
Die Wêreldatletiekfederasie (WAF) het onlangs in ’n persverklaring aangekondig1 dat hulle trans vroue wat as mans deur puberteit gegaan het, en sekere interseksatlete, gaan verbied om op die heel hoogste vlak as vroue deel te neem.
Nota bene, daar is geen verbod op hul deelname aan sport nie – hierdie atlete mag bloot nie in sekere kategorieë in die vroueafdeling deelneem aan geleenthede waarvoor top atlete gekeur word volgens wêreldranglyste nie.
In regard to transgender athletes, the Council has agreed to exclude male-to-female transgender2 athletes who have been through male puberty from female World Rankings competition from 31 March 2023.
In die geval van interseksatlete is daar ook geen algehele verbod nie, maar sulke atlete se testosteroonvlakke mag nie sekere perke oorskry as hulle op die heel hoogste vlak in die vroueafdeling wil deelneem nie.
For DSD3 athletes, the new regulations will require any relevant athletes to reduce their testosterone levels below a limit of 2.5 nmol/L for a minimum of 24 months to compete internationally in the female category in any event.
Is dit geregverdig?
Sekere aktiviste dink nie so nie. Hudson Taylor, die direkteur van Athlete Ally, is volgens Mamba Online4 “beyond devastated to see World Athletics succumbing to political pressure instead of core principles of inclusion, fairness and non-discrimination for transgender athletes and athletes with intersex traits”.
Hierdie essay probeer die feite nagaan om die WAF se besluit te verstaan en om te kyk of Taylor korrek is oor “core principles of inclusion, fairness” en dies meer.
- Definisies
Aangesien daar soveel disinformasie en wanpersepsies bestaan, is dit nodig om sekere definisies vas te lê:
- Gender: Dit is ’n sosiale konstruk. Gender het niks te doen met biologie nie. Iemand wat “vroulik”, “manlik” of “niebinêr” voorkom, tree so op weens die samelewing waarteen die persoon hulself meet.
- Geslag: By geboorte word ’n persoon se geslag bepaal deur ’n mediese persoon wat na die genitalieë kyk. “Seun” of “meisie” word dus suiwer op ’n oorsigtelike, uiterlike inspeksie van die babalyfie toegeken. Dit is nie altyd moontlik nie – sien “Interseks” hier onder.
- Interseks: Nie alle babas is duidelik vroulik of duidelik manlik by geboorte nie. Dit word dan ’n lukrake keuse watter gendermerkers die ouers gaan gebruik om hul kinders groot te maak. Soms word ’n persoon by geboorte as een geslag geïdentifiseer en vind dan later by interne ondersoeke uit dat sy of haar uiterlike voorkoms nie noodwendig die interne organe reflekteer nie. Die Engelse term DSD, oftewel differences in sex development, is vriendeliker.
- Cisgender: Beskrywing wanneer iemand se genderoriëntasie gemaklik pas by die geslag wat aan hulle toegeken is by geboorte.
- Transgender: Beskrywing wanneer iemand se genderoriëntasie nie pas by die geslag wat aan hulle toegeken is by geboorte nie.
- Niebinêr: Beskrywing wanneer iemand kies om nie die gendermerkers “manlik” of “vroulik” te dra nie, ongeag die geslag wat aan hulle toegeken is by geboorte.
- Trans vrou: Vir die belang van hierdie essay is dit nodig om te verstaan dat ’n trans vrou iemand is wie se geslag by geboorte as “manlik” gemerk is, maar wat haar gender as “vroulik” tipeer.
Die internasionale atletiekfederasie verwys spesifiek na ’n trans vrou as iemand wat as ’n man deur puberteit gegaan het. Dit beteken dus dat so ’n persoon nie toegang gehad het tot behandeling voor puberteit nie, al het sy as vrou geleef, of dat sy eers later in haar lewe kon “oorgaan”, en dus ’n ruk lank as man geleef het.
Waarom is die verwysing na puberteit belangrik? Iemand wie se geslag manlik is, se liggaam word betreklik sterk weens al die testosteroon wat tydens en ná puberteit afgeskei word. Hierdie stelling word later in meer besonderhede ondersoek.
- Gene en die moontlikheid van manipulasie
Ons gene is dikwels ons sleutel tot glorie. Dit is dalk onregverdig, maar dit is gewoon ’n feit.
