Die skool het vir Lara ’n nagmerrie-ervaring geword – ’n plek waar sy deurentyd moet koes vir pynlike kommentaar. My kind is ’n seun in ’n natuurlike meisielyf. Dis nie ’n keuse wat sy self gemaak het nie; sy is 13 jaar gelede só gebore en só is ons as ouers lief vir haar. Tuis is sy Laars, maar by die skool stoei sy steeds met nimmereindigende diskriminasie. (Kommentaar van ’n ouer[1])
Waarom word transgender kinders se lewens hel gemaak op skool? Wie se skuld is dit?
Inez Saunders[2], opvoedkundige sielkundige in privaat praktyk in Proteavallei, Bellville, Wes-Kaap, verduidelik so:
Skole aanvaar dat leerders aan die tradisionele gendernorme sal voldoen en is heeltemal onvoorbereid wanneer hulle te doen het met gendervariante in kinders. Die meeste transgender adolessente beskryf skool as ’n pynlike ervaring en beleef dit as ’n vyandige omgewing waar diskriminasie, fisieke afknouery, verbale mishandeling en dreigemente hoogty vier.
Hierdie kwessie het al in die hof gedraai. Op 11 April het Netwerk24[3] berig:
In 2017 het die gelykheidshof bevind ’n skool in Limpopo het versuim om ’n veilige omgewing te skep vir ’n transgender meisie (wat as seun gebore is) deur toe te laat dat sy verneder en geteister word. Sy het uiteindelik nie haar skoolloopbaan voltooi nie.
Die term transgender verwys na die individu wie se fisiologiese geslag, geslagsorgane en hormone nie ooreenstem met die genderidentiteit soos ervaar deur die individu self nie, sê Saunders in haar MA-verhandeling, “Die beleweniswêreld van die transgender adolessent”. In die onderhoud sê sy ook:
Die aanvaarding van ’n kind as transgender beteken noodwendig ’n geweldige aanpassing vir die gesin. Die sosiale aanpassing beteken die verandering na ’n meer manlike of vroulike naam, die gebruik van meer toepaslike voornaamwoorde en aanspreekvorme en die verandering van ’n kind se fisieke voorkoms soos hy/sy in die publiek as die teenoorgestelde geslag begin optree.
Volgens Saunders moet sekere besluite dan geneem word oor hoe om die skool en familie in te lig. Hoe meer die gesin hul kind aanvaar en ondersteun, hoe meer positief ervaar die kind die oorgangsproses en kan dit lei tot ’n verbeterde selfbeeld.
Saunders sê daar is min empatie vir hierdie leerders. Skole en opvoedkundige sielkundiges weet ook nie werklik hoe om hierdie saak te hanteer nie.
Aangesien adolessensie ’n dinamiese en uitdagende ontwikkelingsfase is en skool ’n hoogs sosiale ervaring vir leerders, kan volgehoue verwerping, diskriminasie en teistering ernstige sielkundige, emosionele, sosiale en fisieke gevolge vir die transgender adolessent inhou.
Transgendergevalle aan die toeneem
Ronald Addinall[4], ’n kliniese maatskaplike werker, seksuoloog en raadslid van die Professional Association for Transgender Health South Africa (PATHSA), sê die aantal tieners wat as transgender identifiseer, het plaaslik toegeneem.
Uit gegewens is dit duidelik dat tieners wat as transgender identifiseer aansienlik toeneem. Meer toegang tot inligting oor genderdiversiteit op onder andere sosiale media is hiervoor verantwoordelik. Transgender individue voel tans ook gemakliker en veiliger om hul status bekend te maak omrede daar groter aanvaarding is.
Volgens Addinall is die transgender-verskynsel nie nuut nie en het dit reeds van die vroegste tye af bestaan.
Navorsing op alle vlakke het onteenseglike bewys gelewer dat die transgender-onderwerp nie ’n nuwe verskynsel is nie. Die huidige hoeveelheid kennis rondom die onderwerp is wel nuut en word toegeskryf aan omvattende inligting wat nou meer toeganklik gemaak word vir ouers en kinders.
