Stadig met die sjerrie

  • 1

...
Dis regtig nie nuus dat sommige cis mense dink trans mense is kens nie. Daar sit eintlik ’n stukkie waarheid daaragter wat verdraai word deur regse skrywers en politici.
...

Onlangs het PATHSA (Professional Association for Trans Health South Africa) ’n stuk geskryf vir LitNet waarin die marginalisering en uitwissing van transgender stemme in die diskoers oor menseregte uitgewys en gekritiseer word.

Ek moes nadat ek die stuk klaar gelees het ophou, maar nee. Ek was onnosel en gaan lees toe die kommentare op die stuk. Genadiglik was daar net 11 op daardie stadium gewees. Diegene wat kommentaar geskryf het op daardie stadium, is beslis wat die stuk bestempel het as “regse stemme”.

Soos ek die kommentare op Facebook lees (wat ek weet ek nie moet doen nie), begin daar ’n liedjie in my kop draai. Die Grafsteensangers sing duidelik: “Moenie aan pappie meer sjerrie verkoop nie.” In sekere opsigte kan dit ook “Nagmaalwyn” of “Kool-Aid” wees, afhangend van die konteks waarin jy jou bevind.

Dis regtig nie nuus dat sommige cis mense dink trans mense is kens nie. Daar sit eintlik ’n stukkie waarheid daaragter wat verdraai word deur regse skrywers en politici. Omdat vele LGBT+ mense in omstandighede is waar ons nie onsself kan uitleef nie, lei dit tot depressie, angstigheid en soms donker plekke soos selfbesering en selfdood.

Denise was so ’n geval gewees.

Denise is een van daardie borrelende mense gewees wat altyd geglimlag het. Sy’t altyd ’n lang, blonde pruik aangehad, omdat haar hare, na haar sin, nie vinnig genoeg gegroei het nie. Sy was wat in die trans gemeenskap bekend staan as ’n DIY-er. Dis iemand wat hul eie hormoonbehandeling toedien, omdat hulle nie mediese sorg kan bekostig nie. Mens kon sien dat daar veranderinge plaasvind, maar dit sou soveel beter gaan as dit van ’n dokter af gekom het.

Ek vertel altyd vir almal dat my eie ervaring met hormone ’n wonderlike een is. Drie dae nadat ek my eerste behandeling gekry het, het die wêreld skoner, meer kleurvol en wonderlik gelyk. Ek weet nie of Denise dieselfde gevoel gehad het met die DIY-storie nie. Ek is ook op antidepressante, want depressie is algemeen in my familie. Sou ’n dokter vir Denise op antidepressante ook plaas? Niemand sal ooit weet nie.

In Oktober van 2020 het Denise haar eie lewe geneem. Die skokgolwe deur ons klein gemeenskap was groot. Nog groter natuurlik omdat haar ouers haar begrawe het as “hy” en nie “sy” nie.

Mens moet wonder wat dit aan ’n ouer doen: ’n kind wat hul eie lewe wil neem of geneem het. Dit verwoes seker jou hele gesin en familie se bestaan. Die ironie is die regses wat so gekant is teen my en my mense se bestaan, wil kamma hierdie gesin of familie beskerm teen die “bose transgenders”. Ek’t dit al ’n miljoen keer op die internet gesien. Altyd met ’n religieuse reukie wat stink van skynheiligheid. Is ’n LGBT+ kind dan nie deel van jou gesin nie? Waarvoor baklei jy dan as jy jou eie kinders verwerp in die naam van “die gesin”?

Ek dink hulle het dalk te veel van die sjerrie gedrink. Jou eie gesin of selfs dalk jou familie verbrokkel, omdat jy nie kan aanvaar iemand is anders as jy nie.

