Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die algemene verkiesing en ’n regering van nasionale eenheid (RNE) – ’n postkoloniale ontleding

  • 1

............
Wat kan ons wys word uit die uitslae van die pas afgelope algemene verkiesing en die groeiende konsensus ten gunste van ’n regering van nasionale eenheid (RNE) onder middelgrondpartye?    
................

Wat kan ons wys word uit die uitslae van die pas afgelope algemene verkiesing en die groeiende konsensus ten gunste van ’n regering van nasionale eenheid (RNE) onder middelgrondpartye?       

Om hierdie vrae te probeer beantwoord, word kortliks eers aandag gegee aan wat ek in talle publikasies die afgelope 20 jaar beskryf het as Suid-Afrika se durende koloniale aard, oftewel die feit dat nóg die staatkundige Afrikaner-nasionalistiese oorwinning van 1948, nóg die Afronasionalistiese oorwinning van 1994 gelei het tot politieke bedelings waarin ’n beslissende breuk bewerkstellig is met die koloniale aard van die Suid-Afrikaanse staat en ekonomie soos dit vanaf die ontdekking van goud en diamante in laaste derde van die 19de eeu tot sogenaamde Uniewording in 1910 beslag gekry – “sogenaamd”, omdat met die integrasie van die eertydse Boererepublieke van die Oranje-Vrystaat en die Transvaal met die twee destydse Britse kolonies van die Kaap en Natal, koloniale grense getrek is wat die Suid-Afrikaanse eenheidstaat tot stand gebring het; ’n besluit wat geneem is ten gunste van Britse ekonomiese belange en sonder inspraak van die meerderheid Suid-Afrikaners.       

Groepe Afrikaners en swart mense wat oor hierdie uitsluiting gebelgd gevoel het, het onderskeidelik vanuit ontluikende antikoloniale Afronasionalisme die South African National Native Congress in 1912 (vanaf 1923 die African National Congress, of ANC) en vanuit ontluikende Afrikaner-nasionalisme die Nasionale Party (NP) in 1914 gestig.       

Albei bewegings het gewerk met ’n aanname wat kenmerkend van soortgelyke bewegings dwarsoor Afrika sou word, naamlik dat as die inheemse uitgeslotenes eers beheer oor die koloniale staatstruktuur kry, hulle staatsmag sal kan gebruik om die samelewing en die ekonomie te hervorm. Ofskoon albei bewegings onderskeidelik ná 1948 en 1994 wisselende mates van sukses behaal het, het albei onder meer dieselfde mislukking behaal, naamlik dat pleks daarvan dat hulle die samelewing en die ekonomie na hulle beeld kon omvorm, hulle self eerder na die beeld van die koloniale staat vervorm is. So het dit gekom dat sowel die NP as die ANC die land volgens ’n sentralistiese koloniale logika geregeer het en in bepaalde opsigte koloniale partye geword het. Hoe dit alles gebeur het, is nie die fokus van hierdie opstel nie; nog minder is die suggestie dat die mate waartoe die NP en die ANC uiteindelik koloniale partye geword het, dieselfde is – dit is nie, en wel om die volgende rede, aangevoer in navolging van ’n ontleding van Moeletsi Mbeki.       

Suid-Afrika is die enigste land suid van die Sahara waar die swart kleinboerklas (doelbewus) vernietig is. Die inisiatief daarvoor het uitgegaan van die destydse premier van die Kaapkolonie, Cecil John Rhodes, en die oogmerk daarvan was om swart kleinboere se ekonomiese selfstandigheid te vernietig ten einde goedkoop arbeid vir die mynwese te skep. Dit het daartoe gelei dat swart mense hul produksiekennis rofweg tussen 1890 en 1930 verloor het, hulle selfstandigheid ingeboet het, en voortaan in ’n staat van ekonomiese afhanklikheid sou funksioneer. Dit het ook bygedra tot ’n koloniale toestand van psigiese afhanklikheid, welke toestand die groot postkoloniale Afrika-denker Ngũgĩ wa'Thiongo uitsonder as die blywendste skade van die koloniale era in Afrika – en sekerlik ook die moeilikste om ongedaan te maak.       

