Kultuuroorlog teen kommunikasie: Wat ons wil, kan, moet, mag, en nie durf sê nie.

  • 1

Hierdie lesing (sien die video) is op Sondag 27 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Lesings mag nie langer as 20 minute wees nie. Die volledige, meer genuanseerde teks verskyn hier onder.

President Cyril Ramaphosa het in 2024 ’n inklusiewe, regeringsgeleide Nasionale Dialoog aangekondig om aan Suid-Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing die geleentheid te bied om oor die land se grootste probleme te gesels en sodoende oplossings te probeer vind wat as riglyn vir die 2030 Nasionale Ontwikkelingsplan te dien. Dié dialoog begin met ’n konvensie op 15 Augustus 2025 en eindig met ’n tweede konvensie vroeg in 2026.

Die groep wat die Nasionale Dialoog gaan lei, is op 10 Junie 2025 deur die President aangekondig. Dié groep van 32 lede – onder die voorsitterskap van Brigalia Bam – staan as die Groep Vooraanstaande Persone (Eminent Persons Group) en Stuurkomitee bekend en is gekies op grond van hulle integriteit, leierskap en bydraes tot die samelewing. ’n Interministeriële komitee, onder voorsitterskap van die Visepresident, sal die regering se bydrae tot die dialoog koördineer, terwyl ’n stuurkomitee, bestaande uit verteenwoordigers van verskeie sektore van die samelewing, spesifieke belangegroepe en verskillende gemeenskappe sal verteenwoordig.

Op 15 Augustus het ongeveer ’n duisend verteenwoordigers in ’n Nasionale Konvensie onder leiding van bogenoemde groepe byeengekom om die agenda vir die dialoogproses op te stel. ’n Wye raamwerk van ongeveer 30 tematiese fokusgebiede is geïdentifiseer wat as raamwerk vir die opstel van ’n finale agenda sal dien. Ná die Nasionale Konvensie sal alle besprekings, insette en voorstelle in ’n omvattende verslag saamgevat word om prioriteite te bepaal en aksieplanne op te stel. Hierdie lys prioriteite sal tydens ’n reeks provinsiale en plaaslike dialoë bespreek word om breër deelname en terugvoer te kry wat aan die regering voorgelê sal word met die doel om nuwe wetgewing, beleidswysigings of programaksies te beplan.

Die Nasionale Dialoog word vanuit alle kante gekritiseer. Van die besware is dat die regering se plan en mandaat vir die dialoog vaag, sonder ’n duidelike uitvoeringstrategie of strukturele raamwerk is, en dat president Ramaphosa te veel beheer oor die proses wil hê; en partye soos die Labour Party of South Africa voer aan dat die dialoog onwettig, onlogies en buitensporig duur is. Anti-apartheid aktivis Seth Mazibuko voer aan dat jeugleiers nie genooi is nie; volgens Theuns Eloff, woordvoerder van die Afrikaner Leierskapnetwerk, is bruin en Afrikaanse groepe uit die dialoog gelaat; terwyl Independent Online (IOL) aandui dat groeperings soos die Mandela-, Mbeki- en Kathrada-stigtings uitgesluit is – volgens ontleders deels omdat hierdie stigtings krities teenoor Ramaphosa se leierskap is. Benewens bekommernisse oor taalgemeenskappe is daar ook wydverspreide kritiek oor die tekort aan inklusiwiteit, doelgerigtheid, rekeninggewing, en finansiële en regsverantwoordelikheid.

Seker die grootste struikelblok vir die moontlike sukses van die Nasionale Dialoog is die onttrekking van die Demokratiese Alliansie (DA). Ná die skorsing van Andrew Whitfield – die DA se adjunkminister van handel en Nywerheid – het John Steenhuisen, leier van die DA, aangekondig dat hulle van die dialoog onttrek. Steenhuisen beskou die dialoog as ’n uitspattige “talkshop” en “doellose prestigeprojek” (Majadibodu 2025) en dat die dialoog tot geen konkrete aksie teen korrupsie of die verbetering van dienslewering sal lei nie.

Verder word die R700 miljoen wat vir die proses begroot is, uit vele oorde betwis. Die EFF het die begroting bestempel as “grotesque and wasteful” en ’n “looting mechanism, disguised as elite nation-building” (Malema 2025), wat geld mors terwyl gewone mense ly. Herman Mashaba (ActionSA) noem die proses ‘n “goedgeorkestreerde poging om Suid-Afrikaners te mislei” en eis volledige deursigtigheid oor uitbetalings en diensverskaffers (Juma 2025; Jadwat 2024; Mosia 2025; Majadibodu 2025). Cosatu vra dat dié begroting as “verbal gaffe” en ’n roekelose tikfout beskou moet word (Sidimba 2025). Intussen het president Ramaphosa aangekondig dat die begrotingsbedrag ondersoek en moontlik afgeskaal sal word.

