Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Geagte president Ramaphosa

  • 3

Geagte president Ramaphosa

Hierdie brief skryf ek vir u as ’n 53-jarige Afrikanerman, mooitjies 30 jaar nadat ek en my generasie kon stem in die eerste algemene verkiesing in 46 jaar wat ’n nuwe bedeling ingelui het. Bowendien was dit vir baie van ons ook die eerste keer dat ons in ’n Suid-Afrikaanse algemene verkiesing kon stem – soos dit trouens ook die geval met u self en die meeste van u vertrouelinge in u party die geval was. Dít bind ons en u op ’n besondere manier, naamlik dat dit vir ons en vir u die verkiesing van bevryding van die vorige bedeling was – ‘n stelling wat, as u my dit sal vergun, onmiddellik om kwalifisering vra.

Vir u was dit die bevryding van ’n bedeling wat u menswaardigheid ontken het, wat u van u basiese demokratiese regte ontsê het, en wat, toe daardie bedeling in die 1980’s sy immoreelste uur beleef het, u en u mense dikwels ook aan gewelddadige onderdrukking onderwerp het. Van al hierdie dinge is u genadiglik in 1994 eens en vir altyd bevry.

Maar die bevryding wat 1994 vir my en my generasie Afrikaners gebring het, was van ’n ánder aard, naamlik ’n morele bevryding, ’n geleentheid om die woord Afrikaner te rehabiliteer. Dit wat ek en my generasie in die 1980’s deurgemaak het onder ’n bedeling wat nominaal ten behoewe van ons opgetree het, kan uiteraard nie naastenby vergelyk word met wat u en u mense in die 1980’s moes deurmaak nie – maar vergun my om een en ander daaroor onder u aandag te bring om seker te maak ons verstaan mekaar ter wille van waarheen ons sáám vandag onderweg is. Gegewe hoe ons mekaar steeds so dikwels in hierdie land verkeerd verstaan, is ek liewer te versigtig en verduidelik liewer te veel as te min. Ek hoop u sal dit in dié gees opneem, en dat u nie sal dink ek probeer u neerbuigend toespreek nie. Ek doen dit ook omdat, na my toenemende ervaring, soveel van my tydgenote eerder stilbly oor die dinge wat ons grief omdat hulle dink niemand in elk geval sal luister nie.

Waarde President, ek kom van ’n plek wat nou nie meer bestaan nie, naamlik Verwoerdburg. Al kan ’n mens vandag steeds die area besoek onder sy eietydse naam, Centurion, is dit beslis nie Verwoerdburg nie.

In Centurion sal geen skoolkind vandag soos ons ou Verwoerdburgers in die hoërskool die volgende hoor nie: “Ouens, julle moet hard werk, want die swart mense wil julle werk hê.” Ook sal hulle nie, soos ons, sogenaamde noodplanne oefen om in geval van ’n terreuraanval onder ons lessenaars plat te val nie, of hoe om die skool in die geval van ’n bomdreigement te ontruim nie. Hulle sal ook nie van hulle onderwysers hoor: “Die hele wêreld is teen ons en wil ons land wil vat” nie. Nog minder sal hulle Woensdae in militêre drag vir kadette aanmeld, of wonder of hulle ná matriek Grens toe sal moet gaan of ’n begrafnis sal bywoon van een van ons maats wie se ouboet op die Grens gesterf het.

U sal seker verstaan waarom dit vir ons ook in 1994 ’n reuse verligting was om dáárvan bevry te word. Dog as u my dit ook sal vergun, wil ek u graag herinner aan ’n geskiedkundige stemgeleentheid waaraan u en u mense per definisie nie kon deelneem nie, naamlik die sogenaamde laaste wit referendum van 17 Maart 1992. U sal onthou wat die vraag was waaroor ook ek en my generasie moes stem: “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ’n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”

U sal ook onthou dat die “ja”-stem met ’n oorweldigende 68,73% gewen het. Waarop ek u ook hoflik wil wys, is dat dit streng gesproke die eintlike eerste keer was dat ek en my generasie vir ’n nuwe bedeling kon stem. ’n Mens kan selfs aanvoer dat ek en my generasie daarmee ’n ongekende mosie van vertroue in u en u party gestel het – dieselfde party wat in die 1980’s in Verwoerdburg as ’n terroriste-organisasie aan ons voorgehou is, en waarvan foto’s van die leier verbode was – dieselfde leier wat in Mei 1994 ons eerste demokraties verkose president geword het, en wat wou sien dat u hom as leier van u party en president van die land opvolg. U sal dus verstaan dat sowel ons as u daarom ook iets besonders ten opsigte van oudpresident Mandela deel.

