In 2023 maak Eben Venter se roman Decima opslae – onder meer omdat dit so ’n realistiese beeld op die wêreld van renosterstropery bied. Teen hierdie agtergrond tree Johann Rossouw in gesprek met ’n deskundige van biodiversiteit wie se naam om veiligheidsredes weerhou word, gegewe die onlangse suksesse wat hy help behaal het in die stryd teen wild- en ander vorme van stropery.
Baie dankie dat jy onder gevoelige omstandighede tot hierdie gesprek ingestem het. Sal jy asseblief eerstens jou beroepsagtergrond kan skets en waar jy teen dié agtergrond met betrekking tot bewaring in die algemeen en stropery in die besonder staan.
Ten eerste: Ek is nie ’n AP- (anti-poaching-) spesialis nie. Daar is baie van hulle en ek gee myself vir geen oomblik uit as een nie. Ek is ’n gewone ou wat gewone voetsoolvlakbewaringspersoneel oplei om hulle werk op die grond so goed as moontlik te doen.
Ten tweede: Alhoewel my werk op voetsoolvlak is, is dit partykeer nodig om sekere vrae vir myself te vra – onder meer hoe om die verskil tussen wetlike en morele plig vir myself uit te klaar. Ek het vir baie jare in swart-en-wit gedink, maar moes uiteindelik na die grys toe beweeg. Ek gaan meermale ’n storie inspan om myself beter uit te druk. Ek gaan dit in kursief doen, om aan te dui dat dit ’n storie is. Van hulle is daar uit my eie ondervinding, van hulle uit vriende se lewens, van hulle slegs om ’n punt te illustreer.
Terwyl ek studeer het, het ek deeltyds gewerk as veldgids in ’n natuurgebied om aan die lewe te bly. My studiebeurs het betaal vir alles wat met studies te doen het, maar vir my alledaagse behoeftes was daar niks.
Dis was die reënseisoen in die Laeveld, en vroeg reeds het die hemele oopgemaak. So ongeveer 5 km van my basis af was ’n seisoenale dam, droog in die winter, nat in middelsomer en ’n moeras as die eerste reëns val. ’n Ou olifantkoei het probeer om die dieper water in die middel te bereik en in die modder vasgeval. Die wet/reëls in dié verband is duidelik: “Man made, man cure. Nature make, nature cure.” Aangesien hierdie ’n duidelike natuurgeval was, mog ons dus nie ingryp om die koei uit die modder te bevry nie. Vir dae lank (seker amper ’n week) het ek elke dag by die koei verby gery. Gelukkig was daar in daardie stadium geen toeriste nie. Elke keer moes ek hoor hoe sy sukkel om uit te kom; van kwaad, angstig, desperaat tot hartseer, eina en “help”. En ek moes dit elke keer aanhoor en die vrees, haat en verwyt in haar oë sien. (Verskoon asseblief die antropomorfisme.) Die Saterdag moes my hoof die personeel invat dorp toe vir hulle weeklikse inkopies. Toe hy weg was, het ek gedoen wat ek moes doen. Teen die wet, ja. Teen my beginsels …
Snaaks genoeg, my baas het nooit gevra hoekom ek een patroon op my inventaris kort was nie.
Ten derde: Baie mense het reeds seergekry, is oorlede of is weg uit bewaring as gevolg van sekere goed wat ek gaan sê. Dit maak seer. Ek wil geen wonde oopkrap by familie wat daarmee moes saamleef nie. Dus gaan ek doelbewus ’n paar goedjies verander.
Ten laaste: Ek is wie ek is. Ek skryf nie ’n woord hier vir my eie verheerliking nie. Ek skryf dit omdat ek dink dit geskryf moet word.
Dankie vir dié toeligting. As jy ’n oorsig op stropery vanuit jou perspektief moet gee, hoe sal dit lyk?
Ek beantwoord jou vraag stap vir stap aan die hand van vrae wat dikwels oor verskillende aspekte van stropery gevra word.
1. Wat is stropery?
Ek verwys doelbewus nie na artikel X van Wet Z nie. Baie ander kan dit baie beter doen as ek. Ek sou in elk geval verkeerd wees – ek is nié ’n prokkerower nie! Vir my is stroping die verwydering van biologiese materiaal uit ’n natuurlike gebied sonder toestemming. Blommetjie uit die grond uit trek, mossel vir ’n potjie, olifant vir sy tande. Sonder ’n permit bly dit stropery.
