Godsdiens, inklusiwiteit en bondgenootskap vir kommersiële gewin: Is Woolworths tussen die duiwel en die reënboog?

  • 2

Junie is Pride-maand, wanneer elke maatskappy en hul maat onthou dat die Pink Pond ekstra uitgebuit kan word.

Ekskuus, wat ek bedoel het, is dat elke maatskappy kan wys hoe inklusief hulle is deur ’n reënboog op ’n plakkaat aan te bring en ’n paar items ten duurste te koop aan te bied ter ondersteuning van die LGBTQI+ gemeenskap. Nie dat die gemeenskap volle voordeel uit die winste trek nie. Ten beste word ’n minuskule persentasie van winste uit die verkope van die Pride-items aan een of twee organisasies geskenk. Die grootste deel van die wins steek die besigheid in hul eie sak met ’n gevoel van genoegdoening dat hul deug nou genoeg gebasuin is tot volgende jaar Junie. Die ander 11 maande van die jaar is die queer gemeenskap aan hul eie lot oorgelaat.

............
Ten beste word ’n minuskule persentasie van winste uit die verkope van die Pride-items aan een of twee organisasies geskenk. Die grootste deel van die wins steek die besigheid in hul eie sak met ’n gevoel van genoegdoening dat hul deug nou genoeg gebasuin is tot volgende jaar Junie. Die ander 11 maande van die jaar is die queer gemeenskap aan hul eie lot oorgelaat.
............

Is ek sinies? Natuurlik. Inklusiwiteit behoort tog nie net een maand van die jaar deel van ’n besigheid se waardes te wees nie. Boonop is dit nou maar eenmaal so dat die insluiting van een groep noodwendig ’n ander groep uitgesluit sal laat voel. Of, soos ’n vriend dit ietwat kru uitdruk, iemand van buite die tent sal altyd die behoefte voel om in te urineer. Behalwe dat hy ander woorde gebruik het.

Toe Woolworths hulle Pride-promosie aankondig, met iets soos vier volle kledingstukke met reënbogie-motiewe daarop, het die histerie feitlik dadelik begin. Gretha Wiid, wat net in die nuus is wanneer sy steier van een stukkie haatspraak na die volgende, het onmiddellik getwiet dat sy die hele Junie nie vir Woolworths gaan ondersteun nie. Net Junie? As Wiid so erg in haar eer gekrenk voel, moes sy mos Woolworths heeljaar afsweer en eerder Shoprite, Boxer, Checkers of Spar ondersteun.

Haar twiet is vele kere met goedkeuring aangehaal, vermoedelik deur mense wat ook nou Woolworths gaan boikot. Ander Christene het haar voorbeeld gevolg. Op die plaaslike Christen-stasie met die slagspreuk “Ons verkondig Christus onbeskaamd” het die pastoor-eienaar sy gemeente en luisteraars meegedeel dat hy nie “daai plek” gaan ondersteun nie, en hy moedig almal aan om dieselfde te doen.

Nie dat die effek van die boikot enigsins sigbaar is nie. Rye is lank en besigheid floreer in Woolworths-land.

Ek vermoed in elk geval dat Jesus minder veroordelend sou wees as die mense wat nou Sy Wil predik. Hy het met tollenaars en prostitute omgegaan. Die enigste mense met wie hy ooit ongeduld getoon het, wat hy “witgepleisterde grafte” genoem het, vir wie hy ’n sweep gevleg het om hulle uit die tempel te boender, was die vrome skynheiliges, skrifgeleerdes en priesters van sy tyd. Gretha Wiid sou nie deel van sy binnekring wees as sy in Jesus se tyd geleef het nie. Nee, sy sou waarskynlik een van dié wees wat hom veroordeel en hom as moeilikheidmaker beskou het.

Aanvanklik het Woolworths ferm gestaan en duidelik gemaak dat hulle nie deur ander se godsdienstige opvattings beweeg sal word nie.

Tot die Moslems protes aangeteken het.

Toe vergeet Woolworths hulle ruggraat. Hulle moes tog besef het dat hulle teenkanting vanuit godsdienstige geledere gaan kry. Hoekom die ekstra sensitiwiteit wanneer die teenkanting vanuit Moslem-geledere kom? Kan dit wees dat Woolworths irrasionele, rassistiese vrese vir Moslem-fanatici wat geboue opblaas, fatwa’s aankondig en jihads hou, verberg? Of is dit bloot dat hulle bondgenootskap net sover strek as wat hulle sakke pas?