Volgens Addinall is daar tans godsdiens- en konserwatiewe groepe wat aanvoer dat dit mode geword het om transgender te wees – ’n stelling wat hy as suiwer snert afmaak. “As tieners gewild of omstrede wil wees, is daar makliker maniere om dit te doen as om van geslag te verander,” sê hy.
Kinders weet van kleins af hulle is anders
Luidens ’n Netwerk24-berig van 11 April 2021[5] sê Elna Rudolph, stigter en kliniese hoof van My Sexual Health, die meeste kinders wat in haar spreekkamer beland, het van kleins af geweet dat hulle ongemaklik voel met hul geboortegeslag.
Hulle weet. Hulle ouers weet. Hulle was nog altyd só en hulle kom na my toe want hul puberteit het begin en hulle het hormone nodig. Daardie kinders was lankal by terapeute en sielkundiges en is lankal gediagnoseer.
Maar daar is ook mense wat “super-verskrik” in haar spreekkamer beland pas nadat hulle die nuus gekry het dat hul tiener voel hy of sy hoort in ’n ander lyf.
“Daardie soort familie gaan eers die sielkundige sien en daar lê ’n lang proses voor omdat ons 100% seker wil maak dat die diagnose reg is,” sê Rudolph.
Wanneer almal tevrede is dat die pasiënt fisiek en emosioneel geskik is vir behandeling, begin die proses met die toediening van ’n ongelooflike klein dosis hormone.
Hormoonblokkers kan help
Kundiges is dit eens dat die transgender kind se puberteitsfase vele uitdagings kan bied. Dié kinders voel soms dat hul liggame hulle as’t ware verraai in puberteit wanneer die verskyning van sekondêre seksuele kenmerke lei tot genderdisforie, sê Ankia Coetzee[6], ’n endokrinoloog van die Universiteit Stellenbosch.
Daarom gebruik ons soms hormone soos gonadotropin-releasing hormone (GnRH) tydens die pre-adolessente tyd. Laasgenoemde onderdruk puberteit en die rationale is om tyd te koop sodat die besluit om te transition weldeurdag is sonder om verdere dysphoria te veroorsaak. Die seksuele organe bly in die prepuberale fase en vergemaklik die volgende stap, naamlik steroïedhormone om die fisieke beeld van die ander geslag te fasiliteer.
Addinall sê puberteitsblokkers, ook bekend as hormoonblokkers, het in die verlede onder skerp en onkundige kritiek deurgeloop.
Hormoonblokkeerders word reeds ’n geruime tyd voorgeskryf vir kinders met vervroegde puberteit en is sedert 2011 deel van die standaardsorg van die Wêreldberoepsvereniging vir Transgender-gesondheid. By die transgender individu help dit om ongewenste fisieke veranderinge wat nie by iemand se geslagsidentiteit pas nie, te vertraag. Om hierdie veranderinge uit te stel, kan ’n belangrike stap in ’n jongmens se oorgang wees. Dit kan jou kind ook meer tyd gee om hul opsies te verken voordat hy besluit om oor te skakel.
Skole se primêre oogmerk en grondwetlike verpligting teenoor leerders
Juané van der Merwe[7], die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se adjunk uitvoerende hoof en hoof van regsdienste, sê uit die staanspoor moet dit beklemtoon word dat die primêre oogmerk van ’n skool die voorsiening van gehalte-onderrig aan leerders is.
Hierdie plig moet nagekom word, ongeag ’n leerder se geslag, geslagtelikheid of seksuele oriëntasie. Ten einde ’n doelgerigte en gedissiplineerde omgewing te skep wat toegewy is aan die bevordering en instandhouding van die gehalte van die leerproses, sal die beheerliggaam ’n gedragskode aanvaar.
Sy sê wanneer ’n leerder van mening is dat die omgewing waarin hy of sy onderrig ontvang hul regte beperk (dit kan die reg op godsdiens, oortuiging, kultuur, vryheid van uitdrukking, gelykheid en waardigheid insluit) is die leerder geregtig daarop om aansoek te doen om vrystelling van sekere bepalings vervat in onder meer die skool se gedragskode.
