Op ongekarteerde terrein: Verkiesing 29 Mei 2024

  • 2

Midde-in die verkiesingsuitslae in die Gallagher Estate-kompleks beleef ek die historiese gebeure en besef dat ons die maak van ’n politieke keerpunt eerstehands ervaar. In sulke situasies is perspektief soms ’n ontwykende insig, maar ek kon ten minste met die bekende 1964-treffer van Stealers Wheel in my gedagtes rondloop toe hulle gesing het:

Clowns to the left of me
Jokers to the right
Stuck in the middle with you!

Met die skryf van hierdie artikel, in die afwagtende atmosfeer van die OVK se nasionale uitslagsentrum, was daar verskeie emosies onder politiekepartyverteenwoordigers vaardig! Die groot skerm is elke paar minute aangepas soos wat die geverifieerde stemme van stempunte en stemdistrikte verklaar word en die persentasie stemme groter word. Daar was uitbundige gejuig toe die ANC oor ’n miljoen stemme kry, en so ook die DA, MK en die EFF. Tog het almal geweet dat die uitslag van die hierdie historiese verkiesing reeds duidelik was toe ongeveer 10% van die stemme getel is. Die ANC sou stabiliseer op ongeveer 40%, die DA op 21%, MK op 14% en die EFF op 9%. Met elke lui van die OVK se ghong het die persentasies met ’n desimale punte op of af beweeg, maar dit het in ’n sekere baan gebly. Die koffie by die uitslagsentrum was egter van ’n hoë gehalte en dit het gehelp om die veranderende emosies deurlopend dop te hou!

Breë tendense

Daar was duidelik skok op die gesigte van die ANC-lede, wat moes vrede maak dat daar ’n ongekende 17% swaai weg van die party was. Daar was vreugde op die gesigte van die MK party wat die groot verrassing van die verkiesing was, en teleurstelling op die gesigte van die EFF wat nou slegs die vierde grootste party in die parlement sou wees. Die DA het ’n soort selfvoldane houding weerspieël met die feit dat hulle ondersteuners teruggewen het wat hulle in 2019 verloor het, net soos die Patriotiese Alliansie, wat ’n nuwe stem onder bruin kiesers geword het. Van die kleiner partye het verdwyn. Dit sal my altyd bybly om die verslae gesig van Mosiuoa Lekota in die sitplekke van Cope te sien soos die stemme ingerol het en die wete dat die einde van die party in sig was. ’n Nuwe situasie het in die Suid-Afrikaanse politieke dinamika ontplooi.

In die laaste van die viertal artikels sal daar meer op perspektief gefokus word soos die sewende parlement en administrasie ontvou, maar hierdie artikel probeer die gebeure vasvang sonder om verstrik te raak in die statistiese besonderhede van hierdie historiese verkiesing.

Vooraf het verskeie waarnemers geskryf oor die historiese betekenis van die 2024-verkiesing, maar baie min het die aardskuddende impak van die MK-party verwag of voorspel. Die aard van die verandering kan as paradigmaties beskou word, en een van die kenmerke van ’n paradigmaverskuiwing is dat al die akteurs in die spel op zero begin. Niemand het ’n voordeel nie, want die situasie is nuut vir almal en uitsprake hieroor sal oor die volgende weke en maande voor ons afspeel.

