Oor ons trane, nou – en die mistiese groot trek

  • 1

Hierdie lesing (sien die video) is op Saterdag 21 September 2024 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.

Oor ons trane, nou – en die mistiese groot trek

Dames en here

Wyle Johan Degenaar het dikwels met sy kenmerkende Sokratiese styl ’n openbare lesing geopen met die versoek aan sy gehoor: “U moet my hier help.”

U moet my hier help – nie slegs omdat die onderwerp ingewikkeld is nie, maar ook omdat ons mekaar nodig het om saam deur die verliese te werk.

Hierdie meditasie oor eietydse Suid-Afrikaanse verlies is deur ’n paar snellers ontketen – om presies te wees, drie.

Die eerste hiervan is ’n opmerking wat die digter Danie Marais afgelope Julie tydens ’n gesprek oor sy jongste digbundel by die Vrystaatse Literatuurfees gemaak het. Marais haal aan uit Valda Jansen se toespraak met haar ontvangs van die Rapport-Jan Rabieprys: “Apartheid is my Boereoorlog.” Volgens Marais herinner Jansen ons daaraan dat verskillende gemeenskappe in die eietydse Suid-Afrika oor verskillende dinge treur.

Die tweede sneller is ’n opmerking wat die destydse Regius Professor of Divinity aan Oxford, Graham Ward, gemaak het in reaksie op ’n lesing wat ek in Junie 2018 daar op sy uitnodiging oor die politiek van die eietydse Suid-Afrika gehou het. In daardie lesing het ek dit betreur dat die durende koloniale kenmerke van Suid-Afrika die land verdoem tot ’n wêreldkampioen van onderprestasie. Ward, wat al vir meer as drie dekades bande met Suid-Afrika het, se reaksie was: “The sense I get from your paper is not that you South Africans are mourning the loss of the past, but the loss of the future.” ’n Lieflike voorbeeld van hoe nodig ons ander het om tot begrip van ons verlies te kom – en wat ’n nuttige idee om ons te help trek na die gedeelde ruimtes tussen ons, soos Dana Snyman dit stel.

Die derde sneller is ’n uitspraak wat dagteken uit die 1980’s, wat Johan Degenaar aanhaal naby die slot van sy klassieke 1991-opstel, “The myth of a South African nation”, waarin hy profeties waarsku hoe ’n nasiebouprojek ons in Suid-Afrika verder gaan verdeel, en as alternatief pleit vir die bou van ’n demokrasie. Die aanhaling kom van Suid-Afrika se eerste swart geoktrooieerde rekenmeester en destydse rektor van die toenmalige Universiteit van Transkei, Wiseman Nkuhlu: “No common myths, no common heroes, no war victories to commemorate together and no statues or symbols of joint accomplishment. Instead we have the memory and scars of the suffering we have inflicted on each other.” Dat Nkuhlu se uitspraak nou, meer as 40 jaar later, steeds relevant klink, is ’n bevestiging van Degenaar se waarskuwing dat ’n poging tot nasiebou ons verder gaan verdeel.

Die basiese tese wat ek in hierdie meditasie wil verdedig, is dat juis omdat die toekoms waarvan ons in Suid-Afrika droom, ons bly ontglip, ons voortdurend herinner word aan die verliese wat ons gely het – en ly ons ook nuwe verliese, wat ons opnuut laat treur, en wat die risiko van ’n onhoudbare nostalgie lewend hou. As ek dit mag verduidelik na analogie van ’n soort persoonlike verlies wat die meeste mense ken: ’n Mens begin eintlik eers ’n liefdesteleurstelling verwerk en daarvan herstel wanneer jy ’n nuwe liefde vind. Wanneer jy ’n nuwe liefde vind, word jy op ’n onontkombare wyse gekonfronteer met die risiko daarvan om jou vir ’n ander oop te stel, jou oor te gee, jou weerloos te laat word – en onthou jy in dieselfde gewaarwording die pyn wat gevolg het toe jy dit die vorige keer gedoen het en teleurgestel is. Dog aan die ander kant gebeur dit dat jy waarlik ontvang en gekoester word deur die nuwe liefde waaraan jy jou oorgee, en kan jy begin genees.

