Die afgelope ruk is daar heelparty gesprekke rondom feminisme in die algemeen, en transgenderkwessies spesifiek, gevoer, ook op LitNet.
Ek wil toetree tot die gesprek, veral in lig van die gedagtewisseling tussen Izak de Vries en Amanda Gouws.
Dit voel asof ek uit ’n oormaat van versigtigheid uit die staanspoor ’n paar stellings moet maak.
Eerstens is hierdie nie ’n akademiese artikel nie. Juis nie. Ek wil spreek tot die menslikheid en menswees van transgender persone. Moet dus asseblief nie woorde soos bimbo of hiperfemininiteit hier verwag nie.
Tweedens is ek deeglik daarvan bewus dat my bydrae dié is van ’n cisgender persoon, soos dié van Izak en Amanda. Ek ervaar en registreer ’n ongemak met ’n gesprek wat oor transgender persone gaan sonder om met transgender persone te praat, of om hulle ’n spreekbeurt te gee. Hopelik verander dit binnekort. Ek kan ten beste bydra as ’n bondgenoot.
Laastens wil ek nie as vegter tot die bokskryt toetree nie. Ek bewonder Amanda om baie redes, en ek beskou Izak as ’n vriend. Ek hoop om die gesprek effens te verbreed en minder akademies te maak. Ek hou in gedagte dat dit hier nie om akademiese objekte gaan nie, maar oor vlees-en-bloed-mense wat waarskynlik alreeds heelwat pyn en hartseer in hul lewens moes deurmaak.
Transgender-kwessies is feministiese kwessies. Transgender vroue, met ander woorde vroue wat die lewenslig eerste in ’n manlike liggaam aanskou het, is vroue. Heelwat minder word gesê en geskryf oor transgender mans, met ander woorde mans wat die lewenslig die eerste keer in ’n vroulike liggaam aanskou het. Tog was my heel eerste ondervinding van ’n transgender persoon juis met ’n transgender man, in my tuisdorp.
Hoekom die fokus, in die media en in die kollig, dan juis op transgender vroue? My onmiddellike vermoede is dat vroulike liggame, of jy daarmee gebore is of dit met die hulp van onder andere hormoonbehandeling, sielkundige terapie en sjirurgie verkry het, juis ekstra gepolisieer word. Die meeste transgender vroue wil juis nie soos bimbo’s lyk nie; hulle wil soos die vrou lyk wat hulle in hul binneste voel. Om televisiepersoonlikhede of fopdossers wat nie noodwendig transgender is nie, te neem en van hulle te ekstrapoleer hoe transgender vroue lyk, is ’n moedswillige en meesal kwaadwillige keuse. Ons kyk tog nie Housewives of the Winelands (of van enige ander streek) en maak die gevolgtrekking dat dit ’n uitbeelding van alle huisvroue oral is nie. Natuurlik nie. Alles is groter en beter en blinker op televisie. Ons weet dit. Om transgender persone nou anders te behandel is moedswillig.
...........
Die meeste transgender vroue wil juis nie soos bimbo’s lyk nie; hulle wil soos die vrou lyk wat hulle in hul binneste voel. Om televisiepersoonlikhede of fopdossers wat nie noodwendig transgender is nie, te neem en van hulle te ekstrapoleer hoe transgender vroue lyk, is ’n moedswillige en meesal kwaadwillige keuse. Ons kyk tog nie Housewives of the Winelands (of van enige ander streek) en maak die gevolgtrekking dat dit ’n uitbeelding van alle huisvroue oral is nie. Natuurlik nie. Alles is groter en beter en blinker op televisie. Ons weet dit. Om transgender persone nou anders te behandel is moedswillig.
...........
Ek wil by een punt stilstaan. Fopdossers, drag queens, is nie noodwendig ook transgender nie. Sommige van hulle is bloot cisgender mans wat daarvan hou om vroueklere aan te trek, of hulle is vermaaklikheidskunstenaars wat hul geld verdien deur ’n karakter uit te beeld vir vermaak. Dieselfde met drag kings.
Hoekom is die vertonings van Pieter-Dirk Uys en sy verhoogpersona Evita Bezuidenhout van ons gewildste en suksesvolste vertonings? Daarmee probeer ek glad nie Uys se eie genderidentifikasie uitpluis nie. Ek wys bloot op die dubbele standaard (en ideologiese blindheid) wat mense toelaat om geld te betaal om ’n man wat die rol van ’n vrou speel, te sien, maar terselfdertyd weier om dieselfde sorg aan die dag te lê met persone wat juis wil ophou om ’n rol te speel en hul innerlike en uiterlike beelde wil versoen.