........
Waarde President, ofskoon dit so is dat ’n minderheid Afrikanerleiers en -denkers die uiteinde van die onderhandelinge vir ’n nuwe grondwet beskryf het as die Afrikaners se verlies aan ons vryheid, was dit alles op 27 April 1994 met ons eerste demokratiese algemene verkiesing vir my en my generasie heuglik oorskadu deur die feit dat ook óns nou van ’n verdrukkende bedeling bevry was, en dat ook óns nou moreel gerehabiliteer kon word.
........

Waarde President, ofskoon dit so is dat ’n minderheid Afrikanerleiers en -denkers die uiteinde van die onderhandelinge vir ’n nuwe grondwet beskryf het as die Afrikaners se verlies aan ons vryheid, was dit alles op 27 April 1994 met ons eerste demokratiese algemene verkiesing vir my en my generasie heuglik oorskadu deur die feit dat ook óns nou van ’n verdrukkende bedeling bevry was, en dat ook óns nou moreel gerehabiliteer kon word. Het Van Zyl Slabbert dan nie self geskryf dat hy wonder of daar ooit ’n ander minderheidsgroep in die geskiedenis was wat soos ons vrywilliglik van staatsmag afstand gedoen het nie?

U is sekerlik bewus daarvan dat een van die leidende destydse Afrikaner-intellektuele, Hermann Giliomee, vanaf die ander kant van die politieke spektrum as bogenoemde doemprofete, gewaarsku het dat die uitkoms van die onderhandelinge nie genoeg beskerming vir die Afrikaners as minderheidsgroep gebied het nie. Dog omdat ek twyfel of vele lede van my generasie destyds van sy waarskuwing kennis geneem het, wat nog te sê hulle veel gesteur het aan die siening dat ons in 1994 ons vryheid verloor het, wil ek hierdie gesprek eerder voortsit op basis van dit wat ek sedertdien onder my tydgenote waargeneem het. Dit is immers so dat ek as deeltydse kampusveiligheidswag aan die Universiteit van Pretoria kort voor die 1992-referendum ’n gesprek aangehoor het waarin geredeneer is dat ons moet ja stem sodat ons nasionale rugby- en krieketspanne weer internasionaal mag deelneem. Daardie versugting om as’t ware weer met ons ou buitelandse maats op sportgebied te mag meeding, dink ek, was onderlê deur die versugting om moreel gerehabiliteer te word. Om nie langer die muishond van die wêreld te wees nie.

Ek besef u mag bostaande staaltjie as kwetsend of neerhalend beskou, omdat dit nie juis blyke van begrip vir u en u mense se lyding tydens ons jeugjare gee nie, maar eintlik vertel ek dit om u ’n benul te probeer gee van hoe doeltreffend en hoe absurd die isolasie van die werklikheid was waaronder ons ons jeugjare deurgebring het, isolasie waarin die meeste van ons meer van sportboikotte as van u lot geweet het.

Vanuit hiérdie perspektief, dan, waarde President, moet ek aan u sê dat dit mettertyd geblyk het dat my en my generasie se bevryding in 1994 óók ons verdwyning was – en wel om twee redes, waarvan albei vir my ewe belangrik en ewe relevant vir ons gedeelde strewe na ’n beter land lyk.

Die een rede is dat van die kant van óns owerhede en owerstes, naamlik die Nasionale Party-regering, ons dominees, ons onderwysers en ons ouers daar vir alle praktiese doeleindes géén voorbereiding was op die feit dat die wêreld waarvoor ons voorberei is om hulle op te volg, oornag met oudpresident FW de Klerk se beroemde toespraak op 2 Februarie 1990 sou verdwyn nie. Baie, miskien die meeste, van hulle het dit waarskynlik self ook nie besef nie, maar hoe dit ook al sy, ek kan u verseker dat dit my en my generasie gedurende ons eerste dekade van die volwasse lewe, tydens die 1990’s, in ’n toestand van uiterse kollektiewe disoriëntasie gedompel het. Ek self het eers op my 20ste matriekreünie in Augustus 2008 besef dat die meeste van ons eers rondom ouderdom 30 koers begin kry het – gedurende ons 20’s is baie van ons se lewens gekenmerk deur die een dom keuse ná die ander, en ek vermoed dit moet óók herlei word na die uiterse disoriëntasie waarin ons bevryding ons weens die verdwyning van die wêreld waarop ons voorberei is, gedompel het. Ons het ons in ’n besonder ironiese situasie bevind, naamlik dat ons onsself slegs kon oriënteer aan die hand van die einste waardestelsel wat in ons jeug aan ons oorgedra is deur mense wat dit self dikwels verraai het, en wat onherroeplik, ten regte of ten onregte, met die vorige bedeling verbind is en steeds word.

