Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Onderhoud met Laurent Devèze oor die ontstaan en era van die Franse Instituut van Suid-Afrika 30 jaar gelede

  • 0

Foto: Straatkuns in Newtown, Johannesburg (Gregory Fullard on Unsplash)

Volgens my al hoe bedenkliker geheue het ons mekaar op Donderdag 5 Mei 1994 ontmoet – skaars ’n week ná die eerste demokratiese verkiesing vir ’n “nuwe” Suid-Afrika, waaraan hy deelgeneem het as Europese verkiesingswaarnemer in sy nuwe hoedanigheid as kulturele attaché van die Franse Ambassade in Suid-Afrika en stigtingsdirekteur van die nuwe Institut français d’Afrique du Sud (IFAS; Franse Instituut van Suid-Afrika).

Laurent Devèze

Daardie aand het Laurent Devèze (1960–), terwyl hy op die aankoms van sy gesin gewag het, ons alleen ontvang in sy Sandtonse huurhuis – in die geselskap van ’n ander filosoofvriend en kenner van die eietydse Franse filosofie, Danie Goosen, en sy eggenote, Amanda, kunsgeskiedkundige en visuelekultuurkenner. Ons ontmoeting met Laurent sou volg op die gelukkige sameloop van omstandighede toe Danie een oggend op pad werk toe ’n saamrygeleentheid gegee het aan ’n jong intern van die ambassade, Stèphane Paillard, toe dié geryloop het op pad op teen die heuwel onder Brintyrion, die amptelike presidentswoning in Pretoria.

Die aand van ons ontmoeting het die eertydse student van die elite École Normale Supérieure en van die formidabele Hèléne Carrière-Encausse onder wie se leiding hy sy skripsie geskryf het, asook vriend van Michel Foucault oor wie ek destyds pas begin het om my meestersverhandeling te skryf, ’n uitstekende kok, ’n formidabele gasheer, lewensgenieter en bowenal ’n insolent blyk te wees. (Insolent is een van daardie haas onvertaalbare Franse woorde – vrypostig is miskien die beste vertaling.)

Ek het dit toe nog nie geweet nie, maar danksy dié groot toekomstige vriend sou met my aanstelling as navorsingsbibliotekaris van IFAS op 1 Desember 1994 die vormende intellektuele, sosiale en werksavontuur van my lewe ’n aanvang neem. Gevestig in ons okerkleurige gebou langs Kippie’s Jazz Club, die Markteater en Grammadoela’s-restaurant sou ons drie buitengewone jare tydens ’n buitengewone era in ’n buitengewone land aan’t gebore word, beleef. Tekenend hiervan is die aantal merkwaardige mense en gebeure wat ek danksy IFAS sou ontmoet of meemaak: Die fotograaf Marie-Laure Decker met haar foto’s oor Suid-Afrikaanse mynwerkers, en haar groot vriendin, die charismatiese, stilswyende Catherine Deneuve by die amptelike opening van IFAS op 5 Mei 1995, op die dag ’n jaar ná my ontmoeting van Laurent. Kuns- en fotografie-uitstallings, die Franse klassieke musiekfees in Franschhoek, wêreldmusiekkonserte van Franstalige kunstenaars soos Ismael Lô en Papa Wenba, die Fête du Livre (“Boekefees”) in Aix-en-Provence in Oktober 1997. Ook Kendell Geers, Alf Khumalo, JM Coetzee, Breyten Breytenbach, Nadine Gordimer, Zakes Mda, Njabulo Ndebele, Gcina Mhlophe, Sindiwe Magona, Sipho Hotstix Mabuse, John Kani, Robyn Orlin, Ivan Vladislavic, Jacques Derrida, Pierre Vidal-Nacquet, Michel Serres, Régis Debray – kunstenaars, skrywers en denkers wat ek mog ontmoet, ontvang, vergesel, en van sommige ’n vriend of ’n student word.

........
“Al die groot vraagstukke van ons era, Johann, kom in jou land voor.” – Laurent Devèze
........

Vir ’n jong Afrikaner wat apartheid en Verwoerdburg onder PW oorleef het, ’n ontsnapte uit die gestrenge Pretoria van die 1980’s, was IFAS onder Laurent ’n wonderwêreld, danksy die verbeelding en die kruisbestuiwing van kulturele en tale. Dit was, het ek geglo, die beloofde land wat op ons gewag het, ons Suid-Afrikaners saam met ons Franse vriende. Dit was ’n droom, ja, maar dit was terselfdertyd eenvoudig die nuwe alledaagse Suid-Afrikaanse werklikheid.