In die analogie wat ek hier probeer uitwerk, is die nuwe liefde wat ons in Suid-Afrika bly ontglip, die soort toekoms waarin ons werklik ons vertroue kan stel, en waarvan die beliggaming so vertroostend is dat die verliese wat ons weens die verskillende politieke ideale van die verlede gely het, genoegsaam is dat ons mekaar se gidse op die trek na die gedeelde ruimtes tussen ons word. ’n Mistiese groot trek. Misties, doelbewus so, omdat énige politieke ideaal wat hoër wil mik as die erkenning van die herinnering aan die littekens van die lyding wat ons mekaar toegedien het – en bly toedien – eenvoudig te riskant is. Riskant omdat dit nou, ná ’n 114 jaar van eksperimente in grootdoenerige abstrakte ideale – die Britse empire, apartheid, nasiebou en transformasie – duidelik is dat om op hierdie weg voort te gaan, net meer wonde en littekens tot gevolg gaan hê. Die woord móét eenvoudig vlees word: Die konkrete ervaring van wedersydse erkenning deur samewerking waar ons kan, is die enigste roete wat die mistiese groot trek kan volg.

Toe gedagtes oor hierdie meditasie aanvanklik met LitNet gewissel is, was daar voorstelle dat die titel hiervan een van twee moontlikhede kan wees. Die eerste was “Parallelle rouprosesse”, wat ook die term is wat Danie Marais met verwysing na Valda Jansen gebruik het. Hoe mooi dit ook al op die oor val, en wel wetende dat Marais dit denkend op sy voete gemaak het, moes ek hierdie moontlike titel afwys, omdat dit ’n soort gemeensaamheid in Suid-Afrika vooronderstel wat ek nie dink bestaan nie – ’n soort gemeensaamheid waarvolgens ons almal by verstek reeds saamstem oor wat die einddoel is waarheen ons op pad is, en bloot nou via die verskillende roetes van parallelle rouprosesse soontoe op pad is.

So ’n siening herhaal egter bloot die logika van die abstraksie van die drie groot politieke ideale van die afgelope 114 jaar, en dit is júis wat ons die meeste verwond. Abstraksie in vele vorme is die hoeksteen van enige koloniale proses, want wié kan ooit ’n mens van vlees en bloed wat iémand is, koloniseer? As ons die verwonding en verliese so goed doenlik wil vermy, sal dit ons loon om ons by die konkrete te bepaal, dit wil sê by die wonde, littekens en verliese, maar nie slégs daarby nie – óók by die erkenning van die basiese gegewe wat, ironies genoeg, uit ons koloniale werklikheid spruit, naamlik dat ons ’n historiese ervaring van saambestaan binne die kunsmatige grense van die koloniale entiteit van die Suid-Afrikaanse staat deel. En dít is nie noodwendig ’n slegte ding nie. People are living there is immers een van die mooiste titels van ’n Suid-Afrikaanse drama. As jy hiér woon, weet jy niks is ’n gegewe nie – dat in die grond onder jou voete die laaste bietjie water voor jou magtelose oë kan wegsyfer, of dat voor jou verwonderde oë ’n engel bo die veld trillend op ’n snikhete dag verskyn.

Die tweede titel wat vir hierdie meditasie voorgestel is, was “Treur in tandem”. Ook dié titel moes afgewys word, hoe verleidelik mooi dit ook al is – ons is immers in Suid-Afrika nog nie in tandem met mekaar nie, en ons is terselfdertyd veel meer as net die twee wat die woord “tandem” vooronderstel. Ek sou dus voorstel dat ons eerder met mekaar probeer harmonieer om in ritme te probeer kom – het die Heilige Augustinus dan nie in sy heel eerste boek, oor musiek, dit gestel dat saligheid spruit daaruit om in ritme met die goddelike te wees nie?

