Oor feminisme 2023

  • 4

https://pixabay.com/illustrations/woman-art-lady-power-african-woman-7120090/

My feministiese ontwaking het as tiener in die laat 1980’s, vroeë 1990’s gekom.

Ek is ’n tipiese Gen X’er wat perfekte aanklank gevind het by die sogenaamde derde golf van feminisme. Ons was vroue van alle rasse, seksuele identiteite en gender-identiteite wat kon saampraat oor sosiale, ekonomiese, seksuele en ander regte. Ons het geglo daar was ’n plek vir mans om ook feministe te wees. Ons het geglo in samewerking eerder as om teen mekaar se agendas te werk, en tog ook te erken daar is binne die sambreel plek vir mense om te fokus op kwessies wat hul spesifieke belangstellingsveld behels. Sommige aktiviste wou fokus op aborsieregte, ander wou fokus op gelyke betaling vir gelyke werk en so meer.

Dit was natuurlik nie idillies nie, maar ons kon voel ons werk saam aan iets groots. Vir die heel eerste keer was feminisme nie meer ’n f-woord nie. Ons was trots om openlik feministies te wees, en ons broers, ons mans, ons vriende het openlik meegedoen om feminisme te help bevorder.

..........
In die breër konteks van die Suid-Afrikaanse geskiedenis was ons op die vooraand van ’n demokratiese bestel. Rassegelykheid was op die voorgrond, natuurlik, maar die regte en die harde werk van vroue is nie vergeet nie. Gaan kyk maar na die grondwet. Gaan kyk maar na arbeidswetgewing. Vroue se regte is verskans op elke moontlike vlak.
............

In die breër konteks van die Suid-Afrikaanse geskiedenis was ons op die vooraand van ’n demokratiese bestel. Rassegelykheid was op die voorgrond, natuurlik, maar die regte en die harde werk van vroue is nie vergeet nie. Gaan kyk maar na die grondwet. Gaan kyk maar na arbeidswetgewing. Vroue se regte is verskans op elke moontlike vlak.

Dit het nie gebeur omdat sommige politici bymekaar gekom het en ’n wenslys saamgeflans het nie. Nee, feministe het bewusmaking gedoen, hulle het hul mans en broers en vriende oortuig om erns te maak van vroueregte. Hulle was saam aan die onderhandelingstafel.

Nou het ons skatryk en suksesvolle besigheidsvroue, ons het vroulike ministers en Speakers, vroue neem deel aan besluitneming op die hoogste vlakke. Ons het ’n dag en ’n maand wat die belangrikheid van vroue vier. Niks daarvan is toevallig of het sommer net so gebeur nie.

In die kringe waarin ek normaalweg beweeg, word dit aanvaar dat almal, mans en vroue, ten gunste is van gelyke regte vir mans en vroue. Dis tog die hart van die feministiese beweging, ongeag of dit nou die eerste, tweede, derde of vierde golf is.

Juis daarom het ek nie veel gedink daarvan toe ek saam met ses ander vroulike skrywers op die verhoog was by die onlangse Vrye Weekblad -boekefees in Cullinan nie. Gespreksleier Deborah Steinmair vra ons toe of ons feministe is. Die antwoorde het gegaan van ’n oortuigde “ja” wat ek gegee het, tot variasies van “ek is ’n postfeminis, ons het nou ander goed om oor bekommerd te wees” en “nee, ek hou van mans”.

My eerste reaksie was om stil te bly en niks te sê nie, maar toe besef ek stilswye stem in. My antwoord toe was om bloot daarop te wys dat feministe nie manhaters is nie, en dat solank as wat ons onveilig is in ons openbare en privaatruimtes, solank as wat mans en vroue nie gelyk behandel word in die werksplek nie, is daar nog werk om te doen en is daar ’n behoefte vir feministe om op te tree.

...........
My antwoord toe was om bloot daarop te wys dat feministe nie manhaters is nie, en dat solank as wat ons onveilig is in ons openbare en privaatruimtes, solank as wat mans en vroue nie gelyk behandel word in die werksplek nie, is daar nog werk om te doen en is daar ’n behoefte vir feministe om op te tree.
..............

Natuurlik is daar heelwat meer om te sê, en daai verhoog was nie die forum om dit te doen nie. Dus wil ek nou probeer om die vraag en antwoorde uit te pluis.

