Eet gerus die pienk roomys

  • 0

Ter nagedagtenis aan my buddy Nick

Hierdie artikel is geskryf om disinformasie teen te werk.

Kry asseblief die feite hier.

Baie van my vriendinne het kinders. Ek was onlangs by een van die kinders se verjaardagpartytjie gewees. Die mense wat daar was, het hulle kinders toegelaat om kinders te wees. Die laaitie was net so opgewonde oor die meisie se teddie met die mooi pers rokkie as wat die meisie opgewonde was oor die laaitie se dinosouruseier. Myns insiens is dit hoe dit moet wees. Leer seuns dis oukei om emosie te wys en om versorgend te wees. Leer meisies oor dinge wat tradisioneel vir seuns opsygeskuif was. Dit maak goeie, geronde grootmense, ongeag wat hul gender is.

...
Daar is baie inligting op die internet wat heeltemal verkeerd is oor die sorg van transgender kinders.
...

Helaas hoor ek helder hoe Helen Lovejoy van The Simpsons skree: “Won’t somebody please think of the children?” Veral omdat die laaitie se teddie ’n hemp aan het met ’n reënboog op. Skandalig! Ek hoor hoe die ouens op skool geweier het om ’n roomys te koop by Sun City, want hulle is nie meisies nie. Hoe durf pienk roomys lekker wees? Dit voel vir my ook die kamstige vereistes om ’n man of vrou te wees raak al hoe meer onhaalbaar.

Dit raak al hoe moeiliker om te pas in die idees van “manlik” en “vroulik”. Die rolmodelle wat kamstig hierdie ideale voorstel, is uiters pateties, veral as hulle bekend is. Ons kan beswaarlik sê dat Andrew Tate ’n goeie rolmodel is, veral met die aantygings teen hom en sy broer. Die Kardashians, famous for being famous, is ook nie werklik wat ek sou beskou as wonderlike rolmodelle nie, veral nie as jy die komkommer gesien het nie. Ek kyk gewoonlik ‘n bietjie nader en na die minder bekendes vir goeie rolmodelle, soos my pa of my buddy Nick.

Nick is onlangs oorlede. Hy was ’n heteroseksuele, cis man gewees wat glad nie omgegee het oor wie of wat jy doen nie. As jy gelukkig was, was hy gelukkig. Hy het my vertel dat hy net so lief is vir hierdie weergawe van my as die vorige een. Dit was nie maklik nie, maar hy het gesien ek is gelukkig.

“Ek dink net nie hulle moet vir kinders hormone gee nie.” Hy was self ’n ouer, so ek begryp waarom hy hierdie stelling maak. Daar is baie inligting op die internet wat heeltemal verkeerd is oor die sorg van transgender kinders. Hy was baie meer gerus toe ek hom die waarheid vertel. Ek het ook die bronne om my stellings te staaf. Gewoonlik ontbreek bronne wanneer mense aanvoer dat ’n agtjarige borsinplantings gekry het.

Daar bestaan ’n dokument getitel Standards of Care 8 (SoC8), wat saamgestel is deur die World Professional Association for Transgender Health (WPATH). Geen dokter gaan hormone gee vir ’n kind van 6 of 7 nie. Dis een van die mites wat ek al op die internet gelees het. Die SoC8 verduidelik baie mooi dat kinders eers puberteitsblokkers kry voordat hulle enige hormoonbehandeling ontvang. Daar is kriteria wat uiteengesit word. Daar is ook streng kriteria wat voorskryf hoe en wanneer adolessente sjirurgie mag kry, indien hulle in aanmerking kom daarvoor. Helaas kry feite baie minder klieks as sensasie.

“Ek wil net hê my kind moet happy wees. Maak nie saak wat hy vir my vertel nie, ek sal daar wees vir hom.” Dis wat Nick altyd gesê het. Helaas is dit nou slegs in gees.

Nick is reg. ’n Ouer moet daar wees vir ’n kind. My vriendin se kind het geen probleem met mense wat anders as hy is nie. Sy gaan ook geen probleem hê met hom as hy anders is nie. Ongelukkig is daar nog baie daar buite wat van mening is net dogtertjies eet pienk roomys, soos die kind se pa. Laat ons ook nie vergeet van Gretha Wiid se uitlatings oor Woolworths se reënboog nie. Hoe durf hulle sê dat almal menseregte en gelykheid verdien? Skandalig!