Dit is hierdie droom wat my vandag nog begelei, 30 jaar later. Soos ook die merkwaardige opmerking wat Laurent die aand van ons eerste ontmoeting gemaak het, ’n opmerking wat my eensklaps bevry het van die minderwaardigheidskompleks van my eie intellektuele kultuur en land ten opsigte van Frankryk met haar letterkunde, haar filosofie, haar geskiedenis: “Al die groot vraagstukke van ons era, Johann, kom in jou land voor.” ’n Opmerking wat sowat 18 jaar later bevestig is deur Ngugi wa’Thiongo in sy Afrikadag-lesing by die Universiteit van die Vrystaat: “The world begins at home.” Die wêreld begin tuis.

Dis vanuit daardie era van IFAS onder Laurent dat ek steeds probeer om oor en vanuit my land en my moedertaal na en in uitwisseling met die wêreld te probeer dink. In hierdie onderhoud herbesoek ek dié merkwaardige era saam met Laurent.

Johann Rossouw: Laurent, jy is vandag in die ouderdom van 65 amptelik afgetree ná ’n loopbaan in die Franse diplomatieke diens wat jou gevoer het vanaf Roemenië en die lande van Oos-Europa na Suid-Afrika, Swede, Los Angeles in die VSA en, uiteindelik, direkteur van École des Beaux Arts (Skool van die Skone Kunste) van Besançon, die streek van Jean-Jacques Rousseau. Jy is in die eerste plek opgelei as spesialis van kommunistiese Oos-Europa. Hoe het dit dus gekom dat jy in 1994 die pos as kulturele attaché en stigtingsdirekteur van IFAS aanvaar het?

Laurent Devèze: My tweede seun, Pierre-Alexis, het siek geword weens loodvrystelling van besoedeling afkomstig uit die myne van Silesië, wat die lug van Krakowië, Pole vergiftig het, waar ek destyds die gelukkige kulturele attaché en direkteur van die Franse Instituut was.

Ek het toe ’n verplasing na ’n ander ambassade versoek, en ek had poste in Boedapest of Moskou, wat pas oopgegaan het, in gedagte.

Op ’n dag kry ek ’n oproep van die Franse Ministerie van Buitelandse Sake om my ’n pos aan te bied in ... Suid-Afrika!

Ek dag eers dis ’n grap, ondanks die feit dat ek die nuus en die aankondiging van die vrylating van die grote Nelson Mandela met groot geesdrif gevolg het.

Dis toe dat die vriend aan die ander kant van die lyn iets gesê het wat my uiteindelik oortuig het: Uiteraard is ek ’n “Sowjetoloog”, soos dit destyds genoem is, maar bygevolg het ek ook sedert die Val van die Berlynse Muur niksvermoedend ’n spesialis van samelewings in oorgang geword. Destyds het ek inderdaad al verstommende loopbane meegemaak: die een dag gevangenes, die volgende dag ministers.

Aangesien ek die krag van so ’n politieke metamorfose met Solidarnosc (Solidariteit) in Pole kon inskat, het ek toe vir myself gesê dat dit daar ver in Suid-Afrika ook ongetwyfeld sou gebeur dat sommige ANC-aktiviste sou oorgaan van die onbenydenswaardige status van “terroriste” na die oneindig meer gerespekteerde status van lede van die regering, tot selfs in die hoogste gestoeltes.

Daar was ongetwyfeld nog ’n geheimsinniger rede, soos op ’n dag aan my verwoord deur Georges Lory se opvolger by die Franse Ambassade in Suid-Afrika, Jacques de Monès, as kulturele raad aan my oorgedra: “Afrika is gemaak vir die Helleniste; ons is daar baie minder vreemd as op enige ander plek!”

.........
Dit was destyds onmoontlik om Suid-Afrika as net nog ’n land te beskou. Vir my en my vrou, Claire, vir ons almal, was dit ’n saak.
.........

Ek het net geglimlag, maar vandag verstaan ek hoe reg hy was – die sin vir die heilige en die magiese denke; die krag van eer, familiebande en bloed;  die belang van die voorvaders en die mondelinge kultuur wat ons so onnosel vandag in die eietydse Weste verag; en soveel ander aspekte het my uiteindelik geheel en al oortuig. Ek sou na ’n Homeriese land gaan!