En tog, hier is ons nog steeds.

Die ander rede vir ons verdwyning het meer te make met u en u party se beleide sedert 1994, onderlê deur ’n uiterste vrees om nóóit weer die mag te verloor en onderdruk te word nie – soortgelyk aan dit wat my grootouers se geslag teen die agtergrond van die onverwerkte trauma van die Anglo-Boereoorlog en die Depressiejare daartoe gedryf het om beleide te aanvaar wat u en u mense so onderdruk en verwond het.

........
Die spesifieke vorm wat my generasie se verdwyning ten opsigte van u en u party in regering tussen 1994 en 2024 aangeneem het, was dat terwyl óns danksy ons waardestelsel en ’n voortgesette verlange na morele rehabilitering sáám met u en u party in regering ’n verskil wou maak, ’n bydrae wou lewer, dit toenemend ons ervaring was dat ons bydrae nie welkom is nie.
........

Die spesifieke vorm wat my generasie se verdwyning ten opsigte van u en u party in regering tussen 1994 en 2024 aangeneem het, was dat terwyl óns danksy ons waardestelsel en ’n voortgesette verlange na morele rehabilitering sáám met u en u party in regering ’n verskil wou maak, ’n bydrae wou lewer, dit toenemend ons ervaring was dat ons bydrae nie welkom is nie. Ek kan aan goeie redes daarvoor dink. Miskien het sommige mense in u geledere weens die vernedering van die verlede ons aanbod om hulp as neerbuigend en ’n variasie op die tema van die wit redder beleef. Miskien was dit vir ander weer ’n geval van “Ons sal dit sélf, sónder julle, doen” (nes my mense ook ná 1948 geredeneer het), ’n verstaanbare poging om u self te bewys.

Hoe dit ook al sy, en namate die wette wat u regering miskien, of ten minste óók, uit vrees vir “nooit weer nie” gemaak het, vir óns al hoe meer gevoel het na die verruiling van ’n wit opperheerskappy vir ’n swart opperheerskappy, na daardie mate het ons begin verdwyn – ons het ophou praat in die werksplek of in die openbaar; sommige van ons het ons geheel en al aan die politiek onttrek en ons toevlug tot inwaartse emigrasie geneem deur die dienste wat die staat al hoe minder gelewer het, privaat aan te koop; ander weer het die land verlaat – ‘n kwart van my geliefde matriekgroep sit vandag in die buiteland, met families en die bande tussen generasies verskeur, en die verlange na mekaar áltyd net onder die oppervlak.Die spesifieke vorm wat my generasie se verdwyning ten opsigte van u en u party in regering tussen 1994 en 2024 aangeneem het, was dat terwyl óns danksy ons waardestelsel en ’n voortgesette verlange na morele rehabilitering sáám met u en u party in regering ’n verskil wou maak, ’n bydrae wou lewer, dit toenemend ons ervaring was dat ons bydrae nie welkom is nie.

Waarde President, dit is teen hierdie tyd gemene saak dat so te sê niemand in hierdie land die uitslag van ons pas afgelope algemene verkiesing sien kom het nie. Ek verstout my om te sê dat iets van die disoriëntasie wat ons almal in mindere of meerdere mate met die einde van die vorige bedeling beleef het (al is dit dan nou bloot omdat die vorige bedeling heel ironies vir ons almal bepaal het presies waar ons plekke was), ons almal tans nou weer ’n soort disoriëntasie laat beleef, gewoon omdat soveel van die gegewens wat gegeld het tydens u party se oorheersing vanaf 1994 tot vanjaar, nou eensklaps nie meer as gegewens beskou kan word nie. Op die koop toe, soos u self sekerlik ook besef het, is hierdie land nou vir die eerste maal in die geskiedenis sedert Uniewording in 1910 nie meer onderworpe aan een of ander hegemonie nie. Soos ek met enige huiwering onlangs in ’n ander opstel bespiegel het, is die disoriëntasie wat u en u party tans moet ervaar, waarskynlik groter as dié van ander partye en hul ondersteuners, gewoon omdat u tyd in meerderheidsregering oornag tot ’n einde gekom het. Vir die eerste keer sedert 1994 moet u en u party nou luister op ’n ander manier as wanneer jou party die meerderheid is by wie die besluite en beleide in laaste instansie berus.