In die lig van dié beplande Nasionale Dialoog, en teen die agtergrond van al die besware daarteen, wonder ek of “vrye debatvoering” en ware “oop gesprekke” nog in Suid-Afrika moontlik is. Ek is ’n akademikus en skrywer en my kennis van die politieke omgewing is beperk – verskoon dus as my bespreking naïef of onkundig voorkom. My essay word gerig deur berigte in die media van beperkinge op die vryheid van spraak en veral akademiese vryheid van spraak. Ek gebruik NP Van Wyk Louw se 1951-opstel “Die oop gesprek” om te besin oor:

  • die akademiese vryheid (of nie) van spraak in die lig van die heersende kultuuroorloë
  • die kansellasiekultuur en ander strafmaatreëls vir “oortredings” teen wokeness
  • die rol van akademici in die Nasionale Dialoog.

Van Wyk Louw skryf in 1951 sy bogenoemde opstel uit Europa, waar hy op daardie stadium woonagtig was. Hy verlang na Suid-Afrika en sy vriende en begin die opstel met die volgende:

Een van Suid-Afrika se goeie dinge waarna ’n mens nooit sal ophou verlang nie, is die heerlike “oop” gesprekke wat jy so dikwels daar kon kry. “Oop” gesprekke: gesprekke waarin jy oor alles kon praat; waar geen standpunt te “gewaagd” was nie, waar jy alle moontlike vorme van die lewe – tot die vreemdstes toe – van alle kante kon benader, en waar die gesprek tog nooit tot belediging, twis of woede sou ontaard nie.

Dié soort “oop gesprek” wat Van Wyk Louw beskryf – die vrylike deel en beredeneer van uiteenlopende menings: Het dit regtig bestaan? In Suid-Afrika? Dalk tussen Van Wyk Louw en sy vriende. In gesprekke tussen mense van dieselfde velkleur. Tussen mense van dieselfde sosiale klas. Oor aanvaarbare sake en onderwerpe. Oor sekere onderwerpe is daar nooit in goeie geselskap gepraat nie – homoseksuele mense het nie bestaan nie; huwelike tussen rasse was teen die wet; seks en swangerskap en slaapkamerstories het tannies na vlugsout en laventelsakdoekies laat gryp; apartheid was deel van die orde van die dag. Politieke sake is deur die Nasionale Party beheer – waarom daaroor praat of redeneer?

Waaroor het mense in die 1950’s dan gesels? Louw noem dat hulle oor “alle dinge wat in die hemele is, of op die aarde, of in die waters onder die aarde: politiek, wysbegeerte, kuns, literatuur; teologie ...” gesels het; [ligtelik én ernstig, soms skerp, nooit bitter nie, soms geestig, dikwels ironies, soms met vlugte van parodie en karikatuur ... maar alles binne die beperkings van hoflikheid].” (My aanpassing)

Oop gesprekke moes dus tog wel bestaan het – Louw verwys dan daarna. Maar was dié gesprekke werklik “oop” as net sekere mense by hierdie gesprekke toegelaat was en net sekeres die reg gehad het om insette daarin te lewer? Kritiek deur swart leiers, kunstenaars, akademici en Afrikaanse aktiviste is onderdruk, geïgnoreer, verwerp. Mense met ander opinies is vervolg, in die tronk gestop, “stilgemaak”. Publikasies, boeke en politieke menings wat teen die staat se besluite ingegaan het, is verban of gesensor. Louw self het hom die kritiek van HF Verwoerd op die hals gehaal deur die drama Die pluimsaad waai ver waarin hy na “volk-wees” verwys en MT Steyn as held uitgebeeld het.

As die gesprekke van die 1950’s “oop” was, was daardie oop maar baie toe vir baie mense en hulle menings. Soos baie mense nou vrees die Nasionale Dialoog ook gaan wees.