2. Hoekom word daar gestroop?
Dit sou so maklik wees om te veralgemeen en te sê: “Vir die geld.” Ongelukkig doen so ’n veralgemening niemand ’n guns nie. Deur te veralgemeen kyk ons die punt mis. Ek verdeel dit in verskillende kategorieë om die motiewe beter toe te lig.
a) Die bestaanstroper
Ou Sipho het vir jare lank op die myn gewerk. Toe die “buitelanders” die myn oorneem, verloor hy sy werk. Hy het ’n vrou en drie kinders om voor te sorg en sy vrou is vir die vierde keer swanger. Sassa kom nie altyd deur nie en dinge gaan baie swaar. Hy bly in ’n sinkkaia teen die grens van ’n groot wildtuin. Vir maande was proteïen skaars en baie duur. Sy vrou word al hoe swakker en die suster by die kliniek het vir haar gesê om haar proteïeninname te verhoog. Elke dag sien Sipho steenbokke, duikers en rooibokke aan die ander kant van die heining. Hy weet dis nie syne nie, maar hy voel dat hy nie ’n keuse het nie. Hy klim oor die draad en stel ’n paar wurgstrikke om ’n bokkie vir die vleis te vang.
b) Die geleentheidstroper
Piet werk as vellesmous in ’n klein dorpie in die Karoo. Elke dag ry hy van plaas na plaas en koop velle en bene om dit weer aan die looiery en beenmeelfabriek te verkwansel. Die bakkie loop nog en daar is gelukkig ’n paar sente om oor die naweek ’n paar bottels brannas en Coke te kan bekostig. Sy pel, Gert, kuier die naweek daar van die groot dorp af. Die manne braai dat die spoeg so spat. Ou Gert het die ou .22 wat hy by sy oupa geërf het, saamgebring, net om te kyk of die ding nog werk. Sekerlik sal Piet ’n plekkie ken waar hulle ’n paar skote kan skiet.
Laataand trek die dop sterk en die manne klim met die .22 en ’n kollig in die bakkie om ’n draai te gaan ry – Langplaas toe. Langplaas – die plaas tussen die heinings waarop die pad loop. Dis mos niemand se grond nie. Ná ’n paar kilo’s kry hulle ’n springbok wat in die lig vassteek en Gert trek los. ’n Perfekte kopskoot. Gooi die bok agter op die bakkie, terug huis toe. Môre maak die manne biltong.
c) Kommersieel
Eenvoudig vir geld, groot geld. Ons gesprek behoort veral op dié soort stropery te fokus. Ek voel egter dat die ander ook genoem moet word, want dikwels lei die een tot die ander, en verskillende kombinasies kom ook voor. Alles is nie altyd so eenvoudig as wat ek dit graag sou wou hê nie.
3. Wie is die stroper?
Dis baie moeilik om een soort persoon te identifiseer. Daar is verskillende omstandighede wat kan bepaal wie ’n stroper word.
Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde:
a) Mattias werk in die werkswinkel op ’n reservaat. Hy is laag op die ranglys. Spannerswaaier. Hy het ’n meisie oor wie hy baie ernstig is en klaar met sy ooms begin praat oor wat hy vir lobola kan maak. Een Saterdagmiddag sit hy voor die spazawinkel ’n bier en drink toe ’n man langs hom kom sit. “Wil jy ’n paar ekstra pitte in jou sak sit?” vra hy. “Natuurlik.” “Nou ja, al wat jy moet doen: As jy sien die APU (Anti-Poaching Unit) draai regs by die hek, dan stuur jy vir my ’n SMS. As hulle links draai, dan SMS jy ook vir my. Elke SMS wat jy vir my stuur, gee jou R100 in jou sak.”
Mattias mag nou wel nie bo-aan die lys staan nie, maar hy weet dat daar ’n probleem is met renosterstropery in sy reservaat. Dit vat nie lank voordat hy homself oortuig dat ’n ou SMS’ie niemand kwaad sal doen nie. Hy het mos niks self gedoen nie, en in elk geval is daar mos nog baie renosters.
Dit gaan beter, en elke paar weke sit Mattias ’n paar ekstra rand in sy sak.