Goeie gene maak van sommige mense kampioene.
Ander atlete gebruik verbode middels om beter te probeer presteer as wat hul gene gewoonlik sou toelaat. Word sulke atlete gevang, kan hulle gestraf en selfs tydelik geskors word uit atletiek.
2.1 Wettige voordeel: die fisiologie van ’n naelloper se spiere
Sport is, soos die lewe, onregverdig.
Tim Noakes spandeer die tweede hoofstuk van The lore of running aan die fisiologie en die biochemie van atlete se liggame. Dit is ’n komplekse werk wat tot op molekulêre vlak verduidelik hoe die spiere werk, en ook hoe brandstof en suurstof na die spiere oorgedra word tydens oefening. Verskeie uitgawes van die teks is in omloop en vir diegene wat ’n deeglike oorsig van ons liggame se fisiologie wil hê, is dit ’n aanbevole werk.
Vir hierdie essay is dit nodig om te weet dat sommige spiere in ons liggame baie vinniger kan saamtrek as ander. Noakes onderskei dan tussen “slow twitch (ST) fibres” en “fast twitch (FT) fibres” in daardie spiere.
Hy sê (Noakes 1985:23):
Numerous studies have shown that the muscles of outstanding athletes exhibit specific and predictable patterns of muscle fibre content according to the sport in which they excel. Thus the muscles of sprinters, jumpers and weight-lifters contain a high percentage of FT fibres, middle-distance (400 m, up to mile) runners, cyclists and swimmers tend to have equal proportions of both FT and ST fibres. In long-distance (10 km to 42 km) runners and cross-country skiers, on the other hand, the percentage of ST fibres is high.
Sebastian Coe, tans die president van die WAF, was op sy dag uitstaande in items soos die 800 m, die 1500 m en die myl. Daar is geen twyfel nie dat sy spiere ryklik bedeeld was met ’n veel hoër persentasie vesels wat vinniger saamtrek, maar dan het hy ook waarskynlik ’n gelyke hoeveelheid van die ander vesels gehad. Het dit hom ’n genetiese voorsprong gegee? Ongetwyfeld.
Of wat van Usain Bolt, die naelloper wat vir byna ’n dekade die 100 m en die 200 m oorheers het? Bolt se spiere het doodgewoon ’n veel hoër persentasie van die vesels wat vinniger saamtrek as dié van die meeste van sy teenstanders.
Bolt is ook 1,95 m lank, wat maak dat hy veel langer treë kan gee as die meeste van sy teenstanders. Sy pa en sy ma moes goeie gene gehad het.
In 2016 Olimpiese Spele het ses atlete die 100 m-finaal onder 10 sekondes afgelê.
1 Usain Bolt: 09,810 (Jamaika)
2 Justin Gatlin: 09,890 (VSA)
3 Andre De Grasse: 09,910 (Kanada)
4 Yohan Blake 09,930 (Jamaika)
5 Akani Simbine: 09,940 (Suid-Afrika)
6 Ben Youssef Meite: 09,960 (Ivoorkus).
Elkeen van die vyf atlete wat ná Bolt klaargemaak het, is ook uitsonderlik. Die feit dat Bolt geneties beter was, kan egter nie ontken word nie.
Natuurlik het ervaring getel. Natuurlik het Bolt geoefen soos min ander. Maar elkeen van die ander het ook ’n enorme deel van hul lewens gegee vir daardie klompie sekondes in Rio.
- Is dit dus onregverdig dat Bolt geneties beter was as die ander? Natuurlik is dit.
- Is dit egter verkeerd dat Bolt geneties beter was as die ander? Nee.
- Is dit relevant dat Bolt geneties beter was as die ander? Beslis.
Daar is geen wet of regulasie wat atlete verhoed om hul uitsonderlike gene te gebruik nie. Om die waarheid te sê, sport op die heel hoogste vlak se doel is om mense met uitsonderlike gene te vereer.
Daar is egter mense wat soms hul uitstekende gene verder wil verbeter deur onwettige metodes. Dit kan gedoen word deur onder meer die gebruik van opkikkermiddels, of in die toekoms selfs deur selmanipulasie.
2.2 Onwettige voordeel: opkikkermiddels
Die begrip opkikkermiddel is baie breed en ’n hele essay sou daaraan gewy kon word. Dit is egter nie die fokus van hierdie gesprek nie. Vir nou is dit gewoon relevant dat atlete middels sou kon neem wat hulle prestasie kan verbeter. Dit is egter onwettig volgens die WAF se reëls.