Vir ’n baie, baie kort tydjie in die laat 1980’s en vroeë 1990’s is Suid-Afrikaners toegelaat om te praat – om hulle stem letterlik en figuurlik uit te bring:

  • Die United Democratic Front (UDF) was ’n groot veelrassige opposisiebeweging teen apartheid wat in 1983 gestig is en uit duisende burgerlike organisasies, vakbonde, jeuggroepe, vroueverenigings, ens bestaan het.
  • Die Black Consciousness Movement (BCM) – deur Steve Biko geïnspireer – het gefokus op die herstel van swart identiteit en waardigheid en het rasbewustheid, selfdefinisie en nie-afhanklikheid beklemtoon.
  • Die Congress of South African Writers (COSAW), ’n organisasie vir swart en bruin skrywers, is in 1987 gestig en het intellektuele ruimte geskep vir gesprekvoering oor literatuur, onderdrukking en politiek.
  • Die Afrikaner-Volksvergadering was ’n eenmalige inisiatief van Afrikaner-intellektuele, kultuurleiers, akademici en kerkleiers wat in 1991 byeengeroep is om die toekoms van Afrikaners in ’n postapartheid Suid-Afrika te bespreek. Die doel van die Volksvergadering was om vrye, eerlike gesprekvoering tussen verskillende bevolkingsgroepe en Afrikaner-groepe aan te moedig.
  • In 1991 is die Afrikaanse Skrywersvereniging vir ’n Oop Gesprek (ASVOG) deur progressiewe Afrikaanse skrywers en ander intellektuele gestig as ’n reaksie teen sensuur, politieke manipulering van kultuur, en die stilmaak van stemme binne Afrikaanse literêre kringe.
  • Die Forum vir Demokratiese Gesprek (FDG) was ’n groep Afrikaner-intellektuele, akademici en invloedryke figure wat krities oor apartheid en ten gunste van hervorming was. Die FDG het gefokus op vrye gesprekvoering, demokrasie, versoening en inklusiwiteit, en het sodoende ’n belangrike rol in die ontstaan van gesprekvoering met die ANC en ander bevrydingsbewegings gespeel.
  • Die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) was ’n veelrassige, nasionale politieke onderhandelingsforum wat in Desember 1991 van stapel gestuur is met die doel om die vreedsame oorgang van apartheid na ’n demokratiese Suid-Afrika te bewerkstellig. Kodesa was oop vir alle Suid-Afrikaners, alle politieke partye, gemeenskapsorganisasies, burgerlike strukture, tradisionele leiers en kerke, en was die eerste groep wat ware inklusiewe politieke dialoog, vryheid van spraak en gelyke deelname in Suid-Afrika bevorder het. Kodesa was doelbewus tydelik van aard en ná die ontbinding daarvan in 1993 is onderhandelinge verder gevoer deur die veelparty-Onderhandelingsforum wat tot die 1994-verkiesing en saamstel van die nuwe Grondwet gelei het.

Ná 1994 het die vryheid om te praat op die oog af dramaties uitgebrei met groter deelname deur voorheen uitgeslote stemme: Swart akademici, vroue (wit én swart), werkers uit alle lae van die samelewing, verskillende gendergroepe, mense van verskillende godsdienste, en selfs mense van verskillende politieke oortuigings is toegelaat om húlle waarhede te praat. Die “oop gesprek” het dus wel “oper” geword, maar ’n ongeskrewe stel reëls het geleidelik die samelewing binnegesluip – reëls wat bepaal wie mag praat en namens wie, en wat gesê en hoe dit gesê mag en moet word. Dié reëls het só kompleks geword dat daar amper geen gesprek meer met gemak gevoer kan word nie. Diegene wat probeer, moet binne die streng riglyne van “korrektheid” bly.

Vandag bestaan daar nie ’n enkele inklusiewe, niepartydige organisasie vir vrye politieke gesprekvoering in Suid-Afrika (soortgelyk aan Kodesa of die FDG) nie. Daar is wel verspreide pogings en kleiner forums, maar niks met dieselfde nasionale, vrye, veelrassige en oopgesprekvoeringsmandaat nie. Moet ons dit sien as die wiel wat gedraai het, of moet ons aandring op die vryheid van spraak soos wat in die Grondwet aan ons beloof word?

Verskeie Suid-Afrikaanse leiers het oor die jare vir oop gesprekvoering gevra:

  • President Nelson Mandela het telkens beklemtoon dat oop gesprekvoering ’n bousteen in versoening en begrip tussen mense is.
  • Aartsbiskop Desmond Tutu het beklemtoon dat gesprek en dialoog die pad na die herstel van verhoudings is.
  • Dr Mamphela Ramphele het beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat alle mense, veral mense wat histories uitgesluit is, in gesprekvoering betrek moet word.
  • Mnr Steve Biko het oop gesprekvoering as ’n manier gesien waardeur mense bemagtig sal word om hulle gedagtes en stem te bevry.
  • President FW de Klerk het beklemtoon dat slegs oop, eerlike gesprekke oor moeilike onderwerpe begrip en versoening in Suid-Afrika gaan verseker.
  • President Thabo Mbeki vra al jare dat so ’n nasionale dialoog moet plaasvind. Hy glo dat die land se uitdagings – soos ongelykheid, korrupsie, werkloosheid, rassespanning, en ’n gebrek aan nasionale eenheid – nie deur een politieke party of die regering alleen opgelos kan word nie, maar dat dit ’n gesamentlike inspanning van alle Suid-Afrikaners verg, en dat burgers en leiers uit alle sektore van die samelewing – politiek, burgerlike samelewing, godsdiensgroepe, akademici en die jeug – deel moet wees van ’n oop en eerlike gesprek oor die land se toekoms.