Maar vermoedelik geld die disoriëntasie ook vir die Demokratiese Alliansie, want ná hoeveel probeerslae, uitstekende organisering en wat nog, staan dit soos ’n paal bo water dat ook húlle in ’n verkiesing waarin u party kwesbaarder as ooit was, nie werklik hulle steun kon lig soos wat ’n mens sou gedink het hulle kon nie. Soos wat u party vermoedelik moet handel met die wete van onverbiddelike afname in steun, so moet die DA vermoedelik ook handel met die onverbiddelike besef dat hulle steun ’n plafon bereik het.

Dit skyn die vernaamste rede te wees waarom die sentriste in die geledere van u party en van die DA voor ’n onmiskenbare gegewe op hierdie tyd in hierdie land te staan gekom het: As ons nie nóú daarin slaag om met mekaar saam te werk ten einde die middelgrond te versterk nie, is verdere staatsverbrokkeling ons almal se voorland – waaruit die rondreisende veldpredikante en smouse van gebruikte motors op die radikale uiterstes van die politieke sentrum munt kan slaan en met nog meer moord wegkom.

........
Hoe dit ook al sy: Ons en u het nou vir die eerste keer sedert 1910 ’n unieke geleentheid om die eerste treë te gee onderweg na die samewerking waarsonder hierdie land nie sy potensiaal kan verwesenlik  nie. Ons almal weet baie goed dat daardie samewerking iets is wat ons nog nooit sedert 1910 soos nou hoef te probeer het nie, aangesien die een of ander hegemonie dit verhoed het. Maar hier is ons nou.
........

Dit bring my dan nou by waar my generasie nou met u en u ondersteuners staan. Ons en u weet wat gesê word van die beperkinge waarmee u moet handel – dat u miskien van nature te versigtig is vir die risiko’s wat nou geneem moet word; dat u die gyselaar van ’n kort oorblywende tyd as ANC-president en allerlei geraamtes in die kas en in die rusbank is; dat u moet deurvaar tussen die Scylla waarvan die gesig baie lyk soos ’n suur Gwede Mantashe en die Charibdis van ’n beterweterige, stedelike elite van Britse afkoms aan die stuur van die DA wat nie noodwendig almal die werklikhede van die land buite die suidelike voorstede van Kaapstad begryp nie. Maar hoe dit ook al sy: Ons en u het nou vir die eerste keer sedert 1910 ’n unieke geleentheid om die eerste treë te gee onderweg na die samewerking waarsonder hierdie land nie sy potensiaal kan verwesenlik nie. Ons almal weet baie goed dat daardie samewerking iets is wat ons nog nooit sedert 1910 soos nou hoef te probeer het nie, aangesien die een of ander hegemonie dit verhoed het. Maar hier is ons nou.

Waarde President, teen hierdie agtergrond hoop ek dat u die geleentheid sal gebruik om die leërskare welwillende brugbouers in die geledere van my generasie Afrikaners nader te trek. As u my dit ook sal vergun, probeer ek verduidelik waarom ons vir u en die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) van waarde mag wees, en sluit ek dan af met ’n paar voorstelle oor wat u kan doen om ons in te span.

Wat ons waarde vir u betref, waarde President, die volgende:

– Dit is in ons kulturele DNS om in die naam van een of ander ideaal betrokke te wees en ’n verskil te maak.

– Met permissie gesê, by gebrek aan ’n ideaal wat ook óns die afgelope 30 jaar kon inspireer (of ten minste sedert oudpresident Mandela in 1999 die tuig neergelê het), het ons in elk geval in ons daaglikse handel en wandel voortgegaan om ’n verskil te probeer maak, maar omdat dit nie altyd op sigwaarde aanvaar is nie en ons nie anders kán as om ’n verskil te maak nie, moes ons teen wil en dank leer hoe om te bemiddel met mense wat anders as ons dink en glo en lyk.