Volgens Mbeki het die rassepakt wat teen 1910 tussen die Britte en die Afrikaners finaal beslag gekry het, en waarvolgens die Afrikaners die Britte se junior vennoot in Britse koloniale beheer oor die Unie van Suid-Afrika sou wees, daarop neergekom dat Afrikaners, anders as swart mense, deurlopend by ekonomiese produksie betrokke gebly het. Danksy die suksesvolle taalstryd van Afrikaner-nasionalisme kon Afrikaners ook daarin slaag om hulle produktiewe kennis van geslag tot geslag suksesvol in hulle taal oor te dra. Waar die NP ná 1948 wel sy oogmerk kon bereik om ekonomiese en kulturele selfstandigheid vir sy ondersteunerskorps te verwesenlik, kon die ANC ná 1994 egter nie daarin slaag nie. Daar is talle redes daarvoor, maar die een wat hier uitgelig word, bou voort op Mbeki se ontleding: Met magsoorname in 1994 het die ANC nie oor dieselfde produksiekennis as die NP in 1948 beskik nie, en daarom kon die ANC nie ewe goed met produksie en die ekonomiese selfstandigheid van sy ondersteunerskorps vorder as wat die geval met die NP tydens dié se bewindsjare was nie.       

............
Om voort te bou op Mbeki se ontleding, word voorts aansluiting by die denke van René Girard gevind. Vir die doeleindes van hierdie opstel word dit kort gehou; Girard se teorie van mimetiese begeerte bied ’n sleutel tot die verstaan van intergroepspanning in ’n postkoloniale samelewing soos Suid-Afrika.
...............

Om voort te bou op Mbeki se ontleding, word voorts aansluiting by die denke van René Girard gevind. Vir die doeleindes van hierdie opstel word dit kort gehou; Girard se teorie van mimetiese begeerte bied ’n sleutel tot die verstaan van intergroepspanning in ’n postkoloniale samelewing soos Suid-Afrika. Die argument lui soos volg.       

Volgens Girard begeer die moderne individu dit wat sy modelle begeer: Omdat ek soos my model wil wees, vind ek dit wat my model begeer, ook begeerlik. Slegs wanneer die individu ’n mate van psigiese selfstandigheid bereik, ontsnap hy aan mimetiese begeerte. Gebeur dit nie, verval die individu in ’n toestand van wat Girard mimetiese wedywering noem: Ek is voortdurend in mededinging met my modelle om vóór hulle dit te bekom wat ek begeerlik vind.       

Girard wys daarop dat in die moderniteit, anders as in ’n tradisionele samelewing, die psigososiale afstand tussen ons en ons modelle al hoe kleiner word, ons die bewondering vir ons modelle al hoe meer versteek, en die mededinging met ons modelle al hoe feller word.       

Toegepas op ’n postkoloniale land soos Suid-Afrika, loop my argument soos volg:

  1. Part en deel van die koloniseringsproses is dat die koloniale moondheid sy norme en voorwerpe van begeerte op die gekoloniseerde gemeenskap(pe) afdwing.
  1. Die gekoloniseerde gemeenskap(pe) internaliseer die koloniale norme en voorwerpe, en integreer dit op noodlottige wyse in hulle antikoloniale stryd – noodlottig omdat die gekoloniseerde daarmee implisiet steeds die gesag van die koloniale moondheid erken, en oplaas in hul eie oë vry kan wees slegs as hulle genoegsaam aan die hand van die voormalige koloniale moondheid se norme presteer. ’n Kernvoorwaarde van dié prestasie – en een wat per definisie die voorheen gekoloniseerde steeds afhanklik hou – is die erkenning van die vorige koloniale moondheid.
  1. ’n Tipiese voorbeeld van hierdie dialektiek is een waarna reeds hier bo verwys is, naamlik die aanname wat sowel die NP as die ANC gemaak het dat deur beheer oor die koloniale staatstruktuur te verkry, bevryding outomaties sal volg. In dié geval was die noodlottige fout om die koloniale staatstruktuur self as begeerlik te beskou, terwyl dit in die eerste plek die voorste instrument vir die vernietiging van inheemse norme en voorwerpe van begeertes was.
  1. Afrikaners was ná 1948 in so ’n postkoloniale verhouding van mimetiese wedywering met die voormalige Britse koloniale moondheid, en dwarsdeur die bewind van die NP was die erkenning (of gebrek daaraan) van Brittanje wesenlik tot dit wat die NP nagestreef het. Dit was selfs so tot heel teen die einde van die vorige bedeling – so het die destydse Britse regering van Margaret Thatcher steeds ’n buitengewoon groot invloed op die NP uitgeoefen, onder meer wat betref die NP se besluit om in die middel-1980’s met die leierskap van die ANC vir ’n oorgang te begin onderhandel. Omdat Afrikaners aan die hand van die norme van die voormalige koloniale moondheid kon presteer op die gebiede van die onderwys, die wetenskap, die tegnologie, die kunste, en so meer, kon Afrikaners uiteindelik teen die laat 20ste eeu die verhouding van mimetiese wedywering met Brittanje oorkom, en ná 1994 in sowel die privaat sektor as die burgerlike samelewing hulle ekonomiese en kulturele selfstandigheid verder uitbou – ofskoon politieke selfstandigheid nog ontbreek (waarna hier onder teruggekeer word).
  1. Soos ek al elders aangevoer het, was die Afrikaners teen 1994 teenoor swart mense in die posisie wat Brittanje in 1948 teenoor die Afrikaners was – die voormalige koloniale moondheid met wie meegeding moes word, en wie se erkenning gesoek moes word. Wat dit vir die ANC nog moeiliker as vir die NP gemaak het, is, soos hier bo vermeld, dat die ANC teen 1994 nie oor genoeg produktiewe kennis beskik het om met die Afrikaners mee te ding nie. Dit verklaar, aldus Mbeki, ook waarom die ANC dan wel uitgeblink het op die ander terrein waarop hulle hulself aan die Afrikaners gemeet het, naamlik verbruik, veral uitspattige vertoon van duur verbruiksartikels. Al wat hierdie jammerlike toedrag van sake bevestig, is die mate waartoe swart Suid-Afrikaners se kulturele selfvertroue, inheemse norme en voorwerpe van begeerte ná meer as ’n eeu van ekonomiese en psigiese verknegting aan flarde was.
  1. Dit verklaar ook waarom die ANC die staat probeer gebruik het as voertuig vir die herstel van swart ekonomiese selfstandigheid. Ongelukkig het dit in die praktyk neergekom op verdiepte ekonomiese en psigiese afhanklikheid, en wel in die vorm van maatskaplike toelae vir die armstes, poste in die staat en semistaatsinstellings vir die middelklas, en staatskontrakte vir ’n beduidende deel van die swart hoë middelklas. (Hier volg ek ’n ontleding na wat Cilliers Brink, die huidige burgemeester van die Tshwane-metro, al meer as 15 jaar gelede gemaak het in ’n opstel waarmee hy ’n prys van die dagblad Beeld gewen het.)
  1. Afrikaners wat uit ’n Westerssentriese perspektief swart mense beskuldig van sosialisme, begaan ’n ernstige fout – ek voer aan dat die groot Afronasionalistiese flankering met die staat en met sentralistiese beleide die afgelope 30 jaar verstaan moet word as ’n simptoom van, enersyds, ’n hardnekkige gebrek aan kulturele selfvertroue en eie ondernemerskap en, andersyds, die gevolglike aanname dat slegs ’n groot eksterne mag (soos die staat) my van my afhanklikheid kan verlos.
  1. Asof voorgenoemde die huidige Suid-Afrikaanse situasie nie ingewikkeld genoeg maak nie, moet ons ook nog in ag neem dat die mimetiese mededinging van swart mense met Afrikaners in die afgelope 30 jaar nie afgeneem het nie, maar eerder bly toeneem. Waarom? Want terwyl die Afronasionaliste nie daarin kon slaag om die psigiese en ekonomiese verknegtheid van hulle ondersteuners te verbreek nie, het Afrikaners danksy hul prestasies in die privaat sektor en die burgerlike samelewing hulle selfstandigheid en kulturele selfvertroue eenvoudig nog verder uitgebou. Dit is ook waarom sommige swart politieke kommentators by geleentheid die afgelope jare die ANC se mislukkings begin beskryf het as ’n “swart” mislukking. Afrikaners, wat self op hulle dag armlastig en kollektief uitsigloos was, behoort, om die minste te sê, simpatie hiermee te hê: As ek individueel of kollektief afgetakel is en nie daarin slaag om dit agter te laat nie, gaan die selftwyfel bly knaag. Dis gewoon ’n universele menslike verskynsel.