’n Ondergemiddelde atleet (soos ek wat hierdie artikel skryf) sou liters van die goed kon sluk en tog nooit vir Usain Bolt kon klop nie. Maar as enige een van die ander vyf atlete wat in 2016 ná Bolt klaargemaak het in ’n tyd van minder as 10 sekondes, opkikkermiddels sou geneem het, sou die uitslag moontlik anders gewees het. Hulle sou egter getoets en gestraf gewees het.
Bolt was al die jare ’n uitgesproke ondersteuner van opkikkertoetse, want hy het geweet dat, al is sy gene hoe goed, hy teen een van die ander sou kon verloor as hulle opkikkers sou gebruik.
Die wrang ironie is natuurlik dat Bolt sy heel laaste Olimpiese goue medalje moes teruggee toe Nesta Carter, ’n spanmaat in die 4 x 100 m-aflos, positief getoets het vir ’n opkikkermiddel.5
- Was dit onregverdig om Bolt se medalje terug te neem weens sy spanmaat se oortreding? Waarskynlik.
- Was dit korrek om Bolt se medalje terug te neem weens sy spanmaat se oortreding? Absoluut.
2.3 Onwettige voordeel: Genetiese manipulasie en sport
Tot onlangs was die idee dat mediese dokters ons gene kan verbeter, beperk tot wetenskapfiksie, soos in Isa Konrad se roman Toekomsmens. Maar vandag is dit reeds moontlik, en die kanse is al hoe beter dat genetiese manipulasie uiteindelik redelik algemeen sal voorkom.
Is dit verkeerd?
- Dit hang af. Navorsers dink byvoorbeeld dat medici sou kon voorkom dat kinders asma kry deur hulle selle voor geboorte te herprogrammeer. Dit sou wonderlik wees.
- Maar wat sou medici dan keer om selle te manipuleer om byvoorbeeld ’n kind te laat gebore word wat ’n veel hoër persentasie van die vesels wat vinniger saamtrek in haar spiere het as Usain Bolt? Sal sy die 100 m in minder as 7 sekondes kan hardloop? As daardie meisie dan opkikkermiddels ook neem, dan mag ons binnekort ’n vrou sien wat die 100 m in onder 6 sekondes kan hardloop.
Die punt is egter dat iemand met verbeterde gene nie eers opkikkers sou nodig hê nie.
Akademici dink reeds ’n geruime tyd aan die etiese aspekte hiervan. Andy Miah (2007) het 15 jaar gelede reeds aangedui dat die huidige wetgewing teen opkikkermiddels waarskynlik irrelevant sal word weens die moontlikheid om op genetiese vlak in te meng gryp met sportlui se prestasies.
In verstaanbare woorde sou dit beteken:
- As jy die goeie geen het, trou met ander persoon wat ook goeie gene het en maak ’n kind.
- Vergeet van opkikkers, want dit sal waargeneem word in toetse.
- Kry net ’n goeie selmanipuleerder, dan mag jy dalk jou kind op die podium van die Olimpiese Spele sien.
Is dit regverdig om kinders voor geboorte te manipuleer om as beter atlete gebore te word? Ek laat dit aan die leser oor om te besluit, maar die uwe sidder aan die gedagte.
- Fisiologiese verskille tussen mans en vroue
In ’n omgewing waar transregte ter sprake is, mag dit vreemd voorkom om ’n hele afdeling af te staan aan die (moontlik andersins uitgediende) idee van verskille tussen mans en vroue.
As hierdie essay suiwer oor die sosiologiese aspekte van uitgediende genderrolle sou gaan, dan sou dit inderdaad vreemd wees. Vroue leef byvoorbeeld langer as mans (Waldron ea 2010). Waldron ea se kontensie is dat vroulike hormone moontlik bydra tot hierdie verskynsel, maar hulle maak dit uiteindelik duidelik dat sosiale faktore, nie biologies faktore nie, ’n groter bydraer is tot vroue se langer lewens. In eenvoudige terme moet mans gewoon leer om meer soos vroue op te tree, dan sal ons langer leef.
Om langer te leef is dus grootliks ’n genderkwessie, nie alleen maar ’n geslagskwessie nie.
