Perlemoenstroping: biltongjag wat toeneem

  • 0

Daar is ’n tipe biltongjag wat toeneem. Dit is nie seisoensgebonde nie, ’n permit is nie nodig nie en eiendomsreg is nie van toepassing nie.

Dit is die onwettige jag van perlemoen aan die Suid-Afrikaanse kus. Gedroogde perlemoenvleis is duur en gesog, en word as lekkerny in Hongkong, Taiwan en China beskou. En dit word al die afgelope 20 jaar op groot skaal uitgevoer, meestal onwettig.

Perlemoenstropery geniet nie dieselfde aandag as ander omgewingsmisdade nie. Tog is dit, net soos ander omgewingsmisdade, nou verbonde aan dwelmsmokkelary en bendemisdaad, met sommige perlemoensindikate wat dié mariene slak direk verruil vir dwelms, veral metamfetamien, meer bekend as tik (of die onverwerkte bestanddele wat gebruik word om dit mee te vervaardig).

Deesdae is die aanvraag na Suid-Afrikaanse perlemoen in Asië só hoog dat dit voel of die Ooste ons natuurlike erfenis stuk vir stuk opeet. Die naam perlemoen is afkomstig van die oorspronklike Nederlands vir pêrel se moeder, wat in die volksmond perlemoen geword het. Suid-Afrikaanse perlemoen is, naas sy Japanse eweknie, die gesogste in die mark. Tot twee derdes van die perlemoen wat in Hongkong te koop is, is van Suid-Afrika afkomstig. En blykbaar is tot twee derdes hiervan onwettig.

Daar is vyf endemiese spesies perlemoen wat aan die Suid-Afrikaanse kus van Port St Johns aan die Ooskus tot Saldanhabaai aan die Weskus voorkom. Haliotis midae is die bekendste en kan tot 230 mm groot word.  Perlemoen is herbivore wat in rotsagtige gebiede voorkom en van seewier leef. Natuurlike vyande soos seekat, kreef en otters, en temperatuurskommelings wat ’n impak op die ontwikkeling van die larwe het, beïnvloed verder die verspreiding en voorkoms van perlemoen.

Behalwe dat perlemoen teen ’n ongekende koers gestroop word, het dié mariene diere ’n baie stadige groeitempo en bereik hulle eers teen die ouderdom van sewe jaar seksuele volwassenheid (hulle kan tot 30 jaar oud word in die natuur). Stropers se onoordeelkundige gebruik van volwasse perlemoen noodsaak hulle om kleiner en jonger perlemoen te oes, wat veroorsaak dat die natuurlike bevolking sigself nie kan vernuwe nie. 

Reeds tien jaar gelede het die uitvoer van perlemoen tot 81% van die totale inkomste van Suid-Afrika se akwakultuurproduksie uitgemaak. In China, veral tydens die Chinese Nuwejaar in Februarie, word dit as ’n statussimbool beskou om perlemoen aan gaste voor te sit. Perlemoen is wel ’n bedreigde spesie en op die WWF se SASSI-lys, wat beteken verbruikers moet liefs perlemoen wat van kommersiële plase afkomstig is, eet. Perlemoen is vroeër op CITES se lys as ’n Bylae 3-spesie gevoeg, maar is afgehaal weens druk deur die visserybedryf.

Dit is welbekend dat die onwettige handel in diere en liggaamsdele, naas dwelms, vuurwapens en mensehandel, een van die grootste onwettige handelsoorte ter wêreld is, maar dat dit ook dikwels enige van die bogenoemde insluit, is nie so bekend nie. Sindikate van Port Elizabeth tot in Houtbaai neem arm kinders en jongmense onder hul vlerk, help hulle finansieel en stel hulle dan stelselmatig bloot aan dwelms en perlemoensmokkelary. Dit is gewoonlik dié mense wat duikers of drywers word. Die perlemoen wissel gewoonlik hande tussen die duiker (wat deur ’n guardjie op die strand beskerm word), die runner, die drywer en dan ’n sindikaatleier. Die perlemoen word gewoonlik in ’n frontbesigheid gedroog (’n goeie voorbeeld hiervan is ’n nagklub) voordat dit na Suid-Afrika se buurlande gaan, van waar dit deur Chinese sindikate uitgevoer word. Die ruil van perlemoen vir dwelms, soos vroeër genoem, is voordelig vir albei partye, aangesien daar geen kontant by betrokke is nie. Perlemoenstropers loop ook nie dieselfde gevaar as renosterstropers wat dalk geskiet kan word nie. Hulle betaal natuurlik nie vir permitte of dra by tot belasting nie.

Die slegte nuus hou nie op nie. Blykbaar is daar amptenare van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wat amptelik perlemoenhandel beheer, wat by die smokkelsindikate betrokke is. Daar word beweer dat sommige van die amptenare wat vasgetrek is, gekonfiskeerde perlemoen aan die sindikate terugverkoop of hulle tydens hulle onwettige vervoer en aflewerings begelei.

Die oseane kan tot R20 miljard per jaar tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra en minstens een miljoen werksgeleenthede teen 2033 skep. Perlemoenstropers ontneem ons van ons natuurlike erfenis en neem ook inkomste uit ons land se koffers. Onwettige vangste kan tot agt ton per dag beloop. Na raming is nagenoeg 96 miljoen stuks perlemoen teen ’n geskatte waarde van R10 miljard tussen 2000 en 2016 gestroop. En as mens in ag neem dat slegs een uit elke 10 000 perlemoene volwassenheid bereik, is die huidige regulasies en pogings om die spesie te beskerm onvoldoende.

Die onvermydelike is hier en dit is tyd vir ons om dit te erken, dit te verstaan en daaraan voorrang te gee. Die mens se toekoms op aarde hang nie meer in die weegskaal nie, dit is gewis byna verby. Behalwe die ooglopende probleme in Suid-Afrika en die res van die wêreld, oorheers slegte nuus oor ons natuurlike omgewing uiteindelik die voorblaaie. En dit hoort so en moes al lankal so gewees het. Ons lees van spesies wat uitsterf. Nie gáán uitsterf of in die moeilikheid is as ons nie iets doen nie, néé. Ons lees van spesies wat weg is. Gone. Vir altyd. Spesies wat al miljoene jare op aarde teenwoordig is, is aan die verdwyn. En dit kan regstreeks gekoppel word aan die mens se selfsug. Gaan ons kinders wat oor ’n dekade of wat gebore word, weet wat ’n renoster is? Of ’n ietermagog, broodboom, of ’n perlemoen?

 

Bronnelys

Sanbi.org

Stopillegalfishing.com

Aquarium.co.za

Environment.gov.za

Theguardian.com

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top