Met dit alles gesê, kan die volgende oor die uitslae van die verkiesing en die keuse vir ’n RNE gesê word:

  1. Die belangrikste verdelingslyn in ons politiek is nou dié tussen burgers wat glo dat ekonomiese, kulturele en psigiese selfstandigheid herstel kan word en diegene wat dit nie glo nie. Laasgenoemde groep sluit in mense wat nie meer werk soek nie, mense wat verval in maatskaplike probleme, mense wat hulle wend tot georganiseerde misdaad en, les bes, mense wat politiek bedryf bestaande uit ’n kombinasie van patronaatskap en ’n grootskaalse eensydige aanslag op die ganse Suid-Afrikaanse staatkundige bestel, insluitend die Grondwet, die parlement en die howe. Dit sluit veral die MKP en die EFF in, maar ook in ’n mate politieke leiers wat kru populisme beoefen om kiesers wat steeds in uiterse ekonomiese en psigiese afhanklikheid verkeer, te manipuleer. Dit is absoluut wesenlik om in te sien dat hierdie ganse afhanklikheidsgroep dramaties vergroot is in die afgelope 30 jaar namate die ANC se beleide nie daarin kon slaag om swart (en bruin) ekonomiese en psigiese afhanklikheid te verbreek nie.
  1. Die groep wat glo in die herstel van ekonomiese, psigiese en kulturele selfstandigheid, sluit minstens die volgende in: Cyril Ramaphosa en diegene in die ANC wat wel om velerlei redes selfstandigheid kon begin herstel; die DA; die IVP; die VF+; asook die privaat sektor en suksesvolle burgerlike organisasies.
  1. Omdat die vernaamste verdelingslyn nou tussen die onafhanklikheidsgelowiges en die afhanklikheidsverslaafdes loop, het hierdie verkiesing ons ook nou voor ten minste twee wesenlike gegewens gebring:

– Die enigste manier om verdere maatskaplike en politieke verbrokkeling te voorkom, is dat die onafhanklikheidsgelowiges saamwerk.

– Omdat die postkoloniale mimetiese wedywering nog ’n faktor onder die onafhanklikheidsgelowiges is, is hul onderlinge vertroue broos (let op hoe venynig sommige ANC-politici of swart opposisieleiers steeds is oor vermeende wit baasskap), en sal die samewerking slegs deur rolspelers in die groep wat oor buitengewone postkoloniale emosionele en sosiale intelligensie beskik, gebou kan word. Hoe ongeduldig wit Suid-Afrikaners in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, ook al met die ANC mag wees, sal dit hulle loon om in gedagte te hou watter enorme psigiese spronge vandag verwag word van swart Suid-Afrikaners wat weens die mislukkings van die afgelope 30 jaar aan selfvertwyfeling ly.