Laastens was daar ’n werklikheid wat allesbehalwe anekdoties was: Die ganse wêreld het sy oë gehad op hierdie land te midde van sy merkwaardige poging om apartheid agter te laat. Dit was destyds onmoontlik om Suid-Afrika as net nog ’n land te beskou. Vir my en my vrou, Claire, vir ons almal, was dit ’n saak.

JR: Tydens die era van IFAS se grondlegging het die Franse institute elders in Afrika in Franstalige, postkoloniale Afrika geval onder die Franse Ministerie van Samewerking, en dikwels oor hul eie fasiliteite beskik (’n teater, ’n bioskoop, ’n uitstalruimte). Terselfdertyd was hulle ook dikwels verantwoordelik vir die onderrig van die Franse taal. Dog weens die apartheidsbedeling was daar voor 1994 geen Franse instituut nie, en was die openbare Franse kulturele teenwoordigheid beperk tot die nasionale netwerk van verskeie Alliances françaises, wat merendeels op die onderrig van Frans gefokus het.

Maar met die grondlegging van IFAS was heelwat dinge anders gesteld as wat die konvensies elders in postkoloniale Afrika was – IFAS het geval onder die Franse Ministerie van Buitelandse Sake eerder as dié van Samewerking, nie oor sy eie fasiliteite beskik nie, en ook nie onderrig in Frans aangebied nie, wat die verantwoordelikheid gebly het van die netwerk van die Alliances françaises apart van IFAS.

Waarom hierdie andersoortige keuses vir IFAS?

LD: Wat destyds vir my duidelik was, was dat IFAS nie ’n plaasvervangende instelling kon wees nie. As dit by kunsgalerye, museums, teaters en universiteite gekom het, het Suid-Afrika oor talryke sulke instellings beskik, waarvan sommige toonaangewend. Waarvan sou ’n nuwe uitstalruimte of ’n klein teater blyke gegee het buiten ’n onvermoë om ons gashere se belangstelling gaande te maak?

.........
Die idee was dus om veel eerder ons potensiële Suid-Afrikaanse vennote op die terrein te oorreed om ’n Franse sowel as Frankofoniese aanbod te huisves; en beslis nie om dit intern aan te bied vir ’n paar bevoorregte Franstaliges en Franse uitgewekenes nie. IFAS sou nie wees soos daardie privaat klubs waarvan die bywoning eerder van ’n sekere sosiale aansien spreek nie.
.........

Die idee was dus om veel eerder ons potensiële Suid-Afrikaanse vennote op die terrein te oorreed om ’n Franse sowel as Frankofoniese1 aanbod te huisves; en beslis nie om dit intern aan te bied vir ’n paar bevoorregte Franstaliges en Franse uitgewekenes nie. IFAS sou nie wees soos daardie privaat klubs waarvan die bywoning eerder van ’n sekere sosiale aansien spreek nie.

Dit was, om dit nou so te stel, ’n interessante siening om destyds te verdedig, en dit het hier en daar protestering ontlok, maar ons het vasgebyt!

Ek onthou byvoorbeeld ’n oudstryder van die Ministerie van Samewerking wat nog naas die Ministerie van Buitelandse Sake bestaan het, vir wie ek die verskille (slegs “differences” en nie ook “différances” nie, aangesien Derrida nie sy forté was nie) uiteengesit het. Hy het baie twyfelagtig na my geluister en oplaas gesug: “Nou ja, ek begryp dat Suid-Afrika inderdaad nie Afrika is nie”! Dit was sy innige oortuiging, en ek het vir myself gesê dit sou geen geringe taak wees om sodanige neokoloniale vooroordele te oorkom nie. Dis ongetwyfeld die rede hoekom my span by IFAS so jonk was.

JR: Destyds was daar nog ’n heel omstrede keuse – merendeels joune – naamlik om IFAS in die Market Theatre Precinct te vestig, in ’n bra vervalle omgewing, lank voor die munisipale opknapping daarvan en byvoorbeeld die vestiging van die Museum Africa langs die Markteater. Dit moet ook gesê word dat vir Suid-Afrikaners wat gewoond is aan die Amerikaanse opvatting van die stad, waarvolgens ons die voorstede bo die middestad verkies, dié keuse ietwat bisar kon aandoen. Nou waarom het jy dan dié keuse gemaak?

