Woke: kompliment of skeldwoord?

  • 7

Foto: ’n Black lives matter-protes in Londen, 2020 (Foto: James Eades op Unsplash)

Klokslag met feitlik elke rubriek van my wat verskyn, is daar ’n paar persone wat snedige opmerkings maak oor hoe woke ek dink ek is. Asof woke ’n belediging is. Eers was dit beperk tot kommentaar op LitNet se Facebook-blad, maar al meer vind ek dat mense met wie ek nie Facebook-vriende is nie, my in hul kommentaar op derde partye se posts tag, om seker te maak ek sien hulle dink ek is woke.

Snowflake is seker nog te ver buite ons Suid-Afrikaanse verwysingsraamwerk. Dit het my laat wonder of die persone wat so kwistig met die woord omgaan, ooit weet wat dit beteken en wat die geskiedenis agter die woord is. Om woke as ’n skeldwoord te gebruik is direk uit die Amerikaanse verregse handboek. Om dus iemand van wokeness te beskuldig kry altyd ’n rassistiese verkrampte klankie.

Maar waar kom die woord vandaan? Die term stay woke as waarskuwing om bedag te wees op rassediskriminasie kom alreeds vanaf die 1930’s in sg African-American Vernacular English of Black Vernacular. Dit was dus gebruik deur swart Amerikaners as korthand om mekaar te waarsku oor rassekwessies. Van omtrent 2010 af is dit ook gebruik om breër sosiale geregtigheidskwessies aan te spreek, en met die opkoms van die Black Lives Matter-beweging het die term ook die hoofstroom bereik, soveel so dat dit in die gesaghebbende Oxford-woordeboek opgeneem is in die betekenis van politiese en sosiale bewustheid.

........
Teen 2019 het die verregses begin om dit as skeldwoord te gebruik, om aktiviste en mense wat hulle uitspreek oor sosiale geregtigheidskwessies, op hulle plek te probeer sit. Hulle gebruik dit ook om wit vrese oor aktivisme aan die kant van swart mense aan te wakker.
........

Teen 2019 het die verregses begin om dit as skeldwoord te gebruik, om aktiviste en mense wat hulle uitspreek oor sosiale geregtigheidskwessies, op hulle plek te probeer sit. Hulle gebruik dit ook om wit vrese oor aktivisme aan die kant van swart mense aan te wakker. Die idee dat woke ’n skeldwoord is, is dus ten diepste gewortel in die onderdrukking van swart stemme en die stemme van dié wat meer verlig en liberaal is, en tegelykertyd die verheffing van meer konserwatiewe wit stemme. Dit maak dus sin dat woke as skeldwoord gemaklik sal voel vir sekeres in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Ek is nie seker of daar al ooit ’n studie was oor wie in Suid-Afrika die term as skeldwoord gebruik nie. My informele en glad nie wetenskaplike steekproef wys dat die persone wat dit ten opsigte van my gebruik, almal middeljarige wit mans is met goeie taalgebruik. Ek lei dus af dat hulle waarskynlik hoërskool klaargemaak het en dalk selfs verdere opleiding gehad het. Maak dit saak? Ek dink so, want dis waarskynlik mense in ’n ekonomies-bevoorregte posisie wat hul bevoorregting probeer beskerm. En terwyl dit in my spesifieke geval dalk gaan oor my uitsprake oor sosiale geregtigheidskwessies, vermoed ek dat dit ook kan wees dat hierdie mans hul bevoorregte posisies in ander areas probeer beskerm wanneer hulle ander mense van wokeness beskuldig in gevalle wat nie verband hou met ras of sosiale geregtigheid nie.

........
Die waarskuwing om waaksaam te wees is glad nie volksvreemd vir ons in Afrikaans nie. Die terme hou jou oë oop, wakker slaap of wakker loop is bekend aan ons.
........

Die waarskuwing om waaksaam te wees is glad nie volksvreemd vir ons in Afrikaans nie. Die terme hou jou oë oop, wakker slaap of wakker loop is bekend aan ons. Hou jou oë oop was selfs onlangs die titel van ’n roman deur skrywer Brian Fredericks. Alhoewel wakker slaap in omgangstaal goed bekend is, lyk dit nie asof dit opgeteken is in enige van die idioomwoordeboeke nie. Die term wakker pies eet kom voor in Die Son-koerant in 2017. Al hierdie terme beteken om bewus of bedag te wees.

Interessant dus dat woke gebruik word, eerder as enige van hierdie meer bekende Afrikaanse woorde. Die logiese afleiding om te maak is dan dat hierdie persone wat woke as skeldnaam gebruik, self die verband tussen die woord en politieke bewussyn probeer behou. Dit beteken verder dat persone wat woke gebruik in ’n nie-politieke konteks, bewustelik hulle bevoorregting probeer beskerm.

Wat beteken dit vir my? Woke is nie ’n skeldwoord nie, dis ’n badge of honour, een wat ek met my kop omhoog sal dra. #staywoke

Lees ook:

Wat sê Bettina?: ’n Gesprek tussen Bettina Wyngaard en Trisa Hugo

Woke me up before you go-go

Wokeness: Tweespraak van Yves T'Sjoen en Benno Barnard

Christi van der Westhuizen oor witwees | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

On racism at book festivals

  • 7

Kommentaar

  • Deon du Plessis

    Bettina, ek kan my nie voorstel dat ek dit al teëgekom het dat iemand "woke" gebruik in enigiets anders as 'n neerhalende sin nie. Ironic at best. Ek voel soms dis die hedendaagse weergawe van "k****boetie. Dis wel ook iets wat in my ervaring blankes ander blankes toesnou. So ek's amper bly dat jy, wat nie 'n Afrikanertannie van die Landbou-unie is nie, ook dié tipe taal ervaar. Dit beteken die Afrikaanses het minstens één tipe vooroordeel al begin afskryf.