Ek kan hierby lyste en lyste name van politieke en akademiese leiers en ander denkers voeg wat steeds en sonder ophou pleit dat Suid-Afrikaners moet praat. Praat in gesprekke soos Louw beskryf het waarin:

... elkeen gewillig [is] om sy eie standpunt tot die uiterste uiteen te sit en te verdedig; maar dan ook gewillig [is] om hoflik en in vriendskap te luister na die teenstander, sy standpunt te probeer begryp en saaklik (al was dit skerp!) op sy veronderstellings in te gaan. Maar hoofsaak was [dit ...] die botsing van menings, die ondersoek na standpunte, die ingraaf onder ’n ander se fondamente terwyl jy self weer jou eie grondslag met die koevoet toets.

... om hoflik en in vriendskap te luister, mekaar se standpunte te probeer begryp, ander se standpunte te ondersoek, jou eie idees te toets ...

Amper ondenkbaar in ’n samelewing waar ons met gespitste ore sit en wag dat iemand iets “verkeerds” sê of doen sodat ons dit aan die groot klok kan hang, uit verband kan ruk, mekaar kan beskuldig en slegsê en op sosiale media kan aanval. Met die gevolg dat die kanse vir praat minder en minder raak, dat akademici en kunstenaars binne die veilige grense van politieke korrektheid bly eerder as om te praat oor die sake waaroor gepraat moet word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet is geleentheid vir oop gesprekvoering tegnies beskikbaar. Die Grondwet waarborg vryheid van spraak in artikel 16 van die Handves van Regte (hoofstuk 2 van die Grondwet). Artikel 16(1) sê dat almal (die pers en ander media ingesluit) die reg op vryheid van uitdrukking het en die vryheid om inligting of idees te ontvang en oor te dra. Die vryheid van kreatiewe kuns, akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing word ook beskerm. Artikel 16(2) stipuleer duidelik dat om mense tot oorlog, haat of geweld aan te hits hierby uitgesluit is, en dat haatspraak of diskriminerende taal wat skade kan veroorsaak, nie beskerm is nie en strafbaar is.

’n Oop gesprek – of ons dit debat, dialoog, diskoers, bespreking, onderhandeling of enigiets ander noem – word dus binne die grense van artikel 16 beskerm. Hoekom bly ons dan stil oor sake waaroor daar gepraat móét word? Artikel 16(1) waarborg ook die vryheid van die kreatiewe kunste, van die akademie en van wetenskaplike navorsing. Tog is dit duidelik uit berigte en boodskappe in die media en op sosiale media dat akademiese vryheid nie werklik meer vry is nie:

  • Jonathan Jansen noem dat universiteite plekke geword het waar mense te bang is om vrylik te praat – selfs dié wat veronderstel is om kritiese denke te bewaak.
  • Nic Spaull skryf op X dat akademiese kwaliteit afgebreek word en dat universiteite die gevaar loop om onkundigheid te romantiseer in die naam van transformasie.
  • David Benatar meen dat UCT ’n vyandige omgewing vir ernstige intellektuele betrokkenheid geword het, ’n omgewing waar andersdenkendes gestraf word eerder as dat daar gepraat word.
  • RW Johnson skryf dat Suid-Afrika se universiteite vasgevang is tussen teenoorgestelde noodsaaklikhede: die strewe na geregtigheid en die behoud van vryheid.
  • Johan Rossouw beskou akademiese vryheid as ’n noodsaaklike voorwaarde vir die ontwikkeling van ’n vrye, regverdige en vooruitstrewende samelewing. Hy waarsku dat indien akademiese vryheid ondermyn word – deur politieke inmenging, sensuur, of selfs selfsensuur uit vrees vir vervolging of kansellering – die universiteit nie langer ’n ruimte vir ware leer en vrye debat sal wees nie, maar ’n blote verlengstuk van mag en ideologie.

Weer eens is daar baie name wat ek hierby kan voeg, maar gedagtig aan die voorwaardes vir verteenwoordigendheid en politieke korrektheid laat ek dit hierby. (Beperk ek dus my eie vryheid van spraak? Ja.)