’n Paar maande later sit hy weer voor die spazawinkel toe die man weer stilhou. “Wil jy nog ’n bietjie ekstra insit?” vra hy. “Jy werk mos in die workshop. Laat weet vir ons wanneer APU se bakkie in is vir ’n diens. R1 000 vir jou moeite.” Weer eens maklik vir Mattias; hy stuur mos net ’n boodskappie.
........
Die man lag in sy gesig. “Elke ooreenkoms wat ons het, is op my selfoon opgeneem. Elke SMS wat jy gestuur het, is gebêre op my foon. As jy dit nie doen nie, stuur ek môre alles vir die polisie. Hulle sal weet dat jy ’n stroper is en sal jou arresteer.”
........
Nog ’n paar maande later, weer voor die spazawinkel, vra die man vir hom of hy weet waar die renosters loop. Mattias is nie seker nie, maar vir die R5 000 wat die man hom aanbied net om te gaan kyk waar die renosters loop, is dit mos nie so erg nie.
Nog ’n ruk later is Mattias weer voor die spazawinkel toe die man stilhou. “Agter in die bakkie is ’n byl. My man kom môreaand deur om ’n renoster te skiet. Jy gaan saam met hom veld toe en wanneer hy skiet, dan kap jy die horing af en dra hom uit.” Mattias skrik hom nugter. “Nooit nie, ek sal nooit so iets doen nie, maak nie saak hoeveel jy my betaal nie.”
Die man lag in sy gesig. “Elke ooreenkoms wat ons het, is op my selfoon opgeneem. Elke SMS wat jy gestuur het, is gebêre op my foon. As jy dit nie doen nie, stuur ek môre alles vir die polisie. Hulle sal weet dat jy ’n stroper is en sal jou arresteer.”
Die volgende aand kap Mattias sy eerste horing uit.
*
b) Hermaans het jare lank op die visserskuite gejob. Die catch word elke jaar minder en minder. Toe kom die staat ook nog en vat hulle kwota weg. Nou lê die skuite in die hawe en vergaan. Die plaaslike dik manne – die Bigboys – kuier lekker by die girls in die dorp. Hermaans kuier saam. So ’n ou buttontjie met ’n stop of ’n tiklollie so elke once in a while help hom vergeet hoeveel sy vrou en kinders op hom skree. Sy pel Johnnie weet hy het baie gehelp met die instandhouding van die skuite. Hy ken die see en sy pel is ’n grootmens. Mos maklik om elke once in a while te gaan duik en ’n paar perlemoene te gaan afsteek. Johnnie maak dan seker hy kry ’n paar note in sy sak en ’n ou ietsie om die pyn weg te vat.
*
c) Prof Simms is die wêreld se voorste kenner van skerpioene. Hy het sy hele lewe gewy aan navorsing oor die skerpioene van die gebied. Aftrede kom nader en hy weet sy pensioen is min. By ’n internasionale kongres ontmoet hy ’n versamelaar van die VSA. R10 000 vir ’n skaars spesie. Gedroog en gemonteer om in ’n privaat versameling uit te stal. Prof Simms weet presies waar om hulle te kry.
Die drie anekdotiese voorbeelde hier bo verwys spesifiek na die persone wat verantwoordelik is vir die verwydering van die organismes. Ongelukkig hou dit nie daar op nie, want elkeen van dié persone is slegs een skakel in ’n baie groter netwerk.
4. Die groter netwerk(e)
Dus, in die geval van Mattias ’n bietjie meer inligting – maar let wel dat baie hiervan eerder ’n ingeligte raaiskoot as feite is. Renosterstropery in sy geheel het eers betreklik onlangs die nuus gehaal – ongeveer 2008, as ek reg onthou. Beteken dit dat dit nie voorheen plaasgevind het nie? Beslis nie. In Jemen was ’n renosterhoringhandvatsel vir ’n dolk ’n baie groot statussimbool. Daar is al dolke met renosterhoringshandvatsels van meer as 400 jaar oud gevind. Die dolke is erfstukke wat van een geslag na ’n volgende aangegee word. Die mark vir renosterhoring in Jemen is dus honderde jare oud.
In Verre-Oosterse medisyne is fyngemaakte renosterhoring aangeteken as ’n algemene tonikum, spesifiek doeltreffend vir borskwale, bloedsomloop en hoofpyn. (Ek is nie heeltemal seker waar die storie van ’n afrodisiakum ontstaan het nie.) As gevolg van die skaarsheid van die horing het dit ’n statussimbool geword. Onder sekere groepe is dit die gebruik om dit saam met kokaïen vir jou gaste by spesiale geleenthede aan te bied.
