het, en dat slegs 20% van hulle ’n operasie gehad het om ’n vagina te kry.

In Suid-Afrika het ons nie sulke statistiek nie; daar is wel tans ’n PhD-studie aan die gang aan die Universiteit Kaapstad wat Suid-Afrikaanse statistiek probeer versamel.

Kom ons kyk dan na die feite wat tot ons beskikking is:

  • Plastiese sjirurgie om ’n trans vrou se gender te bevestig is peperduur (vergelykbaar met ’n nuwe motor se prys) en bitter min mense kan dit bekostig om soveel geld uit hul spaarvarkies te haal.
  • Minder as 20% van ons land se bevolking beskik oor ’n mediese fonds.
  • Bitter min mediese fondse bied hulle lede tans sjirurgie om gender te bevestig aan, en in sommige gevalle is dit slegs diegene wat die top plan het vir ’n minimum van drie jaar wat in aanmerking kom. Kyk wat dit kos en maak maar self jou somme.
  • In die staatsdiens? Bloedweinig. Daar word in die staat minder as 10 sulke operasies per jaar gedoen om trans vroue te help.

Die volgende probleem wat ek met die artikel het, is hulle definisie van “the trans aesthetic”.

Hier is dit:

The term can loosely be defined as making a series of aesthetic choices that are often closely linked to the bimbo and the exaggerated plastic surgery aesthetics.

Sjoe. Magtig. Volgens wie?

Ek is nie bekend met die term trans-estetika nie, maar ek vermoed die skrywer in City Press verstaan dit nie heeltemal korrek nie.

In 2021 het Shae Miller in die Trangender Studies Quarterly geskryf oor die lense waardeur cis mense na trans mense kyk, ook in die geval van geallieerdes of bondgenote, vriende dus van trans mense. Daar staan:

This study examines three deployments of trans aesthetics: 1) using queer to signal trans-inclusive identities and community, 2) routinizing pronoun introductions, and 3) formulating “similes of oppression” that link trans and cisgender queer people's experiences of heterosexism.

Ek sien geen verwysings na bimbo’s of plastiese sjirurgie nie.

Ook Shanté Paradigm Smalls en Elliott H Powell (2019) kyk na iets totaal anders in hul inleiding tot ’n studie oor “An ImPossibility: black queer and trans aesthetics”. Hulle sê:

The twenty-first century marks a pivotal turn in the place and struggle of queer and trans lives, bodies, and activism in the broader work for Black liberation, representation, and aesthetics. From the central leadership of queer Black women who founded the US-based #BlackLivesMatter movement, to the art-activism of South African artist Zanele Muholi, to queer imams and bishops, to the renaissance of Black independent filmmaking such as Tangerine (2015) and Auntie (2012), Black queer and trans lives are no longer (and arguably never were) ancillary or adjacent to global conversations on Black life. 

Ek kon geen akademiese artikel opspoor wat beweer trans-estetika word met bimbo’s geassosieer nie.

Selfs die sosiale media skyn die teendeel te bewys.

Hier is ’n skermgreep uit ’n Pintrest-bord genaamd “trans aesthetics” (toegang op 22 April 2023 verkry):

Op hierdie Pintrest-bord is daar een voorbeeld van ’n stereotiepe vrou in strikkies onder die opskrif “aesthetic trans”, en ek sien geen “bimbo” nie (toegang op 22 April 2023 verkry):

En op hierdie aanlyn winkel is daar onder die opskrif “Trans Aesthetic” ’n enkele foto van iemand wat dálk na ’n “bimbo” mag lyk – besluit maar self (toegang op 22 April 2023 verkry):

Gouws maak dus verkeerde aannames gebaseer op ’n artikel wat verkeerde aannames maak. Ongelukkig het sy nie daar opgehou nie.

3.2 Transfobie kan nie in 2023 geduld word nie

As Gouws maar gestop het by die afgryse van die sogenaamde bimbo, wat nou die norm moet wees, sou ek maklik kon aanneem dat sy ’n glipsie gemaak het. Ons almal het al dowwe oomblikke gehad.

Sy kla byvoorbeeld: “As ons na die estetika van trans vroue kyk uit ’n popkultuur-hoek, is die invloed groot.” Is dit waar? Of is hierdie sin ook gebaseer op een artikel wat foutiewe aannames maak? Kom ons neem aan Gouws het ’n verstaanbare blaps gemaak.