In sport gaan dit egter op die hoogste vlak juis nie oor gender nie. Hier gaan dit oor geslag. Wanneer dit kom by fisieke krag, is daar nie veel twyfel nie: Mans is oor die algemeen sterker as vroue (Isen ea 2014).
Enhanced physical strength is a secondary sex characteristic in males. Sexual dimorphism in physical strength far exceeds sex differences in stature or total body mass, suggesting a legacy of intense sexual selection. Upper-body strength is a particularly promising marker of intrasexual competitiveness in young men. Consequently, it is assumed that sex-influenced gene expression contributes to the development of physical strength.
In die 2016 Olimpiese Spele waar ses mans die 100 m onder 10 sekondes gehardloop het, is die 100 m vir vroue gewen deur Elaine Thompson-Herah van Jamaika in ’n tyd van 10,710 sekondes.
Dit beteken dat sou Ben Youssef Meite, wat sesde was in die mansafdeling, saam met die vroue deelgeneem het, hy gemaklik die goue medalje sou gewen het met sy tyd van 09,960.
Mans het gewoon ’n fisiologiese voorsprong.
Daardie voorsprong ontwikkel tydens puberteit wanneer testosteroon in die manlike liggaam vrygestel word.
Dit is hoekom ’n trans vrou wat as man deur puberteit gegaan het, ’n genetiese voorsprong het bo vroue wat nie daardie groot hoeveelhede testosteroon gekry het tydens hul puberteit nie.
- ’n Trans vrou met puik gene kan ’n onregverdige voorsprong hê
Die WAF het nie trans vroue verbied om deel te neem aan sport nie. Die verbod geld slegs vir die heel hoogste range van atletiek.
Gestel iemand wat as man grootgeword het, verskyn 10de op die wêreldranglys van die item waaraan hy as man wil deelneem. Sy kans om die eindronde te haal by ’n Olimpiese Spele of wêreldkampioenskap is goed, maar ’n kans op ’n goue medalje in die mansafdeling sou klein wees. As daardie persoon egter in die vroueafdeling sou deelneem, sou goud ’n sterk moontlikheid wees.
Sou dit regverdig wees? Die feite maak die antwoord maklik.
Maar mag ons trans vroue “straf” weens hul biologiese voordeel? Die antwoord op hierdie vraag is dat die vraag verkeerd is. Die WAF se verbod op bepaalde kategorieë van deelname sluit nie deelname uit nie.
Daar is opsies vir trans vroue om hulself te bewys.
4.1 Trans vroue mag teen mans deelneem
Daar is geen beletsel vir ’n trans vrou om deel te neem in die mansafdeling nie.
Dink net hoe interessant dit sou wees as ’n mooi meisie met hemelhoë bene in ’n eina bikini aantree en 09,80 sekondes later goud wen in die mansafdeling van 100 m.
Dit mag, en dit is heeltemal moontlik.
Vir die aanvaarding van trans mense sou so iets ontsettend baie beteken.
- Daar is nie ’n blanko verbod op trans atlete nie
Dit is nogeens belangrik om te verstaan dat daar nie ’n verbod op deelname is vir trans mans, trans vroue of niebinêre atlete nie.
5.1 Trans vroue wat teen mans deelneem
Die punt is reeds gemaak in 4.1, maar dis belangrik om dit weer te maak, want daar is wel redes waarom so iets problematies is, grootliks omdat talle trans vroue testosteroononderdrukkers gebruik. Die argument, soos hier bo in 4.1 gestel, dat ’n trans vrou teen cisgendermans sou kon wen, is dus geldig, maar moontlik problematies.
Trans vroue vra dan ook waarom hulle nie, soos interseksatlete, gewoon lae(r) vlakke van testosteroon mag toon vir deelname nie. Hierdie artikel sal nie dié kwessie kan oplos nie, maar dit is nodig om hul vertoë ter harte te neem.
5.2 Trans mans mag teen cis mans deelneem
Die WAF het geen beletsel geplaas op trans mans om op enige vlak deel te neem nie.
5.3 Niebinêre mense word nie per se uitgesluit nie
As ’n niebinêre persoon as man deur puberteit gegaan het, sou hulle nie op die heel hoogste vlak as vrou kon deelneem nie. Hulle sou wel in die mansafdeling kon deelneem as hulle wou.