  1. Dit kan aangevoer word dat die grootste swak plek van die DA tot heel onlangs was dat die wit, verstedelikte, Engelstalige elite wat die party gestig en grootliks beheer het, nie verby hulle eie kulturele vooroordele kon sien nie. Dog: Kan dit wees dat die DA dit nou te bowe begin kom deur ’n dokument op die tafel te plaas wat, ten minste vanuit een hoek gesien, nie eise stel oor sake wat die ANC-leierskorps aan hulle mislukkings herinner nie, wat as’t ware (oënskynlik) die ANC-leierskorps se vernedering oor die pas afgelope verkiesing en die mislukkings van die vorige 30 jaar nie vererger met ’n beterweterige “Ons het julle mos gesê”-houding nie? Dit is altans hoe ek die betreklik beskeie eise in die DA se veelbesproke basisdokument vir onderhandelinge met die ANC oor ’n RNE beskou.

Ten slotte: Kommentators wat die versugting uitgespreek het vir ’n koalisieregering, of vir ’n minderheidsregering per ooreenkoms met minstens die DA, onderskat die ingewikkelde postkoloniale psigiese dinamika waarmee ons nou in ons politiek te doen het. Harde Westminster-opposisiepolitiek is kultureel vreemd aan Suid-Afrika; des te meer in ’n diep beseerde, getraumatiseerde samelewing soos ons s’n. ’n Politiek van samewerking sal moet beoefen word by wyse van die spreekwoordelike klein treetjies en klein suksesse. Die idee van ’n RNE soos dit nou aan ons voorgehou word, en juis so vaag soos wat dit is, stel die dwarslat en die moontlikheid vir mislukking nie te hoog nie, en bied die geleentheid om treetjie vir treetjie daaraan inhoud te gee.       

...........
Hopelik – miskien – bring dit ons verder as al ons eertydse groot drome oor ’n nuwe Suid-Afrika, ’n groot leier, en wat nog. Lank gelede het eendrag miskien mag gemaak; nou, skyn dit, maak samewerking mens.
...............

Hopelik – miskien – bring dit ons verder as al ons eertydse groot drome oor ’n nuwe Suid-Afrika, ’n groot leier, en wat nog. Lank gelede het eendrag miskien mag gemaak; nou, skyn dit, maak samewerking mens.

Lees ook:

RNE versus ’n koalisieregering

Op ongekarteerde terrein: Verkiesing 29 Mei 2024

The Z factor in KZN and the elections

South Africa: The triumph of capitalism in a country too big to fail

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die Afrikaner Verklaring

René Girard, Michel Houellebecq, mimetiese wedywering in die liberale verbruikersamelewing, en die metafisiese toekoms van die Afrikaners

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud rondom The near north

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: die stryd teen stropery

  • 1

Kommentaar

  • Connie Kerkmuis

    Die DA wil minimumloon afskaf en van mense slawe maak. Dit is die DA. Dit dien die belange van groot geld en aandeelhouers. Wie is nou eintlik van wie afhanklik hier? Hoeveel besighede is afhanklik van slawearbeid? Sommige studies beweer dat die verskil in inkomste tussen die CEO en die skoonmaker sedert 1980 tot vandag, met sowat 1500 % toegeneem het. Ek hou nie van die MK en EFF nie, en dan veral MK, omdat hulle vyandig is teenoor die Grondwet en die regstelsel. Tog sal ek nie sover gaan as om daardie mense as "afhanklikheidsverslaafdes" te beskryf nie.

    Die politici se eerste prioriteit, is hulle eie belange. Daarmee moet mens vrede maak. Eers hulleself en dan die res. Die sisteem is ontwerp dat die president in teorie demokraties verkies word, tydens 'n sitting van die nasionale lekgotla, maar in praktyk verkies word voor oop kattebakke met sakke kontant en ook agter geslote deure.

    Die geldsisteem self is ook 'n klug, want geld se waarde tuimel terwyl mense slaap. So sterf die meerderheid mense in armoede. En die antwoord daarop is "Hulle het nie hard genoeg gewerk nie", wat totale leuens is van die geldmag.

    Elkeen nodig seker maar iets om aan te glo.
    Sommige glo aan Cyril Ramaphosa.
    Sommige glo aan die Here.
    Sommige glo aan aandele en pensioene.
    Sommige glo aan diamantpakkies.
    Sommige glo aan Bitcoin.
    En sommige glo aan MK of die EFF.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top