Die probleem is dat sy dan aanvalle loods op die trans gemeenskap wat niks te doen het met die vreemde artikel in City Press nie.

Sy sê openlik sy “is bereid om die risiko te loop” om ’n TERF genoem te word. TERF staan vir trans-exclusionary radical feminist.

Wel. Daar het jy dit.

Om transfobies te wees in 2023 is verkeerd en dit kan nie gedoog word nie. Gouws sal moet apologie aanteken.

As dit maar al was.

Steeds gaan sy verder en verf haarself in ’n reaksionêre hoek vas:

Maar uit ’n feministiese vertrekpunt is trans-estetika ’n ontkenning van strukturele ongelykheid, patriargie se regulering van vroue en die herposisionering van die biologiese teenoor gender as ’n konstruk.

As Gouws trans-estetika sou vervang met haar term hipervroulikheid, wat sy moontlik bedoel het, sou ’n mens dalk kon verstaan wat sy probeer sê, maar steeds is dit verkeerd. Biologie en gender het juis niks met mekaar te doen nie. En toevallig is dit wat daardie uiters problematiese artikel in City Press probeer sê; hulle verstaan wel die verskil tussen gender en biologie.

Steeds hou Gouws egter nie op nie. Sy gooi sommer ook ’n ou, uitgediende TERF-stelling in die artikel:

Trans vroue wat voorheen mans was, het nie die dieselfde geleefde ervaring as cisgendervroue gehad wat van geboorte af aan die ontvangkant van strukturele ongelykheid staan nie. Trans vroue het die voorreg van die “patriargale dividend” gehad – voorregte om as man gebore te word.

Haar eerste sin is korrek, maar sy verswyg gerieflikheidshalwe dat ’n cis vrou, soos sy, ook nie die geleefde ervaring gehad het om as trans vrou gebore te word nie. Sy probeer duidelik nie eens die trauma van trans vroue verstaan nie.

Gouws is bevoorreg om cis te wees, en sy moet dit erken.

Ten tweede is daar dalk enkele vroue wat kortstondig die “patriargale dividend” kon laat uitkeer voor hul oorgang, maar die stories wat baie trans vroue vertel, is dat hulle eerder verguis is deur die patriargie omdat hulle nie aan die patriargale verwagting kon voldoen nie. Lees gewoon maar Elise Bishop se verhaal Twee lewens (2022).

Of, lees weer wat ek oor L vertel het aan die begin van dié relaas. Sy kon geen voordeel put uit die feit dat sy as man gebore is nie.

Of doen moeite om met lede van die trans gemeenskap te gesels.

As jy steeds twyfel, kyk gerus na hierdie video deur Carl Collison:

En meer nog, lees Bernadine Evaristo se uitstekende Girl, woman, other. Dit is ’n feministiese teks wat die interseksies tussen gender, biologie, ras en seksuele voorkeure aanbied soos min ander. Die trans vrou in hierdie roman maak ’n belangrike opmerking: Die oomblik wat jy oorgaan en as vrou leef, verloor jy die laaste bietjie outomatiese regte wat soms nog met jou biologiese lyf gepaard gegaan het. Jy stap as trans vrou juis weg van enige patriargale regte.

Girl, woman, other is te koop by Graffiti.

 

  1. Bied feminisme dan ’n antwoord vir vandag se samelewing?

Bettina Wyngaard skryf:

Ek is ’n tipiese Gen X’er wat perfekte aanklank gevind het by die sogenaamde derde golf van feminisme. Ons was vroue van alle rasse, seksuele identiteite en gender-identiteite wat kon saampraat oor sosiale, ekonomiese, seksuele en ander regte. Ons het geglo daar was ’n plek vir mans om ook feministe te wees. Ons het geglo in samewerking eerder as om teen mekaar se agendas te werk, en tog ook te erken daar is binne die sambreel plek vir mense om te fokus op kwessies wat hul spesifieke belangstellingsveld behels. Sommige aktiviste wou fokus op aborsieregte, ander wou fokus op gelyke betaling vir gelyke werk en so meer.