5.4 Is dit verkeerd van die WAF om teen trans vroue te diskrimineer?
Wanneer daar teen enige minderheid gediskrimineer word, is daar dikwels emosionele trauma wat ervaar word. Dit moet erken word.
Tog wil ek glo dat daar ten minste ’n goeie poging aangewend is deur die WAF om op feitelike gronde deelname aan sekere kategorieë te stuit, en dat sodanige uitsluiting nie trans vroue se regte om in ander kategorieë mee te ding verbied nie.
Die WAF se besluit mag problematies wees vir sommige, maar dit is nie sonder feitelike gronde nie.
- Mans wat (skynbaar) as vroue deelneem
Het dit al gebeur dat mans op die heel hoogste vlak teen vroue deelneem?
Dit hang af wie jy vra.
In 1936 het die Nazi’s Gretel Bergmann daarvan weerhou om vir Duitsland deel te neem in die hoogspring, want sy was ’n Jood. In haar plek is Dora Ratjen gekies.6 Ratjen het uiteindelik vierde geëindig in die Olimpiese Spele van ’36. Twee jaar later het sy goud wen en ’n wêreldrekord opgestel tydens die Europese Spele.
Kort hierna is beweer dat Ratjen manlik is.
’n Kriminele ondersoek het plaasgevind en Ratjen is onskuldig bevind. Tog het haar pa in 1939 haar naam verander na Heinrich en daar is ook amptelik gevra dat Heinrich voortaan as ’n man sou bekend staan.
Hy het die res van sy lewe as ’n man geleef.
Hoe het dit gebeur?
Talle mense beweer dat die Nazi’s gewoon ’n man laat deelneem het om meer medaljes te probeer inoes, maar dit is nie so eenvoudig nie.
Ratjen is een van die baie kinders wat gebore is sonder dat ’n duidelike geslagsmerker aan hulle toegeken is. Dit gebeur nog steeds.
Ratjen se ouers het haar as ’n meisie grootgemaak.
Ratjen, as interseksatleet, is dus geblameer vir ’n “sonde” wat sy skynbaar nie gepleeg het nie.
Oor die insident is in 2009 ’n film gemaak, getiteld Berlin 36.
- Interseksatlete
Daar is geen beletsel op interseksatlete om op die hoogste vlak deel te neem nie, mits hulle testosteroonvlakke laer is as 2,5 nmol/L vir ’n minimum van 24 maande voor hulle internasionaal sou wou meeding in ’n vrouegeleentheid.
Dit is moontlik vir so ’n atleet om testosteroonblokker te gebruik om hierdie toegelate vlakke te handhaaf. Op hierdie manier sal hulle/sy geen onnatuurlike voordeel hê bo ander vroue nie.
Sou ’n intersekspersoon deelneem teen mans, is daar geen beletsel hoegenaamd nie. Hulle/hy kan aantree sonder probleme en hoef geen blokkers te gebruik nie.
7.1 Is testosteroonblokkers regverdig?
Die WAF se besluit is skynbaar ’n goeie oplossing, maar atlete soos Caster Semenya wil nie onnodige chemiese middels neem nie.
Semenya is ’n fenomenale atleet.
Die Olimpiese komitee se webruimte sê oor haar:7
Put simply, when fit, in-form and free to run without distraction, Semenya is almost unbeatable over the 800 m. But these are not circumstances often afforded to Semenya, who lives with a condition in which her body produces a much higher level of testosterone than most other women.
Semenya het by geleentheid verduidelik waarom hierdie chemiese middels gewoon nie vir haar werk nie: “It made me sick, made me gain weight, panic attacks, I don’t know if I was ever going to have a heart attack.”8
In dieselfde onderhoud sou sy gesê het dat sy bereid was om haar vagina te wys aan atletiekamptenare sodat hulle kan sien sy is ’n vrou.
Is dit regverdig om van Semenya en ander interseks atlete te verwag om hulle testosteroon chemies te verlaag?
Dit hang af van hoe ’n mens daarna kyk:
- Vanuit die perspektief van iemand wie se geslag vroulik is en dus relatief lae testosteroonvlakke het, sou dit regverdig blyk te wees.
- Vir Semenya, en talle ander atlete, is dit ’n hartseer dag.
Chris Mosier, die stigter van Transathlete.com, sê reguit9 die WAF se nuwe beleid sal “not protect the integrity of women’s sports and only further policing of women’s bodies”.