Toe was daar ’n kommentaar gewees wat sê jy moet inval met die status quo in ’n demokrasie. Die idee van “eenheid in verskeidenheid” word in hierdie paradigma vervang met ’n idee soortgelyk aan “Arbeit macht frei”. Ja, ek sê dit nie om dowe neute nie. As jy nie in ’n demokratiese land jouself kan wees soos jy goeddink nie, leef jy nie in ’n ware demokrasie nie. Dis so eenvoudig soos dit. Rusland het in 2023 basies die LGBT+ gemeenskap verban, omdat die LGBT+-beweging beskou word as ekstremisties. Dadelik was 10% tot 12% van die Russiese bevolking onwettig.

Maar dan is daar die regses wat sê dat Poetin die regte ding doen. Moenie dink dis net wit, cisgender mans wat so dink nie. Caitlyn Jenner, onder andere, is berug daarvoor dat sy ’n anti-trans-aktivis is, maar self trans is. Sy is onder die indruk dat sy gered sal word wanneer die res van ons aangeval word. Ek het al daardie movie gesien. Dit eindig nie goed vir die verraaier nie.

Jy kan ook nie ’n redelike argument voer met iemand wat heeltyd blindelings vasklou aan hul sjerrie nie. Of dit nou ’n godsdienstige of politieke oortuiging is, maak nie saak nie. Die kanse is goed dat iemand vir jou sal sê: “God maak nie foute nie”, of iets in dier voege.

Daar is ’n klomp probleme met enige argument gebaseer op godsdiens. Die grootste hiervan is dat mense dieselfde skrif lees en tot by heeltemal ander gevolgtrekkings kom. Jy moet ook, om so ’n gesprek te voer, aanneem dat daar wel een of ander opperwese of goddelikheid is. Om Trixie Mattel aan te haal: “God’s not real and I am. So, do that with that.” Dan is dit dadelik gelykop tussen die twee kampe.

Ek gaan nie my stem stilmaak omdat jy ongemaklik is of omdat jy dink ek is siek nie. Ek weet ook wanneer iemand te veel sjerrie gehad het. Die Grafsteensangers-lirieke sê dit eintlik die beste:

Ons is so gelukkig as pappie weer tuis is
Met liefde omring hy ons dan
Maar een bottel sjerrie maak hom so wreedaardig
As mammie dan huil, slaat hy haar
Dan het hy g’n liefde vir mammie en ons nie
Hy wil ons dan altyd verlaat.

Moenie dink dis net pappie wat skuldig is nie. Daar is net soveel mammies, boeties, sussies, tannies, oompies, niggies, nefies en ander wat ook te veel sjerrie vat. Dit voer die vooroordeel en haat.

Ek het beter dinge om te doen met my tyd as om iemand se bestaansreg aan te val. En ek is sat daarvoor om my bestaan te verdedig. Ek is lankal verby die stadium waar ek jammer sê dat ek bestaan. Hierdie katjie het kloue, veral as jy te veel sjerrie gedrink het.

Hier is die groot vraag: wat word van jou kind of broer of ma wanneer jy herstel van al die sjerrie?

Sien ook:

Die bevordering van gendergelykheid onder kinders: ’n onderhoud met Elma de Vries

Whose voices matter? Trans erasure in public discourse

Só benader mens die transgender-gesprek sensitief en sinvol

Die transgender kind en skole se grondwetlike verpligting teenoor leerders

’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

  • 1

Kommentaar

  • Connie Kerkmuis

    Die geval van Jenner is 'n interessante een waarvan ek nie bewus was nie. Natuurlik is ek bewus van Jenner self, maar nie van haar sogenaamde anti-trans aktivisme nie. Volgens die bietjie wat ek nou gesien het, is Jenner se aktivisme gebaseer op 'n bepaalde argument. Die argument is basies as volg: Jenner voer skynbaar in kort aan dat sportsoorte onderskei tussen mans en vroue en omdat mans 'n biologiese voorsprong bo vroue geniet, bestaan daar tipies verskillende afdelings vir mans en vroue. Daarsonder sal vroue weinig tot geen titels kon wen nie. Transvroue se deelname aan vrouesport is volgens Jenner dus onregverdig teenoor vroue, omdat transvroue nie biologies vroulik is nie.