Laat ons terselfdertyd onthou dat niks ’n mens se ritme so versteur soos verlies nie, eweseer as wat die herstel van jou ritme daarvan afhang om die nodige treurwerk te doen, want wie sig deur die treurwerk ontledig, kan opnuut begin luister, met die werklikheid in harmonie kom, weer daarmee resoneer. Karel Schoeman aan die einde van Afskeid en vertrek:

Jy tel die klippie op, raak bewus van sy gewig, voel sy koelheid teen jou vingertoppe, weeg dit, en sit dit neer op sy bepaalde plek. Wat die patroon is wat onder jou hande gestalte kry, en of dit ooit voltooi sal word, gaan jou nie aan nie: die donker bewaar sy geheime. Jy doen jou deel.

Onder die asfalt en beton stroom die water see toe, en teen die muur bot die takke van die boom, teen die glas van die geslote venster tik die bottende tak, en die uiteindelike uitkoms, ofskoon verborge, is seker. Die water is sterker as die klip, en die wassende lewe in die tak sterker as die ruit waaraan dit klop; in die donker blom die boom, ongesien in helderheid. (250–1)

Dog wie saam in hierdie land ’n ritme wil herwin, moet goed weet dat die koloniale staatsmasjien wat in 1910 beslag gekry het weens sy impuls tot abstraksie, by uitstek die ritmes van menswees versteur, veral die tradisionele ritmes waarsonder eiesoortige gemeenskappe ondenkbaar is. Volgens die abstraksies van die koloniale staatsmasjien is ons in hierdie land in drie onderling wedywerende abstrakte kategorieë verdeel: the British, Afrikanernasionaliste, Afronasionaliste. Elders, in navolging van René Girard se ontleding van hoe in die moderniteit die model aan wie ek my begeertes ontleen ook my mededinger word, het ek bespiegel dat dieselfde logika sig voltrek in ’n koloniale samelewing, waar die koloniseerder se norme en begeertes dié van die gekoloniseerde verdring, en die gekoloniseerde oplaas met die dilemma gelaat word dat ’n deel van die herstel van sy waardigheid afhang van prestasie aan die hand van die norme en begeertes van die koloniseerder. Dit was waar vir die Afrikaners ten opsigte van “die Engelse”; dit is waar vir die eietydse Afronasionalistiese elite ten opsigte van die Afrikaners. Maar dit bring ons nog nie anderkant die koloniale dinamika nie; nee, vir dít om te gebeur moet eiesoortige gemeenskappe met hulle ritmes herstel word. En omdat ons in hierdie land deur ’n gedeelde historiese koloniale ervaring aan mekaar verbind is, voer ek aan dat hierdie herstelproses slegs saam kan geskied, waarin herstel iets sal beteken soos dat die groter ons vir die kleiner onse ruimte het, en die groter ons deur die kleiner onse prosesmatig gestalte kan kry – ’n mistiese groot trek waarin ons luisterend dinge toelaat om vorm aan te neem, pleks van om deklamerend vorm daaraan te probeer gee.

Daar is egter eers twee waarnemings, die een negatief en die ander positief, om oor die koloniale staatsmasjien in gedagte te hou.

Die negatiewe opmerking is dat hierdie masjien oor die afgelope 120 jaar en meer so vernietigend doeltreffend gefunksioneer het dat dit die gemeenskappe wat herbou moet word, so verrinneweer het dat die herbouing ’n enorme taak is, miskien selfs onmoontlik. Ook en veral omdat een van die gevolge van die doeltreffende funksionering van die koloniale staatsmasjien die voortslepende mimetiese wedywering tussen groepe in die land is. En as die vernaamste uitweg uit die wedywering vir die voorheen gekoloniseerde is om te presteer aan die hand van die norme van die voormalige kolonis, beteken dit nie per implikasie dat ’n mate van kulturele selfverminking feitlik onvermydelik is nie? Kyk byvoorbeeld hoe Anglosentries die Afrikaners toenemend sedert die 1970’s is. Gelukkig is daar altyd die moontlikheid van inheemse kulturele kruisbestuiwing.