Baie mense assosieer renosters met Afrika, maar dit is ’n wanopvatting. Van die vyf renosterspesies kom slegs twee in Afrika voor, naamlik die wit- en die swartrenoster. Die ander drie, naamlik die Java-, die Sumatra- en die eenhoringrenoster, is Oosterse spesies. Soos die bevolking in die Verre Ooste vinnig toegeneem het, het die druk op plaaslike renosterspesies vir tradisionele medisyne ook toegeneem. Dit het gelei tot ’n geweldige afname in getalle van dié spesies. Gevolglik het die Verre Ooste hulle na Afrika begin wend.
Heel interessant: Toe die Jemense volksleiers ingelig is oor die uitdagings met betrekking tot renosterbewaring, het hulle onmiddellik alle handel in renosterhoring verbied. “Verbied” in Jemen beteken egter iets heeltemal anders as in Suid-Afrika – in Jemen is hulle nog Ou Testamenties as dit kom by die uitdeel van straf. Ek het byvoorbeeld gerugte gehoor van koppe wat letterlik gewaai het van mense wat renosterhoring onwettig aan ’n sekere stamhoof probeer verkoop het.
Reeds in die middel- tot laat 1980’s was daar sekere hooggeplaastes betrokke by onwettige jag. ’n Groot bekende in militêre sowel as bewaringskringe het ernstig beswaar aangeteken teen sekere generaals, ministers en parlementslede wat “met Weermaghulp” sonder veel dokumente in die Caprivi gaan jag het. Hy het self gesê dat dit een van die redes vir sy vroeë uittrede was. Ek het ook ’n voëltjie hoor fluit dat baie van die ivoor van olifante wat so gejag is, landuit is …
Vele grootnaam-beroepsjagters het in later jare ook gehelp met stropery, alhoewel dit nie in daardie stadium onwettig was nie. In die 1990’s en vroeë 2000’s was die truuk om ’n paar “gesellinne” saam met die kliënte van onder meer Viëtnam in te bring om renosters te jag. Die beroepsjagter het dan in die naam van die kliënt en die “gesellinne” om die uitvoer van die “jagtrofee” aansoek gedoen. Nie dat die “dame” ooit ’n wapen hanteer het nie – of nie ’n gevaarlike wapen nie, moet ek seker byvoeg. Op dié manier, en met ’n paar skuiwergate, was die Verre-Oosterse mark betreklik bevredig.
Toe verander slim mense die wet. Skielik het dit onwettig geword om so te maak. Die gaping is toegemaak, maar die aanvraag het bly groei, veral in die groeiende Verre-Oosterse middelklas. ’n Bedryf wat “so half en half beheer was deur soort van wette” is dus geheel en al ondergronds gedwing. Die hoeveelheid geld betrokke (vandag se prys is $65 000 per kilogram renosterhoring) het groot infrastruktuur en netwerke bemoontlik.
Hier is ’n proesel van hoe so ’n netwerk en die proses mag lyk:
-
-
- Persoon 1, waar ou Mattias begin het, verskaf inligting vanuit die kamp in watter rigting teenstropingseenhede beweeg.
- Persoon 2 ontvang die inligting van verskeie persone in die kamp, verwerk dit en gee vir persoon 3.
- Persoon 3 reël dat vuurwapens, toerusting en persone in die gebied ingesmokkel word.
- Persoon 4, met sy metgesel, skiet die renoster en kap die horing af en steek dit naby ’n pad weg.
- Persoon 5 laai die horing op en neem dit uit die gebied.
- Persoon 6 ontvang die horing in ’n openbare gebied, dikwels die parkeerarea van ’n groot winkelsentrum, van waar hy dit na ’n groot stad soos Pretoria neem.
- Persoon 7 kry verskeie horings van verskeie “Persoon 6’e”, stel die besending saam en versend dit op verskillende maniere na die Verre Ooste.
- Persoon 8 ontvang die horing in die Verre Ooste en vervoer dit na die plaaslike koördineerder (Persoon 9).
- Persoon 9 kan in sekere gevalle die horing verwerk – opsny in blokkies – of dit aan ’n ander persoon verkoop om dit te verwerk.
- Persoon 10 is die kleinhandelaar; koop dit by 9 en verkoop dit aan die eindverbruiker.