Van dominante party tot predominante party

Die storie van die 2024-verkiesing begin reeds in Desember 2017 toe die ANC besluit het om Ramaphosa as president van die party te verkies en vir die eerste maal sedert 1991 geen Zoeloesprekendes in die ANC se top ses te verkies nie. Die onderliggende gevoel in KZN het ontstaan dat die grootste enkele ANC-steunbasis, die Zoeloesprekende etniese en geografiese steungroep, nie meer geag word nie. Optrede teen oudpresident Zuma, Zweli Mkhize se uittrede gedurende Covid en ’n paar ander gebeure het dié gevoel versterk. Ten spyte van senior poste in die regering vir Bheki Cele, Sihle Zikalala en Senzo Mchunu het hierdie gevoel van vervreemding nie gestop nie. Die ANC-leierskapsverkiesing in 2022 het hierdie situasie nie verander nie, maar eerder verdiep. Met 40% van die nasionale steun wag daar vir die ANC ’n nuwe werklikheid as deel van ’n koalisieregering waarin hulle nie hulle dominante posisie sal kan gebruik en misbruik soos dikwels in laaste 30 jaar nie. Hierdie interne transformasieproses wat op die ANC wag, gaan die party dwing om uit die gemaksone van ’n bevrydingsparty te beweeg na dié van ’n mededingende moderne politieke party. Indien ’n party deel word van ’n regeringskoalisie, vereis dit partydissipline en duidelike beleidsposisies sonder interne teenstrydige stemme. Dit vereis baie groter eenstemmigheid in die ANC se interne koalisie met Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. In die breë gaan dit van die ANC vereis om groter beleidsekerheid op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlakke te gee, en dit sal ook deursyfer na regeringsoptrede op daardie vlakke. Die ANC se kultuur van dominansie en politieke arrogansie en patronaatskap wat oor 30 jaar ontwikkel het, sal moet plek maak vir pragmatiese en kompromissoekende optrede.

Identiteitspolitiek

Die sukses wat die MK-party in KZN, dele van Mpumalanga en Gauteng behaal het, dui duidelik op die sukses van ’n etniese en identiteitspolitieke benadering. Dit is egter net een van die suksesfaktore en daar sal genuanseerd gekyk moet word na ander elemente, soos interne ontevredenheid met leierskap in die ANC, ’n gevoel van vervreemding onder ANC-lede, die rol van Jacob Zuma as die sogenaamde slagoffer van faksies in die ANC, en die vermoë wat Zuma gehad het om die vakuum wat Mangosuthu Buthelezi se dood in 2023 gelaat het, te kon vul. Die ongekende opkoms van die MK-party, wat duidelik lank voor die tyd in geheimhouding en onder die oppervlak met mobilisering besig was, gaan nog vir lank bestudeer word. Wat dit uniek maak, is dat die party meer as 14% van die nasionale steun en 46% van die populêre steun in KZN kon mobiliseer, sonder ’n duidelike grondwet, verkose leierskap of politieke manifes. Dit was eerder die samevoeging van die eertydse Zuma-lojaliste, die voormalige RET- (Radical Economic Transformation-) faksie, elemente van die ou premierliga en ontgogelde ANC-lede. Dit verklaar ook waarom die MK-party aansienlike steun van die EFF weggerokkel het. Die volhoubaarheid van ’n party wat geskoei is op weerwraak en ’n leier se slagoffermentaliteit, word egter ernstig betwyfel en daarom moet die MK-party gesien word as ’n tref-en-trap-party wat waarskynlik nie dieselfde prestasie in 2029 sal kan behaal nie.

Die Patriotic Alliance het ook in hierdie kategorie presteer deur van niks af nie te groei na ’n party met 2% van die nasionale steun en ongeveer 7% van die steun in die Wes-Kaap, onder veral bruin kiesers. Gayton McKenzie se span gaan parlement toe met vyf lede, een lid meer as die Vryheidsfront Plus wat steun verloor het en nou net meer as 1% steun gekry het met vier verteenwoordigers in die parlement.