  • Dis nou ironies dat die gesprek oor woke en die Olympiese openingseremonie so bymekaar op LitNet verskyn. Dit gee vir my so 'n lekker Afrikaanse woord wat by dié een pas ... Jy besluit watter een: hier's die woord: armsalig (of is dit armlastig?)

  • In 2017 het Kamala Harris gesê in 'n onderhoud dat almal woke moet wees. Die wat nie woke is nie, is agterlik - baie onverdraagsaam om mense wat van jou verskil so te label. Waarom probeer jy nie die antiwokers beter ken nie? Miskien nie so afstootlik nie.

  • Jaaa! Bettina, jy boor hier 'n ding raak. En dis belangrik om oor die dinge te praat. Mense neem eenvoudig te maklik aan dat almal op dieselfde bladsy is wanneer dit by die betekenis van woorde kom. Jy, as regsgeleerde, weet egter goed hoe belangrik definisies van spesifieke begrippe is.

    Net onlangs het een van ons groot professorkokkedore, 'n kenner van bellettristiese digkuns, en bekend vir sy 'inskattings', ook die woordjie 'woke' ingespan, skynbaar ook as 'n soort skelwoord. En ek sou nie die professor juis as 'regs' opsom nie. Nee, dit skyn vir my eerder dat, waar die woordjie 'woke' as skeldnaam in regse kringe ontstaan het, dit deesdae al meer na die sentrum beweeg as 'n soort sinoniem vir 'n onverdraagsaamheid en onregverdige persoon of persone.

    Jou uiteensetting van die herkoms van die woord 'woke', strook ook met wat ek daarvan weet, en ek het al dikwels die uitdrukking 'stay woke' gehoor, waar 'woke' dus as iets edel verstaan word, en iets om na te streef. Woke is dus 'n kompliment.

    Daar is natuurlik iets soos die politieke spektrum en ekstreme groepe op daardie spektrum, en as deel van hulle strategieë om mekaar te ondermyn, is om mekaar se leksikale wapentuig te omvorm, te hervorm en te misvorm. En tog is daar skynbaar ook goeie historiese redes hoekom dit so ontwikkel het. Daar is onverdraagsaamheid aan beide kante. Die ou waarskuwing van "wees versigtig, jy word dalk self soos dit waar teen jy baklei" geld hier. Woke-kultuur is geneig daartoe om mense te stereotipeer, en veronderstel gewoonlik 'n hierargie van verontregting, waar die mees verontregte mens se mening meer gewig dra. Dit strook glad nie met klassieke liberale filosofie nie.

    In die woke-hiërargie neig die deelnemers in die woke-kultuur gevolglik om al hoe meer ekstreem te wees. Die perfekte woke is dan ook 'n militante vegan, want, die arme diere, en mense wat nog vleis eet, is totaal barbaars, middeleeus en onaanvaarbaar.

    Waar, kan mens per slot van sake vra, eindig opregte omgee, en begin deugpronkery, dus? Wanneer ons onsself besig hou met sake van sosiale geregtigheid. Almal wil tog so graag gesien word. Van geweet wees. Hoeveel hulle omgee. Hoeveel hulle doen. Wie wil nie 'n held wees nie?

  • Jou navorsing oor die gebruik van die woord “woke” om bedag te wees op rassediskriminasie is interessant, maar baie beperk. Die moderne gebruik van die begrip kom uit die ontwikkeling van die menslike wêreldbeskouing. Kortliks beteken dit dat mense ontwikkel van prerasioneel na rasioneel na postrasioneel, of premodern, modern na postmodern, of absolutisties, multiplisties, na pluralistiese sienings van die werklikheid. “The central problem with broken green (pluralisties) is that it believes that all differences between groups are solely the result of discrimination and oppression. If everybody does not finish the race of life at the same time, this not because there are winners and losers, or differences in interests or desires—there are only oppressors and victims. And that is the only choice a person has: to be a victim or an oppressor. These otherwise idealistic and often good-hearted folks tend to regress to amber absolutistic, which is indeed ethnocentric, and this is why they think that they don’t even have to talk with anybody who disagrees with them (no truly worldcentric stage would ever say anything like that).” (Wilber, Ken. Finding Radical Wholeness: The Integral Path to Unity, Growth, and Delight.)
    Wat Ken Wilber, ‘n Amerikaanse filosoof, se Integrale metateorie, sê is die mense op die postmoderne vlak van ontwikkeling is verval in ‘n regressiewe absolutistiese etnosentrisme. Hy noem dit “broken green.” Ek wonder net wie is die slagoffer en wie is die onderdrukker.

  • Op landbou.com lees ek: “Volgens Sampie Viljoen van Oos-Driefontein is cochenille ʼn suur wat net met ʼn alkali bestry kan word.” Alkali... Ek het jou kriptoniet oftewel bête noire, Cochenille. Nietemin, luister eers hier: My voorgevoel is dat as jy die parameters van die paradigma aan weerskante oorskry, jy van ʼn mol(l)shoop [Maulwurfshügel] ʼn berg kan maak. Of hoe? As jy reg raai, kan jy 'n oksimoron wen.

  • david willers

    Dankie vir hierdie skerp beskrywing van die konsep woke. In Engels sou ek sê "woke is a sharp awareness of discrimination in whatever form it is detected – race, gender, work practices, history." Almal is deesdae woke volgens hierdie definisie, hetsy konserwatief of links or regs of wat ook al jy is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top