LD: Dit was so ’n groot verrassing dat ek verplig was om ’n brosjure saam te slaan getiteld Pourquoi lIFAS sest-il enstallé au Market Theater ? / Why was IFAS established at the Market Theatre?, omdat heelwat van my landgenote verontwaardig oor my keuse was.

.........
Die gebied het oor al die nodige voordele beskik: Dit was ’n “grys area” waar selfs tydens die donkerste tye van apartheid die dekmantel van die mark of van konserte ’n bietjie rassevermenging toegelaat het.
.........

Die gebied het oor al die nodige voordele beskik: Dit was ’n “grys area” waar selfs tydens die donkerste tye van apartheid die dekmantel van die mark of van konserte ’n bietjie rassevermenging toegelaat het.

Die gebou self was die voormalige Fuba-gebou, waar dié klandestiene federasie al sy talente tydens die era van onderdrukking ingespan het en ons slegs op een van die vloere die kulturele diens van die stadsraad ingetrek het. Net daar waar al my Europese kollegas eens vergader het, het ons ons ontbyt saam geëet!

Dié plek was die beliggaming van ’n droom wat ons in staat gestel het om van sowel die “soft power” van ingevoerde kultuurprodukte as die sogenaamde postkoloniale opvoeding te ontsnap.

’n Mens leer tog nie die digkuns vir Breyten Breytenbach of Wally Serote nie! Ewe min as wat jy die beeldende kuns vir Kendell Geers of Jane Alexander leer!

Bowendien het dit dikwels vir my gevoel asof ek evolueer in die hartjie van ’n uitgestrekte kultuurlaboratorium wat al wat ontmoeting is, bemoontlik het, en van tyd tot tyd die ervaring van die mooiste allooie.

Dié destydse keuse vir ons ligging is natuurlik onlosmaaklik van die opvatting van ’n kulturele diplomasie van dialoog wat tot so ver as medeskepping kan gaan.

........
Dié plek was die beliggaming van ’n droom wat ons in staat gestel het om van sowel die “soft power” van ingevoerde kultuurprodukte as die sogenaamde postkoloniale opvoeding te ontsnap.
........

Kippie’s en die Markteater het die weg gebaan, terwyl die Museum Africa, die destydse Johannesburgse Biënnale, die Choreografiesentrum en soveel ander instansies so gou ingebind is in ’n onoorwinlike skrum – en ek weet dat in ’n land van die Afrikaanse taal mense altyd gevoelig vir hierdie rugbymetafoor is.

JR: Frankryk word dikwels daarvan beskuldig dat hy die Frankofonie as ’n neokoloniale instrument inspan, oftewel om die netwerk van Franstalige lande – bowenal in Afrika – te gebruik om sy voormalige kolonies binne sy invloedsfeer te hou. Jy self het ook destyds van meet af gestaan op die Frankofonie binne IFAS, dog vanselfsprekend nie vir ’n neokoloniale agenda nie. Hoe so?

LD: My groot geluk was dat ek destyds te doene gekry het met Edouard Glissant. Sy denke word deesdae dikwels vervorm tot ’n voorspraak vir ’n soort kommunitêre mengelmoes, terwyl hy juis daarin die eksistensiële ervaring van die Antille gesien het, naamlik dié van ’n dialoog en deurlopende wedersydse verryking tussen egte kulture – dís die betekenis van kreolisering. Die ander vername Franstalige figuur, sowel digter as lid van die Hoë Raad van die Frankofonie, was Edouard Maunick (destyds ambassadeur van Mauritius in Suid-Afrika), wat op ’n dag met sy uitdagende humor vir my binne ’n duidelik strukturele (of Foucaultiaanse perspektief, as jy wil) gesê het: “Frans moet die mengeltaal (patois) van die Frankofonie  word!”

Dis ’n kragtige insig; dit gaan om ’n ommekeer van waardes en om van Frans een van die pole van ’n omvattende talige en kulturele samewerking georganiseer as ’n netwerk van bewegend atome te maak. As ek ’n verwysing mag gebruik – kom ons sê ’n ruimte waarvan die aard heelwat minder aan De Saussure as aan kwantumfisika te dank het.

Ons praat dus nie van ’n taal soos wat die ander dialekte probeer klink nie, asof dit ’n standaard van suiwerheid is om slaafs na te boots, maar eerder van ’n lewensasem wat geboorte skenk aan kragtige, onderling wedersyds beantwoordende metamorfoses. Dit sal helaas ’n hele lesing verg om hierdie filosofiese tese te ontwikkel, waarvan dit eie is om al die taalkundiges te laat sidder.

