Die navorser Ockie Vermeulen se artikel “’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel” het onlangs in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling verskyn. Pieter GR de Viliers gesels na aanleiding van die artikel met Elma de Vries, ’n stigterslid van die Professional Association for Transgender Health South Africa (PATHSA), oor begrippe en aspekte wat gesprekvoerders moet deurdink om verantwoordelik en sensitief oor die onderwerp te besin.
Jy het heelwat navorsing oor gendersake gedoen. Dit is tans ’n saak wat in die brandpunt staan en besonder sensitief is. Kan jy asseblief meer vertel oor jou navorsing oor en blootstelling aan die tema? Waarom het jy in hierdie saak belanggestel?
My belangstelling het begin toe ek jare gelede by ’n genderwerkswinkel wat by ons kerk gehou is, besef het dis ’n veld waarvan ek bitter min verstaan. Ek het ook lidmate leer ken wat transgender is. Ons kerk (Good Hope MCC) is inklusief en fokus spesifiek daarop om mense met ’n seksuele oriëntasie of genderidentiteit wat nie inpas in die samelewing se hetero- en cisnormatiewe verwagtinge nie, te laat welkom voel. Liesl Theron, wat die nieregeringsorganisasie Gender DynamiX begin het, was op daardie stadium in ons gemeente. Ek het as vrywilliger betrokke geraak by Gender DynamiX, die eerste nieregeringsorganisasie in Afrika wat spesifiek opgestaan het vir die regte van transgendermense. My navorsing het later gevolg na ek baie gewonder het oor hoe ons mediese personeel in transgendergesondheid kan oplei.
In die gesprek oor transgender is daar nog veel verwarring oor sake soos seksuele oriëntasie, genderidentiteit, interseks en transgender. Wat is die belangrikste begrippe wat mense moet ken om sinvol oor die saak te praat en hoe sou jy die begrippe kortliks beskryf?
Ja, daar is inderdaad nog baie verwarring, selfs onder sommige medici. Soos die artikel waaroor ons gesels dit mooi uiteensit, is seksuele oriëntasie en genderidentiteit totaal verskillende konsepte. Een manier om dit te beskryf, is: Seksuele oriëntasie is met wie ek in die bed spring, en genderidentiteit is wie ek is wanneer ek in die bed spring. Interseks en transgender is ook verskillende konsepte. Interseks het te doen met fisieke geslag (wat tussen jou bene is), terwyl transgender te doen het met genderidentiteit (wat tussen jou ore is). Interseks verwys na variasies in ’n persoon se seksuele kenmerke en voortplantingsorgane, wat nie inpas in die tipiese definisies van vroulik of manlik nie. By geboorte kan dit dan moeilik wees om te sê of dit ’n dogtertjie of ’n seuntjie is. Party mense verkies die term diversiteit van seksuele ontwikkeling (Engels DSD: Diversity of Sexual Development). Ockie Vermeulen se artikel beskryf hoe seksuele differensiasie in utero plaasvind, en hoe variasies kan ontstaan.
Die meerderheid van ons samelewing, veral in kerklike konteks, praat nog oor man en vrou as die twee geslagte waartoe mense behoort. Waarom is hierdie binêre verstaan van gender verouderd en kan dit aanstoot gee?
Alhoewel daar deur die eeue heen in alle samelewings mense was wat nie ingepas het in die binêre verstaan van geslag nie, was die dominante verstaan, veral in die Westerse samelewing, manlik en vroulik. Dit is dalk omdat ons as mense daarvan hou om in kategorieë te dink – dit maak die wêreld eenvoudiger om te verstaan. Hedendaagse navorsing dui daarop dat heelwat mense hulleself buite die binêre verstaan sien. Dit is beter om te dink oor gender as ’n spektrum eerder as twee pole. Omdat daar meer openheid is, is dit ook nou meer moontlik vir niebinêre persone om uitgesproke te wees oor hulle genderidentiteit. Een studie het bevind dat ongeveer 35% van transgendermense as niebinêr identifiseer; hulle voel nie tuis in een van die pole van manlik of vroulik nie (James ea 2016).
Die verstaan van transgendergesondheid ontwikkel geweldig vinnig. Ons kan nie meer daaroor praat soos nog ’n jaar of vyf gelede daaroor gepraat is nie. Hoekom vorder die debat so vinnig? Hoe vergelyk studies oor genderidentiteit in ons land met internasionale tendense? Wat is van die belangrikste aspekte wat aandag moet kry?