Dit was natuurlik nie idillies nie, maar ons kon voel ons werk saam aan iets groots. Vir die heel eerste keer was feminisme nie meer ’n f-woord nie. Ons was trots om openlik feministies te wees, en ons broers, ons mans, ons vriende het openlik meegedoen om feminisme te help bevorder.

Die artikel gaan nie oor my nie, maar ek wil beaam dat ek in my voorgraadse jare ’n redelike studie van die feminisme gemaak het en dit omarm het.

Ek het, as man, die feminisme as bevrydend ervaar, juis omdat dit gereedskap gebied het om die gekke patriargale stelsel mee aan te val.

Wyngaard sê voorts dat die rol van feminisme nie uitgedien is nie:

Ons hoef net te kyk na die wyse waarop daar in Amerika binne enkele jare soveel regte van vroue en seksuele minderhede ontneem is om te weet dat ons nooit te gerus kan wees nie. Net omdat ons ’n spesifieke reg nou het, beteken nie ons gaan dit altyd hê nie. Al wat dit kos, is vir een politieke party om tradisionele waardes af te dwing om ons vas te pen in ons huise.

Vroue in Afghanistan het drie jaar gelede universiteitsopvoeding ontvang. Vandag mag hulle nie meer enige hoërskoolopvoeding ontvang nie. Vroue in Amerika kon ’n jaar gelede aborteer as hulle swanger word ná verkragting. Nou word hulle geforseer om geboorte te skenk aan die baba, of om van moord aangekla te word. Hulle is nou terug in dieselfde posisie waar hulle 40 jaar gelede was.

In die einste Amerika dryf dieselfde patriargale stelsel, wat nou vroue se aborsieregte wegneem, ook die antitransbeweging, iets waaraan Gouws lustig meedoen deur haarself as ’n TERF te laat etiketteer.

Wyngaard gaan voort:

Dis stompsinnigheid om te dink dieselfde kan nie hier gebeur nie. En dit begin by ’n sentiment dat vroue wat vra vir gelyke regte, antimans is.

Ek is Bettina Wyngaard, en ek is ’n feminis.

Viva.

Bettina se waardegedrewe, inklusiewe feminisme word op ’n vreemde manier geëggo deur die deurmekaar geskrif in City Press. Ek vind die laaste paragraaf in daardie artikel verfrissend, want dit skuif weer die beeld na feminisme:

With a widespread call for a separation between trans and cisgender women by trans exclusionary radical feminists and others, sometimes it’s good to just take a step back and see how the lives of trans and cisgender women intertwine, overlap and create beautiful moments that are propelling the voices of women, their aesthetics and the movement forward into the mainstream.

Absoluut.

Die skrywer in City Press maak talle vreemde bokspronge wat op geen duidelike feite gebaseer is nie, maar sou ons ons menswees kon “intertwine, overlap and create beautiful moments”, dan kan ons die patriargie se gekke aandrang op ’n binêre skeiding tussen “manlik” en “vroulik” teenwerk en veg vir ’n beter wêreld waarin almal gelyke regte het.

Ons moet dan ook die TERF-beweging se ewe gekke aandrang op ’n binêre skeiding tussen “manlik” en “vroulik” teenwerk.

Die transbeweging gaan lank nie meer oor ’n binêre denkwyse nie. Talle jongmense weier deesdae om “manlik” of “vroulik” te wees. Hulle wil bewustelik niebinêr wees.

Die niebinêre jeug se leefwyse hoef ook nie gesien te word as teenstrydig met die feminisme nie, want as die aandrang val op absolute, radikale gelykheid, ongeag die ding tussen jou bene, dan praat ons mekaar se taal.

Die Booker-pryswenner Berbardine Evaristo, na wie ek hier bo verwys het, se opdrag in Girl, woman, other lui:

For the sisters & the sistas & the sistahs & the sistren
& the women & the womxn & the wimmin & the womyn
& our brethren & our bredrin & our brothers & our bruvs
& our men & our mandem & the LGBTQI+members
of the human family.

Wyngaard sluit af met: “Ek is Bettina Wyngaard, en ek is ’n feminis.”

Daarom dan:

Ek is Izak de Vries.

Ek identifiseer as man en glo in gelyke regte vir almal wat identifiseer as man, vrou en niebinêr.

Ek is cis gender, en ek glo daaraan dat almal gelyke regte moet geniet, of hulle cis, trans, niebinêr of iewers op die spektrum is.