- Daar is ’n gevaarlike probleem wat kan kop uitsteek
Hoewel hierdie artikel probeer aantoon dat die WAF waarskynlik feitelik korrek opgetree het deur hul nuwe riglyne saam te stel, is daar ’n belangrike punt wat aangespreek moet word.
Chris Mosier10 is weer aan die woord:
The real impact will be felt by youth athletes around the world who are now unable to pursue their athletic dreams, and who are bombarded with messages from sports organisations and lawmakers telling them that they do not belong and don’t deserve the same opportunities as their peers to experience the joy, connections, and camaraderie that comes with playing sports.
Dit is ongelukkig ’n wesentlike probleem wat aangespreek moet word.
Daar is reeds soveel nyd teenoor trans, niebinêre en interseks mense dat dit alte maklik sal wees om byvoorbeeld trans kinders te verbied om deel te neem aan skoolsport – kwansuis op grond van die WAF se riglyne. Dit sou verkeerd wees, maar mense kan, en gaan waarskynlik, die WAF se riglyne misbruik.
Die WAF verbied hoegenaamd nie enige persoon om op laer vlakke deel te neem aan enige sport in die kategorie van hul keuse nie, maar Mosier se waarskuwing is geldig.
- Ter opsomming
Die titel van hierdie essay vra: “Is diskriminasie veroorloof teen transgender en interseks atlete?”
Ek het probeer bewys dat as ons suiwer na feite kyk, die besluit van die WAF korrek blyk te wees.
Dit sal wel ’n negatiewe impak op atlete soos Caster Semenya hê en sy mag selfs besluit om uit te tree as gevolg van die WAF se riglyne.
Die grootste probleem sal egter wees as transfobe hierdie riglyne buite konteks en sonder die nodige feite gebruik om trans en interseks atlete hulle reg op deelname aan sport te ontsê.
Hierdie essay is ’n poging om daardie scenario teen te werk, maar ek vrees dat dit dalk te min gaan wees om te verhoed dat talle mense seergemaak gaan word as ’n indirekte gevolg van die WAF se besluit, vandaar twee addenda.
Addendum 1: Wenners op klubvlak
Hierdie addendum het eintlik niks met die WAF se besluit te doen nie, maar ek het (beperkte) kennis van die bestuur van sportklubs.
Die WAF se riglyne geld slegs vir deelname aan die wêreldranglyste, maar sommige lede van die samelewing mag, nie altyd uit nyd nie, probeer om teen trans atlete te diskrimineer op grond van hierdie riglyne.
Dit sou dus dalk ons land se onderskeie atletiekfederasies baat om te besin oor trans vroue se reg om op klubvlak op die podium te verskyn – veral as daar geld by betrokke is. Verskeie klubatlete hardloop elke naweek in hul onderskeie kategorieë om ’n klein bedrag in ’n plaaslike wedloop te wen.
Sou atletiekowerhede, en verwante organisasies, ’n besluit neem oor trans vroue se reg om in seker kategorieë te wen, of nie, móét hierdie instansies dit duidelik maak dat geen persoon deelname aan enige wedloop of geleentheid verbied mag word op grond van hul gender nie.
Addendum 2: Skoolsport
In ’n sekere mate geld dieselfde argument in hierdie addendum as in Addendum 1. Maar hier is twee ander sake ter sprake:
- Skoolsport is as sodanig onregverdig, want kinders van alle geslagte groei teen verskillende tempo’s. Dit verg ’n totaal nuwe essay, maar dit is belangrik.
- Trans kinders moet te alle tye aangemoedig word om as hulself deel te neem. Hulle is reeds broos; transfobie mag onder geen omstandighede kinders se deelname aan sport verhoed nie, want op skool is die redes vir die WAF se besluite oor deelname aan die heel hoogste sportvlakke nog nie geldig nie.
As daar wel riglyne sou geld vir ouer trans meisies (dalk 18 jaar en ouer) se deelname aan die heel hoogste vlak van sport, sal dit moet inpas by die WAF se riglyne.
Akademiese bronne
Isen, J, M McGue en W Iacono. 2014. Genetic influences on the development of grip strength in adolescence. American Journal of Physical Anthropology, 154:189–200. https://doi.org/10.1002/ajpa.22492.