Nog ’n aspek wat ons nie destyds in ons Franstalige betrokkenheid kon nalaat nie, was die noodsaak om een van die aaklige gevolge van die apartheidsbestel te beveg, naamlik dat dit Suid-Afrika van die res van die vasteland vervreem het.

Dit was duidelik ons plig om ’n platform te gee aan kunstenaars van, sê, Algerië of die Demokratiese Republiek die Kongo, en die Franstalige netwerk in te span om dié soort interaksie te vermenigvuldig.

........
Om byvoorbeeld saam met my ampsgenoot van Djiboeti byeenkomste rondom boeke uit Afrika te reël, was om uit die suiwer Franstalige omgewing te tree ten einde ’n multilaterale dialoog met Engelstalige skrywers aan die gang te probeer kry. Hierdie voorbeeld dui aan hoe en in watter omstandighede die Frankofonie dit moontlik maak om die koloniale nalatenskap in Afrika te beveg.
........

Om byvoorbeeld saam met my ampsgenoot van Djiboeti byeenkomste rondom boeke uit Afrika te reël, was om uit die suiwer Franstalige omgewing te tree ten einde ’n multilaterale dialoog met Engelstalige skrywers aan die gang te probeer kry.

Hierdie voorbeeld dui aan hoe en in watter omstandighede die Frankofonie dit moontlik maak om die koloniale nalatenskap in Afrika te beveg. Dit is dus inderdaad so dat dit wat skrywers in ’n oorgeërfde konteks ingeperk het (ten minste destyds, maar is dit nog so?) weens óf ’n Engelse óf ’n Franse koloniale verowering, oopgebreek kan word deur die twee kontekste nader aan mekaar te bring en op subtiele wyse ’n poreusheid tussen die twee tot stand te bring. Uit hierdie oogpunt gesien, was die bydrae van ander Afrikatale (volg my sowel as Breyten se blik) wesenlik. So is die destydse privaat gesprek tussen die eertydse koloniale metropole en hul eertydse kolonies ten goede verbreek.

Om nog ’n voorbeeld te noem: Ek onthou hoe ek vermaarde Suid-Afrikaanse fotograwe na die eerste Bamako-fotografiebiënnale vergesel het, en sodoende per implikasie teruggedruk het teen die idee dat dié geleentheid slegs ’n Franstalige viering moet wees. En ek laat dit aan die leser oor om sig voor te stel wat ’n vreugde dit vir die fotograwe Malike Sidibé en Santu Mofokeng was om mekaar te ontmoet, eweseer as om verras te word deur die samewerking wat tussen Wole Soyinka en Edouard Glissant vorm begin aanneem het.

Dit klink “baie IFAS”, dié perverse wyse (wat ek vrywillig toe-eien as eie aan die filosofie) waarop twee verskillende koloniale taalnalatenskappe met mekaar in verband geplaas is ten einde hulle te laat oplos binne ’n groter geheel van kulturele uitwisseling wat die genialiteit van die ganse Afrika beklemtoon.

JR: IFAS het van meet af twee kante gehad, naamlik kultuur en navorsing. Soos die kulturele kant, was ook die navorsingskant bowenal op uitwisseling gefokus, op ’n dialoog tussen gelykes. Van dit alles het ek vandag twee sterk herinneringe: eerstens, dat dié twee kante self deurgaans in vennootskap en uitwisseling met mekaar gestaan het, en tweedens dat dit was asof dit alles ’n vrypostige, vrye, skeppende en verbeeldingryke kultuur in die organisasie gevestig het, waarvan die eerste voorbeeld die weeklikse personeelvergadering Vrydagoggende om 10 was, wat telkens in lewendige gesprekke oor hartlike middagetes by Grammadoelas geëindig het. As ek vandag daaraan terugdink, synde self die hoof van ’n universiteitsdepartement van filosofie en klassieke studies, lyk dit vir my asof jou siening was dat die sukses van ’n instelling van die gees (byvoorbeeld ’n kultuurinstituut of ’n akademiese departement) allereers afhang van sy eie kultuur van kollektiewe feestelikheid en verbeeldingrykheid – wat baie ver verwyderd is van die eietydse neoliberale, korporatiewe opvatting van so ’n instelling. Wat is jou gedagtes hieroor? En waar het jy moontlik in die antieke en klassieke eras gaan opgrawings doen om jou siening van so ’n instelling te vorm?