Ek is wit, en ek glo in gelyke regte vir alle rasse.

Ek is heteroseksueel, en ek glo in gelyke regte vir mense van alle seksuele oriëntasies.

Ek is ook enorm bevoorreg, met ’n goeie opleiding, drie maaltye per dag, ’n huis met lopende water en (soms) elektrisiteit. Daarom sal ek aanhou soek na ’n sosiaal-demokratiese oplossing waarmee ons die gaping tussen ryk en arm kan laat krimp, want mense soos L verdien ’n beter lewe.

Juis danksy al bogenoemde assosieer ek my gemaklik met die feminisme.

 

Bibliografie

Bishop, Elise. 2020. Twee lewens. Hemel en See: Hermanus.

Grant, JM, LA Mottet, J Tanis ea. 2010. National transgender discrimination survey report on health and health care. Washington, DC: National Center for Transgender Equality and National Gay and Lesbian Task Force.

Evaristo, Bernardine. 2020. Girl, woman, other. Penguin: Londen.

Miller, Shae (Shaeleya) D. 2021. Trans aesthetics and similes of oppression: trans-inclusive discourse in queer spaces. TSQ, 8(3):327–48. https://doi.org/10.1215/23289252-9008982.

Paradigm Smalls, Shanté en Elliott H Powell. 2019. Introduction, The Black Scholar, 49:1, 1–5, DOI: 10.1080/00064246.2019.1548054.

 

Sien ook:

Billard, TJ. 2019. “Passing” and the politics of deception: transgender bodies, cisgender aesthetics, and the policing of inconspicuous marginal identities. In Docan-Morgan, T (red), The Palgrave handbook of deceptive communication. Palgrave Macmillan, Cham. https://doi.org/10.1007/978-3-319-96334-1_24.

Davy, Z en E Steinbock. 2012. “Sexing up” bodily aesthetics: Notes towards theorizing trans sexuality. In Hines, S en Y Taylor (reds), Sexualities: past reflections, future directions. Genders and sexualities in the social sciences. Palgrave Macmillan, Londen. https://doi.org/10.1057/9781137002785_15.

 

Lees ook:

’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

Transgender: keuse of genetika?

Twee lewens deur Elise Bishop, ’n resensie

Ons moet álmal veilig voel – en dit geld vir gender ook

Só benader mens die transgender-gesprek sensitief en sinvol

Die transgender kind en skole se grondwetlike verpligting teenoor leerders

Is diskriminasie teen transgender en interseksatlete veroorloof?

Wat beteken die + in LGBTQIA+?

  • 9

Kommentaar

  • Full marks, Izak! Weldeurdagte en wesenlike opsomming van hierdie veelbesproke scenario. As mense maar net kon “live and let live”!

  • Die artikel het nie in The Citizen verskyn nie en is ook nie anononiem nie. Dit is Janice Phiri se artikel in The City Press. Baie van die punte wat ek aanvat is kritiek teen Phiri. Phiri maak die argument dat die Clermont Sisters hul estetika van 'n transgender estetika kry. Ek gee toe dat ek van argumente beter kon stel, maar ek het net 600 woorde. Wat ek bisar vind is dat ek aangeval word, maar Phiri wat duidelik nie goed ingelig is nie nie aangevat word nie. Het enige iemand al vir Phiri geskryf?

    • Izak de Vries

      Jy's korrek. Dankie, die koerant is City Press.
      Ek kon nie haar naam opspoor by die artikel nie, maar toe ek op jou aanbeveling dit onder haar naam soek, het ek dit gekry. Dankie.
      Ek sal dit bywerk.

  • Pieter De Lange

    De Vries skryf oor denkfoute en maak die volgende stelling: "Om transfobies te wees in 2023 is verkeerd en dit kan nie gedoog word nie. Gouws sal moet apologie aanteken."

    Watter denkfout is dit?