-
Baie van die stappe word dan met ’n “full cut-out” gedoen. In die praktyk beteken dit dat die mense mekaar nooit sien nie. Dis eenvoudig ’n SMS met ’n instruksie, byvoorbeeld “Brug 3, oostekant, onder maroelaboom”. Daarna volg die volgende SMS: “Wit Hilux, SSS777GP, Spar Parking, Back Seat”, en die sender gaan doen sy inkopies. As jy een man vang, kan hy miskien vir jou een ander selfoonnommer gee. (And good luck with that – by ’n spesifieke persoon het ons meer as 100 SIM-kaarte gekry. Gebruik hom een keer en gooi weg.)
........
Ek betaal jou nie regstreeks nie. Ek het ’n vriend in jou area wat my ’n guns skuld. Hy gee vir jou dogter ’n nuwe kar. Jy verkoop die kar aan ’n sakeman wat die geld oorbetaal in ’n bankrekening wat in die Kaaimanseilande geregistreer – totaal onnaspoorbaar. ’n Ander vriend belê die geld in ’n huis in Suid-Afrika. Hy verkoop die huis … Jy kry die idee.
........
Nou het ons die renosterhoring vervoer van die reservaat in Suid-Afrika na die eindverbruiker in, sê, Viëtnam. Vervolgens moet ons die geld in die teenoorgestelde rigting probeer naspoor. Van die eindverbruiker na die kleinhandelaar is redelik maklik, maar van die kleinhandelaar na die groothandelaar kan ingewikkelder wees. Ek betaal jou nie regstreeks nie. Ek het ’n vriend in jou area wat my ’n guns skuld. Hy gee vir jou dogter ’n nuwe kar. Jy verkoop die kar aan ’n sakeman wat die geld oorbetaal in ’n bankrekening wat in die Kaaimanseilande geregistreer – totaal onnaspoorbaar. ’n Ander vriend belê die geld in ’n huis in Suid-Afrika. Hy verkoop die huis … Jy kry die idee.
Persone 1 tot 5 is gewoonlik baie laag op die lysie: Zimbabwiërs, Mosambiekers, Malawiërs, ens wat onwettig in Suid-Afrika is en probeer geld bymekaarmaak om vir hulle families huis toe te stuur. Vang so iemand en jy sit nog steeds met niks.
Dankie vir hierdie verstommende oorsig oor renosterstroopnetwerke. Wat van perlemoen?
Geldgewys is dit seker net so groot soos renosterhoring, maar nie soveel in die nuus nie. Hoekom nie? Want dis ou nuus in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap. Niemand stel meer belang nie.
Nietemin is die prentjie hier ’n bietjie anders as met renosterstropery. Die Chinese Triades is hier die groot manne. Hulle het regstreekse bande met sekere Wes-Kaapse bendes, wat lede onder die armstes van die armes werf. Die duiker is die man wat die perlemoen gaan duik. Hy los die sak op ’n prominente plek onderwater. Ek het persoonlik tot 30 duikers op ’n slag bymekaar gesien. Dié kom met leë hande aan wal. Vanaand ná donker kom ’n bootjie met een duiker om al die sakke onderwater te kom haal. Sou hy enigsins snuf in die neus kry dat hy gevolg word, gooi hy alles in die see en daag met ’n leë bootjie in die hawetjie op. Slaag hy wel met sy vrag, gee hy dit oor aan die transporter, wat dit dan vervoer tot by die ou wat dit droog. Die droë perlemoen word dan in sakke gesit en op verskeie maniere Verre Ooste toe uitgevoer. ’n Baie gewilde manier is om dit eenvoudig op ’n vissersboot onder die vlag van een van vele lande te laai vir vervoer na die Verre Ooste.
........
Die duiker is die man wat die perlemoen gaan duik. Hy los die sak op ’n prominente plek onderwater. Ek het persoonlik tot 30 duikers op ’n slag bymekaar gesien. Dié kom met leë hande aan wal. Vanaand ná donker kom ’n bootjie met een duiker om al die sakke onderwater te kom haal. Sou hy enigsins snuf in die neus kry dat hy gevolg word, gooi hy alles in die see en daag met ’n leë bootjie in die hawetjie op.
........
