Transgender: keuse of genetika?

  • 2

Liné Loff gesels met Ockie Vermeulen oor sy LitNet Akademies-artikel: “’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel”.

Hallo, Ockie. Baie geluk met jou artikel wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het.  

Die onderwerp – transgender persone – laat sommige mense dikwels dadelik terugdeins omdat hulle reeds die idee het dat transgender “verkeerd” of “sondig” is, wat tot gevolg het dat hulle nie bereid is om meer oor die onderwerp te leer nie. Hoe sou jy in ’n neutedop vir so iemand verduidelik wat dit beteken as iemand transgender is?

Hallo Liné, dankie vir die vraag. Ek sou graag vir so iemand wou vertel dat menswees ’n ongelooflik komplekse maar ook kosbare verskynsel is. Ons sien daagliks soveel verskeidenheid rondom ons: lang mense, kort mense, mense met bruin oë, mense met groen oë ... soveel variasie. Tog, as dit by genderidentiteit en seksuele oriëntasie kom, sien sommiges dit as óf reg óf verkeerd. Iemand wat transgender is, is soos enige ander mens deel van die wye variasie van hierdie skepping.

Wat is van die grootste wanpersepsies van transgender persone waarvan jy bewus is?

Wanpersepsies rakende transgender persone? Ek sou reken dat mense dink dis ’n keuse.

Kan embrio’s, fetusse en kinders se omgewings só bestuur of beheer word dat die kanse om transgender te wees verminder word? Of is die genetiese komponent die deurslaggewende faktor?

Navorsing wys dat die komplekse wisselwerking tussen genetika en die omgewing in utero die deurslaggewende rol speel. Hierdie merkwaardige proses vul my met verwondering. En dan word menslike ingryping nie ’n vraag van moontlikheid al dan nie, maar eerder ’n etiese en morele dilemma. Hoekom sou ons dit wou beheer of manipuleer, en waar trek mens die streep? Sou jy wou beheer uitoefen oor die kleur van jou kind se oë?

Jou kwalifikasies is in musiek en ekonometrie, en jy is tans ’n vyfdejaar- mediese student. Hoekom het jy besluit om navorsing oor die transgenderverskynsel te doen?

Voorheen het ek navorsing oor seksuele oriëntasie gedoen omdat mense se veroordeling oor ander wat nie soos hulle dink nie, my ongelooflik ontstel het. Ek het probeer wys dat dit nie ’n keuse is nie; inteendeel, eerder ’n biologiese variasie. Dieselfde met transgender persone. ’n Koerant het berig oor ’n transgender persoon wat sy been verloor het as gevolg van komplikasies na ’n geslagsherbelyningsoperasie. Die kommentaar op hierdie berig was angswekkend.

Kan jy vertel hoekom die NG Kerk as aanknopingspunt gebruik is in jou navorsing?

Bloot omdat die NG Kerk gereeld in die publieke oog is oor standpunte aangaande selfdegeslagverhoudings. Die debat is nog beperk tot seksuele oriëntasie en woorde soos kerkskeuring word reeds geopper. Ek het gewonder, met seksuele oriëntasie wat soveel tweespalt veroorsaak, hoe die kerk ten opsigte van uiteenlopende genderidentiteite sou reageer. Hoewel genderidentiteit en seksuele oriëntasie twee onafhanklike begrippe is, is dit wel konsepte wat buite die heteronormatiewe val.

Het jy enige praktiese aanbevelings ten opsigte van maniere om van of met transgender persone te praat?

Presies soos wat jy met enige ander mens sou praat. Ek hoop ons kan, as samelewing, weg beweeg van oor/van mense praat en streef na met mense praat.

Is daar enige toeganklike bronne wat jy kan aanbeveel vir diegene wat verdere inligting wil bekom?

Deesdae is die internet vol inligting. GLAAD (www.glaad.org) is ’n redelik toeganklike webwerf met interessante inligting.

Lees ook

’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Marié Jacobs

    Dankie vir jou groot bydrae om die onkunde in konserwatiewe en geslote gemeenskappe teen te werk, Ockie. Ek het groot waardering daarvoor. Twee ander bronne wat ek sterk aanbeveel, is: ‘n uitstekende dokumentêr oor transgender mense, DISCLOSURE en Mark Gevisser se boek wat einde verlede jaar verskyn het, “The Pink Line”. Ek het pas die e-boek begin lees. Beskikbaar by Amazon. Marié

  • Enkele opmerkings oor Vermeulen se heeltemal aanvaarbare geskrif oor transseksualiteit.
    1) Dit wil my voorkom asof hy onbewus is daarvan dat sommige transaktiviste en sogenaamde gender-studies deur, um, akademici biologiese seks beskou as ‘n sosiale konstruk.
    2) Dit is interessant dat die politiek-korrekte frase “toegekende geslag” telkens en herhaaldelik deur Vermeulen gebruik word. ‘n Fenotipies normale neonaat het nie, soos in nie, ‘n “toegekende” geslag nie. Geslag, in normale fenotipes, word nie tydens bevrugting of na geboorte “toegeken” nie – dit is net eenvoudig daar, in elke fenotipies normale neonaat en daar is geheel en al geen, soos in geen, rede om aan die kind se geslag “toe te ken” nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top