Die woord akademie kan teruggevoer word na Plato se skool vir filosofie wat hy om en by 385 vC te Akademia gestig het. ’n Akademie in sy klassieke vorm was ’n plek van intellektuele besinning deur filosofiese gesprekvoering en vir die waardering en bevordering van skeppende werk; ’n ruimte waarin vrye denke, ope debatvoering en die soeke na waarheid sentraal gestaan het. ’n Akademie in sy huidige vorm word gesien as ’n gesofistikeerde instelling vir tersiêre onderwys en wetenskaplike navorsing met die fokus op spesialisasie, produktiwiteit en meetbare uitsette soos publikasies, akademiese prestasies en kennisontwikkeling. Die verwante terme akademia en akademici verwys na die globale leerkrag van professore, navorsers en lektore.

Akademiese instellings staan dus vir die vryheid om te praat, te debatteer en te besin. Akademiese vryheid is die reg van hierdie instellings en die akademici om kennis na te streef, rede te voer, te onderrig en navorsing te doen, en dat hulle beskerming sal geniet van inmenging deur owerhede of teen enige vorm van sensuur (Venter, Botha, Du Plessis en Alberts 2017). Akademiese vryheid sluit verder in die vryheid om idees, kennis en sake van belang te ondersoek, te bespreek en te versprei – selfs dié wat omstrede of ongewild mag wees – binne die raamwerk van die wet en binne die grense van professionele standaarde. Akademiese vryheid is van kardinale belang vir die bevordering van kennis, intellektuele presiesheid en die kritiese beoordeling van sosiale en politieke norme.

Die Akademiese-vryheid-indeks, wat deur die V-Dem Institute (die afkorting vir Varieties of Democracy Institute) vanuit die Gothenburg Universiteit in Swede bestuur word, berig dat akademiese vryheid wêreldwyd meer as ooit gedurende die afgelope 150 jaar beperk word. Dié beperking word hoofsaaklik aan outoritarisme, politieke polarisasie en populisme toegeskryf. Die Academy of Science of South Africa (AASAf) berig ook dat regeringsregulasies, die invloed van die privaat sektor in terme van borgskappe aan universiteite, en beperkinge ten opsigte van vryheid van spraak akademiese vryheid in Suid-Afrika beperk (Belluigi 2023). Ons kan hierby ook die huidige mag van die sogenaamde kultuuroorlog voeg.

Die term culture war is deur James Davison Hunter in sy boek Culture wars: the struggle to define America (1991) geskep, waarin hy beskryf hoe die Amerikaanse samelewing verdeel geraak het oor fundamentele morele en kulturele vrae, ’n verskynsel wat vandag eintlik wêreldwyd voorkom. Kultuuroorloë is basies die ideologiese botsings tussen verskillende wêreldbeskouings, waardes en norme, en sluit temas soos identiteit, moraliteit, ras, geskiedenis, geslag, die reg op uitdrukking en die reg op eie ideologie in. In Suid-Afrika speel dié verskille egter ook uit in die spanning tussen postkoloniale narratiewe en gevestigde Westerse akademiese strukture. In hierdie verband sluit die voorbeelde in: die verwydering van koloniale standbeelde, debatte oor geslag en identiteit, die herskryf van kurrikula (van skole én universiteite), en die bevordering van moedertaalonderrig. Kultuuroorloë word met woorde, idees, beleidsdebatte, media, onderwys en kuns gevoer – en vind plaas in klaskamers, parlemente, op sosiale media en binne gemeenskappe. ’n Mondvol, maar intens en uitdagend vir die akademici wat daarby betrokke is.

Sedert #RhodesMustFall en #FeesMustFall (2015–2016) het Suid-Afrikaanse jongmense begin om ras, taal, klas, geslag en seksualiteit (en al die ander sake hier bo genoem) as politieke wapens te gebruik om transformasie en verandering te eis ten opsigte van wat hulle as polities korrek beskryf – selfs transformasie op terreine wat niks met akademie of politiek te make het nie, maar ten opsigte van alles wat in die verlede nie erken of aangespreek is nie. Universiteite is die geskikte slagvelde vir hierdie vorm van identiteitspolitiek wat ook taaldebatte, wit bevoorregting, dekolonialisering Afrikanisme, simbole en simboliek, geslagsideologieë en regstellende aksie insluit. En dan is daar ook nog “wokeness” ...

Wokeness is die verpersoonliking van die kultuuroorlog – as jy “woke” is, handhaaf jy al die “regte” waardes, sê jy al die regte dinge, behandel jy almal op die “korrekte” manier, en waag jy nie om opinies openlik uit te spreek nie.