  • Patricia Witz

    Dankie Izak vir jou positiewe skrywe(s). As vrou, of dan as 'n "gender-assigned"-vrou sedert (1973), is dit terleurstellend dat die trans vrou steeds gemarginaliseerd staan. Soort van nog vis, nog vlees, die geval, dit nogal in ons nuwe demokratiese bestel waar regte seëvier. Transseksualisme en die fisieke reörientering van 'n individu is, myns insiens, selfs veel meer kompleks as wat 'n be-en-omskrywing in die sielkunde dit daarstel. Daar is ongelukkig geen skoen wat almal pas nie. Ek respekteer Amanda Gouws se reg en siening wat haar gedwing het om haar skrywe die lig te laat sien, asook dat jy, Izak, so mooi vir ons, die afwykende geslag in die bresse tree (2 x halleluja en mag die Heer jou en almal wat empaties is tog oorvloediglik seën).
    Hiermee wil ek ook, soos Jean Goosen, sê, ons is nie almal so nie. Regtig. Ons is en wil nie plastiese poppe en Barbies wees nie, ons verfoei ook oordadige boesems, boude, lippe ens! Ons wil "inblend" met ons interaksie in die samelewing en nie uitstaan as karikature nie!
    Amanda mag reg wees, daar is die uitsonderings, die sensasiesoekers en bizarre gevalle maar, weer myns insiens, wil die (trans) vrou, in wese vrou en feminis wees, want dit is die antwoord op haar soeke en uiteindelike weg tot volkomenheid.

  • Bravo. 'n Uitstekende analitiese stuk. Ek het anders verwag van 'n gerespekteerde politieke wetenskaplike. Academici (en vir my part enige persoon wat in 'n invloedryke posisie staan), behoort tog kritiese en vrye denke aan te moedig en nie met die skape saam te draf nie. Is dit nie deel van die politieke wetenskaplike se plig om goeie burgerskap en etiese optrede aan te moedig nie?

    As n mens agter die kudde aan loop...

    Dis te maklik om te sê dat mens die risiko sal neem om as Terf uitgemaak te word of gekanselleer te word. Ware insig en begrip kom alleen maar deur blootstelling aan die verhale en ervarings van die "ander".

    Het Gouws al ooit eens met 'n trans persoon 'n gesprek gevoer?

  • Michele Meyer

    Respek, Izak. Dankie hiervoor. Nugter en weldeurdag. As ma van 'n transgender kind, waardeer ek elke woord wat gerig is op inlig en opvoed.

  • Ek gee nie om as jy voel jy wil jou lyf verander nie. Daar word bittermin gepraat oor die talle mense wat die tipe gender affirming sjirurgie kry en later spyt is oor probleme wat hulle ervaar as gevolg daarvan. Ek dink dit is iets wat baie meer bespreek moet word. Met dit gesê, elke volwasse mens moet self kan besluit. Die probleem kom in wanneer ons goed soos "L is ’n vrou, die ding tussen haar bene ten spyt." Dit is bloot nie die realiteit van die mens se fisiologie nie. Dit is nie waar vir Caster Semenya nie, en dit is nie waar vir Sara Forsberg nie, en dit is verseker nie waar vir Caitlyn Jenner nie.

    Wanneer ons die realiteit van die saak begin ignoreer, raak dit problematies. Ek is ’n man wat bles is. Ek kan maak asof ek ’n man is met ’n vol kop hare soveel soos ek wil, ek kan selfs ’n toupée dra of haaroorplantings kry, maar dit gaan nie verander dat ek eintlik bles is nie. Dit raak nog meer ingewikkeld wanneer ons vir kinders begin vertel jy kan kies wat jou geslag is, want jy kan nie. Ook, die idee van "gender identity" is soos kinders wat cowboys en crooks speel. Niks fout daarmee nie, maar dit maak hulle nie cowboys en crooks nie. Daar is vrouens wat tomboys is, en daar is niks fout daarmee nie. Dit maak hulle nie mans nie. Geslag is nie iets wat jy kan kies nie, identiteit is wel iets wat jy kan kies. Caster Semenya en Sara Forsberg is intersex gebore. Dit is 'n chromosonale abnormaliteit wat gedokumenteer en mediese studies op gedoen is, waarvan ons bewus is. Ek sal dit nie op enige mens toewens nie. En net omdat jy ’n man is, beteken nie jy kan of mag nie jouself as ’n vrou gedra nie, en andersom. Dit verander net nie fisiologiese en biologies wat jy in realiteit is nie. En wanneer ons begin om te maak asof realiteit nie bestaan nie, dan het ons as samelewing heeltemal van die wa af geval.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top