Nou word dinge lelik, want die bote vat nie net perlemoen uit nie. Baie keer bring hulle dwelms, vuurwapens en/of mense die land in. Die Triades beheer dus nie net die uitvoermark nie, maar ook die invoermark. Die betrokke Wes-Kaapse bende kan betaal word met wapens en dwelms – hoogs gesog en maklik om vir geld te verkwansel. Mense, spesifiek vroue, word weer aan ander groepe verkoop – dikwels afkomstig uit Oos- en Wes-Afrika, en wat hulle in bordele dwangarbeid laat verrig.
Dan het jy ook hier bo verwys na die stropery van ander dele van die natuur. Hoe werk dit in sulke gevalle?
Hier praat ons van plante, voëls, reptiele, en so meer. Hier gaan dit nie soseer om die betrokkenheid van internasionale misdaadsindikate nie, maar eerder om regstreekse inkomste deur die onwettige versameling en verkoop van bedreigde en skaars spesies. Hoe moeiliker om te bekom en hoe skaarser, hoe hoër die prys. Dis bitter min dat sulke gevalle die nuus haal, dus bestaan daar min bewustheid van die probleem. Hier is kennis van die betrokke spesies baie belangrik. Dit beteken ongelukkig dat baie van die stropers vakkundiges is, of vakkundiges ken.
Nie alles is vir die uitvoer na buitelandse versamelaars nie. Dit kan ook in verskeie tradisionele medisynemarkte in Suid-Afrika eindig. Enigiets van boombas tot luiperdgalblase is hier betrokke. Weer eens: hoe skaarser, hoe duurder.
Van watter soort organismes en pryse praat ons? Onlangs hier in my area gesien:
Bergskilpad 10 cm groot, €250
Pofadder, 50 cm, $500
Groen mamba, $300
Rinkhals, $500
Krimpvarkie, drie jaar oud, $125
Stinkmuishondbaba, $2 499,99 (glo dit of nie!)
Dassie (ja, ’n dassie!), $750
Bobbejaanspinnekop, 1 cm in deursnit, $75
Giant South African Rock Scorpion, 6 cm lank, $25
Boktor, droog, $15 000! (Dit is R275 000 vir ’n torretjie ongeveer 2 cm lank! Afhangend van spesie; party is baie goedkoper teen R20 000.)
Gibbaeum (bababoudjiesplant), 6 cm hoog, €8
Lithops fulviceps (’n vetplant), 1 cm, €142.
As jy dus weet waar (en dis ’n klein kolletjie) Lithops fulviceps voorkom, kan jy maklik oor die draad spring en binne ’n paar minute ’n honderd uithaal. Een honderd van hulle kan maklik in jou bagasie pas as jy in ag neem die grootstes is so 1,5 cm wyd met ’n dun 2 cm-wortel. Ek het self gesien hoe sny hulle ’n leë 2 liter-Coke-bottel oop en stop ’n honderd toegedraai in koerantpapier sonder moeite daarin. 100 teen €142 elk ... €14 200 in enige ou se sak as hy moet aftree op ’n patetiese pensioen ná baie jare se werk is baie geld. Doen ’n strooptrippie elke paar maande en jou lewe is heelwat makliker.
Dankie vir hierdie ietwat verbysterende oorsig oor die eietydse stropingsbedryf. Dit klink na ’n onbegonne taak om dit te probeer bestry. Of is daar tog oplossings?
Dis baie maklik om jou blind te staar teen die probleem. Die oplossings bestaan egter wel en is betreklik maklik om te implementeer – solank die wil daar is.
Deur iets te verbied sal jy nooit daarvan ontslae raak nie. Al wat jy gaan regkry, is om die prys op te jaag. Jaag die prys op en jy verhoog die status. Verhoog die status en dit word meer gesog. En so skep jy ’n nuwe kontantkoei wat wag om groot gemelk te word.
Die teenstropingsbedryf in Suid-Afrika maak baie groot geld. ’n Renosterplaas van 1 000 ha kan soveel as R150 000 per maand spandeer aan die bekamping van stropery. As daar nie meer stropers is nie, val hulle hele bedryf plat.
Die hele benadering moet op sy kop gekeer word. Die langtermynantwoord is opvoeding, maar om op lang termyn renosters te hê kos geld. Dus, teel die goed! Hulle teel maklik aan. Nog beter: Jy kan elke paar jaar die horing afsny en verkoop. Nes hare en naels groei die horing heeltyd. Boer met hulle, sny hulle horings af en verkoop dit in die ope mark.