Transgendergesondheid is ’n redelik nuwe veld, en die woordeskat is nog aan die ontwikkel. Dis ook ’n veld waar transgenderaktiviste baie uitgesproke is en nie wil hê dat cisgender-gesondheidspersoneel voorskriftelik moet wees oor hulle gesondheidsorg nie. Van die ouer terminologie is uitgedink deur cisgendermense, en word deur transgendermense as beledigend ervaar. ’n Voorbeeld is om na ’n transvrou te verwys as “manlik-tot-vroulik” – dit bevestig net weer die binêre verstaan van gender. Studies in Suid-Afrika het tot dusver hoofsaaklik op die ervarings van transgendermense gefokus. Diskriminasie, geweld en beperkte toegang tot gesondheidsorg is groot temas wat met internasionale navorsing ooreenstem. Van die statistieke is om van te huil. In een studie het die 232 Suid-Afrikaanse transgenderrespondente rapporteer dat 79% verbale geweld, 61% fisieke geweld en 62% seksuele geweld ervaar het in hulle leeftyd (Müller ea 2019).
Wat is die oorsprong van genderidentiteit? Wat is die faktore wat genderidentiteit bepaal?
Ek wens daar was maklike antwoorde! Dit is goed beskryf in die artikel deur Vermeulen: dat genderidentiteit in die brein vasgelê word in die tweede trimester van swangerskap. Navorsers soos Polderman beskryf dit as multifaktoriaal – genetiese faktore speel ’n rol, asook omgewingsfaktore – die intra-uteriene omgewing van die fetus (Polderman ea 2018).
Wat is vir jou tipiese maniere waarop mense hul transgenderidentiteit hanteer?
Daar is nie regtig tipiese maniere nie; elke mens se reis is anders en uniek. Party mense weet al van ’n jong ouderdom dat hulle anders is, ander ontdek eers later as volwassenes wie hulle werklik is. Hoe mense dit hanteer hang van hulle omgewing af. In ’n vyandige omgewing waar transgendermense nie aanvaar word nie, steek mense dikwels hulle ware identiteit weg en is selfdood ’n hoë risiko. In ’n omgewing waar daar goeie ondersteuning is, kan so ’n persoon ’n pad stap met sosiale transisie en mediese behandeling om hulle liggaam met hulle genderidentiteit te belyn.
In my hantering van die betrokke artikel vir publikasie het dit vir my duidelik geword dat die onderwerp vir vele van ons plaaslike navorsers nog ’n randverskynsel en selfs ’n obskuriteit is, laat staan nog vir die gewone publiek. Sommige mense verbind kruweg en oningelig die verskynsel nog grotendeels met fopdossery of met mans wat stilletjies vroueklere dra. Nou onlangs nog het ’n student egter vir my vertel dat transgender al ’n meer openlike verskynsel en besprekingspunt in jongmensgeledere is. In universiteitskoshuise is daar al persone wat hulself openlik as transgender beskou en voorhou. Het jy enige statistieke of inligting wat wys hoeveel persone hulself as transgender beskou? Kan ’n mens die statistiek vertrou in die lig van die feit dat vele hul transgenderidentiteit wegsteek uit vrees vir stigmatisering en verwerping?
Ja, dis moeilik om akkurate plaaslike statistiek te kry, juis oor die stigma, soos jy tereg uitwys. Dit hang ook af van watter definisies gebruik word en of niebinêre mense ingesluit word. Internasionaal is dit tot 2,7% (Goodman ea 2019), soos in Vermeulen se artikel genoem. Dit beteken dat in ’n klas van 100 studente daar maklik twee kan wees wat as transgender identifiseer. Die statistieke internasionaal is aan die toeneem soos wat daar meer aanvaarding is in die samelewing en mense nie meer hoef weg te steek wie hulle regtig is nie. Wie weet hoe statistieke sal lyk tien jaar van nou af?