LD: Dis aan my gesê dat die ou verskil tussen die twee benamings, naamlik instituut en kultuursentrum, afkomstig is uit die volgende verskil: Die eerste kultuursentrums is institute genoem omdat hulle aan universiteite verbonde was en dikwels ook aan Franse lesers [in die sin van readers soos dit vandag nog die geval met sommige Britse universiteite is – JR], terwyl die latere sentrums van alle akademiese bande losgesny was.

Met verloop van tyd het dié twee benoemings uitruilbaar geword, terwyl niemand werklik meer gestaan het op die verbondenheid aan universiteite nie.

Nietemin stel my betreklik gevorderde ouderdom my in staat om te meld dat ek een van die laaste Franse “lesers” was, en wel in Boekarest, Roemenië aan die einde van die Ceausescu-diktatuur.

Destyds was ek nog ’n japsnoet, ’n jong produk van die École Normale, trots in die geloof dat ek daardeur die erfgenaam was van Barthes en Foucault (met laasgenoemde wat so dikwels by die École met ons gepraat het oor sy tyd in Uppsala, Swede), en nog verder terug, van die reus Dumézil …

Ongetwyfeld het dié atmosfeer van voorvaderlike respek vir die Logos my diepgaande gekontamineer. En ek weet met watter Afrikaanse filosoof ek dit nou oor hierdie punt het …

’n Taal, sy visie, en nog meer sy strukturering van die wêreld, oftewel die manier waarop dit die heelal en die plek van ons menslike bewussyn begryp, onderhou met die skeppendheid in sy boesem met inbegrip van die waaghalsigste vryhede wat dit noodwendig toeken, een van die mees bevoorregte verhoudings waarvoor die byvoeglike naamwoord “verlief” vir my wetenskaplik die gepasste lyk.

Bowendien vorm die produksies van die kritiese gees in die geheel van die sosiale en menswetenskappe ’n formidabele geheel van toegang tot die werklikheid van ’n land, des te meer wanneer ’n land se kompleksiteit sy basiese substansie uitmaak, soos dit die geval met Suid-Afrika is.

En so het dit gekom dat toe hulle met my in ’n obskure kantoor in Parys gesels het oor die moontlikheidheid om ’n navorsingsentrum oor Suider-Afrika te huisves, het ek die geleentheid aangegryp. Tot die verrassing van my gespreksgenoot.

Huisves? Beslis nie! Maar in sy geheel aanneem en, wie weet, ’n familie tot stand bring wat ek graag ’n stam noem.

........
Huisves? Beslis nie! Maar in sy geheel aanneem en, wie weet, ’n familie tot stand bring wat ek graag ’n stam noem. Die idee was om die geleentheid tot ontmoetings tussen skrywers, kunstenaar of dansers enersyds en sosioloë, antropoloë, geograwe, taal- of geskiedkundiges andersyds te vermenigvuldig.
........

Die idee was om die geleentheid tot ontmoetings tussen skrywers, kunstenaar of dansers enersyds en sosioloë, antropoloë, geograwe, taal- of geskiedkundiges andersyds te vermenigvuldig.

Hoe kon ons anders as om ons te verlustig in die lesings van die grootste Suid-Afrikaanse en Franse prehistoriese kenners terwyl die werk van die kunstenaar Hervé Télémaque, getiteld Die Omo-vallei”, in die Electric Workshop uitgestal is?

En hoe kon ons met jong dansers van Soweto saamwerk sonder om te weet van die historiese werklikheid van dié township met sy unieke naam wat gevorm is uit die beginletters van die eertydse suiwer geografiese, ewe anonieme as minagtende, benoeming South-Western Townships?

Daar is baie voorbeelde, wat ek nie almal kan opnoem nie, maar ek het soveel kosbare herinneringe daaraan: aan dié Franse choreograaf met ’n hartstog vir die uitdagings van waterbestuur in Afrika, of aan die stedelike geograaf wat ’n teatergeselskap in Mamelodi gevolg en van die ervaring teruggekeer het, seker daarvan dat hy nou baie beter dit begryp wat hy voorheen gewaag het om bloot oppervlakkig te beskryf.

Ek het nog altyd gedink dat akademiese intellektuele en skeppende kunstenaars dieselfde stryd deel: om die werklikheid te begryp en te verryk. ’n Mens hoef net te dink aan hoe ten minste in Frankryk navorsing en die kunste bloot begrotingsveranderlikes is wat oorgelewer is aan die goeie wil van die prinse om jou daarvan te vergewis – en dat dit sonder twyfel die heersende magte pas om hul onderlinge teenoorstelling of vreemdheid te begunstig.