........
Deur iets te verbied sal jy nooit daarvan ontslae raak nie. Al wat jy gaan regkry, is om die prys op te jaag. Jaag die prys op en jy verhoog die status. Verhoog die status en dit word meer gesog. En so skep jy ’n nuwe kontantkoei wat wag om groot gemelk te word.
.......
’n Eiendomsontwikkelaar het jare gelede ’n plaas in Noord-Wes gekoop met die doel om renosters te teel, die horings te oes en te verkoop, en lewende renosters aan ander reservate te verkoop. Dit sou groot druk op die wilde populasie verlig. Vir jare het hy gewag vir die finale verandering van die wet, wat sy insetkoste, wat miljoene rande beloop het, sou delg. Toe die wet wel deurkom, het dit alle handel in horings en lewende renosters verbied. Gevolglik het die onvermoë om geld uit sy belegging te realiseer hom gedwing om die plaas met renosters en al te verkoop. Uiteindelik het hy minder as 10% van sy belegging teruggekry. Die renosters sal verskuif word na ander reservate waar hulle vry sal rondbeweeg.
Die perlemoentelers en -navorsers vaar tans baie goed met hulle poging om stropery hok te slaan. Hulle teel perlemoen in grootmaat in die Gansbaai-area en daar is planne om dit nog baie uit te brei. Groot buitelandse geld vloei die land in vir navorsing in akwakultuur. Hopelik bly van die geld en kennis in die land. Uiteindelik sal die effe goedkoper-geteelde produk die mark oorheers en die onwettige produk heeltemal uit die mark dwing. Hopelik sal dit ook werksgeleenthede verskaf wat die sosio-ekonomie van die area gunstig sal beïnvloed. Dit verminder ook bendebedrywigheide. Mense met geld in die sak het iets om te beskerm en sal nie so maklik swig nie.
Presies dieselfde geld ook vele ander uitdagings. Ek was ’n paar jaar gelede bevoorreg om ’n paar skoenlapperplase in Costa Rica te besoek. Hulle het ook te kampe gehad met ’n groot probleem met die onwettige versameling en uitvoer van skoenlappers. Oplossing: Boer daarmee! Duisende in geboue of tonnels wat dan ook puik toerisme-aantreklikhede en opvoedingsfasiliteite is. Om deur ’n tonnel te stap met digby 50 000 skoenlappers is ’n onbeskryflike ondervinding.
........
Oplossing: Boer daarmee! Duisende in geboue of tonnels wat dan ook puik toerisme-aantreklikhede en opvoedingsfasiliteite is. Om deur ’n tonnel te stap met digby 50 000 skoenlappers is ’n onbeskryflike ondervinding.
........
Een van my gunstelingplante is die lithops. Ek het ongeveer 50 van die goedjies. ’n Paar jaar gelede was hulle uiters skaars en onbekostigbaar duur. Daar was slegs enkele persone wat hulle in gevangenskap geteel en dan wettig verkoop het. Toe maak ’n man in die suide van Frankryk ’n deurbraak met hulle teling, en vandag koop ek hulle vir minder as R60 by my plaaslike kwekery. Hy het ook sy kennis gedeel met telers in Namibië, wat dan die plantjies kunsmatig kon teel vir terugplasing in die natuur, waar stroping hulle feitlik uitgewis het.
Dus, in plaas daarvan om handel in organismes onwettig te maak en die verhandeling daarvan ondergronds te dwing, maak dit oop! Gebruik die fondse wat sodoende gegenereer word vir opvoeding en navorsing sodat die uitdagings op lang termyn eerder met begrip as uit vrees aangepak kan word. Verminder die druk, voed op, maak geld!
Dis goed om te verneem daar is inderdaad ook hier ’n weg, solank daar ’n wil is. Is daar nog slotopmerkings wat jy wil maak?
Ja, tog enkele opmerkings.