Miah, Andy. 2007. Genetics, bioethics and sport. Sport, Ethics and Philosophy, 1:2, 146–58. DOI: 10.1080/17511320701425181.
Noakes, Tim. 1985. The lore of running. Oxford University Press: Kaapstad.
Waldron, Ingrid en Susan Johnston. 1976. Why do women live longer than men?. Journal of Human Stress, 2:2, 19–30. DOI 10.1080/0097840X.1976.9936063.
Eindnotas:
1 Lees die volledige persverklaring hier: https://worldathletics.org/news/press-releases/council-meeting-march-2023-russia-belarus-female-eligibility.
2 Hierdie term is verouderd, maar verstaanbaar in die konteks. Genderaktiviste mag egter verskil.
3 Differences in sex development.
4 Lees die volledige artikel hier: https://www.mambaonline.com/2023/03/26/lgbtiq-sports-groups-slam-transgender-and-intersex-athletics-ban.
5 Die middel waarvoor Nesta positief getoets is, metielheksaanamien, kom voor in medisyne wat onder ander meer vir sinus help. Dit is egter ’n middel wat ook gebruik kan word om sportprestasies te verbeter en daarom moet die wêreld se beste atlete hulle daarvan weerhou.
6 Dora Ratjen se Olimpiese biografie is hier te lees: https://olympics.com/en/athletes/dora-ratjen.
7 Lees Caster Semenya se Olimpiese biografie hier: https://olympics.com/en/athletes/caster-semenya.
8 Die volledige artikel oor Semenya se redes waarom sy nie testosteroonblokkers wil gebruik nie, is hier te kry: https://www.theguardian.com/sport/2022/may/24/caster-semenya-800m-world-athletics-hbo-interview.
9 Lees die volledige artikel oor Mosier ea se uitsprake teen die WAF se nuwe beleid hier: https://www.mambaonline.com/2023/03/26/lgbtiq-sports-groups-slam-transgender-and-intersex-athletics-ban.
10 Ibid.
Lees ook:
’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel


Kommentaar
Ek stem saam dat die situasie mbt transseksuele atlete op skoolvlak 'n tameletjie is wat een of ander tyd aangespreek sal moet word, maar wat volwassenes betref is die bottom line doodeenvoudig die volgende: mans is op die keper vinniger en sterker as vroue.
Daar is meer as genoeg gevalle beskryf waar transvroue teen biologiese vroue meeding en dan met die louere wegstap, en dit geld vir sport op skoolvlak en hoër.
Gender is nie bloot 'n sosiale konstruk nie, soos gesien kan word uit o.a. die tragiese geskiedenis van die sielkundige John Money, en die seuntjie wie se lewe hy geruïneer het.
Die genetiese komponent van gender is ook te sien by seuntjies wat gebore woord met kloakale ekstrofie en wat verkies om as manlik te identifiseer.
Laastens: biologiese geslag word nie by geboorte “teoegeken” nie, dit word vasgelê by konsepsie, behalwe in die raar gevalle van wat voorheen interseks genoem word.
Gender is absoluut ’n sosiale konstruk, Leon. Die voorbeeld wat jy noem, is geen bewys van niks nie. Gender en geslag is twee verskillende dinge. Die probleem is juis dat mense die twee met mekaar verwar.
Snotjan, ek reken hierdie is so ‘n goeie definisie as enige ander: “Gender includes the social, psychological, cultural and behavioral aspects of being a man, woman, or other gender identity” en jy kan dit lees by https://en.wikipedia.org/wiki/Gender
Omgewing speel beslis ‘n rol in die konstruksie van gender, maar dis nie bloot ‘n sosiale konstruk nie – die mens is nie ‘n tabula rasa wie se gedrag geheel en al die gevolg van sosiale konstruksies is nie.
Die voorbeelde wat ek gegee het is juis baie relevant, omdat die betrokke seuntjies as dogtertjies grootgemaak is maar nie by daardie genderrol gepas het nie, die beste pogings van die “omgewing” ten spyt. Die voorbeelde is juis gebruik om te toon dat gender nie bloot sosiaal gekonstrueer is nie en het niks te doen met ‘n verwarring tussen gender en biologiese seks nie.