Soos wat Izak in sy artikel uitwys, is daar bitter min transgender mense wat kan bekostig om genderbevestigende sjirurgie te ondergaan. Hormoonbehandeling is peperduur en nie altyd verkrygbaar buite die groot stede nie. Mediese personeel wat simpatiek is, die kwessies verstaan en oor die nodige opleiding beskik om aan transgender pasiënte die regte sorg te verskaf, kan op die vingers van een hand getel word.
Boonop is daar die gemeenskap se afkeer en vooroordele wat in baie gevalle daartoe lei dat transgender persone se lewens in gevaar gestel word.
Maak geen fout nie. Om transgender persone te forseer om ’n badkamer te gebruik wat nie met hul genderidentiteit ooreenstem nie (JK Rowlings se heuwel waarop sy bereid is om te sterf), kan lewensgevaarlik wees. Geen cisgender vrou sal ’n publieke manstoilet gebruik as sy ’n keuse het nie. Hoekom dit dan afdwing op ’n transgender vrou, en haar blootstel aan gevaar?
Swart transgender persone het dit selfs erger.
Dianne Du Toit Albertze se boek Bottelnek breek bek wat op die kortlyste van beide die UJ-debuutprys en die Eugène Marais-prosaprys was, beskryf hartroerend, en sonder om weg te skram van enige kwessie, die ervarings van jong transgender vroue van verskillende rasse. Ek het die voorreg gehad om ’n gesprek met haar te lei tydens die Open Book Festival verlede jaar. Sy erken ruiterlik dat sy meer beskermd lewe omdat sy wit is. Maak dit haar lewe, of dié van enige ander wit transgender persoon, maklik? Natuurlik nie.
Transgender persone, soos wat waar is van die meeste LGBTQI+-mense, word dikwels minder betaal vir hul dienste, ervaar meer diskriminasie, groter werkloosheid, meer geestesgesondheidsprobleme en word blootgestel aan meer geslagsgebaseerde geweld.
Ek het aan die begin van hierdie bydrae gesê my eerste ervaring van ’n transgender persoon was met ’n transgender man in my tuisdorp. Hy was altyd keurig aangetrek in ’n pak klere, das, blinkgepoetste skoene en Brylcreem in die hare.
Ek was destyds te klein om te wonder oor hoe sy lewe in ’n klein dorpie moes wees. Op die oog af het almal hom en sy “eksentriekheid” aanvaar. Almal het geweet, maar niemand het ’n bohaai opgeskop nie. Nie waarvan ek weet nie, in elk geval.
Eers toe ek volwasse was, kon ek ten volle waardeer watter dapperheid dit moes verg om sy lewe outentiek te lewe in ’n dorpie wat dalk meer bereid was om weg te kyk, maar beslis nie veel meer verlig was as ander dorpies elders nie.
Ek het die allergrootste respek en bewondering vir elke persoon wat bereid is om alles te waag om outentiek te lewe. Maak nie saak of dit Zooey Zephyr in Montana is, of ’n Hendrieka in Grabouw nie.
Om hul stryd om erken te word te reduseer tot bimbofiksasie, is ’n klap in die gesig, ’n totale mistasting van wat die kwessie is en ’n ontkenning van hul menswees.
Ons almal kan beter vaar wat ons houdings en optrede betref.
Lees ook:
Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze
Kommentaar
Dankie vir jou skrywe vandag, Bettina, ek stem heeltemal saam met jou. Ek het in vandag se Burger probeer om my standpunte duideliker te maak. Ek het juis kritiek gelewer op die bimbofikasie en hipervroulikheid wat die redenasie van Janice Phiri is. Ek dink nie dat ek dit duidelik genoeg gemaak het in my eerste artikel nie.
Litnet plaas al weer woke disinformasie soos bo, terwyl my as mediese dokter se plasings wat die ware biologiese teenkant uitlig, telkens gekanselleer word.
Dankie Bettina!
Dis 'n eeue oue verskynsel. Die Mesopotamiese godin Inanna het mense so kon verander. Abraham is uit daardie kultuurgeroep.
Baie dankie, Bettina, en dankie, LitNet. As ma van 'n volwasse transgender seun, kan ek nie genoeg daarop klem plaas hoeveel eensaamheid en verwerping daar steeds in 2023 beleef word deur die individu, asook sy/haar/hulle naaste mense nie. Disinformasie, wanpersepsies en plein kommin onverdraagsaamheid vier hoogty. Ek word nie eens meer kwaad nie, maar sluit "haters" eenvoudig uit my verwysingsraamwerk. Eers wanneer 'n mens met 'n transgender kind of familielid gekonfronteer word, kan jy begin verstaan hoe ontsettend donker en afgesonder daardie ruimte kan wees. Dankie tog daar is meer en meer draers van lig ten spyte van al die onigeligte klipgooiers en allerheiliges.