Wat my verstom het, was die sentiment dat enigeen wat van mans hou, nie feministe kan wees nie. Dis ’n gedagte wat in die laat 1960’s en 1970’s gebruik is om feminisme te probeer diskrediteer. Hou hulle so besig met valse bewerings, steek vroue op teen mekaar sodat daar geen vooruitgang vir vroue kan wees nie. Wanneer het dit weer begin opvlam? En hoekom sal vroue wat al die vrug van feministiese harde werk pluk, so in ontkenning lewe, skynbaar sonder ’n sweem van ironie?

Vroue bestuur motors, besit huise, kan lees en skryf omdat hulle ’n opvoeding gehad het, kan werk buite die huis, kan ’n bankrekening in eie naam oopmaak, het nie in terme van die reg hulle man se toestemming nodig om ’n klererekening oop te maak nie.

Maar daar is net soveel vroue in Suid-Afrika wat steeds gebuk gaan onder patriargie. Geslagsgebaseerde geweld, beide binne en buite die huis, vier hoogty. Vroue word vermoor deur hulle mans en kêrels. Het ons vergeet van Reeva Steenkamp wat deur Oscar Pistorius vermoor is, in ’n luukse huis in ’n luukse buurt? Dis nie net arm vroue wat onder hul mans se vuiste deurloop nie.

In sekere kulture kan vroue steeds nie hul man of pa se eiendom erf, of eiendom in eie naam besit nie. In Suid-Afrika, in 2023.

Om te sê dat daar nou ander dinge is om oor te bekommer, dat feminisme nie meer nodig is nie, kan dan net gesê word uit ’n posisie van uiterste bevoorregting. Omdat ek oukei is, is alles oukei, in effek.

Ons hoef net te kyk na die wyse waarop daar in Amerika binne enkele jare soveel regte van vroue en seksuele minderhede ontneem is om te weet dat ons nooit te gerus kan wees nie. Net omdat ons ’n spesifieke reg nou het, beteken nie ons gaan dit altyd hê nie. Al wat dit kos, is vir een politieke party om tradisionele waardes af te dwing om ons vas te pen in ons huise.

Vroue in Afghanistan het drie jaar gelede universiteitsopvoeding ontvang. Vandag mag hulle nie meer enige hoërskoolopvoeding ontvang nie. Vroue in Amerika kon ’n jaar gelede aborteer as hulle swanger word ná verkragting. Nou word hulle geforseer om geboorte te skenk aan die baba, of om van moord aangekla te word. Hulle is nou terug in dieselfde posisie waar hulle 40 jaar gelede was.

Dis stompsinnigheid om te dink dieselfde kan nie hier gebeur nie. En dit begin by ’n sentiment dat vroue wat vra vir gelyke regte, antimans is.

Ek is Bettina Wyngaard, en ek is ’n feminis.

  • 4

Kommentaar

  • Dis 'n mynveld. Probleme met filosofiese konsepte soos die feminisme is legio. Om mee te begin verstaan verskillende mense amper altyd verskillende dinge onder sulke begrippe. Vat 'n begrip soos apartheid. Ook 'n polities filosofiese konsep. Vir sommige beteken apartheid streng polisie. Werkende infrastruktuur. Veiligheid. Sekuriteit. Vir die ou aan die ander kant beteken apartheid pasboeke. Aanhouding sonder verhoor. Onderdrukking. Diskriminasie. En so meer en so meer. Neem nou die twee uiteenlopende interpretasies, en laat hulle met mekaar probeer gesels, kort voor lank sal die een sê, gee vir 'ons' 'ons' eie tuisland soos 'ons' destyds vir 'julle' gegee het! So sal hulle dan by mekaar verbypraat, in sirkels redeneer en nêrens kom met die gesprek nie.

    En wat daarby aansluit, is die mens se geneigdheid om andere nie 'n opinie te gun nie. Die patriarg voel almal moet in sy god glo en sy bybel lees en verstaan op sy manier. Die feminis voel weer die patriarg is verkeerd en moet tot ander insigte gebring word en anders lewe.

    Dan kom die vuilspel soos dié in - Feministe hou nie van mans nie. Of: Godsdiens is 'n gevaar vir die mensdom en hoort op die ashoop.

    Die mens is maar net inherent onverdraagsaam. Miskien was oudominee dan tog in a way reg toe hy gesê het die mens is ongeneeslike sondaars.