Terugwen van verlore ondersteuners

Die nasionale stempersentasie was 58,6%, maar dit vertel nie die volle verhaal nie. In die platteland, waar die ANC tradisioneel stemdistrikte gedomineer het, was die stempersentasie onder 50%, en in dele nader aan 40% van die geregistreerde kiesers. In stedelike stemdistrikte, waar die DA tipies gedomineer het, was die stempersentasie bo 70% en in sekere gevalle bo 80% van die geregistreerde kiesers. Dit vertel ’n storie van hoe die DA sy veldtog bestuur het en kiesers kon mobiliseer. MK kon dieselfde in KZN regkry deur oor die algemeen meer as 60% van kiesers na die stembusse te lok. In hierdie proses het die DA meer as 200 000 stemme van die VF Plus teruggewen wat die DA in die 2019-verkiesing verloor het, hoofsaak as gevolg van die DA se ondeurdagte uitsprake rakende ’n laerskooljuffrou se optrede in Schweizer-Reneke. Met sy baie sterk veldtog het die DA sy steunvlakke behou en verbeter en as koningmaker uit die verkiesing getree. 

Ongekarteerde terrein

Die Suid-Afrikaanse politiek betree ongekarteerde terrein met die uitkoms van die 2024-verkiesing, en ’n aantal faktore sal baie fyn dopgehou moet word die volgende vyf jaar. Daar gaan baie uitsprake wees en strepe in die sand getrek word – intense gesprekke binne partye maar ook tussen partye. Gee en neem en verduidelikings aan magsbasisse.  In hierdie ongekarteerde politieke terrein sal die volgende faktore baie belangrik wees:

  • Die verkiesing van Cyril Ramaphosa vir ’n tweede termyn as staatshoof. Dit is die uitgesproke voorkeur van die ANC en word teengestaan deur die EFF en die MK-party. Dit gee ook ’n aanduiding van die aard van koalisiegesprekke wat gaan plaasvind. Daar is ook sterk sprake dat die Ramaphosa-presidentskap waarskynlik sal duur tot 2027 wanneer Ramaphosa se tweede termyn as leier van die ANC ten einde loop.
  • Die aard van die koalisie-ooreenkoms. Dit kan ’n formele ooreenkoms wees of ’n losse ooreenkoms en verstandhouding tussen partye. Laasgenoemde sou kon beteken dat die ANC die uitvoerende funksies beheer (die kabinet) en die ander vennote, soos die DA, die wetgewende funksies. Binnegevegte in die onderskeie partye sal die aard van die ooreenkoms bepaal.
  • Wat in KZN gaan gebeur waar die MK-party die grootste party is, maar nie genoeg setels het om die provinsiale regering te vorm nie. Die IVP lyk na die party wat die bepalende rol sal speel, veral as die IVP op nasionale vlak ook by ’n koalisieregering betrek word.
  • Gauteng se provinsialeregeringsamestelling lyk ook of dit op die nasionale vlak bepaal sal word met die DA wat baie sterk steun in die metropole gekry het.
  • In die Noord-Kaap het die ANC 49% van die steun gekry, en alles dui daarop dat die VF Plus die provinsiale koalisievennoot sal wees.
  • Die Wes-Kaap bly veilig in die DA se hande op provinsiale vlak, en so ook noordelike provinsies in die ANC se hande saam met die Oos-Kaap.

Ter samevatting moet gesê word dat die 2024-verkiesing die uitkoms van die 2029 was wat vyf jaar te vroeg plaasgevind het! Die verkiesing het die opvatting bewys dat bevrydingspartye tipies 25–30 jaar die bewind voer en dan vind ’n politieke omwenteling plaas. Dit is ten slotte my mening dat die 2024-verkiesing ’n herskikking in die polities dinamiese proses ingelui het wat nie in 2024 sal eindig nie. Die politieke landskap links en regs van die politieke sentrum gaan oor tyd nuwe akteurs oplewer, en as gekyk word na die oorsprong van die term koalisie, naamlik uit Latyn wat “sameloop”, “samevloeiing” of “saamgroei” beteken, dan is dit die rigtingverandering en nuwe kartering wat in die vooruitsig gestel kan word.

  • 2

Kommentaar

  • Izak (Sakkie) Spangenberg

    'n Baie goeie oorsig van die verkiesingsuitslae en die impak wat dit op die politieke partye gaan hê. So ook 'n raak beskrywing van wat vir die burgers van hierdie land voorlê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top