– Hierdie bemiddeling-aangeleer-op-die-jop het gemaak dat die Grens-obsessie van die twee generasies voor ons by óns die vorm van ’n obsessie met brugbou geword het.

– En laastens: Met daardie herinnering van wat dit is om “die muishond van die wêreld” te wees nog vlak in ons geheue, wil ons so bitter graag saam met ander ons morele respektabelheid behou en deel van iets goeds en groters as ons in hierdie land wees; bo en behalwe die feit dat die meeste van ons op haas elke denkbare terrein werkservaring en kennis het om die land op die wenpad te plaas.

Die uitdaging, waarde President, is natuurlik hoe ons en u mekaar kan vind. Een manier wat ons almal ken, en wat inderdaad reeds deur u in u eerste termyn as president van die land ingespan is, is om ons in die stilte nader te trek – kodetaal daarvoor is byvoorbeeld “groter samewerking met die privaat sektor en die burgerlike samelewing”, soos onder meer gedemonstreer met die vir baie mense verrassende samesprekinge tussen u regering en AfriForum kort voor die afgelope verkiesing om te help met uitdagings op plaaslikeregeringsvlak.

Maar waarde President, as politikus gementor deur oudpresident Mandela is u ook iemand wat die waarde van simboliese gebare verstaan. En ons Afrikaners, gebore en getoë romantiese idealiste, is sakkers vir die simboliese gebaar. Om die waarheid te sê – en op gevaar daarvan af dat my mense my sal beskuldig dat ek hulle dommer voorhou as wat hulle natuurlik is – verstout ek my om te sê enkele eenvoudige simboliese gebare waarvan die politieke koste nie vir u te hoog is nie, kan so maklik ons knoppies druk dat ons opnuut vir diens kom aanmeld. In hierdie verband stel ek die volgende vir u oorweging voor:

  1. Kondig ’n onafhanklike oudit aan van alle bevorderingsaansoeke wat die afgelope 10 jaar in die staatsdiens en semistaatsinstellings afgekeur is, en waar ook mense van my generasie op onbillike gronde vir bevordering afgekeur is, stel die saak reg deur hulle te laat bevorder. Met spesiale wetgewing as dit nodig is.
  2. Kondig ’n nasionale beraad aan waarvan die oogmerk is om beter beleide as regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging te vind ten einde nuwe oplossings vir die historiese uitsluiting van swart en bruin uit die ekonomie en bestuursposte te beëindig. U mag vind dat planne wat my generasie die afgelope dekades hiervoor geprakseer het, dalk deel van nuwe beleide en wetgewing mag vorm.
  3. Kondig ’n inisiatief aan waar fondse bewillig en strukture geskep word om plaaslike vennootskappe tussen middelklas- Afrikaanse skole en skole in hul omgewing uit arm gemeenskappe te vestig ten einde die bestuur, befondsing en onderrig in die moedertaal van laasgenoemde skole te bestendig.
........
Daarom, waarde President, vra ek u om hierdie stappe te doen om ons almal te help om ons menswaardigheid aan mekaar te help teruggee.
........

Waarde President, as u hierdie drie voorstelle in oënskou neem, sal u merk dat al drie voorstelle dit wat my generasie as belemmering op ons deelname aan en vooruitgang in ons land ervaar, uit die weg sal ruim en dit terselfdertyd vir ons moontlik sal maak om die informele samewerking oor grense heen wat soveel van ons reeds beoefen, te formaliseer sodat die ekonomie en die onderwys kan floreer. Ons generasie sal nie meer voel ons geleenthede vir ons en ons kinders om in ons eie land te floreer word ons ontneem nie, en ons swart en bruin landgenote sal op heel konkrete wyse voordeel kan trek uit ons welwillendheid en die vermoëns waaroor ons beskik om saam met hulle die nalatenskap van die historiese ongeregtighede in ons land te oorkom. Op ’n persoonlike noot – as ek mag – kan ek vir u sê dat elke keer dat ’n student uit ’n voorheen benadeelde gemeenskap my as dosent bedank vir hulle akademiese sukses, dit ook aan my nog ’n stukkie menswaardigheid wat die bedeling van my jeug my ontneem het, teruggee.

Daarom, waarde President, vra ek u om hierdie stappe te doen om ons almal te help om ons menswaardigheid aan mekaar te help teruggee.