Dié term het oorspronklik in Afro-Amerikaanse Engels ontstaan as ’n oproep tot sosiale bewustheid en aktivisme teen onderdrukking en diskriminasie, veral ten opsigte van rassisme. Met verloop van tyd het die betekenis van wokeness egter uitgebrei om ook sensitiwiteit vir ander vorme van onreg, byvoorbeeld seksisme, homofobie, transfobie, koloniale erfenisse en sosiale ongelykheid in te sluit. In die hedendaagse wêreld word “wokeness” soms positief gebruik in sosiale, politieke en akademiese gesprekke en as ’n strewe na sosiale geregtigheid, maar ander kere met kritiek of selfs spot. In sekere politieke en mediakringe, veral onder regs-konserwatiewes, word dit beskou as ’n vorm van oordrewe politiese korrektheid of moralisme wat vrye spraak en tradisionele waardes ondermyn. Hierdie uiteenlopende sieninge plaas wokeness sentraal in kontemporêre kultuuroorloë en maak dit ’n sleutelpunt in debatte oor identiteit, geskiedenis, geslag en sosiale geregtigheid.

In Suid-Afrika ervaar akademici toenemend druk, en selfs aanvalle, weens hul menings, navorsingsbevindings of openbare uitsprake. Baie voel dat dit gevaarlik geword het om af te wyk van dominante ideologieë, selfs wanneer hulle standpunte akademies beredeneerbaar of empiries ondersteun kan word. Sosiale media versterk hierdie onverdraagsaamheid, en sommige voel hulle moet kies tussen stilbly en marginalisering of kansellering.

Sommige groepe voel egter dat die geslote stelsel van die verlede slegs vir die Westerse kultuur en Westerse kennis ruimte gelaat het en dat die wiel nou gedraai het, dat dit tyd geword het vir sekere groepe mense om stil te bly en vir ander om te praat. Is dit verkeerd? Sekerlik nie. Wat verkeerd is, is die beperking van menings, opinies en insette deur juis dié mense (soos akademici) wat die lig op die pad moet hou waarin hierdie veranderinge kan plaasvind. In die proses ontstaan daar spanning tussen rassegroepe en verskillende ideologiese kampe wat met behulp van ware oop gesprekvoering vermy kan word.

Akademiese kritiek is noodsaaklik vir die ontwikkeling van kennis en vir sosiale ontwikkeling, mits dit eerlik, gesofistikeerd en sensitief aangebied word. Ware kritiese denke is nie net ’n rasionele proses nie, maar sluit empatie, selfrefleksie en morele verantwoordelikheid, in. Dit vra bewustheid van vooroordele, aandag aan magsverhoudings en die bereidheid om verskillende wêreldbeskouings te oorweeg sonder om alles uitsluitlik aan Westerse norme te meet. In ’n komplekse, digitaal gedrewe wêreld gaan kritiese gesprekvoering nie oor wen nie, maar oor verstaan – en vereis dit moed, integriteit en ’n aktiewe strewe na regverdigheid en insig.

Die akademie moet ruimte gebied word vir ongemaklike waarhede sonder om aan politieke of ideologiese druk toe te gee, anders verloor dit sy rol as ’n kritiese sentrum van denke. Selfsensuur en die uitsluiting van “onaanvaarbare” idees lei tot stagnasie van kennis, politieke onderdrukking en eggokamers waar ons net oor en oor herhaal wat veilig is om te sê.

Ten slotte: Akademiese vryheid van spraak is nie net ’n reg nie, maar ’n kollektiewe verantwoordelikheid binne die nasionale dialoog. In ’n tyd van kultuuroorlog en ideologiese spanning moet universiteite nie uit vrees swyg, nie blind wees vir geskiedkundige onreg nie, en asseblief tog nie probeer woke wees nie.

Dit is duidelik uit die voorbeelde hier bo dat die sogenaamde oop gesprek nog nooit volkome oop was nie – maar dit beteken nie akademici moet moed opgee nie. Inteendeel, die Nasionale Dialoog bied dalk tóg ’n geleentheid om inklusief, eerlik en betekenisvol gesprek te voer. Die akademie se rol is om uiteenlopende idees met intellektuele eerlikheid én empatie te ondersoek en te bespreek – selfs (en veral) wanneer dit ongemaklik is. Die ware toets van ’n gesonde demokrasie lê nie in die afwesigheid van konflik nie, maar in die vermoë om opbouend en vrylik oplossings vir konflik te vind.

Ek wil afsluit deur openlik (met erkenning) die slotparagraaf van Louw se opstel aan te pas:

’n Mens vra jou af: Het Suid-Afrika die oopheid, ware liberalisme, die vermoë om vry en eerlik te praat verloor? Het dit gewyk voor kultuuroorloë en die vrees vir kansellasie, etikettering en blootstelling?