............
Hoekom die ekstra sensitiwiteit wanneer die teenkanting vanuit Moslem-geledere kom? Kan dit wees dat Woolworths irrasionele, rassistiese vrese vir Moslem-fanatici wat geboue opblaas, fatwa’s aankondig en jihads hou, verberg? Of is dit bloot dat hulle bondgenootskap net sover strek as wat hulle sakke pas?
............

Intussen is daar geruime tyd al ’n pragtige kleurvolle reënboogoorgang in Somersetstraat, Groenpunt. Ek het so drie weke gelede vir die eerste keer die oorgang gesien, alhoewel ek lankal weet daarvan. Dis visueel treffend, en as die pad nie so besig was nie sou ek ’n selfie wou neem. Maar spitsverkeer op ’n Vrydagmiddag is nie die beste tyd vir foto’s neem nie. Mooi soos die voetoorgang is, kan ek nie sien hoe dit queerheid in enigiemand kan aanwakker nie. Maar met die begin van Pride het ’n plaaslike politikus gedreig om die oorgang swart te verf. Hoekom dit hom die res van die tyd nie gepla het nie, is onduidelik. Behalwe as dit natuurlik net aandagsoekery was. Wat sy beweegrede ook al was, hy het nie opgedaag op die tyd en datum toe hy sy plan wou uitvoer nie.

Hoe het Pride tot stand gekom? Op 28 June 1969 het die Stonewall-protesaksie begin toe daar botsings tussen gay mense en polisie plaasgevind het. Vir ses dae was daar skermutselinge omdat die polisie op ’n gay-kroeg, die Stonewall Inn, toegeslaan het. Homoseksualiteit was onwettig. Dit was onwettig om alkohol aan gay persone te bedien tot 1966, maar uit versigtigheid het kroegeienaars hul kroeë sonder drank bedryf. Wat die Stonewall Inn anders gemaak het, was dat dit deur die mafia bedryf is.

Op daardie spesifieke aand het die polisie gesukkel om ’n lesbiër gearresteer te kry. Drie keer het hulle haar in die polisievoertuig gesit, en drie keer het sy weer uitgeglip. Toe gryp ’n polisiebeampte haar en boender haar hardhandig in. Hierna was die gort gaar, en queer mense het in protes teen die polisiebrutaliteit begin terugbaklei. Teen die volgende aand het duisende mense in protes begin bymekaarkom.

Op 28 Junie 1970 het die eerste Pride-optog plaasgevind, om die vorige jaar se protesaksie te gedenk. Sedertdien het dit gegroei tot waar daar nou ’n hele maand aan Pride toegewy word. Pride was altyd bedoel om protes te wees, om ’n geleentheid te bied vir queer mense om veilig bymekaar te wees. Geldmaak was nooit in die DNS van Pride nie, ook nie politieke aandagsoekery nie.

Wat wel sentraal aan die eerste Pride was, was fopdossers, drag queens, wat geveg het vir die reg om hulself te kan wees.

............
Dis Pride. Woolworths en ander maatskappye kan dit nie kommersialiseer nie. Nie Wiid of enige verkrampte pastoor, imam of rabbi kan dit verander, verdun of laat verdwyn nie.
............

Hoe gepas dan dat joernalis Herman Lategan ’n pragfoto op sy Facebook plaas van ’n drag queen in volle swier op die reënboogoorgang.  

Dis Pride. Woolworths en ander maatskappye kan dit nie kommersialiseer nie. Nie Wiid of enige verkrampte pastoor, imam of rabbi kan dit verander, verdun of laat verdwyn nie.

Dis Pride.

Lees ook:

Eet gerus die pienk roomys

  • 2

Kommentaar

  • Mense wat moeg is vir al hierdie dinge moenie huiwer om ateïsme bietjie te probeer nie. Daar is legio voordele byvoorbeeld, geen heilige boek waaroor eindelose jare vermors word op eksegeses en hermeunitiek nie. In ateïsme word alle boeke as die resultaat van mense se gedagtes beskou - geen bonatuurlike boodskappe nie. Daar is gevolglik nooit 'n gestry oor homoseksualiteit nie. En die grootste bate van ateïsme, sal ek sê, is daar is geen hel nie. Ek weet nie van andere nie, maar die hel is vir my 'n reuse turn off ten opsigte van godsdienste. Ek meen, hoe versoen jy immers so brandende ewigdurende hel met 'n liefdevolle almagtige god? Aikona. Ateïsme bied dus ook ontvlugting van 'n lewe van vrees. Omdat die hel as mities beskou word, tesame met die gode en lewe na die dood, kan jy sonder vrees lewe vir 'n ou duiwel wat jou tot in alle ewigheid gaan poke met sy vurk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top