  • Stephni Fogwill

    Dis glad nie so ingewikkeld soos wat jy dit wil laat klink nie. Die patriarg se idees is nie gelyk aan die feminis s'n nie. Albei partye het nie ewe geldige opinies en 'gevoelens' as 'n mens elke mens se waardigheid en menslikheid erken nie. Die patriarg wil onderdruk. Die feminis wil nie onderdruk word nie. Die feminis stel net belang in hoe die patriarg lewe wanneer dit háár negatief raak. Die patriarg wil besluite oor die feminis se lewe mag neem. Deur díe tipe 'elke saak het twee kante/ ag dis jammer die mens is maar net sleg' redenasies maak jy dit net vir die onderdrukker makliker om voort te gaan met sy onderdrukking. Jy laat dit klink asof niks aan diskriminasie gedoen kan word nie. Daar kan.

  • Nee, dit is beslis nie buitengewoon ingewikkeld nie. Ek het ook nie gesê dit is ingewikkeld nie. Ek het gesê dit is 'n mynveld (van kompeterende idees). En ek het ook nie gesê die een is reg en die ander verkeerd nie. Ek is nie hoofregter van die Grondwethof nie. Hoewel ek daai soort pay en perks stukkend sou smaak. Ek vra eenvoudig, hoe hanteer mense hierdie soort verskille? Ek maak die stelling dat daar nie met elke saak op hierdie aarde net een soort waarheid bestaan nie. Ek sien anderdag 'n man wat vertel (op die internet nogal) hoe sy eie vrou hom oortuig het dat slegs mans op 'n kansel mag klim en preek, dit nadat hy vir jare anders gedink het oor die saak. Dit is natuurlik 'n gedagte wat reguit uit die Bybel kom. En dis baie gewild in meeste van ons ou landjie se kerke. Dit is "hulle" godsdienstige oortuiginge. Nie myne nie. Ek gun "hulle" dit, solank dit nie op my afgedwing word nie.

    Kom ek probeer dit op 'n ander manier stel. Vat nou grond. Die een filosoof/politikus/ekonoom is ten gunste van kommunale grondbesit. Dit is al waarin die persoon glo. Noem dit maar kommunisme. Die ander een soek privaateienaarskap. Noem dit maar kapitalisme. Afhangend van waar die twee op die spektrum van politiek sit, sal hulle dalk sinvol kan redeneer. Maar indien dit twee ekstreme mense is, sal die volgende gebeur.

    Die kommunis sal vir die kapitalis se - "julle" het al die grond gesteel!

    Die kapitalis sal antwoord - "julle" wil net alles verniet kry en is te lui om iets te verdien!

    Die kommunis sal antwoord - "julle" het 'n onregverdige voorsprong in die lewe gekry toe julle voorouers hier aangekom het en die grond gevat het.

    Die kapitalis sal antwoord - "dit was die era van militere verowering! "Ons" het die faait gewen, en "julle" het dit verloor, deal with it.

    Die kommunis sal antwoord - "ons" gaan die wette verander en die grond nasionaliseer. Dit is een van die onvervulde ideale van "ons" Vryheidsmanifes.

    Die kapitalis sal antwoord - Hoeveel onse is daar in jou pond? Ek lees my Bybel, nie kommunistiese geskrifte nie. Wat "julle" wil doen,is onwettig en strydig met internasionale praktyke. Grondeienaarskap is ons reg. "Julle" wil die grond steel.

    Die kommunis sal antwoord - Steel? Hoe steel mens iets wat aan jou behoort? Grond behoort aan almal en ook aan niemand. Of vat jy die grond saam graf toe as jy doodgaan? Van steel sal "ons" by "julle" moet leer.

    Die kapitalis sal antwoord - 'Julle' het in diervelle hier rondgehardloop toe 'ons' hier aankom.

    Die kommunis sal antwoord - 'Toe 'julle' hier aankom toe het 'ons' die grond gehad en 'julle' die Bybel. Nou het 'julle' die grond en 'ons' het net die Bybel.

    En so sal dinge voortduur in daardie trant sonder enige substansieele insigte wat verwissel word.

    Is die logiese gevolgtrekking nou dat alle 'kapitaliste' alle 'kommuniste' ten alle tye as lui beskou? En dat alle 'kommuniste' alle 'kapitaliste' as diewe beskou?

    Ek is nie so seker nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top