    Indien Jenner nou 'n cisgender man was, kon haar opnie heel maklik van die tafel gevee geword het deur haar as seksis af te maak. Maar nou is sy nie 'n cisgender nie. En veral is sy nie 'n man nie. Sy van alle mense verstaan die onderskeid tussen biologie en gender as sosiale konstruk dus eintlik nogal baie goed. Nou is sy bloot 'n 'verraaier'. Nou 'haat' sy skynbaar haarself...Gelukkig tog die feit dat enige een wat durf verskil, gewoon 'n spul Nazi's is.

    Dit lyk vir my al meer en meer of ons sal moet terugkeer na die antieke era, toe daar slegs een kategorie by die Olimpiese Spele was. Daardie jare kon slegs manne deelneem. Maar nou sal ons die een afdeling vir alle mense kan oopstel. Ek is seker dit sal al hierdie faaights sommer tjoef-tjaf oplos. Dit sal baie geld en tyd ook spaar, want die afsonderlike afdelings vir manne en vroue, neem baie tyd en organisasie in beslag. Bestaande rekords van die onderskeie afdelings kan dan sommer in die een nuwe algemene afdeling gealmagameer word.

    Die Oulimpieks, en georganiseerde professionele sport in die algemeen, is in elk geval maar grotendeels die rykmense se stokperdjie. En rykmense het genoeg vrye tyd vir al die dinge. Ons moet sommer ook een span he vir rugby, krieket, netbal, hokkie, sokker ens. Deur afsonderlike afdelings vir manne en vroue te skrap, sal alle sportgebeure halfveer, wat uitstekend sal wees, want die wereld is juis te sportbehep en die kunste word gruwelik afgeskeep. Met al die ekstra ure elke Saterdag, sal ons almal hopelik bietjie Shakepeare ook kan inkry. Ons kan nog verder tyd bespaar deur alle mannekore en vrouekore te verbied. Ek was self jare terug in 'n mannekoor, dit was seker verkeerd. Ek pleit egter slagofferskap van my ouers se Christelike indoktrinasie. Hulle God het hulle vertel mans en vroue het verskillende plekke in die samelewing. En ek was ook so geskool.

    In God is daar gewis geen antwoorde en oplossings nie ja. Dit het ek gelukkig intussen goed besef. Met baie stampe en stote langs die pad daar uitgekom.

    Ek het geen idee wat is Jenner se opinies oor die oorlog tussen Rusland en Joekryn nie, ten spyte van pogings om uit te vind. Sou interessant wees om te weet. Dit skyn dat sy 'n republikein is en ook 'n aanhanger van Donald Trump. Persoonlik hou ek niks van die soort samelewing en politiek van Poetin nie. Tog vra ek myself af, wat is die VSA se presiese rol in daardie konflik? Sou daar so konflik gewees het indien die VSA nie hulle militêre basisse gaan bou het waar hulle die Russiese owerhede opsetlik bedreig het nie? En ook, wanneer eindig hierdie konflik nou? Ons was destyds vertel die Russe is basies op hulle kniee, en die oorlog gaan oor wees teen krismis, dit was amper so arrogant soos die Engelse tydens die Boereoorlog...en nou?

    Ons hou daarvan om te dink dat ons soveel beter mense is as mense soos die Russe. Ons vergeet gou dat 30 jaar gelede was ons samelewing nog net so heteronormatief as wat hulle nou nog is. Trouens, ons is darem so entjie vooruit al, maar nie veel nie. Die feit dat ons die Russe vooruit is met LGBTQI regte, beteken gewis ook nie die Amerikaners se aggeresiewe gedrag is alles in orde nie. Ons eie ANC regering, wat pro-gay is, is ook aan Poetin se kant, al se hulle dit nie sommer openlik nie.

    Is soos die DA, wat pro-Israel is, maar hulle weet goed hulle mag dit nie hardop noem nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top