Mag dit weer na Suid-Afrika terugkom. En mag dit hier bewaar bly: die oop gesprek.

Aanhalings of bronne

Appiah, KA. 2018. The lies that bind: Rethinking identity. New York: Liveright.

Belluigi, DZ. 2023. De-idealising the problem of academic freedom and academic autonomy: Exploring alternative readings for scholarship of South African higher education. South African Historical Journal, 28(1):10–31.

Bopage, L. 2011. The role of writers and artists during turbulent political times: To celebrate 60 years of Mr Muruga Poopathy’s life. Groundviews – Journalism for Citizens. https://groundviews.org/2011/08/04/the-role-of-writers-and-artists-during-turbulent-political-times.

Buys, F. 2011. Oop standpunte nodig in die oop gesprek. Maroela Media, 29 Julie 2011. https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/oop-standpunte-nodig-in-die-oop-gesprek.

Demsas, J. 2024. You may miss wokeness. The Atlantic, 20 August 2024. https://www.theatlantic.com.

FAK. 2025. Tydvakke. Die oop gesprek. https://afrikanergeskiedenis.co.za/die-oop-gesprek.

Friedersdorf, C. 2021. What happens when a slogan becomes a curriculum. The Atlantic, 14 March 2021. https://www.theatlantic.com.

Gilbert, J. 2020. Woke capitalism: the political economy of corporate social activism. Londen: Polity Press.

Giliomee, H. 1994. Survival in justice: an Afrikaner debate over apartheid. Comparative Studies in Society and History, 36(3):527–48.

Heleta, S. 2016. Decolonisation of higher education: Dismantling epistemic violence and Eurocentrism in South Africa. Transformation in Higher Education, 1(1):a9.

Hunter, JD. 1991. Culture wars: the struggle to define America. New York: Basic Books.

Jadwat, Z. 2024. National dialogue lacks voices of the people, activist Warns. SqlaaMedia, 12 Junie 1225.

Jansen, J. 2017. As by fire: the end of the South African University. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2023. The problem with decolonisation: entanglements in the politics of knowledge. Journal of Modern African Studies, 61(1):139–56.

Jansen, JD. 2009. Knowledge in the blood: Confronting race and the apartheid past. Stanford: Stanford University Press.

Jansen, JD en CA Walters. 2022. The decolonization of knowledge: radical ideas and the shaping of institutions in South Africa and beyond. Cambridge: Cambridge University Press.

Juma, AB. 2025. Herman Mashaba wants Cyril Ramaphosa’s National Dialogue scrapped. Current Affairs ZA, 13 Junie 2025

Keuris, M. 2020. ‘n Herbesoek aan NP Van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver of Bitter begin. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2):463–76.

Kotze, K. 2025. A national dialogue must be people-centred for SA to thrive. Mail & Guardian, 24 Junie 2025.

Le Grange, L. 2016. Decolonising the university curriculum. South African Journal of Higher Education, 30(2):1–12.

Lott, L. 2023. Academic freedom growth and decline episodes. Higher Education, 88(3):999–1017.

Louw, NP Van Wyk. 1951. Die oop gesprek. Kaapstad: Nasionale Pers (Tafelberg).

Luescher, TM, L Loader en T Mugume. 2017. #FeesMustFall: Student activism and the remaking of South African higher education. Politikon, 44(2):1–15.

Lukianoff, G en J Haidt. 2018. The coddling of the American mind. Auckland: Penguin Press.

Mahlangu, S. 2025. Ramaphosa’s national dialogue faces criticism as elitist talk shop. Independent Online (IOL), 30 Julie 2025.

Majadibodu, S. 2025. They are left out because they criticised Ramaphosa. Analysts on exclusion of key foundations from National Dialogue. Independent Online (IOL), 30 Julie 2025.

Malema, J. 2025. The EFF will not stand by as R700 million is looted under the guise of a National Dialogue. Independent Online (IOL), 31 Julie 2025.

Maritz, D. 2025. Aristoteles, die apostel Paulus en NP Van Wyk Louw: ’n besinning oor die “Oop gesprek”. https://akademia.ac.za/besinning-oor-die-oop-gesprek.

Mbembe, A. 2016. Decolonizing the university: new directions. Arts & Humanities in Higher Education, 15(1):29–45.

Mogotsi, LS. 2025. Opinion: On the national dialogue. The Witness, 8 Julie 2025.

Moodie, TD. 2009. NP Van Wyk Louw and the moral predicament of Afrikaner Nationalism: Preparing the ground for verligte reform. Historia, 54(1):180–210.