Met hartlike groete en beste wense

Johann Rossouw

  • 3

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Die briefskywer spreek president Ramaphosa goedgelowig aan asof hy homself bewys het as 'n man van onkreukbare integriteit. Intussen het hy en sy ANC sommer met die intrapslag al vir Helen Zille en haar DA met 'n slapriem gevang.

  • Mense leer nooit. Ek worstel dikwels deur u artikels. U is immers 'n befaamde professor. Politici is nie daar om vir gewone mense se belange om te gee nie. Het ons nie reeds Ramaphoria 1 gehad nie? Hoekom sal Ramaphoria 2 werk?

    Weet u, ek hou nie van Afriforum en Solidariteit se leiers eintlik nie. Hulle is net mense en mens moenie mense op 'n troon plaas nie. Ek hou ook nie van baie van hulle rassistiese aanhangers en lede en al hulle opmerkings wat die internet vol lê nie. Maar ek lief wel die Afriforum- en Solidariteit-mentaliteit van "ONS SAL SELF". Kyk net wat het hulle al uitgerig! Persoonlik glo ek nie meer in die Here soos uself nie. Maar dis beter om 'n god te aanbid as 'n politikus. Suid-Afrika het een van die grootste kabinette op aarde. Hoe help dit ons?

    Ek het op 'n stadium gewerk vir die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Ramaphosa het toe daardie departement laat saamsmelt met landbou en toe word Didiza (wat deesdae speaker is) die minister. Deel van Ramaphoria 1 se beloftes was om die kabinet te verklein. Dieselfde Ramaphosa het nou die twee departemente weer laat opdeel in twee. Methinks dis alles net vir sy eie politieke behoud. Soos elke ander besluit.

    Persoonlik volg ek graag die partypolitiek. Dis belangrik vir historiese redes en om ingelig te wees. Maar ons misgis onsself as ons dink enige politikus betree daardie terrein om enige belange te dien behalwe nou hulle eie.

    Volgens my berekeninge is ek so 15 jaar jonger as uself. My eerste skoolreünie het ek bygewoon. Ek onthou ek het 'n kis bier gekoop. En dis omtrent al wat ek ook van die dag onthou. My tweede reünie het ek misgeloop. Ek sien nie die punt om weer een by te woon nie.

    Van my generasie is veel meer oorsee. Suid-Afrika het nie werk nie en vir die mense wat na my skool voltooi het, is dit nog erger. Ek was onlangs by 'n vertoning van Evita Bezuidenhout. Toe die show verby is, toe sê tannie Evita, jy is welkom om te kom foto's neem, vir jou kinders oorsee ...

    U vaar soms uit teen die verval van die Afrikaanse kerke. Mense is mense. Hulle behoeftes verander weinig. Hulle wil steeds doop, dood en trou. My ou dominee het dit DDT genoem. Die DDT-Christene. Maar die voete is weg. Hulle is oorsee.

    Is die Afrikaner-konsep gerehabiliteer? Was u ooit op TikTok die laaste jaar? Nou ja, TikTok is nie die maatstaf van die beskawing nie. Maar mens hoor baie kritiek daar teen die konsep van Afrikaner. Ons is "Europeërs". Ons is "setlaars" word daar oor en oor vertel. Met as agtergrond ou bordjies uit die apartheidsjare op publieke stoele en toilette waarop pryk "Slegs Europeërs" ...

    Persoonlik is ek heel gemaklik met Afrikaner. Maar meer met BOER. En selfs NOG meer met Europeër. Ek besef, soveel as wat Afrika my huis is, is ek nie African nie. Maar ek sien vreeeslik baie whiteys wil Africans wees deesdae.

    Ek gee nie advies nie. Elkeen moet maak soos hulle smaak. Maar ek is net SO klaar met politiek en politici. Hulle sit in die parlement en vreet. Dis al. Gee liewer jou geld vir Daily Maverick. Ten minste dokumenteer die ouens iets van al die gesteel. Jy sal altyd 'n inkommer wees. 'n Setlaar en 'n plaag in Afrika. Dit is ons lot. Geluk by die ongeluk is, die lewe is kort en in 'n oogwink verby. Niks verhoed mens om dit te geniet nie.

  • Christo Ebersohn

    Dankie Johann vir die moeite wat jy aan die dag gele het om hierdie omvattende ope brief te skryf. Ek stem saam dat die tyd nou ryp is om saamstaan aksie te neem. Groete. Christo

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top