Die transgenderdebat is deel van ’n groter gespek oor gendersake. Die gendersaak is so ingewikkeld en omvattend dat daar by tye al selfs 58 genderopsies uitgespel word, waarvan 27 terme vir transpersone gebruik kan word (sien hier). Ek dink ook byvoorbeeld aan hoeveel mense in onlangse tye in hul e-posse aan my dikwels hul gendervoorkeure as deel van hul handtekening uitspel. Die saak is ook al meer aktueel weens badkamers vir alle geslagte wat nou in Amerika so opspraak wek. Die genderdebat is so belangrik omdat dit groot implikasies het vir die geestelike gesondheid van mense. Dit gaan immers om ’n diepgevoelde, innerlike sin wat mense het of hulle ’n seun, man, manlik, dogter, vrou of vroulik is – en nie soseer om wat hulle seks by geboorte was nie. Wanneer ’n samelewing so iemand of so ’n debat afkraak of belaglik maak, kan dit vernietigende gevolge hê of kan dit net groter bitterheid en vyandskap veroorsaak. Dit gaan immers om die menswaardigheid van ’n persoon. Wanneer iemand neerbuigend of patroniserend oor transgendermense as “arme” slagoffers praat, kan dit verder aanstoot gee en ’n gesprek daaroor by voorbaat verongeluk. Juis omdat dit ’n lewensbelangrike saak is, moet dit met sensitiwiteit en respek benader word. Wat is vir jou die belangrikste lokvalle in so ’n gesprek en hoe moet hierdie debat aangepak word sodat dit werklik ’n dieper verstaan van die onderwerp sal meebring? Wat moet geestelike leiers vermy wanneer hulle in gesprek gaan met transgenderpersone? En hoe kan transgenderpersone die gesprek hieroor met die kerk voer, gegewe die diep vooroordele en bestaande oortuigings by kerkmense oor die saak?
Sjoe, moeilike vrae! Die grootste lokval is om aannames te maak. Die beste is om vir mense te vra hoe hulle identifiseer, want ons kan maklik foute maak as ons iemand figuurlik gesproke op die baadjie takseer. ’n Belangrike ding is om die persoon se storie te glo, om hulle ernstig op te neem. Niemand kies om transgender te wees nie; ons genderidentiteit is iets wat ons oor onsself ontdek, soos wat ons ons oogkleur ontdek, soos Ockie Vermeulen dit mooi beskryf. Gesprekke met trangendermense kan moeilik wees, veral omdat baie mense al so seergekry het. Die teorie van minderheidstres verduidelik dat eksterne diskriminasie ook geinternaliseer kan word, wat dan daartoe lei dat mense negatiewe reaksies al vooruit verwag (Tan ea 2019). Dit verg moed vir transgenderpersone om ’n gesprek met die kerk te voer. Met respek vir mekaar se menslikheid en openheid om te leer kan ’n mens ver kom.
Transgendermense word nog so gestigmatiseer dat hulle dikwels eerder hul identiteit verberg. Andersins word hulle deur hulle families verwerp, self uit hul tuistes verdryf, as afwykendes gemarginaliseer, mediese ondersteuning geweier en openbare fasiliteite soos kleedkamers ontsê. Op dié manier word hulle ’n menswaardige bestaan ontsê, deur diepgewortelde vooroordele geteiken en onmenslik behandel. Wat sou jy dink is die mees oortuigende redes waarom die kerk die saak van transgendermense moet opneem? Is dit omdat hulle nie kies vir hul transgenderidentiteit nie, of is dit omdat daar so sterk teen hulle gediskrimineer word? Gaan dit op die diepste vlak hier nie om die skending van transgendermense se mensereg nie? Het jy enige voorstelle hoe ’n gesprek oor die saak bevorder kan word?
Ek sou graag wil dink dat die Christelike kerk Jesus navolg. Jesus het uitgereik na mense op die rande van die samelewing en hulle menswaardigheid raakgesien. Ja, dit gaan inderdaad oor menseregte, maar op die ou end ook oor die erkenning van elkeen as deel van die wonderbaarlike skepping, soos Vermeulen uitwys. In ons kerk verstaan ons dat Johannes 3:16 praat van God wat die wêreld liefhet, nie net die heteroseksuele cisgenderwêreld nie. Op die ou end gaan dit oor liefde. Dit is moontlik om ’n ruimte te skep wat alle mense verwelkom as ons die voorbeeld van Jesus volg.
Hoe verklaar jy dit dat die genderdebat juis nou so sterk na vore kom? Wat is dit in ons tyd wat hierdie saak so aktueel maak? En waarom is daar soveel negatiwiteit en gespot nog by vele mense oor die genderdebat?