Hoe dit ook al sy: In die gange en die onmiddellike omgewing van IFAS was dit allesbehalwe sinloos vir die sosiale en menswetenskappe om met skilders of musikante in wisselwerking te tree.

Vergun my om dit te beklemtoon dat die omgekeerde ewe waar is. Ek kon naamlik later in my loopbaan vanuit ’n hoëre kunsteskool vasstel in watter mate die term konseptuele kuns helaas bloot metafories van aard is; en in watter mate die konsep juis afwesig is van die werke wat hulle nietemin hard en duidelik daarop beroep. Dit is dikwels die vrug van naïewe lesings of, nog erger, van vaagweg mediastandpunte wat al om die hawerklap herhaal word, sonder enige egte voorafgaande kritiese ondersoek. Hier verwys ek uiteraard na die powere produksie wat ons biënnale en kunssentrums indring, en wat juis soveel daarby sou baat om hul konseptuele toerusting op te skerp.

Dis ongetwyfeld waarom ek soveel bewondering het vir kunstenaars soos Kendell Geers, wat sonder om ooit die gehalte van die estetiese aanbod prys te gee, steeds daartoe in staat is om gestalte te gee aan egte besinning, ewe diepgaande as beheerst.

Om tegelykertyd te staan aan die stuur van ’n sentrum van kulturele samewerking én ’n navorsingsentrum was vir my so ooglopend dat ek dikwels verras was deur die verrassing wat dit ontlok het.

JR: Ofskoon jou termyn as Franse kulturele attaché en direkteur van IFAS teen Maart 1998 ten einde geloop het, en jy indertyd ’n ryk loopbaan in soveel ander lande en instansies gevolg het, hou jy tot vandag toe vol dat geen ander land so ’n indruk op jou gelaat het as Suid-Afrika nie. Waarom? En wat hou jy vandag oor van jou tyd in Suid-Afrika?

LD: Dis ’n vraag wat ewe moeilik as persoonlik is, en ek gaan dit beantwoord, of probeer om jou te beantwoord, want sonder ons vriendskap sou ek nie die risiko neem nie.

Suid-Afrika was, nogmaals, ’n saak – dié van ’n stryd teen ’n aaklige regime – en ek sal nooit my ervaring vergeet om as verkiesingswaarnemer in een van die groot katedrale van Johannesburg toesig te hou oor die goeie afloop van die stemproses nie, ewe min as die ongekende ervaring om ’n Franse instituut buite die gewone norme te skep.

Dit is dus ewe veel die geskiedenis as die geografie wat vandag by my spook.

En hoe kan ek dan nie praat oor my destydse vriende wat so naby en so jonk was, saam met wie, soos jy verstaan, ons dié ervaring geleef het nie – en ek beklemtoon die woord “geleef”. Vriende wat helaas vandag nie meer met ons is nie, soos Henri Vergon, Jacques de Monès en soveel andere. Dit is die rede waarom ek nie vandag soos ’n betraande dinosourus van die sosiale netwerk aan enige herdenkingseremonie wil deelneem nie.

’n Mens het die skroom wat jy verdien.

Maar daar is nog meer.

Vandag kan ek nie ontslae raak van dié les wat nie slegs uit die politieke en kunswetenskappe kom nie, maar gewoon uit die wysheid wat jou land aan my gegee het: die diepgaande, suiwere sin vir vergifnis.

In Pole het ek mense soveel bitterheid hoor uitdruk, en in Roemenië soveel bloedige wraak, dat ek verstom was daardeur om te woon in ’n land wat, terwyl haat en bloed suiwer diabolies in Rwanda gevloei het, probeer het om niks te vergeet nie, maar om met mekaar saam te leef, wat bowenal ondenkbaar is.

Soms dryf mense die spot met waarheid-en-versoeningskommissies, maar dan dink ’n mens aan die vreesaanjaende konflikte wat ons wêreld vandag uitmekaarskeur. Is ons so seker daarvan dat ons dié konflikte kan beëindig en uiteindelik veerkragtig kan word sonder om terselfdertyd aan die volgende twee eise gehoor te gee: waarheid, ten einde niks te vergeet nie, of nie te ontken wat inderdaad afgryslik was nie, en versoening, ten einde in dieselfde beweging te waag om saam te probeer kom.

