Die vorm van verlies: Gielie Hoffmann gesels met Eben Venter oor Decima by die Toyota US Woordfees 2023

  • 0

Gielie Hoffmann (links) en Eben Venter (regs) gesels oor Decima by die Toyota US Woordfees 2023. (Foto: Jannike Bergh)

LitNet loer in by die EasyEquities Skrywersfees se boeketent as deel van Toyota US Woordfees 2023.

Die skrywer Gielie Hoffmann het Dinsdagmiddag 9 Oktober met Eben Venter oor sy nuutste roman, Decima, ’n deernisvolle boekbespreking gelei.

Dié gesprek het noodwendige rou vrae gevra, maar Gielie Hoffmann het die vaardigheid om sy eie liefde en respek vir die skrywer wat oorkant hom in die stoel sit, juis meer gemaklik in sy stoel te laat sit. Teerheid en nederigheid ontmoet mekaar en kloof ’n ryk, eerlike gesprek oop – waarvan die moeilikste aspek die verlies van ’n moeder is. As ek nou terugdink aan die gesprek en na my notas kyk, sou mens Gielie Hoffman se gekose tema van die gesprek kon opsom as “die vorm van verlies”.

Verlies is ’n vertrekpunt in ons lewens, en dan natuurlik ook ons innerlike kreatiewe ruimtes. Dit is om hierdie rede dat Gielie die gesprek geopen het met ’n vraag oor Decima, wat as roman wegbreek van die vorm van, en vertellers in, Eben Venter se vorige werke: “Is dit organies of doelbewus?” wou hy weet.

Decima deur Eben Venter (Penguin Random House SA, 2023)

Ek speel doelbewus met die vorm van ’n roman,” vertel Venter, en verwys na JM Coetzee wat ook getrou daarop klem lê. Om voortdurend met vorm te speel en die verteller uit te daag, is onlosmaakbaar van die karakter van Decima, die swartrenoster, se verhaal. Benewens Venter se selferkende “senuweeagtigheid om soveel stemme in een roman te gebruik”, verduidelik hy ook hoe die verteller en die vorm mekaar weerspieël: “Mens skep, herskep, in Engels, dan in Afrikaans.” Hy noem die komponent van selfvertaling. Daar is dele wat hy geskryf het wat hy die heel mooiste gevind het – “a writer’s little darlings”, soos hy sê – wat hy uit die roman moes skryf. Daar was nóg redaksionele aanpassings in Decima: “Dit is maklik om te lees oor die dood van ’n mens, maar lesers sukkel met die dood van ’n dier,” verduidelik Venter.

Aangaande die dood, het Gielie Hoffmann verwys na Louise Viljoen wat Eben Venter as “een van die beste skrywers in die wêreld oor verlies” beskou. Gielie as gesprekvoerder het hier met uiterse teerheid en menslikheid vir Eben die kans gegee om oor die verlies van sy moeder te praat. Hier het die skrywer gedeel dat sy ma oorlede is tydens die skryfproses van Decima en hy vra hom af of “the life and times van my moeder inspeel op Decima en of the life and times of Decima inspeel op my moeder”.

........
Wat deurentyd roerend was tydens hierdie boekgesprek, was hoe hierdie grootse dier – in al Venter se vertellings en vorme van haar – die skrywer steeds bewoë laat.
........

Venter, wat al vir drie dekades in Australië woon, word natuurlik gereeld onderwerp aan die vraag hoe hy dit regkry om nog so in voeling met Suid-Afrika te wees. Buiten die meer “abstrakte” aspekte van verlies en die skryfproses, het die gesprek ’n interessante blik gebied op die praktiese komponente wat nodig is om ’n boek soos Decima aan te pak. Venter verduidelik dat hy aantekeninge oor al sy ervarings gemaak het. Hy het ook uitgebreide navorsing oor die swartrenoster gedoen, spesifiek op ’n renosterweesplaas. Hierdie tyd was een van “die mees prikkelende” ervaringe in die proses om Decima te skep; hy dui beskeie aan dat sy diepgaande kennis van dié megaherbivoor nie kenners sou vervreem nie.

Decima is ook nie ’n misdaadverhaal oor renosterstropery nie, vertel Venter. Decima bemoei sigself daarmee om “die leser vanuit die perspektief van dier na die wêreld te laat kyk”.

Wat deurentyd roerend was tydens hierdie boekgesprek, was hoe hierdie grootse dier – in al Venter se vertellings en vorme van haar – die skrywer steeds bewoë laat.

Na aanleiding van ’n vraag uit die gehoor vertel Venter dat daar net één ding is wat hy sou hoop om te bereik met Decima se verhaal, en dit is dat diere as gevoelvolle wesens raakgesien word: “Decima is nie ’n allegorie nie; die dier, die megaherbivoor, staan net vir haarself.”

Eben Venter het afgesluit deur te sê dat sy toekomstige werke hulle ook met diere sal bemoei.

Lees ook:

Bygewerkte, chronologiese program | Die EasyEquities-skrywersfees | 9–14 Oktober 2023 | Toyota US Woordfees

LitNet Akademies-resensie-essay: Decima deur Eben Venter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top