Daar is nou die ruimte om te bevraagteken; die debat was vir lank ’n taboe. Vir te lank in die Westerse samelewing het patriargie ander genderperspektiewe onderdruk. Feminisme het ’n nuwe openheid gebring, en interessant genoeg resoneer interseksionele feminisme met baie transaktiviste as ’n benadering wat die binêre verstaan van die patriargie uitdaag. Mense spot dikwels met dinge wat hulle nie verstaan nie; dit wys uiteindelik hulle onkunde eerder as om ’n sinvolle bydrae tot ’n gesprek oor menswaardigheid te lewer.
Watter literatuur kan jy aanbeveel vir mense wat meer oor die tema wil lees?
Vir kerke is Inclusive and Affirming Ministries baie relevant as ’n organisasie wat geloofsgemeenskappe ondersteun met vaardighede om LGBTIQ+-mense te aanvaar en welkom te laat voel. Daar is wonderlike bronne hier.
- Daar is wonderlike memoires van transgender-Suid-Afrikaners:
Robert Hamblin se boek het pas verskyn: Robert – a queer and crooked memoir for the not so straight or narrow.
Always Anastacia deur Anastacia Tomson beskryf die storie van ’n transdokter vir wie ek baie respek het.
Becoming him – a trans memoir of triumph deur Landa Mabenge beskryf die hartverskeurende storie van ’n swart transman wat deur die uitdagings op die ou end kan wees wie hy regtig is.
- Tuisblaaie van nieregeringsorganisasies met relevante inligting:
Professional Association for Transgender Health South Africa.
- Bybelkor het ’n besonderse boek oor liturgie gepubliseer wat ook ’n liturgie insluit vir ’n transgenderpersoon om ’n nuwe naam te kry: Ongekaart – ’n Bronboek met roetemerkers vir oorgange, saamgestel deur Cas Wepener en Anandie Greyling.
- Vir mense wat liewer luister as lees:
Daar was ’n fassinerende paneelbespreking op 17 Mei 2021 om die Internasionale Dag teen Homofobie, Transfobie en Bifobie te gedenk. Die tema was “Faith as sanctuary: Can the LGBTQI+ community trust in faith?” Regter Edwin Cameron was in gesprek met die skrywer Siya Khumalo, imam Muhsin Hendricks en Anastacia Tomson. Die video is hier beskikbaar.
Lees Ockie Vermeulen se LitNet Akademies-artikel “’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel”, hier:
’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel
Bronne:
Goodman, M., Adams, N., Cornell, T., Kreukels, B., Motmans, J., & Coleman, E. (2019). Size and Distribution of Transgender and Gender Nonconforming Populations: A Narrative Review. Endocrinology and Metabolism Clinics of North America, 48(2), 303–321. https://doi.org/10.1016/j.ecl.2019.01.001
James, S. E., Herman, J. L., Rankin, S., Keisling, M., Mottet, L., & Anafi, M. ’ayan. (2016). The Report of the 2015 U.S. Transgender Survey. https://www.transequality.org/sites/default/files/docs/USTS-Full-Report-FINAL.PDF
Matsuno, E., & Budge, S. L. (2017). Non-binary/Genderqueer Identities: a Critical Review of the Literature. Current Sexual Health Reports, 9(3), 116–120. https://doi.org/10.1007/s11930-017-0111-8
Müller, A., Daskilewicz, K., & Southern and East African Research Collective on Health. (2019). Are we doing alright? Realities of violence, mental health, and access to healthcare related to sexual orientation and gender identity and expression in South Africa: Research report based on a community-led study in nine countries.
Polderman, T. J. C., Kreukels, B. P. C., Irwig, M. S., Beach, L., Chan, Y. M., Derks, E. M., Esteva, I., Ehrenfeld, J., Heijer, M. den, Posthuma, D., Raynor, L., Tishelman, A., & Davis, L. K. (2018). The Biological Contributions to Gender Identity and Gender Diversity: Bringing Data to the Table. Behavior Genetics, 48(2), 95–108. https://doi.org/10.1007/s10519-018-9889-z
Tan, K. K. H., Treharne, G. J., Ellis, S. J., Schmidt, J. M., & Veale, J. F. (2019). Gender Minority Stress: A Critical Review. Journal of Homosexuality, 0(0), 1–19. https://doi.org/10.1080/00918369.2019.1591789