Daar is heelwat navorsing gedoen oor die verskille tussen die breine van mans en vroue, asook die effek van voorgeboortelike invloede op die fetus en op gedrag na geboorte. Dit als affekteer gedrag en dus gender. Lees gerus hier: https://eje.bioscientifica.com/view/journals/eje/155/suppl_1/1550115.xml
en laat my toe om aan te haal: “Consequently, testosterone exposure during critical periods of early development produces permanent behavioural changes. In humans, affected behaviours include childhood play behaviour, sexual orientation, core gender identity and other characteristics…”
Mans is ook meer geneig tot narsisme en psigopatie as vroue, soos beskryf deur DP Schmitt in The Evolution of Sexuality, Springer International Publishing, 2015.
Testosteroon speel ‘n rol in aggressie: https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC3693622/
Oftewel, verskeie buite-sosiale faktore beïnvloed gedrag, en baie aspekte van gedrag is deel van gender.
Daar word dikwels gesê (en tereg ook) dat seksuele oriëntasie nie ‘n keuse is nie – oftewel, dis buite mens se beheer. Ek het beslis nie gekies om seksueel aangetrokke tot vroue te voel nie – dit het vanself gebeur sonder dat ek dit kon kies, dis nie ‘n sosiale konstruk nie. Ditto met mense wat aangetrokke voel tot dieselfde geslag. Waarom sou gender dan anders wees?
Daar is vele ander voorbeelde.
Die feit dat gender en geslag in die meeste gevalle ooreenstem, en dit by uiteenlopende groepe mense oral op aarde, bewys dat gender nie ’n sosiale konstruk is nie. Natuurlik is daar ’n klein groepie mense (1 uit 40 000 volgens die meeste navorsers) by wie dit nie ooreenstem nie. Hierdie groepie is so klein dat die samelewing ’n regverdige oplossing (sonder diskriminasie) vir hulle kan vind. Die probleem vandag is dat mense wat nie transgender is nie, beweer hulle is om voordele te bekom.
Raaaight. En seuntjies dra blou hempies en meisies pienkes. Het hom so.
Daardie stelling sal eintlik beter pas by gender as ’n sosiale konstruk.
Die uitdaging kan maklik aangespreek word. Laat die transgenders teen mekaar meeding. Alle besluite wat gemaak gaan word gaan in elk geval as diskriminasie teen die persone gesien/vertolk word. Dit is al oplossing wat ek kan voorstel. Indien iemand beter voorstel het sal ek graag dit wil sien. Ek wonder of boks, karate en ander kontaksporte ook ingesluit gaan word.
Nee, wat! Gender is 'n linguistiese konstruk. In Duits is 'n tafel manlik, of jy nou 'n blou of 'n pienk tafeldoek oor hom gooi of nie. En wat weet 'n kind nou? Hy is sommer nog onskuldig en onsydig. 'n Man en 'n vrou? Ja, dis nou heeltemal 'n ander saak.
Angus, "woke" politieke korrekte taalkundige konstrukte is bollie. As ek in oggend met regs rig toilet toe struikel, dan weet ek mos ek is man, al het ek ook nou pienk nagjurk aan ...
Ek spog nie, dis nogals pynlik op my ouderdom om nog met pishoring wakker te word.
Angus daar is gendertipiese gedrag by kinders, dws gedrag wat meestal by een biologiese geslag voorkom en nie by die ander nie. Daar is egter taamlike oorvleueling.
Ek voorsien en hoop dat transgenders in die nabye toekoms hulle eie atletiekitemspasies gaan hê.
Hoekom probeer om die verskillende genetikas, of dan cisgenders, transgenders direk in konflik te laat deelneem teen mekaar?
Dankie.
Hans, wat praat jy so ongeërg van 'n urinemonster? Ek is erg, dog ferm, deur die sportklub waaraan ek behoort daarop gewys dat ek onvanpas is om te vra dat ek in die damesliga muurbal mag speel. Hulle wil ook nie toegee dat ek saam met hulle mag stort nie. So ek wet nie meer nie. Het jy raad?
Chris Erasmus, ek dra geen pienk nagjurk. In ons voortyd het harde baard manne ook nagjurke gedra, nie omdat hul "woke" was nie, maar dit was mode.
Oor die pishoring, dit begin mos wanneer hormone inskop in tienerjare, saam met nat drome.
Ek het darem paar vroue geken wat muurbal beter as mans gespeel het. 'n Paar manne het hulself teen mure sien vashardloop teen vrouespelers.