Of dit nou gaan oor ’n swembroek soos Govender berig het op 29 Mei 2023, en of dit nou gaan oor die bestaansreg van transgender persone, kinders is collateral damage in grootmense se ideologiese geskille. Dit gaan nie oor die pienk roomys nie. John Oliver, wat wonderlike beriggewing doen oor die status quo in die VSA, het ’n video oor transgendersake gemaak. Kinders is juis een van die onderwerpe wat hy bespreek het. Hy’t gewys hoe Kai Shappley voor die Texas State Legislature gaan betoog het teen beplande wetgewing wat gender affirming care aan jongmense sou verban. Sy is op daardie stadium 11 en is noodgedwonge ’n aktivis omdat grootmense se ideologiese geskille haar bestaansreg negatief beïnvloed.

Sekeres sal aanvoer dat die ouers haar dwing om trans te wees of haar op een of ander wyse beïnvloed het. Hulle kyk die feit dat die ouers hulle kind lief het, heeltemal mis. Hulle besef nie hoe absoluut aaklig dinge moet wees vir ’n 11-jarige meisie om ’n aktivis te word nie. Trans kinders word gedwing om hopeloos te vinnig volwasse te word, weens die ongemak van volwassenes.

...
Hy’t geweet hy’s ’n man ondanks die pienk roomys wat hy eet. Hy het ook geweet ek is ’n vrou ongeag al die Castles wat ek drink.
...

Dalk skryf ek nou vir die verkeerde mense, maar jy gaan nie groei as jy in jou gemaksone bly nie. As jy nie elke nou en dan ‘n bietjie ongemaklik raak nie, dan leer jy nie enigiets nie. Jy stagneer. My buddy Nick was soos ’n rustige rivier wat ongemak betref: altyd aan die vloei. Hy was ook altyd bereid om hulp te verleen waar hy kon. Dalk moet ons almal meer soos Nick probeer wees en minder soos Helen Lovejoy of Andrew Tate.

Nick het lekker geëet aan sy pienk roomys die dag toe ons by Dros sit en krieket kyk het. Hy’t geweet hy’s ’n man ondanks die pienk roomys wat hy eet. Hy het ook geweet ek is ’n vrou ongeag al die Castles wat ek drink. Dis net ’n roomys, maar dit gaan nie oor die roomys nie. Dit gaan ook nie oor badkamers of sport nie.

As die kind ’n pienk roomys wil hê, gee dit tog. Die lewe is bitter genoeg.

Die feite

Met die skrywer se toestemming het ’n kenner wat betrokke was by die skryf van Standards of Care 8, ook by die Suid-Afrikaanse riglyne, en tans ook by werk van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisie), die volgende inligting verskaf ter ondersteuning van Ellis-Le Roux se teks.

Daar is uitstekende riglyne beskikbaar oor die behandeling van trans individue.

Akademiese joernale

Coleman E ea. 2022. Standards of Care for the Health of Transgender and Gender Diverse People, Version 8, International Journal of Transgender Health, 23, sup1, S1-S259, DOI: 10.1080/26895269.2022.2100644.

Tomson A* ea. 2021. Southern African HIV Clinicians Society gender-affirming healthcare guideline for South Africa. S Afr J HIV Med, 22(1), a1299. https://doi.org/10.4102/sajhivmed.v22i1.1299.

* Nota: Gemelde artikel is ’n verkorte weergawe van die Suid-Afrikaanse riglyne. Die volledige Suid-Afrikaanse riglyne is hier beskikbaar.

Ander bronne

Govender, P. 2023. Swimsuit row erupts over school rule for trans boys. TimesLive, 29 Mei 2023. https://www.timeslive.co.za/sunday-times/news/2023-05-28-swimsuit-row-erupts-over-school-rule-for-trans-boys/

YouTube. 2022. Transgender rights II. Last week tonight, 29 Mei 2023. https://www.youtube.com/watch?v=Ns8NvPPHX5Y.

Die twee skakels

Standards of Care 8: https://www.tandfonline.com/doi/full/10.1080/26895269.2022.2100644.

Volledige Suid-Afrikaanse riglyne: https://sahivsoc.org/Files/SAHCS%20GAHC%20guidelines-expanded%20version_Oct%202021(3).pdf.

Lees ook:

Godsdiens, inklusiwiteit en bondgenootskap vir kommersiële gewin: Is Woolworths tussen die duiwel en die reënboog?

Transgender: keuse of genetika?

Oor die transgender-gesprek

Die transgender kind en skole se grondwetlike verpligting teenoor leerders

Feminisme: Die perspektief van ’n "bose" transgender vrou

Amanda Gouws, ek is ’n feminis, nie ’n transfoob nie

Wat beteken die + in LGBTQIA+?

Ons moet álmal veilig voel – en dit geld vir gender ook

Resensie van bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze

Só benader mens die transgender-gesprek sensitief en sinvol

Is diskriminasie teen transgender en interseksatlete veroorloof?

’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top