Mosia, T. 2025. South Africa’s National dialogue set for R700 million as task team prepares for August 2025 launch. Central News. https://centralnews.co.za/south-africas-national-dialogue-set-for-r700-million-as-task-team-prepares-for-august-2025-launch/?utm_source=chatgpt.com.

Nichol, G. 2019. Political interference with academic freedom and free speech at public universities: the threat of governmental suppression of academic inquiry. Academe Magazine, 105(4). https://www.aaup.org/system/files/members/AcademeFall2019.pdf.

Nussbaum, MC. 2010. Not for profit: Why democracy needs the humanities. Princetown, New Jersey: Princeton University Press.

Nyamnjoh, F.B. 2016. #RhodesMustFall: Nibbling at resilient colonialism in South Africa. Cameroon: Langaa RPCIG.

Olivier, F. 2025. Die oop gesprek, die toe debat en die vernietiging van mense. LitNet. https://www.litnet.co.za/die-oop-gesprek-die-toe-debat-en-die-vernietiging-van-mense.

Powell, A. 2024. Should universities be taking official stances on political, social issues of the day? The Harvard Gazette, 17 Junie 2025.

Republiek van Suid-Afrika. 2025. State of the Nation 2025: The National Dialogue. https://www.stateofthenation.gov.za/national-dialogue.

Rossouw, J. 2019. Die siel van die akademie. LitNet, 19 Junie 2019. https://www.litnet.co.za/die-siel-van-die-akademie.

—. 2023. Maar wat ek nou vir jou sê kan ek nie in die openbaar sê nie: Notas oor die groeiende metafisiese oorlog van ons tyd. LitNet, 2023-09-21. https://www.litnet.co.za/maar-wat-ek-nou-vir-jou-se-kan-ek-nie-in-die-openbaar-se-nie-notas-oor-die-groeiende-metafisiese-oorlog-van-ons-tyd.

Sanzi, E. 2021. The monster in the classroom. City Journal, 30 April 2021. https://www.city-journal.org/article/the-monster-is-in-the-classroom.

Shokane, AL en MA Masoga. 2023. The case for African thought. Inkanyiso, 15(1):a96.

Sidimba, L. 2025. Debating the R700 million National Dialogue budget amid South Africa’s economic challenges. Independent Online (IOL), 31 Julie 2025.

Soudien, C. 2008. The intersection of race and class in the South African University: student experiences. South African Journal of Higher Education, 22(3):662–78.

Spannagel, J en K Kinzelbach. 2022. The Academic Freedom Index and its indicators: Introduction to new global time-series V-Dem data. Quality & Quantity, 57(5):3969–89.

Van Rooyen, JA. 2024. Decolonisation of African philosophy: Regular – abstraction or scientific thinking? Inkanyiso, 16(1):a112.

Venter, A, S Botha, L du Plessis en M Alberts. 2017. Explanatory dictionary of politics / Verklarende politieke woordeboek. Kaapstad: Juta.

Walters, CA en JD Jansen. 2022. A troubled body of knowledge: the durability of racial science in the anatomical sciences in South Africa. Comparative Education Review, 66(1):1–18.

West, DM. 2020. Academic freedom in a global context: challenges and perspectives. Journal of Global Cultural Studies. https://www.brookings.edu/articles/why-academic-freedom-challenges-are-dangerous-for-democracy.

Yancy, G. 2018. Backlash: What happens when we talk honestly about racism in America. Lanham, Maryland: Rowman & Littlefield.

Lees en kyk ook:

Fanie Olivier: Die oop gesprek, die toe debat en die vernietiging van mense

Jacomien van Niekerk: Miniseminaar: Moenie kanselleer nie, publiseer net meer

Johann Rossouw: LitNet Akademies-resensie-essay: Dienaar van die waarheid deur MC Botha

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Onderhoud met Laurent Devèze oor die ontstaan en era van die Franse Instituut van Suid-Afrika 30 jaar gelede

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Wat die De Villiers-era aan die Universiteit Stellenbosch ons kan leer

Jana Luther: Bolmakiesie van woke

Bettina Wyngaard: Woke: kompliment of skeldwoord?

Heindrich Wyngaard: Laat die dialoog begin!

Jean Oosthuizen: Skeptisisme oor dialoog duur voort, Ramaphosa pleit vir insluiting

Jean Oosthuizen: “Suid-Afrikaners wil praat, maar nie met Ramaphosa nie”

Jean Oosthuizen: Regering stoom voort met Nasionale Dialoog ondanks groeiende kritiek en onttrekkings

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Afrikaans Amptelik 100

  • 1

Kommentaar

  • Francois Verster

    'n Uitstekende betoog wat denke stimuleer - nou is die vraag wat ons gaan stimuleer om pro-aktief op te tree.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top