Die positiewe opmerking oor die koloniale staatsmasjien is dat dit die afgelope dekades so swak bestuur en onderhou is dat dit ons onderlinge aangewesenheid op mekaar al hoe duideliker maak, oftewel die roete van die mistiese groot trek al hoe duideliker uit die newels van die toekoms laat opdoem. Hoe swakker veral die openbare instellings in ons samelewing funksioneer, hoe meer moet ons op verbeeldingryke wyses met mekaar saamwerk – en so kan gesonde instellings weer gebou word. So, al luisterend en vernemend, neem die groter ons nuwe vorme aan. So kry ons teen wil en dank ’n regering van nasionale eenheid, wat ons beste nasionale kans tot nog toe is om die toksiese mimetiewe wedywering onder ons hok te slaan. So kry ons ’n Springbokspan wat op ’n manier aan ons verbind is, en ons op maniere onderling aan mekaar verbind, wat ons nog nooit beleef het nie, en waarin die trane oor wat ons aan mekaar gedoen het, én oor wat ons vir mekaar doen, vrylik deurmekaar vloei. So kry ons vorme van ekonomiese herstel op voetsoolvlak gedryf deur Suid-Afrikaners met oop harte buite die koloniale staatsmasjien om, wat sowel die gewer as die ontvanger genees.

’n Mens sou kon voortgaan met nog sulke voorbeelde, maar laat ek liewer daarmee volstaan om nogmaals daarop te wys dat hierdie voorbeelde van wesenlike verandering deur die bank spruit uit die konkrete erkenning van ons gedeelde historiese ervaring, van die wonde en littekens wat ons mekaar toegedien het, van die groeiende wete dat die herwinning van die toekoms op geen ander manier nie as saam, sowel as moeisaam, kan gebeur nie. Die beloofde land lê nie iewers ver die toekoms in anderkant ’n rivier wat ons nog moet oorsteek nie. Nee, die beloofde land is net hier tussen ons, net hier waar dit al verkennend onder ons voete vorm aanneem en ons help om mekaar behoorlik te kan sien, omlyn deur ons wonde, littekens en kanniedoodskap.

Dít, dink ek, is waaroor ons trane van verlies én van verligting nou deurmekaar kan vloei – die tekstuur van die lewe in hierdie land wat nooit vanselfsprekend onder die vingers voel nie, wat áltyd om aandag en sorg vra. Daar is wel diegene onder ons wat dit verlaat het om groot riviere en oseane vir ander beloofde lande oor te steek. Mag dit met hulle goed gaan, maar wat my en my huis betref: Ons sal die hede dien, hier en nou, in hierdie land, op die mistiese groot trek wat ons van altyd af gevorm het, en altyd weer sal vorm.

Die apokalips – vernietiging sowel as openbaring – is immers onverbiddelik aan die ontvou.

Kyk en lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Charles Villet oor geweld en die postkoloniale in Suid-Afrika

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Trump en Suid-Afrika

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie artikel bied nuttige, vars perspektiewe.
    Wat die "... ’n mistiese groot trek waarin ons luisterend dinge toelaat om vorm aan te neem, pleks van om deklamerend vorm daaraan te probeer gee" betref, beaam talle waarnemers dat Suid-Afrikaners mekaar reeds grootliks gevind het in die woelinge van die onstuimige Suid-Afrikaanse samelewing, ten minste op straatvlak en in die publieke sfeer. Dit, ten spyte van deklamerende politici en nuusmedia wat neig om sulke vormaannemings te versteur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top