In oorweging van die leerder se aansoek moet die beheerliggaam met die nodige objektiwiteit, verantwoordelikheid en binne die Grondwet se raamwerk oorweeg hoe die leerder redelikerwys geakkommodeer kan word ten einde sy regte uit te oefen en steeds gehalte-onderrig te ontvang.
Redelike akkommodasie vir LGBTQI+-leerders
Van der Merwe sê ’n vorm van redelike akkommodasie sal byvoorbeeld wees om toestemming aan ’n LGBTQI+-leerder te verleen om af te wyk van die skool se kleredragreël en die vergunning te maak om ’n geslagsneutrale uniform te dra.
Indien die akkommodering van ’n bepaalde praktyk ’n onredelike las op die skool plaas, sou die skool die versoek van die leerder kan weier. ’n Voorbeeld van ’n onredelike las is waar ’n skool nie oor die finansies beskik om ’n geslagsneutrale badkamer te bou óf te omskep nie. Alternatiewelik kan oorweeg word om die leerder toegang te verleen tot ’n badkamer waar hy of sy veilig sal wees en hul privaatheid en menswaardigheid gerespekteer sal word.
Aangesien die omstandighede van skool tot skool sal verskil, is dit belangrik dat daar met ouers saamgewerk sal word vir die leerder se beswil.
Skole kan in troebel water beland
Van der Merwe beklemtoon dat skole hulself beslis in troebel water sal bevind indien:
- ouers en leerders nie geraadpleeg word met die opstel van die skool se gedragskode nie. Dit is belangrik dat die beheerliggaam ’n idee moet hê van die behoeftes, praktyke, rituele en dies meer van uiteenlopende mense sodat die gedragskode binne daardie raamwerk saamgestel kan word.
- skole leerders die reg ontsê om aansoek te doen om vrystelling van die skool se gedragskode.
- leerders se regte onbillik beperk word of daar geweier word om die leerder redelikerwys te akkommodeer.
- die skool ’n reëlgedrewe benadering volg in plaas van ’n waardegedrewe benadering wat ’n gedissiplineerde omgewing skep wat toegewy is aan gehalte-onderrig, maar terselfdertyd diversiteit vier. As die waardes van gelykheid, vryheid en menswaardigheid (waardes waarop die Grondwet gebou is) in ons skole gestalte vind, sal diversiteit gevier in plaas van verduur word.
Eindnotas
[1] Gedurende ’n onderhoud met die ouer, wat verkies om anoniem te bly om die kind te beskerm.
[2] Tydens ’n telefoniese onderhoud.
[3] https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/die-begin-van-n-nuwe-lewe-in-die-regte-lyf-20210411
[4] Verskeie onderhoude is met Addinall gevoer.
[5] https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/die-begin-van-n-nuwe-lewe-in-die-regte-lyf-20210411
[6] Onderhoud per e-pos gevoer.
[7] Onderhoud per e-pos gevoer.
Lees ook:
’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel
Is diskriminasie teen transgender en interseksatlete veroorloof?
Kommentaar
Dit is verblydend dat daar deurgaans stappe gedoen word om die lewe van kinders wat trans identifiseer te akkommodeer in skole. Dit was juis in my skooljare wat ek die meeste uittarting en hartseer ervaar het; die geboelie en vernedering waarop ek ‘n persoonlikheid en selfversekering moes ontwikkel. Dit wat ek die res van my lewe moet saamdra.
Nou ja, in die 1960’s was dit ‘n kwessie van "sink or swim" en jy was net genoop om te oorleef ...
Dis egter wonderlik om te weet dat/hoe skole deesdae na die beste van hul vermoë omsien na spesifiek sulke gevalle en hulle en hul ouers se lewens probeer vergemaklik.
Voila!
Litnet plaas al weer woke disinformasie soos bo, terwyl my as mediese dokter se plasings wat die ware biologiese teenkant uitlig, telkens gekanselleer word.