Dit is vir my die presiese betekenis – insluitend teologie – van vergifnis.

’n Vergeet, maar wat niks vergeet nie.

.........
Dit is hierdie ondenkbaar grote wysheidsles wat ek aan jou, joune en jou land verskuldig is, en dit is ook hierdie swanger herinnering wat my vandag die meeste politici in my land as minuskule, jammerlike marionette laat beskou. Om die waarheid te sê, as ek dit mag waag om dié paradoksale grap te maak (en met jou waag ek enigiets), hierdie idee van vergifnis is julle skuld!
.........

Dit is hierdie ondenkbaar grote wysheidsles wat ek aan jou, joune en jou land verskuldig is, en dit is ook hierdie swanger herinnering wat my vandag die meeste politici in my land as minuskule, jammerlike marionette laat beskou.

Om die waarheid te sê, as ek dit mag waag om dié paradoksale grap te maak (en met jou waag ek enigiets), hierdie idee van vergifnis is julle skuld!

JR: Twee laaste vrae om ons onderhoud mee af te sluit. Dis ooglopend dat die eietydse wêreld nie meer beskik oor die openheid en vrypostigheid van die 1990’s nie. Waarom, dink jy, is dit so? En wat gee jou vandag nog hoop? Waaruit put jy om skeppend te bly en te weier om in die eietydse nihilisme te versink?

LD: My antwoord gaan miskien ’n bietjie te Stoïsyns na jou smaak wees, maar ek sien niks anders wat aan ons soveel hoop gee as dat ek op hierdie oomblik aan jou skryf, dat ek jóú antwoord nie.

Daar is ons vriendskap wat in die sin van die Franse prerevolusionêre bedeling ’n verpligting aan my oplê, want ek staan ooglopend onder die verpligting om jou te antwoord, en dan is daar die vreugde dat ek altyd kan staat maak op jou toegeeflikheid en jou gevoelvolle aandag soos ek my jou glimlag by die lees van sommige van my retoriese skromelooshede verbeel.

En dan is daar ook hierdie virale hoop op ’n vriendskap wat by ’n mens bly: dat daar miskien ’n leser, selfs net een enkele leser, of dalk twee of drie lesers, is wat hier en daar in ons gesprek iets vind om sy eie besinnings te bevrug. Hierdie wonderwerk van ’n moontlike leser hou my nog aan die lewe; dit is grondig vir ’n man wat skryf.

Noudat my boek oor die Griekse mites in publikasievoorbereiding is en ek nie juis asem vir sy verkope inhou nie, wed ek alles op hierdie geringe moontlikheid van ontmoeting, van aandag, selfs van net een leser vir wie dit verhelderend sal wees of tot nog vrae sal lei.

Dit is deur lesers, of eens deur studente, dat ons vriendskap groei en betekenis gee aan die hoop wat in my woon en my aan my boeke laat werk.

Die moontlikheid van vriendskap: wat ’n kostelike antwoord! Dis nie so seker nie, as ’n mens die juiste plek van die filo in filosofie wil oorweeg.

Eindnota 

1 Ek kies hier om die gevestigde Franse term la Francophonie te vertaal as Frankofonie. Die Franse term verwys na al die lande waarmee Frankryk formeel bande handhaaf op ook taal- en kulturele gebied, en wat deel uitmaak van die Franse tradisionele benadering om sogenaamde kulturele diplomasie te handhaaf, spesifiek binne die Organisation internationale de la Francophonie, met 93 lidlande, dikwels maar nie uitsluitlik nie voormalige Franse kolonies. Die Frankofonie word deur Frankryk ten regte of ten onregte beskou as ’n belangrike invloedsfeer. Die term is so ingeburger in Frans en Engels dat Afrikaans dit myns insiens ook gerus kan gebruik.  

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Breyten; vir Breyten

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Pierre-Marie Finkelstein

Achille Mbembe: "Om die demokrasie aan die hand van die lewende te heruitvind" (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw)

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Charles Villet oor geweld en die postkoloniale in Suid-Afrika

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: "Die hede en die toekoms volgens Michel Houellebecq"

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die ontbinding van die Weste – ’n oorsig oor Emmanuel Todd se La défaite de l’Occident

Die Johann Rossouw-gespreksreeks – ’n Profeet vir ons tyd: In gesprek met Benoît Chantre oor René Girard

Oor ons trane, nou – en die mistiese groot trek

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Geagte president Ramaphosa

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top