Die stroping van olifante is nie tans ’n probleem in Suidelike Afrika nie. Inteendeel, die streek se olifantpopulasie is op sy hoogste ooit. Dis ongelukkig nie die geval in Sentraal- en Wes-Afrika nie. Daar word olifantstropery uitgevoer deur milisies wat duidelike bande met van die groot ekstremistiese groeperinge soos Al-Shabaab het. Geld afkomstig van gestroopte ivoor beland regstreeks in ekstremistiese groepe se sakke. Dit is duidelik bewys toe ’n satellietantwoordsender in ’n nagemaakte tand in so ’n besending ivoor beland het. Belangstellende lesers kan meer hieroor verneem deur te kyk na die National Geographic-webtuiste. Alhoewel daar reeds vir baie jare ’n verbod op die handel in ivoor is, is dit steeds algemeen beskikbaar, selfs in Europa. Hopelik bly hulle uit Suidelike Afrika uit. Die huidige situasie in noordelike Mosambiek pla my egter. Met milisiegroepe verwant aan Al-Shabaab wat groot gebiede beheer, is die kanse goed dat hulle op een of ander stadium sal begin kyk na natuurlike hulpbronne in die area wat hulle vir eie gewin kan benut. Tans konsentreer hulle op smaragde, maar hoe lank nog voor dit na wilde diere oorvloei? En dan regoor die grens in die Nasionale Krugerwildtuin en die Gonarezhou Nasionale Wildtuin in Zimbabwe.
Nog ’n interessante staaltjie om lesers te vrywaar daarvan om te dink dat daar nie ook vrot appels in bewaringsgeledere is nie: Een van die groot bewaringshelde van die “ou dae” is ’n paar jaar gelede buite ’n sekere bewaringsarea betrap met ’n massiewe leeumannetjie in sy motor se bagasiebak. Hy en ’n vriend is die gebied in as dagbesoekers, het die leeu gepyl en agter in die motor gelaai. Buite sou hulle dan die kat in ’n krat laai en na die vriend se leeuteelplaas toe neem. Die saak is op tegniese punte uitgegooi en het nooit die koerante gehaal nie.
........
Van die grootste-volume-stropery vind teen ons kusgebiede plaas. Vissersbote of -skepe kom in die aand tot diep binne ons seebewaringsgebiede om hulle nette te gooi en ons vispopulasies te vernietig. Teen sonop is hulle nette opgetrek en is hulle heel onskuldig onderweg na hul bestemming.
........
Voorts weet min mense dat die kameeldoring ’n bedreigde spesie in dieselfde kategorie as die witrenoster is. Om kameeldoringbome af te kap en te verkoop plaas jou dus tegnies in presies dieselfde plek as renosterhoringhandel, maar “dit is dit mos deel van ons kultuur” en daarom is daar “niks daarmee verkeerd nie”. Terselfdertyd koop ons kameeldoring want dis goeie braaihout en “ons moet mekaar mos ondersteun”.
Van die grootste-volume-stropery vind teen ons kusgebiede plaas. Vissersbote of -skepe kom in die aand tot diep binne ons seebewaringsgebiede om hulle nette te gooi en ons vispopulasies te vernietig. Teen sonop is hulle nette opgetrek en is hulle heel onskuldig onderweg na hul bestemming. Om hulle te vang en te vervolg verg wilskrag. Ek weet van een geval waar daar op so ’n boot toegeslaan is. In die vrieskaste is verskeie hoogs bedreigde spesies vis gekry, asook verskeie dolfynkarkasse. Die bemanning het soos mis voor die son verdwyn ... en skielik die boot ook.
Wat my baie bekommer, is die geweldige buitelandse omvang van die stropingsbedryf. Renosterhoring van Suid-Afrika word in Viëtnam vir opium verkoop. Opium in Viëtnam word in Pakistan vir vroue verkoop. Die vroue in Pakistan word geruil vir kokaïen in Brasilië. Die kokaïen vind sy weg terug na Suid-Afrika, waar dit verdun en heruitgevoer word na Europa. Sou jy een skakel in die ketting verwyder, sal die ketting nie meegee nie. Dit word bloot vervang met ’n ander produk. Renosterhoring word byvoorbeeld vervang met perlemoen. Die verkleurmannetjie het sy kleur verander, maar hy bly steeds ’n verkleurmannetjie.
Om dus ’n netwerk die stryd aan te sê verg die samewerking van regerings en polisiemagte in verskeie lande – al is dit bloot vir ’n paar minute.
En dit bring my terug by my punt: Daar ís oplossings, maar is die wil om die oplossings te implementeer groot genoeg?
Lees ook:
Kommentaar
Baie dankie, dr. Rossouw, vir hierdie omskrywing van die ramp. Dit lyk of "phony" sapiens nie 'n visgraatjie gaan laat oorbly nie.