Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze

  • 0

Titel: bottelnek breek bek
Skrywer: Dianne Du Toit Albertze
ISBN: 9780798182669
Uitgewer: Human & Rousseau

...
Die verhaal is geskryf op ’n manier wat jou hart breek, met rou emosie wat nooit by die naam vir die leser uitgespel word nie. Want ’n mens moet die emosie vóél. Jy hoef nie te weet wat ’n mens dit noem nie.
...

’n Toe bek is ’n heel bek, maar ’n bottelnek breek jou bek – en jou hele lewe. Dis maar een, of dalk twee, van die temas in bottelnek breek bek van Dianne Du Toit Albertze. Nie dat dié skrywer se bek toe is of dat sy op hom geval is nie. Daarvoor is die boek net te ekspressief op maniere wat lesers nog nooit voorheen gesien het nie. Of oor gegayle het nie, maar later meer daaroor. Later, met rede, want die verhaal moenie verlore gaan in die ophef oor die Gayle nie. Dit sou eenvoudig nie regverdig wees teenoor die karakters of die skrywer nie.

Net so sou dit nie reg wees om te sê dis die storie van transgender karakters, hulle soeke na identiteit en die diskriminasie wat hulle steeds moet verduur nie. Dit ís inderdaad dit ook, maar dis soveel meer en ’n mens wil nie verstrengel raak in die toutjies waaraan die etikette hang nie. Tog word die leser gekonfronteer met die pyn wat dit veroorsaak, al is dit op ’n ander manier as wat jy verwag. Dis daar sonder om ’n naam te kry, soos wat dit in die regte lewe daar is, soos wanneer ’n polisieman met verwysing na transgender persone sê: “Dié goed verdien nie ’n huis nie” (70).

Maar, soos reeds gesê, is dit veel meer. Dis die verhaal van Daantjie wat Dora geword het. Dis ’n verhaal van verlies op vele vlakke, en dis ’n verhaal oor vriendskappe en familie, aanvaarding en jou plek in die lewe en tussen jou mense. Dis ook die verhaal van geestesgesondheid en verslawing, van Dora wat haarself verloor in die opening van ’n bottelnek om Dora te kan vind en wees. Soos in regtig wéés, nie word nie, want sy was altyd Dora. Selfs al moes sy weer oor gebore word as Dora, en Daantjie agterlaat omdat hy nie pas nie. Dit word goed beskryf op bladsy 161 tot 163, in paragrawe soos dié:

Die pad word al donkerder, hoe meer bekend dit raak. […] Geboorte is egter fokkol vir my, want ek is ’n vrou met ’n tril wie haar kjeeners sal moet kies en nie kraam. Ook omdat ekkie gebore wou weesie. Dit het sonder my toestemming gebeur.

Dis ook die verhaal van Washiela, Dora se vriendin wat haar plek moet vind en met haar demone moet vrede maak. Dan is daar nog newekarakters soos Ma-Helen, ma-goed en pa-goed, Pastoor, Boeta en nog ander. Die karakter Jamie speel dalk nie ’n groot rol in die boek nie, maar staan tog sentraal in die storie wat die sneller is vir so baie wat daarna volg. Net so is Grootma al oorlede wanneer die leser met haar kennis maak, maar tog is sy een van die grootste invloede op Dora. Of eers op Daantjie, en dan in haar afwesigheid op Dora.

...
Hierdie boek vat die gemiddelde leser na plekke waar jy nog nie was nie. Dis soos om ’n vlieg teen ’n breinwand van die hoofkarakter te wees, om ’n rare kans te kry om te probeer verstaan.
...

Daar is ’n besonder emosionele stuk waar Dora ’n gebeurtenis herleef met Grootma se jongmeisierok. Oor die jongmeisierok kan ’n mens nie veel sê sonder om die storie weg te gee nie. Dis deel van Grootma se eie storie, maar later raak dit deel van Dora se identiteit, aanvanklik onder begeleiding van Miley Cyrus wat sing: “I came in like a … (wrecking ball).” Want dis hoe Dora dinge doen; dis wat sy aan haar eie lewe doen – soms omdat sy selfvernietigend is, en soms sommer net omdat dit die lewe is en dis wat gebeur.

Die verhaal is geskryf op ’n manier wat jou hart breek, met rou emosie wat nooit by die naam vir die leser uitgespel word nie. Want ’n mens moet die emosie vóél. Jy hoef nie te weet wat ’n mens dit noem nie.

’n Voorbeeld daarvan is waar Dora byvoorbeeld op bladsy 224 weereens deur haar ouers gekonfronteer word oor haar genderidentiteit: “Jirre weet, ek hettie vanmore die energie om weer uit te kommie. Maar hulle lyk of hulle dit vir die eerste keer hoor. Moet seker bly wees Ma-goed lag my nie weer uit nie.”

Aan die een kant word die nie-Gaylesprekende leser uitgedaag met nuwe woorde in ’n “onbekende taal”, en aan die ander kant maak baie woorde, of eerder benamings, nie saak nie. Daar word nooit juis gesê iemand voel ’n sekere emosie nie. Dit word gewys in hoe die karakters optree, wat hulle reaksies is, wat hulle volgende doen. Die beginsel van wys in plaas van vertel word deurgaans meesterlik gebruik. Dis asof die leser dinge sien afspeel, en die skrywer se agtergrond as dramaturg dra sekerlik by tot die visualiteit van die skryfstyl. Dit is waarskynlik een van die sterkste punte van hierdie boek.

Dit bring ons by die Gayle. Gayle het oorspronklik ontwikkel as die sogenaamde moffietaal onder gay en transgender mans met die doel om as kodetaal gebruik te word, maar ook omdat dit humoristies is. bottelnek breek bek is die eerste roman in Afrikaans wat in Gayle geskryf is, met ’n bietjie Sabela (tronktaal) en Noord-Kaapse streekstaal tussenin. Dit dra by tot die uniekheid van hierdie boek en gooi beslis ligter oomblikke tussen die emosiebelaaide gebeurtenisse en innerlike dialoog in. Van hierdie beelde sal waarskynlik die leser bybly!

Van die bestes, hoewel nie almal in Gayle nie, is:

“... irenes [oë] so groot soos DStv dishes.”

“My tanne smile terug.”

“Ek spring sommer eerste op. Klap hom dan dat hy ’n Whitney [Houston] noot gooi …”

“‘Ek ook,’ sekondeer my oggendasem.”

Hierdie boek vat die gemiddelde leser na plekke waar jy nog nie was nie. Dis soos om ’n vlieg teen ’n breinwand van die hoofkarakter te wees, om ’n rare kans te kry om te probeer verstaan.

As leser sit jy dalk die boek neer, maar jou kop sit nie die storie neer nie. Jy onthou, want die boek is anders, en die karakters is anders.

Op bl 173 vra Dora: “Is ekkie eers ’n goodbye werd nie?” Dis die realiteit waarmee karakters soos dié moet saamleef.

’n Mens kan net sê almal is ’n goodbye werd, en hierdie boek en debuutskrywer is ’n groot hallo werd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top